اصلی Merk (Afrikaans Edition)

Merk (Afrikaans Edition)

0 / 0
دا کتاب تاسو ته څنګه خواښه شوه؟
د بار شوي فایل کیفیت څه دئ؟
تر څو چې د کتاب کیفیت آزمایښو وکړئ، بار ئې کړئ
د بار شوو فایلونو کیفیتی څه دئ؟
کال:
2020
خپرندویه اداره:
Queillerie
ژبه:
afrikaans
فایل:
EPUB, 339 KB
کاپی کول (epub, 339 KB)

ممکن تاسی علاقمند شی Powered by Rec2Me

 

مهمي جملي

 
nie2587
het2343
van1251
haar1083
wat977
dit951
ons755
maar684
vir678
toe645
gaan633
hom629
kan554
dat516
aan462
dis448
sal433
rooi415
uit397
oor387
jou368
moet363
net358
nou349
nog298
kom293
ook289
daar288
weet270
wees249
deur235
wil233
soos225
voor222
een212
hoe202
maak197
laat185
lulu183
huis179
weer178
vra178
kry176
sien175
twee169
vrou157
kop151
daai149
0 comments
 

To post a review, please sign in or sign up
تاسی کولی شی د کتاب په اړوند نظر څرګند کړی او خپله تجربه زمونږ سره شریکه کړی، نورو لوستونکو ته به زړه راښکونکی (دلچسپه) وی چې د لوستل شوو کتابونو په اړوند ستاسی په نظر پوه شی. بدون له دی چې کتاب مو خوښ شو اویا خوش نه شو، که تاسی صادقانه په دی اړوند مفصله قصه وکړی، خلک کولی شی د ځان لپاره نوی کتابونه بیدا کړی، چې هغوی ته زړه راښکونکی (دلچسپه) دی.
1

La física de los superhéroes

Year:
2005
Language:
spanish
File:
EPUB, 3.40 MB
0 / 0
2

Hitler 1889-1936

Year:
1999
Language:
spanish
File:
EPUB, 3.55 MB
0 / 0
RUDIE VAN RENSBURG

MERK




Queillerie





Proloog



Die vrou se gedempte gehuil herinner hom aan die gekerm van ’n babahondjie. Een wat alleen in ’n kamer toegesluit is.

“Toemaar, Colleen, ons is amper klaar,” sê hy paaiend toe hy van haar afklim. Die sagte skynsel van die bedliggie hul haar slaapkamer in ’n ligblou wasigheid.

Sy oë skeer oor haar kaal lyf.

Dis die slanke, ferm figuur van ’n vrou in haar twintigs. Haar borste is ’n aks te klein na sy smaak, skaars ’n hand vol. Maar sy is absoluut beeldskoon, wat die seks soveel beter gemaak het. Van nou af gaan hy met ander oë na haar op die TV kyk.

Hy knoop die gebruikte kondoom versigtig toe voor hy dit in die sysakkie van sy rugsak druk. Tydsaam rits hy sy gulp op.

Dan buk hy af om die lap en sy handskoene uit te haal. Soos toe hy vroeër haar voete vasgebind het, gaan hy nie ’n kans waag met vingerafdrukke op die bed se metaalraamwerk nie.

Hy trek die handskoene aan en leun oor haar. “Jy het jou mooi soet gedra deur nooit te skreeu nie. En ek weet jy het dit ook geniet.”

Hy kan die angs in haar oë sien. Haar tande klapper op mekaar en haar betraande wange blink in die dynserige lig.

Hy neem die kussing en trek die sloop af. “Nou sal ek jou mond ongelukkig moet toebind. Dis net ’n maatreël om jou teen jouself te beskerm.”

“Wat … wat gaan jy …”

“Sjuut.”

Hy boor sy vingers in haar wange in om haar mond oop te forseer en stop die lap in. Steur hom nie aan haar geroggel nie.

“Net lekker diep deur jou neus asemhaal, Colleen. Ons wil nie hê jy moet versmoor nie, nè?”

Met haar hande styf agter haar kop vasgemaak, sukkel hy om die sloop in die klein gaping tussen die agterkant van haar nek en haar hande deur te trek. Hy swets onderlangs. Hy’t nie die wêreld se tyd nie.

Hy knoop die sloop stewig vas. Met sy eerste geval drie maande gelede het hy opgeslip, sodat die vrou die lap uitgespoeg het. Van toe af maak hy doodseker dat hulle nie ’n geluid uitkry nie.

“Ek gaan jou voete nou losmaak en jou op jou maag draai, dan jou voete weer vasbind. Geen;  geskoppery nie!” sê hy streng.

Haar oë is wyd gerek, die asemhaling deur haar neus rukkerig.

Hy streel liggies oor haar voorkop. “Niks om jou oor te bekommer nie, hoor. Ek het jou mos my woord gegee ek maak niemand dood nie.”

Toe sy weer vasgemaak lê, haar rug na hom gekeer, trek hy sy balaklawa op en klad die sweet op sy gesig droog. Dan pak hy sy toerusting tussen haar oopgesperde bene op die bed uit.

Eers gooi hy ’n bietjie swart ink in ’n bakkie. Die blowtorch ontbrand met ’n vonk en hy draai die klein gassilinder groter oop. Die vlam gooi ’n rooi skynsel oor haar lyf.

Hy tel die brandyster op en hou dit in die vlam, wag geduldig tot die metaal gloei. Dan doop hy dit vinnig in die ink.

“Dit gaan ’n bietjie seer wees, Colleen, maar darem net vir ’n kléin rukkie.”

Hy druk die yster op haar stuitjie sodat die weefsel sis onder die gloeiende metaal.

Haar liggaam ruk, die gesmoorde krete net-net hoorbaar. Sy beur op met ’n gekromde rug, maar sy greep wyk nie ’n millimeter nie.

Die reuk van gebrande vleis vul sy neusgate.





1



“Jy’s ons afleweringsman, Hernus!” Haar swaaiende vinger is enkele sentimeters van sy neus af. “Jy’s die gesig van ons maatskappy by élke klant. Wat moet hulle van ons dink as jou hande so vieslik lyk? Grou jy in die grond voor jy werk toe kom?”

Hy skud sy kop.

Lente Viljoen staan effe terug, hande op haar heupe.

“En laat ek sommer dít ook vir jou sê: Jy’t ’n slegte klank aan jou. Die mense in die kantoor kla gereeld by my daaroor. Stort in hemelsnaam soggens voor jy werk toe kom!”

Hy staar net na haar.

“Verstaan ons mekaar, Hernus? Of is dit te veel gevra?”

“Nee, juffrou Viljoen, dis nie te veel gevra nie,” sê hy skor.

“Reg dan. Ek wil nie wéér daaroor praat nie.”

Hy hou haar dop toe sy wegstap na haar kantoor. Sy swaai haar boude soos ’n bleddie model. Hy haat haar soort. ’n Jong bitch wat scheme die son straal uit haar gat omdat sy manager genoem word.

Wat sal hy nie gee om haar aan daai lang hare beet te kry en met die ander hand …

Hy skud sy kop vies. “Moenie eens daaraan dínk nie,” prewel hy. “Too close to home.”


* * *


Kassie klim sugtend van die skaal af. Hy is nou presies ágt kilogram swaarder as ses maande gelede.

Gister toe hy in die hysbak instap, het hy homself vir ’n vlietende oomblik nie in die spieël herken nie. Dit was ’n helse skok.

Nou beskou hy hom in die badkamerspieël. Die lang, wit operasieletsel wat oor sy bors kronkel, vang sy oog altyd eerste, maar dit ontstel hom nie meer so erg soos aan die begin nie. Sy blik sak laer af en steek vas by sy maag. Dis waar daai kilogramme gaan sit het. Lyk kompleet of hy pregnant is. ’n Komieklike boepens wat deur twee rietskraal bene regop gehou word. Wat ’n bleddie sight!

Hy draai skuins sodat hy na sy profiel kan kyk. Minstens ses maande swanger … Dalk darem nie só erg nie. Vier maande?

Hy trek sy maag in, maar dit beweeg skaars. Soos die derm om ’n styfgestopte boerewors span sy pensvel oor sy maag.

En dis nie dat hy nié oefen nie. Hy gaan stap elke aand. Doen partykeer selfs ’n paar push-ups.

Moet die tjoklits wees. Vandat hy opgehou rook het, het hy ’n soettand ontwikkel. Donkersjokolade, wat glo goed vir die hart is, maar duidelik nie ’n verslankingsmiddel nie. Hy’t gisteraand voor die TV weer ’n groot slab kafgedraf – die tweede van die dag.

Hy stap sleepvoet kamer toe en maak die hangkas oop, staar peinsend na sy hemde. Hy haal die two-tone uit wat hy jare gelede by die Malmesbury-koöperasie gekry het. Dit was daai tyd maklik ’n nommer te groot, maar nou span dit oor sy lyf.

Hy besluit op sy donkerpers broek, maar moet spook om die boonste knoop vas te kry. Nie nodig vir ’n gordel nie, besluit hy. Geen manier waarop die ding sal afsak nie.

Hy haal sy rooi windjekker van die hanger af, frons toe hy die donkerbruin kol op die sak sien. Hy druk sy hand in die sak en pluk dit vinnig weer uit. Staar vies na sy vingertoppe. Gesmelte sjokolade.

Dis die stuk slab wat hy in sy sak gedruk het toe hy nou die dag sy klere wassery toe gevat het. Dit was juis so ’n vrek warm dag. Sedertdien het hy nog nie weer die windjekker aangehad nie. Hy het die afgelope ses maande hoofsaaklik in sy drie sweetpakke en twee pare skaapvelpantoffels geleef.

Hy stap brommend badkamer toe. Sal die taai spul met warm water en seep probeer skoonkry. Terwyl hy skrop, gaan sy gedagtes na hierdie eerste Maandag van Oktober – sy eerste dag terug by die werk. Dis nou buiten die nie-amptelike joppie van so drie maande gelede toe twee neo-Nazi’s ’n vrou in ’n woonstel gyselaar gehou het en daar op sy nommer gedruk is.

In daardie stadium het hy nog getwyfel of hy weer kans sien vir die Spesiale Spookeenheid. Ná die afgryslike pedofielsaak en sy hartaanval het hy geglo sy dae as speurder is getel. En die talle noue ontkomings in sy loopbaan van bykans ses-en-dertig jaar het by hom bly spook. Om eerlik te wees: Hy was bang. Hy het homself oortuig dat hy soos ’n kat nege lewens gehad het wat hy nou finaal opgebruik het.

Maar tyd gee perspektief. Sy kop het intussen geswaai.

In die eerste vier maande van sy siekteverlof het hy geglo hy is in die paradys omdat hy ongestoord kon werk aan die katalogisering van sy posseëlversameling. Dís die lewe waarna hy nog altyd gesmag het, het hy homself wysgemaak. Aftrede was ’n baie aantreklike opsie.

Dis eers in die laaste twee maande dat hy tot ander insigte gekom het. As hy nou op vier-en-vyftig aftree, gaan sy pensioengeld nie genoeg wees om sy seëlversameling uit te brei soos hy beplan nie. Dit word ’n duur stokperdjie as jy op veilings vir gesogte seëls moet bie teen die land se filatelie-glitterati. Genoeg geld om met ’n Greyhound-bus by al die landwye seëluitstallings uit te kom, gaan hy ook nie hê nie.

Maar in werklikheid was die seëls nie die belangrikste rede vir sy regsomkeer nie. Hy het hom ál meer betrap dat hy saans vasgenael sit voor DStv op soek na reekse oor speurders of dokumentêre programme oor onopgeloste misdade. Dit het spontaan gebeur – so asof daardie wêreld hom uit die bloute begin roep. Amper asof sy wetstoepassingsdrang opnuut geaktiveer is.

Die nare gedagtes aan sy noue ontkomings het vervaag. En hy het die opwinding en adrenalien van sy werk gemis. Sy geliefde stokperdjie sou nie as plaasvervanger daarvoor kon dien nie. Hy is eerstens ’n speurder in murg en been, en daarná is hy ’n ywerige seëlversamelaar.

Daarom, toe brigadier Shaheena Fortuin hom drie weke gelede bel om te hoor of hy finaal oor sy toekoms besin het, kon hy haar dadelik verseker dat hy slaggereed is om te begin.

“Halleluja! My gebede is verhoor!” het sy bevelvoerder uitgeroep, wat hom nóg beter oor sy besluit laat voel het.

Hy frons oor die druppende windjekker. Die kol is nie weg nie, maar dit moet vir eers doen.

Net gou by buurvrou Rita haar haardroër leen om die ding droog te blaas. Sal bra sleg lyk om met so ’n moerse nat kol op sy sak by die werk op te daag.





2



Priscilla Bekker beskou die ou man toe hy instap. Dis seker hoe joernaliste in Snuif se jong dae aangetrek het, dink sy. ’n Verbleikte blou sportbaadjie met ’n dowwe kol op die bosak waar lank gelede ’n wapen gepryk het, helderrooi kruisbande, ’n breë, geblomde das, te kort geknoop en effe weggetrek van ’n boordjie waarvan die boonste twee knope los is. Daarby ’n sakkerige vaalgrys broek waaronder ’n paar afgeleefde vellies met omkrulpunte uitsteek.

Die voorkoms van die redakteur van Die Stem is ’n spieëlbeeld van sy koerant se afgeleefde kantore. Die afskortings tussen die lessenaars is krom en skeef geïnstalleer. Die vaalbruin tapyt is uitgetrap, die mure en plafonne geel gevlek van ’n dekade se sigaretrook en stof wat die arme skoonmaker nooit alleen sal kan baasraak nie. Die ratelende hysbak word bykans nooit gebruik nie weens die risiko dat dit ure lank kan vassteek.

Soos met elke Maandag se redaksievergadering staan Snuif voor die sewe sittende joernaliste. Hy plak die lêer in sy hand op die tafel neer, voel-voel in sy baadjiesak en haal sy snuifdosie uit. Met sy linkerhand se duim vorentoe gestrek om ’n holtetjie te vorm, gooi hy ’n hopie snuif uit. Hy trek dit luid in albei neusgate op. Nies twee keer, darem met sy kop weggedraai, en vee sy neus met sy baadjiemou skoon.

Priscilla gril tot in haar tone. Wat ’n afstootlike vent! Haar oog vang dié van Neville oorkant haar, wat met moeite sy lag inhou. Hy moes die weersin op haar gesig gesien het.

“Raait, laat ons begin,” sê Snuif. “Tyd is kosbaar.”

Hy slaan die lêer oop, haal ’n koerantknipsel uit en beduie na Neville. “Ek wil hê jy moet hierdie een opvolg. Gister se Cape Argus, oor ’n man wat sewe-en-dertig katte in sy huis in Rondebosch aanhou. Die bure kla glo vreeslik, maar dit help boggherol. Die DBV sê die ou het ’n tjommie in die stadsraad wat spesiale toestemming gegee het dat hy soveel katte kan aanhou.”

Snuif oorhandig die knipsel aan Neville. “Gaan besoek die huis en kry foto’s van die man en al sy katte. Ek wil ’n indrukstorie hê. Die lesers moet die katpis kan ruik, die bondels hare op die meubels sien, die gekerm van die katte hoor. En gaan praat met die bure. Ek soek kommentaar wat by laster draai. Gaan chat ook met die tjommie in die stadsraad. Grill die bliksem, en gesels met sy hoof. Hierdie soort misbruik moet end kry!”

Priscilla is volgende aan die beurt. Snuif kyk na haar terwyl hy aan sy gehoorapparaatjie vroetel. Sy waterige ogies onder die wilde wenkbroue skyn soos laserstrale op haar.

“Hier’s enetjie wat groot uitdagings aan jou gaan stel.” Hy haal ’n knipsel uit die lêer. “Tawwe opdrag, maar dis mos wat ek van my reporters verwag – om die onmoontlike reg te kry. En aangesien jy in die noordelike voorstede bly, is hierdie een spesiaal vir jou.”

Priscilla versteen toe hy die knipsel vir haar wys. Dít kan hy tog nie van haar verwag nie!


* * *


“Hoekom lyk dit vanoggend of jou kos afgevat is?” vra Raymond, die stoorbestuurder.

Hernus antwoord nie, tik net met sy voorvinger op sy horlosie om te wys hy is haastig.

“Oukei, oukei. Bring maar die goed, manne!” skree Raymond.

Abraham en Jimmy kom met die trollie by die stoor uit en stoot dit steunend na die paneelwa.

Raymond lees van die delivery notes af soos hulle die vrag inlaai.

“Twee laptops vir ’n klein firmatjie in Sea Point … die Hisense-TV-stel vir ’n man in Green Point … die Panasonic vir ’n mevroutjie in Tamboerskloof …”

Hernus luister nie meer nie. Hy sal sy roete volgens die delivery notes uitwerk. Sy gedagtes broei nog oor daai bitch se fit. Vir hom kom vertel sy hande is vuil! Fok, dis arbeidershande wat met ’n skopgraaf werk, hande wat kluite uit die pad rol … Hy’t ’n ander lewe ook as om net haar deliveries te doen.

Hy staar peinsend voor hom uit. Met daardie fyn wit handjies het sy seker nog nooit ’n graaf vasgehou nie. Ook beslis nie in die nag gegrou waar hy gereeld grou nie.

“Raait, jou vrag is reg.” Raymond oorhandig die delivery notes.

“Snaakse een daai …” Hy wys na Jimmy wat alleen die trollie terugstoot. “Hy sê mos netnou vir my ons business is eintlik maar die arm man se Takealot.”

Hernus luister nie. Raymond se kletspraatjies irriteer hom. Hy klim agter die stuurwiel in en trek vinnig weg. Hy sal weldra iewers stilhou om sy roete uit te werk.

Die pad is besig, soos dit maar gereeld hierdie tyd van die oggend in Paardeneiland gaan. Hy ry geduldig agter ’n groot vragmotor wat teen ’n slakkepas aankruie.

Sy oog vang ’n blink Mercedes wat teen die oorkantste sypaadjie stilhou. ’n Jong vrou klim uit. Dis ’n blondine met ’n kort rokkie.

Hy sit die flikkerlig aan en trek die paneelwa tot op die padskouer. Hou haar dop toe sy teen die trappies van ’n gebou opdraf. Die wind gryp haar roksoom en lig dit op. Sy keer met haar hand, maar nie gou genoeg vir Hernus om te sien sy’t ’n geel deurtrekker aan nie.

Iemand hou die deur vir haar oop.

Hy staar lank na die gebou.

Dis presies haar soort wat hy soek. Net die gedagte aan wat hy beplan, laat sy hart onstuimig in sy bors hamer.

Hy sluit die paneelwa eers ná tien minute aan en trek stadig weg vir ’n meer geskikte plek om sy roete uit te werk.


* * *


Toe Kassie by die Spesiale Spookeenheid se ontvangs instap, steek hy verbaas vas.

Almal staan in gelid daar. Brigadier Fortuin, die persoonlike assistent Lettie, sy kollega Rooi Els, en die ander speurders, Colyn, Piedt, Malabe en Britz. Geoordeel na die breë smiles lyk dit of die spul die Lotto gewen het.

Dan sien hy die ballonne en die plakkaat: Welkom terug, Kassie!

Hulle klap hande. Rooi fluit.

’n Sjampanjeprop skiet met ’n dowwe knal teen die plafon vas.

Kassie stap onseker in. Hy voel oorweldig deur al die uitroepe en skouerkloppe.

Die brigadier skink vir elkeen ’n glasie sjampanje. Kassie kry ’n glas Creme Soda wat sy glimlaggend oorhandig.

Hulle maak ’n kring om hom en lig hulle glase. “Op ons verlore seun wat terug is!” roep die brigadier uit.

Sy steek ’n speech af wat Kassie ongemaklik laat rondtrap. Hy hou nie van sulke oordadige lofprysings nie en is verlig toe sy klaar is en die handeklappery bedaar.

“Baie … baie dankie. Ek … ek het nie so … ’n verwelkoming verwag nie,” stamel hy.

Nog fluite en uitroepe volg.

Rooi staan nader. “Bliksis, is ek bly om jou terug te hê, partner!”

Kassie lig sy glas. “Ook goed om jou te sien, adjudant.”

Hy is verheug dat sy kollega uiteindelik bevordering gekry het. Die brigadier het destyds al, toe hy in die hospitaal was, in sy oor gefluister dat sy Rooi ’n adjudantoffisier gaan maak.

Die jonger man het self ’n paar kilogram aangesit sedert hy hom laas gesien het. En sy haarlyn is besig om op te kruip, die rooi hare klaar yl. Lyk of ’n pankop sy voorland gaan wees, soos sy pa en sy broer s’n.

“Jy lyk goed, man,” sê Rooi. “Gesond!”

“Uitgeswel, ja. Het ’n onblusbare eetlus ontwikkel vandat ek opgehou rook het.”

Die brigadier sluit by hulle aan.

“Jy’s net betyds terug, Kassie. Ons het laas nag ’n groot saak gekry. Maar settle eers rustig in, ek sal jou en Rooi oor ’n uur brief.”

Haar selfoon lui en sy verskoon haarself.

“Waaroor gaan dit?” vra Kassie.

Rooi haal sy skouers op. “Nie ’n clue nie.”

Iemand trek aan Kassie se windjekker. Dis Lettie.

“Is jy bewus van daai kol?” Sy wys na sy sak.

Hy knik. Ná hy die bleddie ding drooggeblaas het, was die kol net nog meer opvallend.

Hy sal vir hom ’n nuwe een moet gaan koop by daai fabriekswinkel in Soutrivier.





3



Priscilla sit voor Snuif se toe kantoordeur en wag. Lydia het haar ná die redaksievergadering voorgespring. Sy was net so ontsteld soos Priscilla oor háár opdrag.

Hoe Snuif verwag dat die arme Lydia snags vroualleen in die donker hole van die Kaapse hawe moet rondhang om “grootskaalse dwelmhandel” oop te vlek, sal net hy verstaan. Hoekom kon hy nie ’n man vra om dié “warm tip” van een van sy vele informante op te volg nie?

Die ou man klou vas aan sy belaglike filosofie om sy verslaggewers gereeld uit hul “comfort zone” te haal om kwansuis die beste uit hulle te kry. Waar hy daaraan kom, sal nugter weet.

Maar dís Snuif.

En ongeag sy onhebbelike streke en verregaande opdragte, oorweeg nie een van die joernaliste dit ooit om by Die Stem te bedank nie. Hulle word drie keer meer betaal as enige ander senior joernalis in die land, ondanks die reuseverlies wat die koerant jaarliks ly.

Nie dat dit Snuif pla nie. Hy het miljoene der miljoene rand in die bank nadat hy sy koninkryk van gemeenskapskoerante tien jaar gelede aan twee groot mediahuise verkoop het. Vroeg in die 1970’s het hy sy loopbaan met ’n knal gelanseer deur van die eerste knock-and-drops uit te gee. Hy het in die ou Transvaal begin en dit later landwyd uitgebrei tot meer as driehonderd titels in die Hamersma-mediastal. Met die verkoop van sy sakeryk het hy dadelik Die Stem gestig, wat ’n fel hofstryd afgegee het. Volgens die twee mediahuise het hy kontrakbreuk gepleeg deur weer ’n gemeenskapskoerant te begin. Maar die uitgeslape Hendrik (Snuif) Hamersma het die hof oortuig dat sy nuwe koerant, wat die hele Wes- en Suid-Kaap bedien, nie ’n tradisionele gemeenskapskoerant is nie.

“Dis ’n Saterdagkoerant met al die eienskappe van ’n Sondagkoerant,” was sy verweer. “Die Stem plaas klem op die nuus ágter die nuus uit die hele streek. Dit dra ook diepteartikels oor politieke en maatskaplike kwessies, wat nie eie is aan gemeenskapskoerante nie.”

Almal wat Snuif ken, het geweet die drukkersink vloei te dik deur sy are om sy geld in iets anders as ’n koerant te belê. En al is dit dié keer net ’n obsessiewe stokperdjie, sou Snuif sy sin kry.

Priscilla het ’n tydjie terug by Neville gehoor dat Die Stem se finansiële bestuurder meen teen die tempo wat die koerant geld verloor, sal Snuif oor ongeveer vyf jaar sy laaste sent uitgegee hê.

“Maar dan is hy al vier-en-tagtig!” was haar antwoord. “En hy sal wel ’n neseier terughou om in weelde af te tree wanneer hy die koerant onder ons gatte sluit.”

“Kom ons skep dan maar terwyl ons nog kan,” het Neville gesug.

En die Vader alleen weet, skep móét sy skep. Met Gerbrand se onderwyssalaris sou hulle nooit hul luukse huis se paaiemente kon bekostig as dit nie vir haar inkomste was nie. Sy weet haar man se beheptheid daarmee om in ’n spogbuurt te bly, kom maar uit sy armoedige kinderjare. Maar as sy eerlik moet wees, geniet sy ook haar weelderige huis. Hulle twee het veels te lank in beknopte woonstelletjies gesuffer.

Sy kyk op toe die kantoordeur oopgaan en Lydia met rooigehuilde oë uitkom.

“Jy gaan my nie teleurstel nie, Lydia!” skree Snuif agterna. “Onthou, ek haal jou uit jou comfort zone vir ’n réde.”

Priscilla stap ongenooid in en gaan sit oorkant Snuif. Sy lessenaar is soos altyd chaoties – hope tydskrifte en koerante, opgestapelde lêers, los notas en ’n tienstuks snuifdosies van verskillende groottes lê oor die blad gesaai.

Hy lig sy woeste wenkbroue. “Het jy ook kom tjank oor jou opdrag?”

“Nee, maar … Ek dink net dit gaan ’n onmóóntlike taak wees.”

Hy sit vorentoe in sy stoel, kepe wat op sy smal voorkop uitslaan. “Hoe oud is jy?”

“Oud? Ek’s agt-en-dertig.”

“En hoe lank is jy al ’n joernalis?”

“Vyftien jaar, amper sestien.”

Hy skud sy kop stadig. “As jy ’n groentjie was, sou ek jou houding verstaan, maar jy is nie. En jy werk nie meer by daai Sondagkoerant waar ek jou met die hand gaan uitsoek het nie. Jy werk by Die Stem, waar niks onmoontlik is nie.”

Dié rympie het sy al baie gehoor. Maar vandag gaan sy haar nie laat boelie deur sy bullshit nie.

“Wel, eerstens is die slagoffers se name nie bekend nie. En die polisie gaan dit nie vir my gee nie.”

Hy lag. “Dis die flouste verskoning wat ek al gehoor het! Van wanneer af is ons op die polisie aangewese vir inligting? Jy blý in daardie geweste. Ek kan jou verseker dis die enigste talking point daar. Net ’n paar subtiele navrae en jy het die name.”

“Mag wees, maar dis erg getraumatiseerde vroue. Hulle gaan nie met ’n koerant praat nie. Allermins met Die Stem.”

Hy neem ’n snuifdosie en gebruik sy voorvinger en duim om ’n knypie in elke neusgat op te snuif. “Dit mag so wees, maar hulle is ook woedend oor wat aan hulle gedoen is. Hulle soek ’n uitlaatklep vir daardie woede, en dis presies wat jy aan hulle gaan bied.”

“Ek verskil.”

Sy kalm houding verander in ’n oogwink. Hy hamer met sy vuis op die lessenaar. “Ek het nie die tyd of die lus om met jou daaroor te redekawel nie! Gaan voer net jou bleddie opdrag uit! Jy’s verskoon.”

Sy kom orent, haar liggaam wat bewe van ingehoue woede. Sy moet haar met moeite inspan om hom nie iets venynigs toe te snou nie.

Snuif trek sy telefoon nader en begin ’n nommer skakel. “En Priscilla,” sê hy, “jy én Lydia is besig om my geduld te beproef. Ek kan jou verseker daar’s dosyne joernaliste wat sal spring vir julle jobs.”


* * *


Lente Viljoen gee ’n laggie. “Hernus het my omtrent aangegluur toe ek sê hy moet sorg dat hy hom soggens was.”

“Die vent gee my die creeps.” Juliana se skouers ril. “Met daai breë gesig en klein ogies lyk hy soos iets wat uit ’n horror movie ontsnap het. Hy’s seker die naaste wat iemand aan ’n Neanderdaller kan kom. En jy moet sien hoe eet hy! G’n wonder sy pens is so groot nie. Slobber sy kos soos ’n honger wolf en kou oopmond. Agterna lê die krummels oor die vloer gesaai, maar moenie dink meneer sal agter hom skoonmaak nie. En as hy die slag koffie drink, slurp hy so hard dat ons ander mekaar skaars kan hoor praat.”

Lente skud haar kop. “Wat my die meeste van hom vang, is daai dowwe, amper lewelose blik. So asof hy niks inneem wat ’n mens vir hom sê nie.”

“Nee wat, julle oorreageer,” sê Pieter. “Ou Hernus doen ’n baie beter job as die vorige delivery-ou. Vandat hy begin het, het ons nog nie ’n enkele klagte oor ’n verkeerde of laat aflewering gehad nie.”

Lente knik. “Dis al wat sy gat red, anders het ek lankal van hom ontslae geraak. Hy’s ’n gesondheidsrisiko vir die hele kantoor. En dink net watter beeld van die maatskappy skep so ’n smeerlap by ons klante!”

“Shame, Lente, die ou het dalk nie eens badkamergeriewe nie,” sê Pieter. “Hy’t vir my gesê hy huur ’n agterkamertjie by mense in Kraaifontein. As jy my vra, is daar niks meer as ’n wasbak nie.”

“O shit, nou gril ek éérs!” roep Juliana uit.

Lente se wenkbroue lig. “Jy verdedig maar net jou aanstelling, Pieter.”

Hy staan vererg op, steek in die deur vas. “Ek sal met Hernus praat oor sy omstandighede. Dalk kan ek hom help om beter blyplek te kry.”





4



Brigadier Fortuin is in haar kantoor op haar selfoon besig, maar sy wys vir Kassie en Rooi hulle moet sit.

Sy maak vlugtig aantekeninge terwyl sy praat. “Hmm … dit klink baie goed, generaal. Ons sal haar beslis kan inspan. Ja, die middae sal meer as voldoende wees. Nogmaals dankie, generaal.”

Sy straal van oor tot oor toe sy aflui. “Pas ’n lekker deurbraak vir ons eenheid gemaak, maar later meer daaroor.”

Sy tik op ’n hopie dossiere. “Hierdie is ons nuwe saak. Die Bellville-polisie het dit tot nou toe hanteer, maar die Wes-Kaapse polisiehoof het besluit die saak hoort eerder by ons. Hy’t my tot gisternag wakker gebel daaroor.”

Sy glimlag breed. “Om hom direk aan te haal: ‘Brigadier, dis tyd dat hierdie ding deur ’n spesialiseenheid soos joune ondersoek word. Stel jou beste speurders vir die job beskikbaar.’” En met ’n handgebaar na Kassie: “Gelukkig is my beste speurspan nou weer voltallig.”

“Hoor-hoor!” sê Rooi.

Kassie lag verleë. Die brigadier weet hoe om die heuningkwas in te lê.

Hy beduie na die dossiere. “Ons brand om te weet waaroor dit gaan.”

“’n Reeksverkragter, in die noordelike voorstede. Vier jong vroue is die afgelope tyd in hulle huise verkrag. Twee ongetroud en twee getroud. Die getroudes se mans was nie tuis toe die verkragtings plaasgevind het nie, en die misdade kom net in ’n sekere kol in die noordelike voorstede voor. Ek is nie bekend met die area nie, maar julle sal die adresse in die dossiere kry.”

“Hoe seker is die polisie dis dieselfde man?” vra Rooi.

Sy glimlag wrang. “Ongetwyfeld dieselfde kalant. Hoewel die vroue hom nie kon beskryf nie omdat hy ’n balaklawa dra, brandmerk hy sy slagoffers ná die tyd.”

Kassie sit regop in sy stoel. “Brandmerk?!”

“Ja, kan jy dit glo? Soos ’n boer sy vee merk. Hy gebruik swart ink en hy brand die syfers 399 op die stuitjie of op die dy net onder die boud in. Wat dit beteken, sal nugter weet.”

“Hoe maak hy die yster warm?” vra Kassie fronsend.

“Een van die vroue het gesê sy dink met ’n blowtorch. Maar nie een het hom ooit in aksie gesien nie, want hy bind hulle op hul mae aan die bed vas.”

“Dis vier vroue, maar hier lê net drie dossiere,” sê Kassie.

“Ja, die laaste een is gisteraand verkrag en gebrandmerk. Dis toe dat die polisiehoof besluit het ons moet oorneem. Julle sal die dossier moet open. My voorstel is dat julle eers die bestaande dossiere bestudeer. Die nuutste slagoffer is in elk geval vandag geskeduleer vir ’n lang beradingsessie, so dit sal beter wees as julle haar môre ondervra.”

Kassie kom orent uit sy stoel.

Die brigadier hou haar hand op. “Nie so haastig nie, ek’s nog nie klaar nie. Ek het hulp vir julle gereël.”

Rooi vee oor sy borselkop. “Hulp?”

“Jip, dis my ander nuus. Kaptein Lulu Wiersinga van die ondersoekendesielkunde-eenheid sal julle smiddae bystaan met die saak. Die eenheid spesialiseer onder meer in reeksmoorde en verkragtings. Kaptein Wiersinga is een van die min goed gekwalifiseerde sielkundiges in die eenheid oor, en die naaste wat jy vandag aan ’n kriminele profileerder in die SAPD sal kry. Volgens die polisiehoof is sy uiters knap.”

“Dís ’n bonus,” sê Rooi.

“Dis wat ek ook dink. Nie een van ons hier is kenners van reeksoortreders se gedrag nie. Daarom glo ek sy gaan van groot hulp wees om julle op die regte spoor te sit.”

Kassie wil kapsie maak. Hy hét al ’n paar reeksoortreders in sy loopbaan gejag. Maar hy besluit om eerder stil te bly.

Die brigadier skuif die lêers na hom toe. “Kaptein Wiersinga sal môremiddag hier inval. Intussen het julle leeswerk om te doen.”

Hy knik. “Hoeveel weet die media?”

“Die koerantberigte is in die dossiere. Tot dusver het die joernaliste wel die afleiding gemaak dis ’n reeksverkragter, maar uiteraard ken hulle nie die slagoffers se name nie. Hulle weet ook nie van die brandmerke nie. Gelukkig het die Bellville-speurders suinig omgegaan met inligting oor die saak.”

“My gevoel is ons moet dit voorlopig so hou.”

“Stem saam,” sê die brigadier. “Maar in daardie opsig sal kaptein Wiersinga ons ook leiding kan gee.”

Toe hulle uitstap, voel Kassie verlig. Hoewel verkragting ’n verfoeilike daad is wat hom teen die bors stuit, is dit ten minste nie ’n reeksmoordsaak nie. Hy weet nie of hy nou al die maag daarvoor sou hê nie.


* * *


Chrisjan Miles werk vanaand se drafroete op sy rekenaar uit. Hy sal weer daai pad deur Proteavallei vat – hy kon nou die aand sy geluk nie glo nie. Daarna sal hy Van Riebeeckshof gaan verken.

Hy maak ’n paar berekenings. Ongeveer ’n roete van tien kilometer, wat perfek is.

Hy kyk gesteurd op toe sy kollega instap en skuins agter hom kom staan.

“Al weer besig om jou drafroete uit te werk?” vra Wicus.

“Jip.”

“Hel, lyk my jy’s ernstig oor volgende jaar se Comrades!”

“Nog altyd op my bucket list gewees.”

Wicus skud sy kop. “Hoe jy op die ouderdom van veertig nog krag het om sulke uitputtende goed aan te vat, sal net jy weet.”

Chrisjan lag. “Veertig is die nuwe dertig, my pel.”

“My twee-en-veertig voel nader aan vyftig,” snork Wicus. “Maar ek haal my hoed vir jou af. As ek saans amper negeuur by die huis kom, wil ek net die bed slaat, terwyl jy nog energie het om laatnag te gaan draf. Ek sou eerder soggens voor werk draf.”

“Nog nooit ’n oggendmens gewees nie.”

Wicus loop uit toe die telefoon in sy kantoor begin lui.

Chrisjan staar peinsend na sy rekenaarskerm. Watter verskoning gaan hy met volgende jaar se Comrades hê? Skielike griep? ’n Dyspierbesering?

Hy glimlag. Dalk gaan sy grootste uitdaging wees om sy “geweldige teleurstelling” geloofwaardig te laat lyk.





5



Priscilla besef sy moet hierdie storie met groot omsigtigheid benader. Sy voel eintlik vrek skuldig dat sy haar eie man in ’n blik gaan druk, maar dit gaan die vinnigste manier wees om die vroue se name te kry.

As ywerige buurtwaglid is die kans goed dat Gerbrand weet wie hulle is. Sulke inligting word gewoonlik tussen die verskillende buurtwagte van die omgewing gedeel, weet sy uit haar koerantondervinding.

Vanmiddag op pad huis toe het sy al haar strategie uitgewerk. Net één manier om hierdie ding aan te pak.

Terwyl Gerbrand kos opskep, bestudeer sy hom. Sy kon seker ’n aantrekliker man losgeslaan het. Ook een met ’n lonender beroep as ’n laerskoolonderwyser. Boonop met meer ondernemingsgees in die bed, want aardskuddend was hulle sekslewe nog nooit. Maar sy sou nie sommer ’n beter man kry nie. Sy gelykmatige geaardheid en ingebore bedagsaamheid het haar hartsnare geroer die oomblik toe sy hom sewe jaar gelede ontmoet het. Hy was só anders as haar vorige kêrel, ’n humeurige narsis.

En sy sal nooit sy reaksie vergeet met die mediese uitslag kort ná hul troue dat sy nooit kinders sal hê nie. Sy was vir maande in ’n depressie daaroor, grootliks omdat sy geweet het hoe graag Gerbrand ’n nageslag wou hê. Maar ondanks sy teleurstelling het hy haar in daardie tyd op die hande gedra. Was dit nie vir hom nie, was sy beslis baie langer in daai donker put.

Hoewel hy aanvanklik oor aanneming geskimp het, was sy altyd louwarm daaroor. Ook dít het hy sonder enige verwyte aanvaar. Hulle het lankal daarmee vrede gemaak dat kinderstemme nooit in hul huis sal opklink nie.

Al hierdie gedagtes laat haar nog skuldiger voel oor haar agterbakse plan.

Sy weet Gerbrand neem sy buurtwagpligte baie ernstig op. En al irriteer sy gereelde middernagtelike patrollies haar soms (ook die wete dat hy sy swaarverdiende geld wat eerder vir die huis aangewend kon word op petrol uitry), gun sy hom dit. Dis sy manier om aanvaar te word en deel te voel van hierdie skatryk omgewing, dig bevolk met dokters, prokureurs, argitekte en sakemanne.

Sy wag tot hy oorkant haar aan die tafel kom sit en begin eet. Haar plan móét eenvoudig werk.

“Jy nie honger nie?” vra hy toe sy haar bord met ’n dramatiese sug wegskuif.

“Ná wat vandag by die werk gebeur het, het ek regtig geen eetlus nie.”

Hy sit dadelik sy mes en vurk neer en vra besorg: “Hoe so, my skat?”

“Ou Snuif dreig om my af te dank.”

“Wat?! Jou af te dank!”

“Ja. Want ek het geweier om een van sy absurde opdragte uit te voer.”

“Hel, Priscilla, jy moet darem aan ons situasie ook dink. Ons kan nie bekostig dat jy …”

“Wag tot jy hoor wat hy van my verwag.”

“En dit is?”

“Dat ek onderhoude moet gaan voer met die vier vroue wat hier in ons omgewing verkrag is.”

“Weet hy dan wie hulle is?”

“Nee, dis juis die ding. Hy sê ek moet self uitvind. Hy verwag die onmoontlike!”

Sy bly ’n oomblik langer stil om dit aan te dik.

“Dis toe dat ek my voet neersit en volstrek weier,” lieg sy.

Gerbrand kyk geskok na haar. “Sjoe, Priscilla, ek weet darem nie. Ons kan nie sonder jou salaris …”

“Dit besef ek maar te goed! Maar het jy enige voorstelle?”

Hy kyk af na sy bord. “Wel … ek kan seker hulle name vir jou gee. Ek het die adresse ook.”

“Dit kan ek tog nie van jou verwag nie! As die buurtwag uitvind ek werk by die koerant, gaan hulle vermoed ek het die inligting by jou gekry. Netnou konfronteer hulle jou.”

Hy glimlag effe. “Dan ontken ek dit net ten sterkste, my liefling.”

Sy leun nader en vryf oor sy voorarm. “Jy’s ’n vreeslose ou skattebol!”

Hy tel sy mes en vurk weer op. “Daar’s nog iets … Maar jy mag nie daaroor skryf as een van hulle jou nie self vertel nie.”

“Ek belowe ek sal nie.”

“Hy merk die vroue ná die tyd met ’n brandyster.”

“Wat?!” Sy slaan haar hand oor haar mond.

“Ja, die syfers 399 is op elkeen se lyf ingebrand.”


* * *


Hernus kom eers skemeraand by sy blyplek aan. Die taxi’s het gestaak, wat sy tog van Paardeneiland af ekstra tydrowend gemaak het.

Hy beskou sy afgeleefde bakkie onder die afdak. Dalk moet hy in die toekoms daarmee werk toe en terug ry? Dan is hy nie afhanklik van openbare vervoer nie.

Nee. Slegte idee. Hy reserveer die bakkie vir sy aandwerk. Sal nie slim wees om helder oordag met die ding rond te ry nie.

Hy knyp die dag se koerante onder sy arm vas terwyl hy die deur oopsluit. Hy het ’n nuwe slot laat aanbring toe hy hier ingetrek het. Wil nie die risiko loop dat die landlord in sy afwesigheid met ’n spaarsleutel inkom nie.

Die plek ruik muf toe hy die deur oopstoot. Die klam mure dra daartoe by. Daarmee moet hy maar saamleef. Kan nie bekostig om die vensters oop te maak nie. Al is daar diefwering, kan iemand altyd die gordyne wegtrek en inloer.

Hy skakel die lig aan. Die koerante kom op die tafeltjie van planke en bakstene langs sy leunstoel. Hy maak eers seker die gordyne is dig toegetrek voor hy na die tafel teen die oorkantste muur stap.

Met ’n glimlag lig hy die handdoek op. “Het julle na my verlang?”

Hy bekyk hulle. Frons. Hy sal dringend varses moet kry.

“Ons gesels later weer,” sê hy toe hy die handdoek sorgvuldig terugplaas.

Hy stap na die yskassie, haal ’n bier uit en loop na sy leunstoel. Gebruik die koerante om die koskrummels van die sitplek af te vee.

Hy blaai vinnig deur die eerste koerant, tot by die agterste seksie. Sy oë skeer oor die foto’s. Nee wat, niks om oor huis toe te skryf nie.

Sy hartklop versnel toe hy die tweede koerant oopslaan. Presiés wat hy soek. Hy lees die gegewens onder die foto en skeur die berig uit. Môre het hy weer aandwerk. Dis hoog tyd.

Die laaste koerant lewer ook niks op nie en hy gooi hulle op die hoop langs die stoel neer.

Terwyl hy aan sy bier teug, hou hy die twee kakkerlakke dop wat oor die kaal sementvloer skarrel. Maar sy gedagtes is op ’n ander plek. Vanoggend se blondine broei nog heeltyd in sy agterkop. Dit gaan ’n opwindende nuwe ervaring wees …

Maar hy sal sy tyd geduldig moet afwag. Dit gaan veel meer beplanning as sy aandwerk verg.


* * *


Chrisjan se asem jaag en sy bors brand. Hy swets onderlangs. Vanoggend se berekenings was beslis verkeerd, hierdie roete is verder as tien kilometer. Of dalk is dit Van Riebeeckshof se steil opdraandes waarmee hy hom misreken het?

Op pad huis toe waai hy vriendelik vir ’n sekerheidswag van ADT wat verbyry. Die man waai terug. Hy is al gewoond aan die nagtelike drawwer.

“Naand, naand,” groet Chrisjan die hekwag toe hy by sy veiligheidskompleks indraai.

“Sjoe, maar meneer snol omtrent elke aand!” sê dié laggend.

“Die Comrades wag!” skree Chrisjan oor sy skouer.

In sy meenthuis haal hy sy rugsak af en strompel kombuis toe. Hy sluk gulsig aan ’n glas yswater. Sy aand was sonder opwinding, want die huis in Proteavallei was donker. Sy moet vroeg gaan slaap het.

Tog glimlag hy op pad badkamer toe. Wat gaan haar reaksie wees as sy môre daai nota in haar posbus kry?

Hy het vandag by die werk groot moeite gedoen om haar naam uit te vind. Toe het hy die nota op sy rekenaar getik en uitgedruk. Haar naam boaan, gevolg deur Hallo, jou mooi ding.

Môreaand is dit weer die vrou in Welgemoed se beurt. Dit sal sy derde boodskap in haar posbus wees, so hy sal ’n stap verder kan gaan.

By die ander twee se woonplekke sal hy eerder nie notas los nie.





6



Kassie druk die voordeurklokkie ’n derde keer, maar steeds maak niemand oop nie.

“Bliksis, ek hoop nie dis die verkeerde plek nie,” sê Rooi.

Kassie skud sy kop. “Kan nie wees nie, dis die regte adres. En sy weet mos van ons afspraak.”

Hy beduie na die geplaveide paadjie langs die huis af. “Dalk moet ons agter gaan kyk.”

Hulle stap buk-buk onder die boomtakke deur.

Rooi kyk om hom rond. “Groot erf, nè?”

“Ja, tipiese rykmansbuurt.”

Die paadjie lei na ’n aangeboude woonstel.

“Dit moet haar plek wees,” sê Kassie. Hy druk die deurklokkie.

Voetstappe kom vinnig nader. “Wie’s daar?” vra ’n vrouestem.

“Polisie,” antwoord Kassie. “Ons het ’n afspraak met Mathilda Bonthuys.”

’n Ouerige vrou maak die deur oop.

“Kan ek julle polisie-ID’s sien?” vra sy streng.

Hulle haal hul ID’s uit en wys dit vir haar.

“Reg, kom maar in. Ek is Tilla se ma.”

Sy beduie na die sitarea van ’n ruim oopplanvertrek. “Sit gerus. Ek gaan roep haar gou.”

Die plek is deftig en smaakvol versier. Twee hipermoderne skilderye hang teen ’n spierwit muur. Dit val nie in Kassie se smaak nie, maar hy moet toegee die helder kleure pas mooi by die geel en groen leerrusbanke en die rooi mat.

’n Minuut later kom ’n jong vrou in, geklee in jeans en ’n loshangende T-hemp. Kassie skat haar in haar laat twintigs of vroeë dertigs. Ondanks haar afgeremde, bleek gesig en opgehewe rooi ooglede is sy aantreklik, met kartelende blonde hare wat tot op haar skouers hang.

Sy kom sit versigtig op die geel bank oorkant hulle. Die brandmerk moet nog gevoelig wees, besef Kassie.

“Kan my ma vir julle koffie maak?” vra sy.

“Nee, dankie,” koor hulle.

Kassie kug. Dit bly maar moeilik om ’n getraumatiseerde slagoffer te ondervra. “Kan … kan ek jou maar Tilla noem?”

Sy knik, haar gesig uitdrukkingloos. Daar is ’n doodsheid in haar oë.

“Net eers ’n paar algemene vrae. Wat is jou beroep?”

“Tandarts by ’n praktyk in Durbanville.”

“Ouderdom?”

“Nege-en-twintig.”

“Bly jy alleen hier?”

“Ja. My ma het eers gister hierheen gekom om my by te staan.”

“Ek neem aan jy’s ongetroud?”

Sy huiwer. “Ek is ’n jaar gelede geskei.”

“Wie bly in die hoofhuis?”

“’n Bejaarde egpaar. Die man is ’n afgetrede sakeman.”

“Was hulle in die huis tydens die … voorval?”

“Nee, hulle kuier al die afgelope drie weke by hul dogter in Engeland.”

“Het die plek ’n alarmstelsel?”

“Die hoofhuis het, maar nie die woonstel nie.”

“Hoe lank huur jy al hier?”

“Amper twee maande.”

Kassie skraap sy keel. “Tilla, nou sal ons jou moet uitvra oor Sondagaand se gebeure. Ek weet dis moeilik vir jou, maar probeer om so volledig moontlik te antwoord. Hoe meer inligting ons het, hoe groter is die kans ons trek die verkra … die aanvaller vas.”

“Ek … sal probeer.” Haar oë is skielik nat.

“Hoe het hy toegang tot die woonstel gekry?”

Sy wys na die groot venster aan die oorkant van die vertrek. “Dit was oop. Ek het veilig gevoel hier omdat die woonstel weggesteek is van die straat af. En die eienaars het my verseker daar was nog nooit ’n inbraak in die twintig jaar wat hulle hier woon nie.”

“Hoe laat het die voorval plaasgevind?”

Haar onderlip begin liggies bewe. “Net voor elf … Ek het pas klaar gestort, en ek het met die handdoek om my lyf kamer toe gestap. Hy het my van agter af gegryp …”

Sy snuif en vee oor haar oë. “Hy het my tot op die bed gedwing, die handdoek afgepluk, op my rug gaan sit en my hande agter my kop vasgemaak.”

“Het jy teenstand probeer bied?”

“Nee, ek was lam geskrik en hy was sterk. Hy het heeltyd paaiend met my gepraat, gesê hy sal my nie doodmaak nie. Ek kon hoor dis ’n wit man.”

Haar kop sak. ’n Ongemaklike stilte heers.

“En toe …?” por Kassie. “Ek weet dis moeilik …”

“Hy het van my afgeklim en my op my rug gedraai. Hy’t gesê hy gaan my voete aan die bed vasmaak en my gewaarsku as ek skop, gaan hy my seermaak. Hy’t gesê hy het ’n rewolwer in sy rugsak.”

“Hoe het die rugsak gelyk?”

“’n Grote, donkergrys.”

“Het hy die lig afgesit?”

“Nee, dit was heeltyd aan.”

“Kan jy sy liggaamsbou beskryf?”

“Breë skouers en taamlik lank, seker ’n raps langer as 1,85 meter. Hy’t nie ’n boepmaag of so iets nie.”

Kassie kyk na Rooi. “Is dit in die ou taal langer as ses voet?”

Rooi knik.

“Hoe was hy aangetrek?” vra Kassie.

“Alles swart – balaklawa, sweetpaktop en jeans. Hy’t handskoene ook gedra.”

“En sy skoene?”

“Ek kon nie sien nie. Hy’t teenaan die bed gestaan.”

“Wat gebeur toe?”

Haar oë verhard. “Hy het my naam geken, Mathilda – soos op die bordjie by ons praktyk. Al my vriende en familie noem my Tilla, en op my Facebook is ek ook Tilla. Hy’t gesê hy gaan seks met my hê, maar ek hoef nie bekommerd te wees nie, want hy gebruik ’n kondoom.”

“Hoe het hy dit gesê? Kalm of dreigend?”

“Uiters kalm, verskonend … amper gerusstellend. Ek … weet nie regtig hoe om dit te beskryf nie.”

“En sy stem? Enige uitstaande kenmerk?”

“Niks uitsonderlik nie … gewoon.”

“Sal jy sy stem weer herken?”

Sy peins ’n oomblik. “Ek weet nie, ek was so vreesbevange … Ek dink amper nie so nie. En buitendien was die mondopening van die balaklawa toegestik. Sy stem het gedemp deurgekom.”

“Kon jy die kleur van sy oë sien?”

“Donker, sou ek sê. Moontlik bruin.”

“Wat gebeur toe?”

“Hy het sy handskoene uitgetrek en op die mat neergegooi. Toe het hy sy … geslagsorgaan uitgehaal … dit was al … erek. Hy het ’n kondoom aangesit. Toe het hy ’n buisie jellie uit sy sak gehaal, daarvan op sy vinger uitgedruk en dit … in my … vagina gesmeer.”

Meteens verkrummel haar dapper fasade. Sy hou haar hande voor haar gesig en begin huil. Rou snikke ontsnap uit haar keel.

Kassie en Rooi kyk ongemaklik na mekaar.

“Toemaar,” paai Rooi, “dis goed dat jy huil. Ons verstaan.”

“Moet ons eers ’n breek vat?” vra Kassie besorg.

Sy skud haar kop beslis. Vee haar trane af en haar neus met die agterkant van haar hand skoon. “Nie nodig nie.”

Sy bly ’n oomblik stil, sluk hard.

“Toe het hy op my geklim. My eers bevoel … my borste en maag, my vagina betas en my toe verkrag. Dit het soos ure gevoel voor hy ’n orgasme bereik het, maar ek het op die muurhorlosie gesien dit was seker nie langer as tien, twaalf minute nie.”

“Het hy sy klere en balaklawa aangehou?” vra Kassie.

“Ja, heeltyd. Toe hy klaar was, het hy die gebruikte kondoom in sy rugsak gedruk en sy handskoene weer aangetrek. Hy het ’n lap in my mond geprop en dit met my kussingsloop vasgebind. Toe het hy my voete losgemaak, my op my maag gedraai en my voete weer aan die bedpote vasgebind. Ek het gedink hy’s klaar. Dat hy my só op my maag gaan los en padgee, maar …”

Haar onderlip begin weer bewe. “Toe sê hy daar’s nog iets wat hy moet doen, maar ek hoef my nie te bekommer nie, dit gaan net vir ’n rukkie seer wees. Ek was angsbevange … ek het gedink hy gaan iets … van agter af aan my doen. Ek kon hoor hy vroetel in sy rugsak. Toe is daar skielik ’n snaakse suisgeluid … en ’n rukkie later hierdie ontsettende brandpyn op my regterdy.”

Sy wring haar hande, haal diep asem. “Toe pak hy op. Ek het gehoor hoe hy die voordeur oopsluit en die deur weer toetrek. Ek het op die muurhorlosie gesien daar het ’n rapsie meer as veertig minute verloop sedert hy my oorval het.”

Haar houding raak meer ontspanne, haar stem sterker.

“Ek was gelukkig om my hande gou losgewikkel te kry. Ek het eers die voordeur gaan sluit en die venster toegemaak en toe die Bellville-polisie se noodnommer gebel. Hulle was binne twintig minute hier. Hulle het my begin ondervra, maar toe het iemand gebel en toe sê hulle ’n ander eenheid gaan my saak ondersoek. Hulle het hier gewag tot die forensiese mense opdaag en het my na die ondersteuningskamer vir slagoffers by die Bellville-polisiekantoor geneem. Daar het hulle met my gesels en my toe na ’n dokter geneem vir ’n ondersoek. Daar is ’n foto van my dy geneem en …” Sy steek vas. “Ek hoef seker nie op alles uit te wei nie?”

“Nee, jou verklaring is voldoende,” sê Kassie. “Ons kry die dokter en forensies se verslae vanmiddag nog om die prentjie te voltooi. Jy het baie goed gedoen, Tilla. Ek is seker jou inligting gaan ons help.”

Sy lyk verlig en staan dadelik op.

“Laat weet ons as jy nog iets onthou,” sê Rooi en oorhandig ’n besigheidskaartjie aan haar.

By die deur draai Kassie om. “Iets wat my nou skielik byval … Het julle nie dalk ’n pasiënt by julle praktyk wie se liggaamsbou ooreenstem met die verkragter s’n nie?”

Vir die eerste keer is daar ’n effense glimlag op haar gesig. “Ek het gister die hele dag aan presies dit gedink. Ek het nie so ’n pasiënt nie. En dit gaan amper onmoontlik wees om by my twee kollegas vas te stel of hulle aan so iemand kan dink. Ons praktyk is geweldig besig, en daar’s ook gedurig mense wat pasiënte vergesel. Dit kan enige man wees wat al in ons wagkamer was. En sy liggaamsbou is nou ook nie só uitsonderlik dat hy sou uitstaan nie.”

Kassie knik. “Doen tog maar navraag by jou kollegas en die ander personeel. ’n Mens weet nooit.”

Hulle groet en stap uit.

Op pad motor toe sug hy swaarmoedig. “Absoluut géén nuwe inligting nie. Dis soos ’n duplikaat van die ander drie vroue se verklarings.”

“Dit kan jy bleddiewil weer sê,” brom Rooi.





7



Priscilla het met Snuif ooreengekom sy werk van vandag af by die huis.

Hy het haar al vroegoggend gebel om te hoor wat haar “plan van aksie” is. Sy wou nie vir hom sê dat sy reeds die vroue se name het nie, en allermins van die 399-brandmerk. Daardeur sou sy haarself net onder druk plaas, want dis die soort inligting wat Snuif se sensasie-enjin op al sy silinders laat vuur. Uit vorige ondervinding weet sy hy sal haar elke halfuur bel om te hoor hoe sy vorder.

Sy het vir hom gesê sy sal vanoggend subtiel begin navraag doen in die omgewing. “Meneer besef seker ás die slagoffers met my praat, sal hulle anonimiteit vereis,” het sy vinnig bygevoeg.

“Dis juis waar jou uitdaging lê!” het hy uitgeroep. “Oortuig die vroue dat hulle as baie dapper gesien sal word as ons hulle name mag publiseer. Dat hulle daarmee ’n helse slag sal slaan vir vroueregte en die Me Too-veldtog in Suid-Afrika. Sê vir hulle dis juis die dapper vroue in Amerika wat nie agter anonimiteit geskuil het nie wat vir Harvey Weinstein sy gat laat sien het. Dink skeppend, Priscilla!”

Nog voor sy kon uitwys dat dit geensins vergelykbaar is nie, het Snuif sy troefkaart gegooi.

“As jy net een vrou kan oortuig om uit te kom én as sy bereid is dat ons haar foto plaas, gee ek jou ’n bonus van twintigduisend rand … in cash, sonder dat die Ontvanger daarvan hoef te weet. Maar onthou, ek soek haar naam, haar rillerstorie én haar foto.”

Dit sal nie die eerste keer wees dat Snuif dit doen nie. ’n Paar jaar gelede het Neville ’n soortgelyke kontantbonus gekry toe hy ’n fluitjieblaser in ’n polisieskandaal oortuig het om sy naam bekend te maak.

Priscilla bekyk weer die lysie name voor haar. Een het sy vroeër omkring: Colleen Adler. Sy het twee jaar gelede ’n storie oor Colleen vir Die Stem se vermaakblad geskryf. Dit was toe die jong vrou net begin naam maak het as aktrise. Die onderhoud het nog plaasgevind in die einste meenthuis waarin Colleen ’n maand gelede verkrag is.

As Snuif moet weet een van die slagoffers is ’n bekende sepiester, gaan hy van sy trollie af raak. Sy sal op Colleen moet konsentreer. Snuif gaan háár en nét haar storie wil hê.


* * *


Chrisjan se gedagtes is vanoggend nie by sy werk nie. En ouditeur is juis ’n beroep waarin jy voltyds móét konsentreer.

Soms wonder hy of dit nie ’n fout was om die firma saam met Wicus te begin nie. As interne ouditeur by ’n gevestigde maatskappy was hy gewoond aan geroetineerde werk en normale kantoorure. Nou, as vennoot van Dekker & Miles, werk hy sy gat af, met ongereelde ure en baie meer bekommernisse as vroeër. En tot dusver kan hy nog nie sê dit was uit ’n finansiële oogpunt die moeite werd nie. Hulle bedryfskoste is bliksems hoog en …

Hy kyk gesteurd op toe sy kantoordeur oopgaan. Wicus.

“Sorry, Chrisjan, ek weet jy’s besig met die Van Tonder-groep se goeters … Maar my vrou slag my af as ek jou nie vra nie.” Hy lyk effe verleë. “Wat doen jy komende Saterdagaand?”

Dadelik flikker daar rooi ligte by Chrisjan.

“Ek het dalk ’n ete-afspraak, maar dis nog nie gefinaliseer nie,” lieg hy. “Waarom vra jy?”

“Man, ’n niggie van my vrou kuier by ons vir die naweek. Sy’s ’n semi-oujongnooi, in haar laat dertigs. Bly in die Oos-Kaap. Sy’t ’n paar jaar gelede ’n moerse liefdesteleurstelling beleef en kon nog nie daaroor kom nie. Vroulief dink julle twee sal aanklank vind by mekaar. Sy’s ook ’n fanatiese drawwer.”

Chrisjan glimlag. “Is jy besig om vir my ’n blind date te organise?”

Wicus trap ongemaklik rond. “Nee, man, dis nie dit nie. Maar my vrou …”

“Hoe lyk sy?”

“Nou nie beeldskoon nie, maar genuine nie lelik nie. En sy het ’n vrééslike nice persoonlikheid.”

Dit klink oorbekend vir Chrisjan.

“Ek sal jou later vandag laat weet oor my ete-afspraak. As dit afkom, gaan ek julle uitnodiging nie kan aanvaar nie. En ek het ongelukkig Vrydagaand klaar ’n ding aan,” sê hy as voorsorgmaatreël.

Hy skud sy kop vies toe Wicus uit is. Waarom almal so behep is met sy oujongkêrelstatus, sal hy nie weet nie. Die paar vriende wat hy het, wil alewig meisies met “nice persoonlikhede” aan hom afsmeer.

Seker omdat hy self so onaansienlik is dat hulle dink hy sal vir die skreeulelikes val. Hy vryf oor sy wang, ’n knobbelrige herinnering aan die chroniese akneeprobleem wat hom as tiener geteister het. Dié letsels het geensins gehelp om later in sy lewe sy gebrek aan selfvertroue om te keer nie.

Hy probeer weer op sy werk konsentreer, maar weet dis tevergeefs. Dalk moet hy ’n kort breek vat, iets doen om hom in ’n beter stemming te bring.

Hy haal sy iPhone uit en gaan na die foto’s wat hy verlede week van die rooikop in Welgemoed geneem het. Hy vergroot een van die foto’s. Net jammer die lig was so swak. Hy kyk lank daarna, glimlag toe hy die foon op sy lessenaar neersit.

Tyd dat hy ’n stappie verder met haar gaan.

Hy trek sy skootrekenaar nader en maak ’n Word-dokument oop. Begin tik.

Elke dag fantaseer ek oor daardie mooi tiete van jou. Eendag gaan ek hulle nog vashou. En dis ’n belofte.

Van ’n bewonderaar

X X X X X X X


* * *


Hernus kyk stip na die man wat voor sy lessenaar staan.

“Dankie, Pieter, maar ek is happy waar ek bly. Ek hou van Kraaifontein. Dis waar ek grootgeword het.”

“Het jy darem voldoende geriewe daar?”

“Ek is gelukkig met wat ek het.” Hy sit sy hande op die lessenaar sodat Pieter dit kan sien. Hy het vanoggend moeite gedoen om dit skoon te skrop en toe sommer ook sy naels geknip.

“As jy ooit ’n lift in die middae huis toe soek, kan jy my altyd vra, hoor,” sê Pieter. “Dis nie vir my ’n groot ompad om Kraaifontein langs te ry nie.”

“Dankie, maar die taxi wag altyd hier op die hoek vir my. Ek sukkel nooit om by die huis te kom nie.”

Pieter knik. “Ek het net gedink dit sal jou geld spaar. Maar doen wat vir jou die beste werk.”

Hernus hou hom vanuit die hoek van die kantoor dop soos hy wegstap. Pieter stop kort-kort by die foonoperateurs se lessenaars om met hulle te gesels. Altyd vriendelik en vol grappies.

Hernus staan op om sy delivery notes vir die middag te gaan kry. Hy was gelukkig met sy oggendskof, die plekke almal taamlik naby aan mekaar.

Op pad stoor toe is sy gedagtes weer by Pieter.

Hy is ’n gawe man, maar Hernus vertrou nie sulke mense nie. Destyds was sy toesighouer by die lykhuis ook ’n baie gawe kêrel.

Of só het Hernus gedink.

Totdat daai rugsteker hom by die base gaan verkla het.





8



Kassie was effe verbaas toe daar vir kaptein Lulu Wiersinga ’n lessenaar by sy en Rooi se kantoor ingedra word. Die plek is al klaar so donners beknop.

Hy sug. Hy moet seker maar daarmee gediend wees, want daar is nie regtig ander sitplek nie. Rooi het ook onderlangs gebrom, maar hy is nou verdiep in die verklaring wat hy oor Tilla Bonthuys skryf.

Sodra Kassie tevrede is met die verklaring, gaan hulle Bellville-polisiestasie toe om te praat met die speurders wat vroeër aan die saak gewerk het. Dit sal goed wees om hulle eerste indrukke van die misdaadtonele te kry en ’n paar gedagtes te ruil oor die verkragter se modus operandi.

Voor hulle soontoe gaan, moet hulle eers wag om kaptein Wiersinga te ontmoet, het die brigadier gesê. Dan kan sy vanmiddag solank deur die dossiere werk. Dis ’n voorstel waarmee Kassie saamstem. Gaan nie help om nou dadelik vinnige afleidings te wil maak nie.

Hy vat-vat aan sy bosak waar hy die drie rytjies sjokolade in ’n plat plastiekhouertjie bêre om skade aan sy hemp te voorkom. Onthou dan dat daar net een blokkie oor is.

Hy besluit om dit vir later te bêre. Hoe lank hierdie streng rantsoenering van hom gaan hou, weet hy nie. Maar vir eers moet hy álles in sy vermoë doen om sy gewig af te kry.

Hy en Rooi kyk gelyktydig op toe die kantoordeur oopgaan. Brigadier Fortuin en ’n kort, gesette vrou kom ingestap.

“Laat ek julle voorstel aan kaptein Wiersinga,” sê die brigadier.

Dis ’n vrou van sy portuur, skat Kassie toe hulle handskud. Haar wilde bos swart hare staan puntig in alle windrigtings. Die koeëlronde gesig vertoon ’n breë glimlag. Skelrooi lippe. Haar polisie-uniform sit knap aan haar. Die geur van haar soet parfuum hang swaar in die lug.

“Groot voorreg om jou te ontmoet, kaptein Kasselman,” sê sy. “Ek het al só baie van jou gehoor.”

“Noem my sommer Kassie.”

Sy gee ’n amper verligte laggie. “En noem my asseblief Lulu.”

Sy skud Rooi se hand. “Toe ek sewe jaar gelede van ’n privaat praktyk af by die polisie aangesluit het, was hierdie klomp range vir my die grootste aanpassing denkbaar. Ek raak nou nog soms deurmekaar met die goed.”

Die brigadier glimlag. “Lulu, ek laat jou in die bekwame hande van Kassie en Rooi. Kom kla gerus by my as hulle jou stief behandel.”

Toe sy uit is, skuif Lulu steunend agter die lessenaar in waar Kassie vroeër die dossiere neergesit het.

“Rooi is amper klaar met die vierde dossier,” sê hy.

Lulu knik. “Ek verstaan van die brigadier julle is vanmiddag uit. Dit sal my kans gee om deeglik deur alles te werk. Dan kan ons môremiddag daaroor gesels.”

“Klink goed vir my.”

Kassie hoop maar sy voldoen aan die brigadier se verwagtinge. Hy het al twee keer in sy loopbaan saam met kriminele profileerders gewerk. Een het hulle darem soort van in die rigting van die moordenaar gestuur, maar die ander een was heeltemal clueless. Wat hom betref, is profileerders se vermoëns ver verwyder van die superwesens wat in populêre fiksie en veral in flieks uitgebeeld word. Hy meen hulle steun te swaar op stereotipering. Soms kom hulle tot ’n gevolgtrekking gegrond op net enkele eienskappe van ’n soort oortreder, wat die speurder op ’n syspoor kan gooi.

Maar al het hy sy bedenkinge, het hy besluit om dit nie aan die brigadier te noem nie. Sy was té in haar noppies oor hierdie “deurbraak”. Hy het dit ook teenoor Rooi verswyg, om sy kollega nie negatief te beïnvloed nie.

Rooi staan op agter sy lessenaar. “Die storie is nou so volledig as wat kan kom,” sê hy en oorhandig die verklaring aan Kassie.

Hy draai na Lulu. “Hoe gaan julle te werk om te bepaal na wie ons moet soek?”

Sy lag. “Ek hoop nie jy verwag dat ek vir jou ’n naam en adres gaan gee nie!”

Rooi grinnik. “Nee, darem nie. Wil net weet waarna jy alles kyk.”

“Na álles. Ek sou verkies het om die doktersondersoeke van die vroue by te woon, maar in verkragtingsake is dit gewoonlik nie prakties moontlik nie. In moordsake dring ek byvoorbeeld daarop aan om die post mortem-ondersoeke by te woon. Verder ontleed ek al die beskikbare hulpmiddels – dossiere, foto’s, forensiese en doktersverslae. Ek wil weet wáár die misdaad plaasgevind het, probeer bepaal wat die oortreder se motief was, hoekom hy die spesifieke slagoffer gekies het, en of sy optrede amateuragtig of professioneel en berekend was. Amateurs of eerste oortreders los gewoonlik hope leidrade. Op grond van al dié gegewens kan ek dan hipoteseer met watter tipe oortreder ons te doen het. Die FBI beskryf profilering as ’n ondersoektegniek wat die belangrikste persoonlikheids- en gedragseienskappe van die oortreder vasstel, gegrond op ’n ontleding van die misdaad.”

Kassie kry ’n gevoel van déjà vu. Presies dieselfde deuntjie as die profileerders uit sy verlede. En Lulu klink veels te akademies na sy sin, asof sy ’n lesing vir twee van haar studente gee. Sy praat nie die taal van ’n poliesman nie.

“Bliksis, dis nogals impressive,” sê Rooi.

Sy knik. “Ek’s bly jy dink so. Baie mense in die polisiediens kritiseer ons werk as ’n klomp hokus-pokus, gegrond op die ‘gevoel’ van die profileerder. Maar die kuns van profilering vereis ’n kombinasie van ervaring en instink. Net soos speurders ’n instink vir ondersoekwerk ontwikkel, ontwikkel ons ’n instink vir profilering. Ons sogenaamde gevoel is dus allermins gegrond op raaiwerk.”

Kassie skuif ongemaklik in sy stoel rond. Sou Lulu aan sy houding kon agterkom hy’s nie vreeslik beïndruk nie?


* * *


Priscilla sit die gehoorbuis terug op die mikkie. Sy het dit verwag. Twee van die slagoffers op die lys is nie bereid om met haar te praat nie. Die eerste een het glad die foon in haar oor neergegooi, en die ander een het haar en Die Stem as onsensitiewe sensasiesoekers uitgekryt.

Wat seker nie ver van die waarheid is nie.

Sy het besluit om nie die vierde vrou te bel nie. Mathilda Bonthuys is net té onlangs verkrag om haar nou al met so ’n versoek te konfronteer.

Dit laat slegs Colleen Adler, die TV-sepiester.

Priscilla het vandag lank oor haar gedink. As Colleen se storie, en veral die 399-brandmerk, op enige ander plek as in Die Stem openbaar gemaak word, dank Snuif haar summier af. Daarvan is sy oortuig.

As sy sê dat nie een van die vroue met haar wil praat nie, gaan Snuif aandring op hul name. Colleen se naam gaan hom alle perspektief laat verloor. Hy gaan eis dat Priscilla alles skryf wat sy op hoorsê weet.

En dít is sy nie bereid om te doen nie, al verloor sy haar werk.

Buitendien kan Gerbrand dan in die gedrang kom. Mense sal vinnig aflei sy het haar inligting by hom gekry.

Maar Colleen kan ook haar redding wees, haar paspoort na Snuif se beloofde bonus. Sy onthou goed hoe die aktrise destyds met hul onderhoud off the record erken het dat sy sukkel om haar luukse meenthuis in Welgemoed te betaal. Volgens haar verdien sepiesterre peanuts. “Was dit nie vir my ekstra inkomste uit advertensies en modelwerk nie, sou ek nie hier kon bly nie,” het sy gesê.

Priscilla glimlag wrang. Hulle twee se situasies stem nogal ooreen. Albei moet vir die vale klou om hulle deftige woonplekke te behou. En juis daaroor is sy nou besig om haar joernalistieke gewete te verkrag vir ’n bonus. Die vraag is net of Colleen ook vir só ’n geelwortel sal val.

Sy haal ’n paar keer diep asem toe sy die gehoorbuis optel. Tyd om uit te vind of Snuif se bankbalans so groot soos sy bek is. Sy skakel sy direkte nommer, ’n vergunning aan joernaliste wat dringende sake wil bespreek.

“Ja?” blaf hy.

“Die vroue wil nie praat nie,” val sy met die deur in die huis. “Maar die een wat ek nog nie gebel het nie, kan dalk praat.”

“Wat bedoel jy met ‘dalk’, Priscilla?”

“As ons aanbied om haar te betaal vir haar eksklusiewe storie, kan sy dalk instem.”

Snuif snork. “Ek betaal g’n vir stories nie.”

“En as sy ’n bekende aktrise in die gewildste TV-sepie in die land is? Sy het die afgelope paar jaar vier keer die voorblad van die grootste gesinstydskrif gehaal én nege keer op die voorblaaie van ander gewilde tydskrifte gepryk.”

“Wie is dit?!”

“Colleen Adler.”

Hy fluit deur sy tande. “Blikskottel, jy’s nie ernstig nie!”

“Doodernstig.”

“Veertig … nee, maak dit vyftigduisend.”

“Dis nie genoeg nie.”

“Wat bedoel jy? Dis ’n moerse lot geld! En sy kry dit kontant, nes jy met jou bonus.”

“Honderdduisend behoort die ding te doen.”

“Is jy van jou sinne beroof? Ek betaal nie ’n sent meer as vyftigduisend nie.”

“Die verkragter brandmerk die vroue op hulle lywe. As ons ’n foto van daardie tatoeëermerk wil hê, gaan vyftigduisend nie genoeg wees nie.”

Sy hoor hoe hy sy asem intrek.

“Goeie moer! Raait, honderdduisend is reg. Maar dan teken sy ’n kontrak dat sy die storie eksklusief nét vir ons gee.”





9



Vanmiddag het Chrisjan redelik vroeg by die huis gekom, maar hy wag geduldig dat dit skemer word voor hy gaan draf.

Hy vat die pad Welgemoed toe.

Naby haar huis gaan hy in die straat staan. Hy haal sy waterbottel tydsaam uit sy rugsak en neem ’n paar slukke. Om die omgewing deeglik te bespied en nie agterdog te wek nie, doen hy eers strekoefeninge teen ’n lamppaal.

Niemand in sig nie. Al wat hy hoor, is die geblêr van musiek verder af in die straat.

By haar huis huiwer hy ’n oomblik toe ’n hond blaf. Moet die bure s’n wees. Hy druk die nota met bewende hande in haar posbus en begin dadelik weer draf.

Nou moet hy vinnig uit die omgewing wegkom. Hy neem ’n kortpad na Proteavallei, sy gedagtes heeltyd by die rooikop. Hoe gaan sy reageer as sy die nota kry? Verneder voel? Briesend wees? Gevlei voel? Dit met ’n vriendin bespreek?

Sy gaan haar kop breek oor wie haar bewonderaar is. Sy gaan dink sy ken hom dalk. En sy gaan heeltyd oor haar skouer loer as sy inkopies in die omgewing doen, wonder of hy haar nie iewers afloer nie. Saans sal sy deur haar venster kyk om hom te probeer raaksien. Slapelose nagte daaroor hê, selfs seksuele drome. Dalk heimlik verlief wees op hierdie skim.

Net die besef dat hy vir minstens die volgende paar dae die fokus van haar gedagtes gaan wees, laat sy hart vinniger klop.

Hy vermy die huis in Proteavallei waar hy gisteraand die nota afgelewer het en kies koers hoër op in die buurt. Dis nou al lekker donker en sy oë flits heen en weer oor die huise waar daar lig brand.

In ’n stil cul-de-sac steek hy vas toe hy uit die hoek van sy oog ’n beweging by ’n venster sien. Hy kyk eers rond voor hy agter ’n struik op die sypaadjie langs ’n lae muur hurk. Van hier af het hy ’n goeie uitsig op die venster.

Dit lyk soos ’n slaapkamer, die gordyne halfpad toegetrek. Hy sien ’n skaduwee teen die muur en snak na sy asem toe hy haar gewaar.

Dis ’n jong vrou in net haar bra. Hy kan nie haar onderlyf sien nie. Sy gaan staan voor ’n spieël en bestudeer haar gesig.

Hy grawe in sy sweetpakbroek vir sy iPhone en haal dit haastig uit, mik na die venster en neem ’n foto. Meteens is daar nog ’n skaduwee. ’n Man met ’n kaal bolyf verskyn en gaan staan agter haar.

Vir ’n oomblik staar Chrisjan ongelowig na hulle. Nou herken hy die vrou ook. Die wêreld is inderdaad klein …

Die man sit sy arms om haar lyf en trek haar nader aan hom. Hy fluister iets in haar oor. Sy lag. Hy maak haar braknippie agter haar rug los, haal die bandjies van haar skouers af.

Hygend neem Chrisjan foto’s. Sy hart maak tamboerslae in sy bors.

By háár gaan hy beslis nie notas aflewer nie.


* * *


Kassie sukkel om te slaap. Hy sit die bedliggie aan en kyk op sy horlosie. Al halftwaalf. Hy swets onderlangs en kom orent. Helder wakker.

Hy trek die boek op sy bedkassie met ’n sug nader. Juell en Rod se gesaghebbende Encyclopedia of United States Stamps and Stamp Collecting het hy ’n paar jaar gelede al kafgedraf, maar noudat hy in die proses is om sy Amerikaanse seëls te katalogiseer, is ’n herlees noodsaaklik.

Toe hy die eerste paragraaf op bladsy sestig vir die derde keer moet oorlees, besef hy sy konsentrasie is op ’n heel ander plek. Hy klap die boek toe en sit dit neer. Swaai sy bene steunend van die bed af, druk sy voete in sy skaapvelpantoffels en strompel kombuis toe.

Hy sit die hoëtroustel aan. Instinktief trek hy die kombuislaai oop waar hy altyd sy sigarette gebêre het. Nou lê daar tjoklits. Hy breek ’n blokkie van die slab af wat hy vroeër vanaand halfpad geëet het en druk dit in sy mond.

Hy kou effe langtand. Wat sal hy nie nou vir ’n Lucky Strike wou gee nie! Maar hy weet daar’s nie ’n enkele sigaret in sy woonstel nie. Twee maande terug het dieselfde onbeheerbare lus hom beetgepak toe hy iemand op TV sien rook. Toe het hy die woonstel omgekeer en in elke laai en kas gekrap in die hoop om ’n vergete pakkie op te spoor.

Die kardioloog wat sy hartoperasie gedoen het, het gewaarsku sy longe lyk soos koffiesakke en gesê hy sal die rook ter wille van sy hart móét los. Maar één sigaret in ’n krisistyd kan wragtig nie skade doen nie, oortuig hy homself.

Hy skuifel op maat van die “Soutpansbergpolka” yskas toe en haal die liter Creme Soda uit. Hy neem ’n paar groot slukke uit die bottel en bêre dit weer.

Sy lus vir rook oorheers sy gedagtes. Sou die kafee hier onder op die hoek nog oop wees? Hy kyk op sy horlosie. Nie ’n bleddie kat se kans nie.

Net daar neem hy die besluit: Môre koop hy vir hom ’n sigaret. Hy weet die Griek hou los Stuyvesants aan. Dan het hy darem een in die woonstel vir ’n noodgeval soos vanaand.

Hy staan nog ’n rukkie besluiteloos rond, trek die laai weer oop en vat ’n tweede blokkie sjokolade voor hy kamer toe slof.

Terug in die bed skud hy sy kussing reg. Gelukkig het hy darem môre iets om na uit te sien. Hy het nooit gedink hy gaan speurwerk so mis nie, maar hierdie reeksverkragtersaak het weer betekenis aan sy lewe gegee.

Toe Tilla Bonthuys vanoggend daar gesit en snik het, het hy opnuut besef sy besluit was reg om terug te keer na die Spookeenheid.

Dis waarvoor hy in die wieg gelê is. Om die bliksems wat sulke afskuwelike onregte teenoor weerlose medemense pleeg se gatte vas te trap.

Hy kan nie wág om die boeie om daai fokker se polse toe te klap nie.


* * *


Om veertien minute oor twee kom Hernus terug van sy middernagtelike tog.

Hy is bly die landlord se huis is in donkerte gehul. Toe hy net voor twaalf hier weggery het, was daar nog ’n helse bekgeveg tussen die man en sy vrou. Die twee het natuurlik weer te veel gesuip. Hy is nou al gewoond aan hulle geskel, maar dit hou hom soms uit die slaap.

Tevrede dat hulle uitgepass lê, onbewus van sy bewegings, parkeer hy onder die afdak. Hy klim uit, sluit eers sy kamerdeur oop en sit die lig aan. Dan stap hy terug na die bakkie en lig die seil op om sy skopgraaf, olielamp en ander toerusting uit te haal.

Hy gaan bêre dit soos gewoonlik in die hoekkas in sy kamer. Sy oog vang die leë tafel teen die muur. Hy het vannag van die twee ontslae geraak. Selfs die formalien kon die verrotting nie meer keer nie.

Heel laaste gaan haal hy sy vonds op die passasiersitplek van die bakkie. Dis toegedraai in koerantpapier en hy dra dit versigtig in albei hande kamer toe en sit dit op sy leunstoel neer.

Hy sluit die deur en beskou homself eers in die gekraakte spieël teen die muur. Sy gesig en klere is vaal van die stof, sy hande donkerbruin van die gewerskaf.

Hy stap na die wasbak. Grawe eers vies ’n haarbol uit voor hy warm water intap. Hy spoel sy gesig deeglik af en skrop sy hande skoon met seep. ’n Suur sweetwalm vul sy neus toe hy sy arm oplig. Hy trek sy hemp uit, skep bakhande vol water en maak sy bolyf nat. Hy span die koekie seep in om die ergste vuil af te was.

Soms wens hy hier was ’n bad, maar dis nie lewensnoodsaaklik nie. Die kamer voldoen aan sy ander vereistes. En vir ’n beter omgewing kon hy nie vra nie. Mense hier steek nie hulle neuse in ander se sake nie.

Hy tel ’n handdoek van die vloer af op en vee hom droog, laat val dit weer.

Dan stap hy na sy vonds. Hy sit dit versigtig op die tafel neer en haal die koerantpapier af.

Glimlaggend bekyk hy dit. “Welkom in my kamer.”

Sy stem klink vir hom vreemd en skor. Dit moet die opwinding van die aand wees, want sy lyf sidder ook liggies.

Toe hy sy gulp met bewende vingers losmaak, stoot sy asem hard en rukkerig deur sy neus.





10



Vandat Priscilla die groen lig by Snuif gekry het, skakel sy onverpoos na Colleen se landlyn en selfoon, maar die aktrise antwoord nie.

Sy wil nie ’n boodskap los nie, bang dit maak Colleen daarop bedag dat die koerant van die verkragting weet. Sy móét self met die aktrise praat. Haar strategie is reeds haarfyn uitgewerk.

Sy het gister eers deeglik navorsing gedoen oor slagoffers van verkragting. Dit het nie veel meer opgelewer as wat sy reeds weet nie. Sulke vroue is erg getraumatiseer en kan aan posttraumatiese stressteuring ly, maar benewens die sielkundige skade kan daar ook gevolge soos fisieke beserings, seksueel oordraagbare infeksies en swangerskap wees.

Om dit swart op wit te sien het Priscilla van voor af skuldig laat voel. Dis wreed om so iemand met geld te wil omkoop om ’n storie uit haar te suig.

Met ’n skuldige gewete wat bly knaag, het sy haar na Gerbrand gewend toe hy vroegmiddag van die skool af kom. Sedert hy saans soveel buurtwagpligte het, het hy sy betrokkenheid by ander buitemuurse aktiwiteite afgeskaal.

“Weet jy of die verkragter die vroue hardhandig behandel of seergemaak het?” wou sy weet. “Dis nou buiten die brandmerke, wat vrek seer moes gewees het.”

“Nee, ek moes dit seker vir jou gesê het. Nie een van die vroue is beseer nie. Hy het ook elke keer ’n kondoom gebruik.”

Dit het Priscilla beter laat voel. Ten minste leef die vroue nie in vrees oor iets soos vigs of ’n swangerskap nie.

Sy sug en tel weer die telefoon se gehoorbuis op. Sy wil nie haar selfoon gebruik om Colleen te bel nie, ingeval die aktrise haar nommer op haar kontaklys gestoor het.

Tot haar verligting antwoord Colleen ná net twee luie.

“Kan ek help?” vra die aktrise geïrriteerd.

“Dis Priscilla Bekker van Die Stem.”

“Is dit jý wat my so aanhoudend bel?”

“Ja, jammer … maar ek het iets dringends om met jou te bespreek.”

“En dit is?”

Nie tyd om doekies om te draai nie, besluit Priscilla.

“Colleen, ek weet van die verkragting. Trouens, verskeie van my kollegas in die mediawêreld weet ook daarvan,” lieg sy.

“Fok! Respekteer niemand in hierdie land meer ’n mens se privaatheid nie? Hoe het julle dit uitgevind?”

“Niks bly ooit ’n geheim nie. Mense praat onder mekaar. En omdat jy baie bekend is, versprei so ’n storie soos ’n veldbrand.”

“Wel, as jy dink ek gaan met jou daaroor praat, maak jy ’n helse fout. En enigiemand wat ’n wóórd daaroor skryf, sleep ek persoonlik hof toe.”

“Presies wat ek sou gedoen het as ek in jou skoene was,” sê Priscilla.

“Nou waaroor wil jy praat? My seker nie sielkundig onderskraag nie? Ek woon klaar beradingsessies by, dankie.”

“Nee, ek wil jou ’n aanbod maak. Maar ek wil hê jy moet my uitluister voor jy antwoord. As dit nee is, aanvaar ek dit onvoorwaardelik.”

Stilte.

“Watse aanbod?” vra die aktrise ná wat soos ’n ewigheid voel.

“Colleen, eerstens weet ek jy sit met die trauma van hierdie mishandeling en ook met die stigma van verkragting. Die skande en vernedering wat ’n vrou voel wanneer mense weet sy is verkrag, maak hierdie misdaad seker nog meer traumaties. Baie slagoffers wil eenvoudig nie hê iemand moet daarvan uitvind nie.”

“Kom asseblief by die punt. Ek het nie die wêreld se tyd nie.”

“Die Stem is bereid om honderdduisend rand vir jou eksklusiewe storie te betaal – in kontant. Maar voor jy hierop reageer, wil ek hê jy moet mooi daaroor nadink. Buiten die geld is daar iets anders om te oorweeg. As ’n vooraanstaande aktrise wat daagliks op TV en gereeld op tydskrifvoorblaaie gesien word, só dapper is om haar emosionele wonde aan die wêreld bloot te lê, kan dit soveel positiewe gevolge vir ander inhou.”

“Dit glo ek moeilik,” sê Colleen, maar die venyn van vroeër is uit haar stem.

“Jy kan innerlike krag bied aan al die duisende slagoffers van verkragting in hierdie land,” gaan Priscilla voort. “Dit sal slagoffers wat tot dusver daaroor geswyg het, inspireer om na vore te kom. Onthou, die meeste vroue word verkrag deur mense wat hulle ken, maar weens die stigma bly hulle stil daaroor. Jy, meer as enigiemand anders, kan hierdie ingesteldheid van vroue verander.”

“Wel, dit is seker so … Ek weet net nie …”

“Ek weet die geld sal nooit jou eerste oorweging wees om jou storie te vertel nie,” sê Priscilla vinnig. “Maar dink net aan die bevrydende boodskap wat dit aan ander slagoffers sal bied.”

“Ek … sal met my agent moet praat. Ek sien hom juis vanmiddag. Dan sal ek terugkom met ’n antwoord.”

Toe sy aflui, blaas Priscilla haar asem stadig uit. So far so good.


* * *


Kassie beskou die kaart van die noordelike voorstede wat hy teen die muurbord in die kantoor aangebring het. Gekleurde duimspykers dui die strate aan waar die verkragtings plaasgevind het.

“Die ouens by die Bellville-stasie is reg,” sê Rooi. “Alles het in dieselfde kol gebeur.” Hy wys afsonderlik na elke spyker. “Doordekraal … Proteavallei … Oude Westhof … en Welgemoed.”

Kassie knik. “Ja, daai speurders het ’n deeglike job gedoen. Ek kon gistermiddag hoor hulle het alles ingesit. Hulle volledige dossiere spreek ook van uitstekende werk. Bellville word nie verniet elke jaar aangewys as een van die beste stasies in die land nie.”

“Ek kon sien hulle is redelik gatvol dat ons die saak by hulle oorneem.”

Kassie trek sy skouers op. “As ’n generaal besluit om die saak by jou weg te vat, moet jy dit maar aanvaar. Dis hoe die polisie operate. Dit het destyds met ons by Nuweland ook gebeur.”

“Seker waar.” Rooi gaan sit agter sy lessenaar. Met sy hande agter sy kop staar hy na die plafon. “Hel, hierdie wetter is uitgeslape! Ek kan nie wag om vanmiddag te hoor watter afleidings Lulu oor hom maak nie.”

Dis op die punt van Kassie se tong om te sê dit gaan net raaiskote wees, maar hy keer homself. Dalk moet hy die profileerder eers ’n regverdige kans gee voor hy ’n oordeel vel.

“Jy weet sy’s ’n roker, nè?” vra Rooi.

“Nee, hoe sal ek dit weet? Ons was gistermiddag nooit hier nie.”

“Het jy nie die klomp stompies in die asbak op die balkon gesien nie? Almal met rooi lipstiffie aan die filters.”

“Fokkit,” prewel Kassie.

Dít het hy nie nodig nie. Sy lessenaar is juis by die venster wat op die balkon uitkyk. Om te sien hoe iemand behaaglik aan ’n sigaret teug, gaan sy longe van voor af laat hande klap van die lus.


* * *


Met ’n stapel lêers onder sy arm vasgeknyp, stap Chrisjan na die Van Tonder-groep se kantoor in Breestraat. Hoewel dit ’n hele entjie van sy kantoor is, het hy besluit om die mooi somersoggend te benut deur voet te slaan. Buitendien sukkel hy altyd om parkeerplek in Breestraat te kry.

Sy gedagtes is by die talle vrae wat hy die groep se interne ouditeur oor hulle jaarresultate moet vra. Daar’s heelparty dinge wat hom pla. En sedert die Steinhoff-fiasko is ouditfirmas landwyd onder druk om met ’n vergrootglas na maatskappye se jaarstate te kyk.

Hy ruk tot stilstand toe hy die vrou op die sypaadjie sien aankom. Dit voel of hy ineenkrimp. Sy mág hom nie sien nie.

Hy kyk naarstig rond en glip vinnig by die naaste koffiewinkel in. Gaan sit teenaan die venster sodat hy ’n uitsig op die pad het.

Hy kan die toeval beswaarlik glo. Dat hy haar juis nóú moet sien nadat hy haar gisteraand in Proteavallei afgeloer het! Wat sou sy in die stad doen? Dan onthou hy dat haar man in hierdie omgewing werk. Sy moet op pad na hom wees.

Chrisjan verberg sy gesig agter ’n lêer, bang sy herken hom. Hy loer versigtig na haar. ’n Mooi vrou met kurwes op al die regte plekke.

Sy oë is vasgenael op haar borste. Dit skud heen en weer soos sy aangestap kom.

Hy onthou hoe haar man gisteraand haar kaal borste bevoel het – ’n toneel waarna hy herhaaldelik op sy iPhone gekyk het toe hy terug was by die huis.

Sy groeiende ereksie laat hom ongemaklik in die stoel rondskuif. Hy sal moet wag dat die opwelling bedaar voor hy weer die pad aandurf.





11



Lulu arriveer klokslag tweeuur by die kantoor vir hulle middagsessie.

Tot Kassie se ontsteltenis wil sy eers vinnig “’n dampie gaan kap”. Die geur van sigaretrook deur die oop balkondeur veroorsaak dat hy sy dag se werksrantsoen van drie rytjies sjokolade op een slag opeet – terwyl Rooi hom onderlangs dophou en skalks glimlag.

Terug in die kantoor beduie Lulu hulle moet hul stoele teenaan haar lessenaar skuif. “Dan kan ons mekaar lekker in die oë kyk.”

Sy druk-druk haar wilde haardos reg en rem aan die kraag van haar hemp, wat die soet parfuumwalms van voor af loslaat. Sy slaan ’n lêer oop en haal ’n paar velle papier uit waarop sy aantekeninge gemaak het.

“Hierdie storie het my tot kort voor middernag besig gehou. Ek het tot ’n afgetrede kollega, wat op sy tyd ’n uiters bekwame profileerder was, gekontak met ’n paar kwelvrae. Het nie sy foonnommer gehad nie, maar ek het hom op Facebook ge-indoos.”

Sy gee ’n laggie toe sy die frons op Kassie se gesig sien. “Dis sommer my vertaling vir ‘inbox’, hoor. Ek het seker maar ’n streep van my pa weg, wat ’n professor in Afrikaanse letterkunde was. Soos hy het ek ook ’n hekel aan die gebruik van Engelse woorde in Afrikaans.”

Sy orden die velle papier netjies langs mekaar op die lessenaar. “Die oudkollega het vroegoggend teruggekom na my. Sy afleidings stem ooreen met myne, wat my gerusstel dat ek nie hier in die donker rondtas nie. Hy het bevestig dat die oortreder nie al die eienskappe toon van die tipiese reeksverkragter in die spesifieke subgroep waarin ons hom geplaas het nie.”

Daar begin dit al, dink Kassie, die voorspraak dat hulle met ’n “unieke” geval te doen het. ’n Ou gewoonte van profileerders om hulleself te cover deur vaag te bly oor konkrete besonderhede.

Lulu kyk van hom na Rooi. “Maar wag, laat ek eers by julle hoor watter forensiese leidrade ons tot dusver het. Ek het nie aandag daaraan gegee nie, maar uitsluitlik gekonsentreer op die verkragter se modus operandi.”

“Wel, hy’t seker gemaak hy los geen vingerafdrukke of hare op die toneel nie,” sê Kassie. “Daar is dus geen DNS om mee te werk nie. Maar in die eerste en derde voorval is dieselfde handskoenafdrukke op die metaalbedpote van die slagoffers gekry. Dit het ’n seldsame byekorfpatroon, wat ons dalk in die toekoms kan help. In die eerste voorval is daar ook ’n onbekende skoenafdruk in ’n blombedding ontdek. Volgens forensies behoort dit aan iemand met ’n nommerelf-skoengrootte, wat kan pas by ’n man wat langer as 1,85 meter is. Die patroon op die sool stem ooreen met ’n sekere Adidas-tekkie, wat ongelukkig nie uniek is nie en waarvan daar jaarliks derduisende verkoop word. En in die laaste voorval is ’n swart wolletjie, vermoedelik afkomstig van sy sweetpaktop, in die slagoffer se bed aangetref.”

“Niks anders nie?”

“Twee van die vroue meen hy het bruin oë,” sê Rooi.

Lulu tik met haar voorvinger op een van die velle papier. “Hmm … dit stem ooreen met my afleiding dat hierdie ou nie ’n beginner is nie. Hy het al voorheen vroue verkrag en is alte bewus van die belangrikheid daarvan om nie DNS-spore te los nie. Net die feit dat hy sy balaklawa en klere tydens die verkragting aanhou én ’n kondoom gebruik, dui op ’n baie ervare en uitgeslape misdadiger. Dis ook duidelik dat hy die vroue se bewegings lank dopgehou het. Hy het hom goed vergewis van hulle roetines en selfs geweet die getroude vroue se mans is uithuisig. Hy het ook by plekke toegeslaan waar die veiligheidsmaatreëls nie wonderlik is nie. By twee van die huise is daar wel alarmstelsels, maar hy het die geldige gevolgtrekking gemaak dat die vroue dit eers sou aktiveer voor hulle bed toe gaan. Daarom het hy toegeslaan toe daar nog ligte in die huis gebrand het. En hy het in drie van die gevalle lopers van huisdeure gebruik om toegang te kry.”

Rooi kug. “Sy goeie voorafkennis van die vroue se bewegings dui vir my en Kassie daarop dat hy beslis in die area woon.”

“Daar’s julle dalk verkeerd,” sê Lulu. “Sulke oortreders bevuil gewoonlik nie hulle eie neste nie. In die meerderheid gevalle slaan hulle toe in gebiede waar hulle juis nié woon nie. Dit beteken nie dat die omgewing vir hulle onbekend is nie. In baie gevalle het oortreders in ’n stadium in daardie jagveld van hulle gewoon of gewerk. Maar ek kan met redelike sekerheid sê hierdie man bly op ’n ander plek.”

Kassie skud sy kop. “Vir ’n man wat soveel tyd daaraan bestee om sy slagoffers dop te hou, meen ons dit móét iemand van die omgewing wees. Dalk selfs ’n bekende wat nie agterdog by die inwoners sou wek as hulle hom laatnag in die straat gewaar nie.”

“Enigiemand kan ongesiens in daardie omgewing beweeg, Kassie. Dis baie boomryk en die meeste huise het hoë mure. Mense is ook gewoonlik daardie tyd van die aand binnenshuis en –”

Lulu word onderbreek toe die kantoordeur oopgaan. Brigadier Fortuin.

“Jammer om hier in te bars,” sê sy uitasem. “Ek weet julle is met ’n belangrike gesprek besig, maar daar het iets voorgeval.”

Kassie kan aan die blos op haar gesig aflei dis belangrik.

“Ek het pas ’n oproep van die Bellville-polisie gekry. ’n Vrou wat in Welgemoed woon, het hulle gebel omdat sy die afgelope tyd onwelvoeglike briewe in haar posbus kry. En na aanleiding van die koerantberigte oor die reeksverkragter leef sy nou in vrees dat dit dalk hy kan wees. Sy was slim genoeg om die nuutste nota met ’n handskoen te hanteer om nie vingerafdrukke te laat nie.”

Die brigadier glimlag breed. “En sy het selfs ’n vermoede wie die oortreder kan wees! Daarom dink ek dis …”

“Klink nie soos ons verkragter nie,” val Lulu haar in die rede. “Dit stem nie ooreen met sy modus operandi nie. Hy stuur nie vooraf boodskappe aan sy slagoffers nie.”

Kassie kan sien dat die brigadier haar bloedig vererg. Hy weet sy verpes dit om onderbreek te word.

“Wel, hy kon sy modus operandi verander het, Lulu,” sê sy skerp. “Ons kan nie bekostig om hierdie oproep te ignoreer nie.”

Sy oorhandig ’n vel papier aan Kassie. “Hier’s die vrou se naam en adres. Gaan jy en Rooi sommer nou.”

Haar ysige blik keer terug na Lulu. “Julle sal eers môremiddag met hierdie gesprek kan voortgaan. Ek glo daar is nog aspekte waaroor jy nie honderd persent klarigheid het nie. Gebruik die middag daarvoor.”

Toe sy uit is, kyk die profileerder verbaas na Kassie en Rooi. “Sjoe, maar sy’s ’n kwaai een, nè?”

Rooi lag. “Welkom by die Spesiale Spookeenheid.”


* * *


Heeltyd terwyl sy vir Colleen se antwoord wag, bly Priscilla se maag in ’n vuis saamgetrek.

Dis ook die verdomde Snuif wat elke bleddie halfuur bel om te verneem of sy al iets gehoor het wat haar stresvlakke opjaag.

As hierdie storie boemerang, gaan die ou man haar al die skuld gee. Want toe hy vra of Colleen weet hulle vereis ook ’n foto van die tatoeëermerk, het Priscilla gesê sy wou dit nog nie noem nie.

“Ek wil eers hê die geldaanbod moet goed insink. As sy daarvoor val, gaan dit maklik wees om haar te oortuig van die foto.”

“Jy beter bid jy’s reg, Priscilla,” het Snuif gebrom.

Sy kyk op van haar rekenaar toe Gerbrand inkom met ’n koppie tee wat hy vir haar gaan maak het.

Hy kom sit langs haar. “Jy lyk vreeslik gestres, my liefling. Dis nie nodig om jou te bekommer oor my posisie by die buurtwag nie. As jy eers die storie geskryf het, sal niemand kan aflei wat jy als vooraf geweet het nie. Almal sal in elk geval dink Colleen het die koerant gekontak omdat sy die behoefte het om ander slagoffers te inspireer.”

Sy glimlag. Die liewe Gerbrand se besorgdheid oor haar is soms die enigste ligstraal in haar lewe.

Sy wip van die skrik toe haar selfoon begin lui.

Snuif. Hy het dié keer darem ’n uur uitgehou.

Sy ignoreer die oproep.

“Gaan jy nie antwoord nie?” vra Gerbrand fronsend.

“Nee, dis ’n stupid fool wat die verkeerde nommer beet het. Hy bel my al heeldag.”





12



Die jong vrou in Welgemoed se vermoede oor die briefskrywer klink oortuigend genoeg. Die man is glo elke dag in die koffiewinkel in ’n besige sentrum naby haar huis. Sy beduie vir Kassie en Rooi waar dit is.

Die enigste kelner in die koffiewinkel stap hulle tegemoet. Hy weet dadelik van wie hulle praat.

“Sy naam is Brink Bosman.” Hy beduie na ’n tafel in die hoek. “Hy sit elke oggend daar op sy laptop en werk.”

“Weet jy wat hy vir ’n lewe doen?” vra Kassie.

Die kelner haal sy skouers op. “Nie eintlik nie. Maar ek neem aan hy werk vir homself.”

“Hoe lyk hy?”

“Langerige ou met blonde hare. Hy dra ’n goue ketting om sy pols en sy hemde is altyd oopgeknoop tot by sy naeltjie.” Hy glimlag. “Wil seker maar sy borshare afshow.”

Kassie knik. Dit klop met die vrou se beskrywing.

“Jy weet seker nie waar hy bly nie?” vra Rooi.

“Ek weet toevallig. Toe ek nog vir Debonairs gewerk het, het ek gereeld by hom pizzas afgelewer.” Die kelner onthou die straatnaam, maar nie die nommer nie. “Maar julle sal sy plek maklik kry. Dis op die hoek aan die linkerkant as jy in die straat opdraai. Soos ek kan onthou, het die huis ’n rooi dak.”

“Dankie vir jou hulp,” sê Kassie.

“Waaroor soek julle hom?”

“Hy kan ons dalk help met ’n ondersoek waarmee ons besig is,” sê Rooi.

Die kelner rol sy oë, glimlag beterweterig. “O, ek sien.”

Toe hulle uitstap, steek Kassie op die parkeerterrein vas. “Ons het nie ’n bleddie lasbrief nie. En ons kan ook nie daarop aandring om sy vingerafdrukke te neem nie.”

“Jy’s reg,” sug Rooi.

Kassie staar peinsend voor hom uit. “Ek het ’n plan. Wag solank by die kar, ek gaan net gou Pick n Pay toe.”

Terug by die motor klim hy aan die passasierskant in.

“En nou?!” vra Rooi toe hy die pakkie Lucky Strike Filters sien. “Het Lulu jou getrigger om weer te begin stook?”

Kassie beduie na die plastiekomhulsel. “Nee, maar dis die ideale tool om vingerafdrukke te kry.”

Hy vee die pakkie deeglik met sy sakdoek skoon, draai dit dan daarin toe en steek dit in sy windjekker se sak. “Dis ’n trick wat ek jare terug gebruik het. Dalk is ek weer lucky met my Lucky Strikes.”

Rooi sluit die motor aan. “Kom ons hoop maar daar’s prints op die nota wat in die vrou se posbus was. Anders het ons niks om dit mee te vergelyk nie.”

“Ek dink in elk geval ons jaag spookasem. Ek stem saam met Lulu – dis nie ons verkragter se modus operandi nie. Hierdie ou is ’n ander soort perv.”

“Wel, dis in dieselfde omgewing waarin ons verkragter operate. Dis seker nie onmoontlik dat hy ook ’n kick daaruit kry om onwelvoeglike notas aan vroue te stuur nie. Dalk doen hy dit juis om met die polisie se koppe te smokkel. Ek kan enigiets glo van ’n fokker wat vroue brandmerk.”

“Nie onmoontlik nie, maar hoogs onwaarskynlik. Hy’s te slim om die gevaar te loop dat iemand hom sien terwyl hy ’n nota in ’n posbus druk.”

Hulle kry die hoekhuis maklik. Die dak is rooi, soos die kelner gesê het.

Kassie druk die klokkie by die veiligheidshek en dit klik dadelik oop.

Die voordeur swaai oop toe hulle met die voetpaadjie aangestap kom. Brink Bosman, hemp oopgeknoop en goue ketting om die pols, blonde krulhare en ’n modieuse stoppelbaard, kyk fronsend na hulle.

Kassie skat hom in sy vroeë veertigs. Lengtegewys voldoen hy aan die verkragter se profiel.

“O, ek het iemand anders verwag,” sê Bosman stuurs. “Waarmee kan ek help?”

Kassie en Rooi toon hulle polisie-ID’s en stel hulleself voor.

“Ons wil net ’n paar minute van jou tyd hê,” sê Kassie.

Bosman beduie hulle moet agter hom aan stap. In die ruim sitkamer gaan hy staan. Dis duidelik dat hy hulle nie gaan nooi om te sit nie.

“Ek wag eintlik vir my belastingadviseur,” sê hy. “Maar waarmee kan ek julle help?”

Kassie hoes, hou sy een hand voor sy mond en pluk die sakdoek met die ander hand uit sy windjekker se sak. Die pakkie sigarette val uit en land op die mat langs Bosman se voete.

“Jammer … ek het ’n ligte verkoue,” stamel Kassie terwyl hy sy neus skoonvee.

Bosman buk af en tel die pakkie op, hou dit in sy hand en bekyk dit belangstellend. “Nie geweet mens kry nog Lucky Strike-skywe nie. Ek het dit op varsity laas gerook.”

Hy oorhandig die pakkie aan Kassie, wat dit met die sakdoek neem en in sy sak druk.

“Ons is besig met ’n roetine-ondersoek,” sê hy. “’n Vrou van hierdie omgewing het ’n klag gelê dat sy onwelvoeglike briewe in haar posbus kry.”

Bosman frons. “En wat het dit met my uit te waai?”

“Wel, om nou eerlik te wees, ons dink die vrou is effens paranoïes. Sy het vir ons ’n lys name gegee van mans wat sy glo daarvoor verantwoordelik kan wees,” lieg Kassie.

“Nou moet ons met almal gaan praat,” sug Rooi.

“En my naam is ook op haar lys?!”

Die verbasing op Bosman se gesig lyk vir Kassie eg. Hy knik.

“Maar sy’s bedonnerd in haar kop! Wie is sy nogal?”

“Dis nie nou ter sake nie. Maar sy beweer dat jy haar by meer as een geleentheid dopgehou het in die koffiewinkel in die Welgemoed Forum. Ook dat jy eenkeer vir haar geknipoog het.”

Bosman lag uit sy maag. “Ek knipoog vir baie vroue. En veral as hulle mooi is, is ek maar geneig om hulle dop te hou. As ’n geskeide man is dit seker nie ’n crime nie, of hoe?”

Die voordeurklokkie lui.

“Dis my adviseur,” sê Bosman. “Sorry, manne, ek kan nie verder help nie. Maar daai vrou leef in ’n droomwêreld.”

Hy begelei hulle uit.

Op pad motor toe gee Rooi ’n laggie. “Hel, ek kon nie glo hoe goed jou plan met die siegretboksie gewerk het nie. Ek sal daai een vir die toekoms onthou.”

“Gaan ons nie veel help nie,” sê Kassie. “Dis nie ons man nie. Sy verbasing was heeltemal eg.”

Rooi snork. “Met sulke gladde donners weet ’n mens nooit.”


* * *


Hernus is vroegmiddag al klaar met sy aflewerings, maar hy ry nie terug werk toe nie. Hulle weet tog nie hoe lank hy neem om sy skof te voltooi nie.

Hy parkeer die afleweringswa langs ’n besige sentrum in Rondebosch, met ’n goeie uitsig op almal wat by die hoofingang kom en gaan.

Ná gisternag se ekskursie is hy gereed vir die volgende stap. Hy is dit aan homself verskuldig. Sy hele lewe lank droom hy al daaroor. In die verlede het die risiko’s daaraan verbonde hom teruggehou, maar daai Viljoen-bitch se geskel het iets in hom getrigger wat hy nie meer kan ignoreer nie.

Hy hou ’n jong vrou met ’n stywe toppie en noupassende jeans dop wat na die sentrum aangestap kom.

Dis háár soort wat hy gaan teiken.

Toe sy nader kom, merk hy haar swak ontwikkelde ken.

Nee, sy’s nie goed genoeg nie. Iemand met so ’n gesigdefek sal net ’n demper op alles plaas.

Hy soek ’n beeldskone vrou, een met wie hy lank ná die tyd nog in sy kamer sal wil gesels.





13



“En toe? Dink julle hy kan die verkragter wees?” vra Lulu, wat vandag effens vroeër ingekom het.

“Nee,” sê Kassie beslis. “Maar ons sal sien of die nota van hom af kom. Ons het dit gistermiddag vir forensies gegee, saam met ’n sigaretpakkie wat hy hanteer het. As die vingerafdrukke ooreenstem, kan ons hom verder grill. Ek betwyfel dit sterk, maar Rooi is nog nie oortuig van sy onskuld nie.”

Rooi lag verleë. “Dalk maar omdat die bliksem so windgat is dat hy vir my verdag voorkom. Soms is ouens met te veel selfvertroue juis die skuldiges.”

Lulu skud haar kop. “Selfvertroue is nie juis iets wat jy by reeksverkragters aantref nie. Ook nie by beloerders nie.”

“Praat jy van stalkers?” vra Kassie.

“Jip, maar bekruipers of beloerders is darem veel mooier Afrikaanse woorde, nè? Beloerder is eintlik my gunsteling.”

Fok, sy gaan hulle nog taallesse ook gee, dink Kassie.

Hy stoot sy stoel ’n entjie agteruit. Lulu se parfuum is verstikkend en klou soos ’n poep onder ’n vereduvet aan sy neusholtes. Vandat hy ophou rook het, is sy reuksintuig juis oorsensitief.

Sy slaan haar lêer oop en rangskik haar notas op die lessenaar. “Reg, menere, laat ons nie verder tyd mors nie. Julle onthou uit gister se gesprek dat ons verkragter ’n deeglike beplanner is, wat homself bedek hou en ’n kondoom gebruik om nie DNS-spore te los nie. Gegrond op twee vorige reeksverkragtingsake waaraan ek gewerk het, dink ek hy woon nie in die gebied waar hy sy misdade pleeg nie, maar hy ken wel die omgewing goed.”

Sy beduie na ’n nota. “Kom ek gaan eers ’n stappie terug om julle in die groter prentjie te bring. Suid-Afrika het een van die hoogste verkragtingsyfers ter wêreld. Daar word geskat dat daar elke sewentien sekondes ’n vrou in hierdie land verkrag word.”

“Bliksis!” sê Rooi.

“Dis erg, ja. Aangemelde verkragtingsake is al op pad na veertigduisend per jaar, maar dis net die oortjies van die seekoei. Die meerderheid verkragtings word nooit aangemeld nie. Dieselfde geld vir ander vorms van seksuele molestering.”

“Wat dink jy van die argument dat vroue soms self blameer kan word?” vra Rooi. “Mense sê mos skrapse klere is moeilikheid soek.”

Lulu knik. “Navorsing wys dat vroue meer in die somer as in die winter verkrag word. Dan wys hulle uiteraard meer van hul liggame. Maar nie naastenby alle slagoffers is suggestief geklee nie. Dis eerder dat verkragters die geneigdheid het om vroue met hulle oë te ontklee. Hierdie misdaad kan nooit voor die deur van vroue gelê word nie. Té dikwels word vroue beskuldig dat hulle daarvoor gesoek het. ‘Sy was dronk, sy het geflankeer, haar rokkie was te kort’ is van die uitsprake wat ’n mens gereeld hoor. Maar die feit is dat verkragters nie onderskeid tref nie. Wanneer die geleentheid hom voordoen, slaan hulle toe op enigeen, ongeag hoe die slagoffers aangetrek was of hoe hulle opgetree het.”

Sy hou twee vingers omhoog. “Wat wel van belang is, is dat verkragters hoofsaaklik in twee groepe verdeel kan word, naamlik magsverkragters en woedeverkragters. Elkeen van hierdie groepe kan weer in twee subgroepe verdeel word. Daar is natuurlik ook impulsiewe verkragters, wat in ’n vyfde groep ingedeel kan word. Maar ek gaan net konsentreer op die groep waaronder hierdie vent ressorteer, soos bepaal deur my en my oudkollega.”

Sy tokkel met haar vingers op die lessenaarblad. “Dis ook baie belangrik dat julle besef ’n verkragter van ’n sekere tipologie sal nie noodwendig ál die kenmerke hê nie. Sommige kenmerke kan oorvleuel. Ongelukkig is niks ooit eksak nie.”

Tipiese profileerder, dink Kassie. Maak nou al verskoning ingeval sy later verkeerd bewys word.

“Ons man val in die subgroep wat as magsgerusstellende, magsbevestigende en magskompenserende verkragters bekend staan,” gaan Lulu voort. “Hy wil hê sy slagoffer moet sy manlikheid aan hom bevestig omdat hy dit nie op ’n ander manier bevestig kry nie. Hy sal dikwels vereis dat sy slagoffer haar uitlaat oor sy vaardigheid as minnaar, soos ons in die dossiere gesien het. Hy het in al die gevalle ná die verkragtings gesê hy kon sien hulle het dit geniet. Nie een van die vroue het negatief reageer hierop nie, natuurlik omdat hulle vreesbevange was oor hulle veiligheid. Hierdie soort verkragter is ego-distonies. Hy kan hom nie regtig vereenselwig met die wete dat hy ’n verkragter is nie. Hy voel skuldig ná die daad en sal besorg voorkom, soos ons ook uit die verklarings kon aflei. Gewoonlik sal hy in sy daaglikse lewe uit sy pad gaan om ander mense te help in ’n poging om aanvaarding en goedkeuring te kry.”

Kassie frons. “Daardie beeld klop nie vir my met iemand wat sy slagoffers met ’n vuurwarm yster brandmerk nie.”

“Jy’s skerp, hoor! Dit het my ook aanvanklik effe ontspoor, maar daar is ’n verklaring daarvoor – een waaroor ek en my oudkollega saamstem. Maar ek kom nou-nou daarby uit.”

Lulu tel ’n nota op en bespied dit met skreefoë, sit dit dan neer. “Die motief van hierdie soort verkragter is hoofsaaklik seksueel – dis nie aggressie-gesentreer soos by die woedeverkragter nie. Die verkragting dien as kompensasie vir sy ontoereikende selfbeeld. Hy kan homself nie keer nie en die verkragtings is herhalend en neem ’n roetine aan.”

Sy druk-druk met haar voorvinger op die lessenaar. “Iets wat vir julle van belang kan wees, is dat die verkragter die slagoffers seksueel probeer opwek deur voorspel, wat tipies is van hierdie groep. Soos in die dossiere aangedui word, betas en bevroetel hy die vroue voor hy hulle verkrag. Daar is van sy kant af ’n hoë mate van seksuele opwekking, wat in die meeste gevalle die kanse vir premature ejakulasie vergroot. Verkragtings in hierdie subgroep hou normaalweg nie lank aan nie, maar al vier vroue het gesê dit het meer as tien minute geduur voordat hy geëjakuleer het. Volgens my oudkollega dui dit op net een ding: Die verkragter is nie bloedjonk nie. Hy is moontlik in sy laat dertigs, veertigs of selfs vroeë vyftigs. Daarom verkies hy ook jong en aantreklike vroue, die soort met wie hy nie normaalweg sosiaal sou verkeer nie.”

Kassie moet toegee dis waardevolle inligting, wat hy nie self sou kon aflei nie.

Lulu leun oor die lessenaar en tik Rooi op sy hand. “Dis nie nodig om af te skryf nie, hoor. Ek sal die belangrikste gevolgtrekkings in ’n gebruikersvriendelike tabel aan julle verskaf.”

Sy tel ’n ander nota op. “Hierdie soort verkragter is die minste gewelddadig van alle verkragters. Hoewel hy die vroue waarsku dat hy ’n skietding in sy rugsak hou, het hy dit nooit uitgehaal en hulle daarmee gedreig nie. Die enigste teken van geweld was die lap wat hy in hulle monde geprop het. Selfs die eerste vrou, wat die lap uitgespoeg en begin skreeu het, het hy kalm hanteer en die lap teruggedruk sonder om haar seer te maak.”

“Maak nog nie van hom ’n bleddie engeltjie nie,” brom Rooi.

Lulu glimlag. “Beslis nie. Maar hy toon ’n mate van empatie met sy slagoffers, wat tipies van hierdie groep is. Wat vir julle van belang is, is dat sulke verkragters in die meerderheid gevalle enkellopend is. Hulle is gewoonlik stil en passief, met ’n lae selfbeeld. Hulle is ook nie sosiaal aktief nie, met min vriende. In baie gevalle is hulle verslaaf aan pornografie.”

Sy sit terug in haar stoel. “Nou die kwessie van die brandmerke. Dit het my en my oudkollega hard laat dink. Die drang om iets aan ’n slagoffer se liggaam te doen, kom hoofsaaklik by reeksmoordenaars voor. Daar is gevalle waar lyke vermink word, byvoorbeeld borste wat afgesny word, of selfs ’n boodskap wat met ’n mes op die lyk uitgekerf word. Briefies of spesifieke voorwerpe wat by die lyk gelos word, is ook algemeen onder reeksmoordenaars. Daarmee wil die moordenaar vir die polisie ’n soort leidraad los, die gereg amper uitdaag om hom te vang.”

“Sê jy hierdie ou kan dalk moordneigings hê?” vra Rooi.

“Nee, geensins nie. Onthou, dis ’n man met ’n lae selfbeeld. Hy streef heel moontlik na erkenning in die gemeenskap waarin hy woon en werk. Maar weens sy onvermoë om dit te vermag, leef hy hierdie hunkering op ’n ander manier uit. Hy brandmerk sy slagoffers, wat hom onderskei van gewone verkragters. Deur dié unieke optrede skep hy sy eie erkenning. Hy smag daarna dat die buitewêreld daarvan kennis moet neem. In hierdie stadium moet hy hoogs gefrustreerd wees omdat die media nog niks oor die brandmerke berig het nie.”

Kassie knik. “Interessante afleiding. Sê jy dus ons moet dit onder geen omstandighede aan die media bekend maak nie?”

“Absoluut. Dit sal hom net aanspoor om nog vroue te verkrag. Hierdie soort ouens baai in publisiteit. Hy sal ook gedy in die wete dat hy met die brandmerkseremonie meer publisiteit genereer as enige ander verkragter.”

“Maar dit strook nie met die beeld wat jy geskep het van iemand wat hom nie vereenselwig met die wete dat hy ’n verkragter is nie?”

“Jy moet sy denkwyse verstaan, Kassie. In sý kop verkrag hy nie regtig die vroue nie. Hy doen hulle eintlik ’n guns deur aan hulle te demonstreer hoe ’n ware minnaar die seksdaad pleeg. Ná die daad wek die getraumatiseerde en huilende vroue wel simpatie by hom en dan voel hy skuldig. Maar dis soos ’n pa wat sy kind ’n afgedankste loesing gee: Hy voel sleg daaroor, maar hy troos hom daaraan dat dit ten goede van die kind se opvoeding was.”

“Siek fokker,” brom Rooi.

“En die syfers 399? Wat sou dit beteken?” vra Kassie.

“Dít het ons uitgeboul. ’n Mens kan net raai. Dit kan een van twee dinge beteken. Óf dis ’n nommer wat vir hom ’n positiewe betekenis inhou omdat hy voorheen daarmee sukses behaal het, soos by ’n gelukstrekking of iets, óf hy daag die polisie uit deur die syfers soos ’n leidraad voor hulle neuse te swaai. Dis natuurlik iets wat reeksmoordenaars graag doen, met ’n houding van ‘Werk dit uit as julle kan’. Maar ek en my oudkollega voel dis eerder eersgenoemde – dat hy sy gunstelingnommer bloot as sy stempel gebruik.”

Sy beduie na die nota voor haar. “Die feit dat hy sy slagoffers spesifiek op die stuitjie of die dy brandmerk, is ook betekenisvol. ’n Mens sou redeneer dat die boud die ideale plek is vir ’n brandmerk, maar ons man vermy juis daardie area. Hy merk die vroue op dele wat moeilik is om te bedek as hulle iets soos ’n bikini of kortbroekie sou dra. Dis asof sy merke ’n vermaning insluit dat vroue nie suggestief moet aantrek nie.”

Kassie knik. “So hy sien homself as ’n soort bewaker van sedes?”

“Presies. Wat jou ook meer vertel van sy onstabiele persoonlikheid.”

“Volg hierdie ouens ’n spesifieke patroon?” vra Rooi. “Deur byvoorbeeld elke maand iemand te verkrag?”

“Volgens beskikbare statistiek slaan hulle elke sewe tot vyftien dae toe. Maar dit kom gewoonlik voor by verkragters wat buitenshuis opereer – die ouens wat hulle slagoffers in bosse of voertuie inpluk en verkrag. Diegene wat eiendom betree om te verkrag, doen baie beter beplanning, wat uiteraard meer tyd vereis. Ons verkragter het vier vroue in die afgelope amper vyf maande verkrag. Dis te betwyfel of ’n mens jou aan hierdie tydsverloop tussen die verkragtings kan steur. Die tweede voorval was twee weke ná die eerste een, maar daar was ’n tydsverloop van meer as ’n maand tussen die ander twee. Dit hang alles af van hoe sy beplanning verloop. Hy kan maklik vandag of môre weer toeslaan.”

Lulu maak haar notas bymekaar. “Môre voorsien ek julle van ’n profieltabel van die verkragter. Dit sal meer gedetailleerd wees as ons gesprek vandag.”

Sy huiwer ’n oomblik. “Ek wil nie vir julle voorskryf hoe julle die ondersoek moet hanteer nie, maar ek het tog ’n voorstel.”

“En dit is?” vra Kassie.

“As ek julle is, gaan gesels ek weer met al die vroue. Baie slagoffers onthou nie al die besonderhede kort ná die verkragting nie, want hulle is uiteraard ontsteld en geskok. As hulle dan later iets onthou, maak hulle dit meestal as onbenullig af en lig nie die polisie in nie. Maar soms kan dit juis deurslaggewende leidrade oplewer.”

“Goeie voorstel,” sê Kassie.

Hy moet effe teësinnig erken dat hy beïndruk is met Lulu.





14



Die oproep kom om halfvyf die middag.

Maar dis Colleen se agent wat praat, wat Priscilla effens onkant betrap.

Hy stel hom voor as Arthur Smith.

“Ek en Colleen het lank hieroor gechat. Ons dink albei dis eintlik great dat sy oor hierdie nightmare nou kan uitpraat. Dit sal beslis ’n message of hope uitdra aan die duisende wat daaroor swyg.”

“Fantasties,” sê Priscilla. “Ek weet dit gaan baie van Colleen verg, maar ek bewonder haar vir haar dapper besluit. En ek glo álmal gaan so voel – nie net die getraumatiseerde slagoffers van verkragting nie, maar ook haar duisende aanhangers.”

“Right, ons voel dan exactly dieselfde,” sê Smith. “Maar kom ons praat gou oor die geld. Jy