اصلی Stories vir die kleingoed (Afrikaans Edition)

Stories vir die kleingoed (Afrikaans Edition)

,
0 / 0
دا کتاب تاسو ته څنګه خواښه شوه؟
د بار شوي فایل کیفیت څه دئ؟
تر څو چې د کتاب کیفیت آزمایښو وکړئ، بار ئې کړئ
د بار شوو فایلونو کیفیتی څه دئ؟
کال:
2013
ژبه:
afrikaans
ISBN:
B00CWLQF1I
فایل:
PDF, 310 KB
کاپی کول (pdf, 310 KB)

ممکن تاسی علاقمند شی Powered by Rec2Me

 

مهمي جملي

 
0 comments
 

To post a review, please sign in or sign up
تاسی کولی شی د کتاب په اړوند نظر څرګند کړی او خپله تجربه زمونږ سره شریکه کړی، نورو لوستونکو ته به زړه راښکونکی (دلچسپه) وی چې د لوستل شوو کتابونو په اړوند ستاسی په نظر پوه شی. بدون له دی چې کتاب مو خوښ شو اویا خوش نه شو، که تاسی صادقانه په دی اړوند مفصله قصه وکړی، خلک کولی شی د ځان لپاره نوی کتابونه بیدا کړی، چې هغوی ته زړه راښکونکی (دلچسپه) دی.
1

After

ژبه:
english
فایل:
0 / 0
STORIES VIR DIE KLEINGOED
Rika du Plessis
© Rika du Plessis
Alle regte voorbehou

http://www.rduplessis.wordpress.com
INHOUD
1. Die kromsteelpyp
2. Die plaaskindjie
3. Die windjie
4. Die appelboom
5. Die dansende varkie
6. Die haas weeskindjie
7. Dit is net my mamma
8. Feetjie van Kammaland
9. Jannie verf
10. Miekie en Mollie
11. Minnie meerkat
12. Ouma Witstert
13. Tommie die spokie

DIE KROMSTEELPYP
Oupa Hans is al oud. Sy lang baard is spierwit grys, en sy kop is kaal. Hy
werk nie meer nie, en bly by sy dogter en haar man in die huis. Bedags na
ontbyt gaan sit Oupa altyd op die stoep in die son, en wanneer dit te warm
word, gaan sit hy op die gras in die koelte van ‘n groot akkerboom.
Die ding wat Oupa altyd by hom het, is sy kromsteelpyp. Selfs
al rook hy nie, hang die ou kromsteel in sy mond. Sy kinders het al baie
geraas oor die ou pyp wat Oupa so rook, maar hy wil darem nie nou op sy
oudag van sy ou kromsteel ontslae raak nie.
Dientjie hoor hoe haar ma en pa oor haar oupa se gesondheid
praat. Hulle is bekommerd omdat Oupa nie wil ophou rook nie. Hy hoes
juis soms so aanmekaar dat hy skoon kortasem raak. Dientjie raak nou
benoud. Sê nou maar Oupa kan eendag glad nie asem kry na so ‘n hoesery
nie? Sy wil nie hê haar oupa moet doodgaan nie. Wie sal dan vir haar sulke
lekker stories vertel, en bowendien is sy lief vir haar oupa.
Sy moet ‘n plan maak om Oupa van daai pyp te laat afsien.
Maar hoe? Sy dink en dink tot sy al skoon moedeloos gedink is. Die
volgende dag sit sy op die gras langs die tuinstoel waarin Oupa onder die
boom sit. Hy sit en suig al weer aan die ou pyp, sien sy. Langs sy stoel op ‘n
tafeltjie lê sy sakkie tabak en skielik dink Dientjie aan ‘n plan.
Sy staan op en sien Oupa se oë is toe. Hy slaap dikwels
sommer ‘n bietjie so regop in sy stoel. Nou is haar kans, en sy gryp die

sakkie met die bietjie tabak in en draf om die huis se hoek. Sy stap na haar
ma se kruie tuin toe en gaan pluk blaartjies van die krui waarvan haar oupa
niks hou nie. Hy sê altyd hy word sommer naar as hy die g; oed proe.
Sy kap die blaartjies baie fyn en meng dit met die tabak in die
pyp voor sy die sakkie weer op sy plek gaan neersit.
“Oupa moenie so in die stoel sit en slaap nie. Oupa gaan
omval of uitval en ek kan Oupa nie ophelp nie,” sê sy hard toe sy weer langs
hom gaan sit.
Oupa kyk na haar toe en lag net sy gewone ou roggellaggie.
Hy vat die sakkie tabak en begin sy pyp vol stop met die tabak. Daarna sit
hy die pyp in sy mond en steek die tabak aan die brand. Sommer na die
eerste suig aan die pyp spoeg Oupa dat dit daar ver trek en bekyk die pyp
vies.
“Nou vir wat smaak my ou kromsteel dan vandag so sleg? Dis
net so sleg soos daai kruie van jou ma.” Hy kap die pyp se inhoud teen sy
skoen se hak uit en maak die pyp skoon met ‘n pypskoonmaker wat hy uit
sy sak haal. Daarna stop hy die pyp van vooraf.
Maar weer het Oupa skaars die eerste trek aan die pyp gegee,
en die keer gooi hy sommer die pyp dat hy doer trek en spuug vies in die
gras.
“Nee, kyk, as ou kromsteel nou glad vir my begin smaak soos
daai kruiegoed, is dit seker tyd dat ek moet ophou rook, of wat sê jy my

klein Dientjie?” vra Oupa en vryf oor haar kop.
“Ek dink ook so, Oupa, dis sommer ‘n baie goeie besluit. Wil
Oupa ‘n lekkertjie hê? Vra Dientjie en hou gretig haar pakkie lekkers na
Oupa toe uit. Hy kan veel liewer van haar lekkers eet as om aan ‘n ou stink
pyp te suig wat glad nie goed vir hom is nie.
“Dankie, Dientjie, die lekkertjie sal lekker smaak. Wil jy dan
nie vir Oupa ‘n glas yskoue water gaan haal nie? My mond smaak darem
nou alte sleg van binne.”
“Natuurlik, Oupa, ek is nou terug,” antwoord sy en hardloop
huis toe waar sy vinnig vir haar mamma vertel wat sy gedoen het en wat
Oupa se besluit is.
“Haai, Dientjie, jy moenie so met Oupa maak nie, maar ai, as
dit gehelp het dat hy daai ou pyp gaan los, is dit maar oukei so. Hier, neem
sy water vir hom,” antwoord haar mamma.
Buite het Oupa sy sakkie tabak gevat en dit in sy hand
uitgegooi. Al is sy ou oë al swak, het hy tog die fyn stukkies groen tussen die
bruin tabak raak gesien. Hy glimlag nou sag. Hy weet sommer dis Dientjie
se werk, en hy weet sy wil net so graag soos sy kinders hê hy moet ophou
rook. Miskien moet hy regtig maar nie weer die ou pyp aansteek nie. Dit
wys vir hom sy kinders en kleinkindjie is vir hom lief, en wil hom by hulle
hou so lank as wat hulle kan. Hy glimlag dus wyd toe Dientjie die glas water
vir hom gee.

“Dankie, my poplappie, die water gaan nou lekker smaak, en
daarna jou lekkertjie. Jy moet dan daai ou pyp gaan optel en gooi hom in
die dam, hoor.”
“Ek doen dit sommer nou dadelik, Oupa,” sê Dientjie gretig.
Netnou verander haar Oupa van besluit, dink sy toe sy die ou pyp
oomblikke later met ‘n boog in die dam gooi en terughardloop na haar oupa
toe.
“Kan ek nou ‘n mooi storie hoor, Oupa?” vra sy en gaan
klouter op sy skoot.
Sy ou eelterige hand hou haar styf vas en hy begin vertel vir
haar ‘n mooi storie van Jakkals en Wolf.

DIE PLAASKINDJIE
“Ag, Mamma, is dit regtig nodig dat ons van nou af op die dorp moet gaan
woon?” vra Lettie waar sy haar pap sit en eet.
“Ja, Lettie, dis nodig, want Pappa kan nie meer hier werk nie.
Die boer het die plaas verkoop en die nuwe eienaar soek nie ‘n
plaasbestuurder nie. Pappa het werk op die dorp by die groot korporasie
gekry.”
“Wat gaan van al my dieremaatjies word met wie ek so lekker
gespeel het? Ek gaan hulle mos mis, en hulle gaan my ook mis. En wie sê die
nuwe boer gaan hulle op sy werf laat bly?” vra Lettie nou sommer hartseer.

“Wel, die huis in die dorp waar ons gaan woon se erf is baie
groot, en ek dink jy kan maar jou katjie en hondjie saamneem, maar jy sal
nie die eekhoring, hasie, en hoendertjie ook kan saamneem nie.”
“Hoekom nie, Mamma? Hulle is tog almal klein en sal mos nie
kwaad doen nie.”
“Daar is net een groot boom op die erf. En jou eekhorinkie is
gewoond aan baie bome. Hy sal wegloop na die ander bome in die dorp toe,
en dan vang iemand se kat of hond hom dalk. Die hasie is gewoond gate
grawe, en hy sal ‘n gat onder die draad of muur grawe en ook dalk iewers
gevang word. Die hoenderhaantjie is gewoond om soggens vir lank te kraai
wanneer dit lig word, en daaroor sal die bure kla as hulle nog wil slaap. Jou
katjie en hondjie is gewoond in die huis bly, so hulle is nie ‘n probleem nie.
Hulle gaan net uit wanneer jy buite speel.”
“Siestog, ek wil darem ook nou nie hê hulle moet gevang en
opgevreet word nie. Dan moet hulle maar hier bly, en kan darem in die bos
gaan woon as die boer hulle wegjaag,” antwoord Lettie, maar tog is haar
hartjie seer oor die diertjies wat sy moet agterlaat. As sy tog net haar ou
mooi klein hoenderhaantjie kon saamvat. Kietsie en Woefie het altyd so
lekker met hom gespeel, en sy kon te lekker lag vir hulle. Koekie, die
hoenderhaantjie, is tog so lief om hulle te bekruip, aan hulle stert te pik en
dan vir hulle weg te hardloop. Hulle vang hom altyd en dan rol hulle oor die
gras soos hulle hom karnuffel, maar nooit maak hulle hom seer nie.

Lettie-hulle woon al vier dae in die nuwe huis. Elke dag het sy heeldag buite
by Kietsie en Woef gespeel sodat hulle die nuwe werf moet gewoond raak.
Sy kon in die begin sien hulle is maar skrikkerig vir die vreemde plek, maar
nou is hulle al sommer tuis. Hulle speel met haar, maar sy sien hoe hulle
rondkyk, en sy weet hulle mis die ander diertjies ook.
Dis nog baie vroeg een oggend toe Lettie wakker word. Haar
ouers slaap ook nog, maar skielik is sy niks meer vaak nie. Sy staan op en
trek self aan. Dadelik is Woef en Kietsie by haar toe sy by die voordeur
uitgaan. Die son gaan nou enige oomblik sy kop agter daai berg uitsteek, en
sy hoor klaar haar mamma-hulle in die kamer woel om op te staan. Op die
stoep gaan staan sy doodstil en kyk hoe Kietsie en Woef elkeen ‘n draai
gaan maak tussen die grassies.
“Koekelekoer-koer-koer,” hoor Lettie, en spits haar oortjies.
Sy het ‘n haan hoor kraai, en Mamma sê dan die bure sal kla as sy haar ou
haantjie saambring! “Koekelekoer-koer-koer,” kraai die haantjie weer. Dit
klink sommer naby, en Lettie stap met die stoeptrappies af na onder toe om
rond te kyk. Ai, nou verlang sy sommer van vooraf, want die haantjie se
kraai klink darem alte veel na Koekie se stemmetjie.
Skielik begin Woef te blaf en Kietsie miaau saggies en
aanmekaar. Sy sien hulle nie. Dit klink of hulle iewers agter die huis is, en
Lettie draf soontoe. Net anderkant die groot boom, staan Woef en Kietsie

teen die betonmuur wat rondom die erf is. En bo op die muur sit haar
pragtige haantjie.
“Koekie! Koekie! Hoe kom jy hier? Ag, ek is so bly om jou te
sien,” roep Lettie en hardloop na die muur toe. Dadelik vlieg Koekie af
grond toe en kom pik-pik saggies aan haar tone wat voor by die sandaaltjies
uitsteek. Sy gaan sit plat op die gras, en Koekie klouter sommer op haar
skoot en vroetel met sy kop onder haar ken in. Woef en Kietsie draai en
kerm saggies hier om hulle, en Lettie sit ‘n handjie op elkeen se kop.
Doodstil en tevrede sit al drie die diertjies by haar, en Lettie weet sy sal nie
weer vir Koekie kan laat gaan nie. Haar mamma moet maar sowaar ‘n plan
maak.
“Lettie, my kind, hoekom is jy so vroeg al buite?” vra haar
mamma wat oor die gras aangestap kom. “En dit? Wat maak Koekie hier?”
vra sy verbaas.
“Hy was maar hier op die muur toe ons uitgekom het. Ek het
hom hoor kraai en Woef en Kietsie het hom eerste hier gekry. Mamma, kan
ons nie maar ‘n plan maak om hom te hou nie? Ons kan hom snags iewers
toemaak dat hy nie soggens vroeg kraai nie, asseblief, Mamma?” soebat
Lettie.
Haar ma kyk ‘n rukkie na haar, en sy kan sien haar mamma
dink nou baie diep. Dan glimlag haar ma.
“As jy vir Koekie kan leer om snags in die ou draadhok in die

motorhuis te slaap, kan jy hom hou. Jy kan hom saans daar gaan insit en ‘n
ou kombers oor die hok gooi sodat dit daar donker bly tot nadat die bure al
opgestaan het. Daarna kan jy hom laat uitgaan. Is dit goed so?”
“O ja, Mamma, ek sal dit doen. Hy moet dit net eers gewoond
raak, maar ek is seker hy sal sommer weet hy moet tjoepstil daar in die
donkerte wees,” antwoord Lettie nou vrolik.
So het dit gekom dat Koekie later sommer self saans na die
motorhuis toe gestap het dat Lettie hom in die hok kan toemaak, en hy het
nie soggens gekraai voordat Lettie hom nie laat uitkom het nie. Nou speel
Lettie weer te lekker saam met haar drie dieremaatjies. Sy het baie
gewonder hoe het Koekie dan weer by haar uitgekom, en tog het sy geglo
dat Koekie agter haar aangevlieg het.
Haar mamma het maar tjoepstil gebly, maar sy weet dit was
die buurman op die plaas wat langs hulle gewoon het wat vir Koekie by
hulle erf kom aflaai het. Hy het haar gebel en gesê die plaas se nuwe eienaar
wou nie vir Koekie op die werf hê nie, en toe het hy vir Koekie gevat om na
Lettie toe te bring.

DIE WINDJIE
Danie en Paul is haastig om die lekker ontbyt wat hul ma gemaak het klaar
te eet. Hulle sien uit na ‘n dag se lekker speel saam met ‘n tweeling wat
gister verjaar het en mooi karretjies present gekry het. Hulle sien al hoe

maak hulle mooi paadjies tussen die bloekombome se blare op die grond om
in te ry.
Hulle het dan ook pas klaar geëet, toe spring hulle van die
stoele af en hardloop na die voordeur toe. Om eerste buite te kom, is albei se
doel, en by die deur stry hulle oor wie die deurknop gaan draai om dit oop
te maak.
“Haai, Paul en Danie, waarheen hardloop julle? Kom
asseblief gou hier,” roep hulle mamma vanaf die sitkamer.
“Ai, wat wil Mamma nou weer hê?” brom Paul.
“Ja, Mamma?” vra Danie toe hulle uitasem voor haar te staan
kom.
“Julle het nou twee lekker vakansiedae gehad waarin julle
baie lekker gespeel het, en waarin ek julle lekker met eetgoedjies bederf het.
Hierdie derde en laaste vakansiedag moet julle nou weer vir my iets doen.
Hark asseblief al die ou dooie blare op die grasperk op en gooi dit in sakke.
Die ou bruin blare op die mooi groen grasperk lyk tog te lelik.”
“Maar, Ma…” begin Paul, maar sy val hom vinnig in die rede.
“Niks maar nie, Paul. As julle fluks werk, is julle sommer gou
klaar, want ons grasperk is glad nie so groot nie.”
“Ai, Ma, kan ons dit nie maar môre doen nie?” vra Danie
ontevrede.
“Het jy dalk vergeet môre sit julle weer in die skool en dan

moet ek dit doen? Ek kan nie môre blare hark nie. Ek moet die wasgoed
doen, huis skoonmaak en kos maak anders is julle borde môreaand leeg.
Toe, toe, weg is julle,” jaag sy hulle aan en voor hulle nog iets kan sê,
verdwyn sy na die kombuis toe.
Koponderstebo stap die twee al mompelend weg. Op die stoep
gaan staan hulle stil en kyk na al die bruin blare op die gras. Skielik lyk die
grasperk so groot soos ‘n rugbyveld en tonne bruin blare.
“Mamma is nou sommer lelik met ons,” mompel Danie.
“Ja, en môre moet ons al weer skool toe gaan en kan ons nie
met daai nuwe karretjies gaan speel nie,” beaam Paul en die twee kyk na
mekaar.
“Dink jy ons kan dalk weghardloop en so ‘n uurtjie met die
karretjies gaan speel en dan terugkom en die blare kom ophark?” vra
Danie.
“Dis ‘n plan, ja. Ek het netnou gehoor tant Dienie en haar ma
kom by Mamma kuier, en as ons weg glip daarna sal Mamma ons nie mis
nie. Kyk daar kom hulle nou by die hekkie in,” antwoord Paul, en die twee
groet die tannies vriendelik en stap by hulle verby na die tuinhokkie toe. Net
toe die tannies in die huis verdwyn saam met hulle mamma, glip hulle by die
hekkie uit en hardloop in die straat af.
By hulle tweelingmaatjies speel hulle egter so lekker met die
klomp nuwe karretjies dat hulle skoon van die tyd vergeet. Hulle skrik eers

toe die tweeling se ma hulle roep om in te kom vir aandete.
“O, kriek, Danie… wat van die blare?” vra Paul verskrik.
“Ja, en nou weet Mamma natuurlik lankal ons het
weggeloop,” antwoord Danie en die twee hardloop so vinnig hulle kan huis
toe. By die voordeur staan hulle ‘n rukkie stil. Hulle ruik al die lekker
kosgeure van die kombuis af. Met grommende magies van hongerte, stap
hulle toe maar kombuis toe waar hulle mamma vir hulle by die stoof staan
en wag.
“Waar was julle? Hoekom was julle so ongehoorsaam? Die
gras is nog net so vol blare,” sê sy kwaai, en hulle staan versigtig nader.
“Ons… ons het net eers bietjie gaan speel, en… enne toe het
ons vergeet van die tyd, Mamma… ons is jammer,” sê Paul.
“Ja, ons is jammer, Mamma,” beaam Deon.
“Wel, dis goed as julle jammer is, maar al is dit nou al donker,
gaan julle eers daardie blare ophark voor ek vir julle gaan kos inskep. Sit
aan die spreiligte en gaan doen die werk wat ek vanoggend vir julle gegee
het,” beveel sy streng en draai haar rug op hulle om te wys nou het sy klaar
gepraat.
In die lig van die groot buiteligte begin die twee al morrend
die blare op hopies hark. Bokant hulle ritsel die blare van ‘n ligte windjie
wat waai, maar dis so effens, hulle hoor dit nie eens nie. Ou windjie kyk
ondeund op die twee kinders af. Vanaand gaan hy vir hulle ‘n les leer. Hulle

wil mos so lelik met hulle mamma gewees het.
Ou windjie wag net tot die twee na ‘n ander deel van die gras
gaan om daardie blare ook bymekaar te hark, toe maak hy sy wange bol en
blaas al die ander hopies wat hulle bymekaar gehark het weer oral oor die
gras heen. Nou hang ou windjie weer net saggies bokant hulle en wag om te
kyk wat gebeur.
“So ja, ons is amper klaar,” sê Paul, en hy draai om om die
sakke nader te bring om die hopies blare in te gooi. Hy steek vas, en saam
met hom Deon ook. Hulle kyk vol ongeloof oor die grasperk heen. Daar is
geen hopies blare nie. Alles lê weer oral oor die grasperk versprei.
“Agge nee, nee, hoe kan dit nou gebeur het? Hier is dan nie
eens ‘n wind nie,” kla Paul.
“Hier is niks wind nie. Jong, nou is ek sommer bang. Wie het
ons blarehopies weer so uitmekaar gekrap?” vra Danie en skuifel nader na
sy boetie toe.
“Moet ons vir Mamma gaan sê?” vra Paul.
“Nee, Mamma sal dink ons jok, want hier waai nie ‘n wind
nie. Ons sal maar van vooraf moet ophark,” antwoord sy boetie, en vinnig
begin hulle die werk van vooraf doen.
Maar ou windjie is nie van plan om hulle so maklik te laat
wegkom met hulle stoutigheid nie. Net soos hulle wegdraai van die klaar
geharkte hopies af, waai hy vinnig weer hulle blare deurmekaar.

Toe Paul en Danie dit vir die tweede keer sien, is hulle regtig
baie bang en hardloop huis toe.
“Mamma… Mamma,” skreeu hulle en vertel deurmekaar vir
haar wat daar buite gebeur het. Natuurlik glo hulle mamma dit nie, en sê
net sy skep nie hulle kos in voor hulle klaar is nie. “Hierdie keer gaan ek op
die stoep sit en kyk dat julle julle werk doen.”
Natuurlik het ou windjie nie weer hulle blare oopgewaai nie.
Hy is tevrede dat die seuns goed gestraf is vir hulle ongehoorsaamheid en in
die toekoms twee keer sal dink voor hulle nie na hulle mamma luister nie.
Stil hang ou windjie tussen die blare en glimlag tevrede toe die seuns al die
blare ophark en in sakke gooi, en hulle hand om die lyf met hulle mamma
instap huis toe.

DIE APPELBOOM
Dit is ‘n nuwe appelboord wat die boer geplant het. ‘n Klomp jong
boompies staan in rye en rye die hele land vol. Hy gee vir hulle genoeg water
en genoeg voedingstowwe in die grond om lekker te kan groei.
Die boer is ‘n bietjie bekommerd, want daar is vyf bome teen
die een hoek van die land wat glad nie wil groei nie. Hulle bly net soos hulle
was die dag toe hy hulle geplant het. Al is dit net vyf van die hele groot
klomp, wil die boer darem baie graag weet hoekom net daardie vyf nie wil
groei nie.

Hy het vir hulle ekstra kos in die grond om die stamme gesit
en ekstra water, maar na ‘n maand lyk die vyf boompies nog niks langer nie.
Hulle lyk mooi gesond, hulle wil net nie groei nie.
Daardie aand om die eettafel vertel die boer vir sy vrou van
die eienaardige vyf boompies. Al die ander bome groei fluks en behoort nog
in die jaar lekker appels te dra.
Klein Emma, hulle dogtertjie sit nuuskierig na haar pappa en
luister terwyl sy eet. Sy sal darem graag daai boompies wil sien. In haar
gedagtetjies wonder sy of hulle nie towerboompies is nie. Dié gedagte maak
haar nou eers nuuskierig om die boompies te sien.
Die volgende dag toe Emma se pappa na ‘n ander land vol
perskebome toe is, speel sy buite met haar mooi pop. Ou Wagter, hulle groot
hond, lê altyd naby haar waar sy speel, want sy ounooi het hom beveel om
vir Emma op te pas wanneer sy buite speel.
Emma hoor die telefoon in die huis lui, en sy weet nou gaan
haar mamma weer lank met een van haar vriendinne gesels.
“Kom, Wagter, ons gaan na daai boompies toe. Ek wil weet of
hulle towerboompies is,” gesels sy met die groot hond wat gewillig opstaan
om saam met haar te stap. Dis ver, maar Emma draf die eerste entjie vinnig
om van die huis af weg te kom voor haar mamma sien sy is nie meer voor
die deur nie.
Sommer van ver af sien Emma die vyf boompies wat baie

kleiner as al die ander klomp is. Saam met haar stap Wagter tot by die
boompies. Emma stap al om en om elkeen van die vyf boompies en bekyk
hulle goed. Wagter gaan lê eenkant met sy kop op sy pote, maar sy oë bly op
Emma gerig.
“Ek sien niks snaaks aan julle vyf boompies nie. Vir wat wil
julle nie groei nie?” vra Emma sommer nou vies omdat sy al die pad verniet
geloop het, want hierdie boompies lyk glad nie na towerboompies nie. Sy het
darem gedink iets sal anders aan hulle lyk as hulle sulke spesiale boompies
is.
“Omdat ons nie wil groei nie,” praat ‘n stemmetjie meteens
agter Emma en sy swaai verskrik om. Daar is niemand nie en sy kyk oral
om haar rond. Selfs Wagter het nou al opgestaan en sy ore staan
kiertsregop.
“Wie is daar? Kom uit waar jy wegkruip. Ek het jou gehoor
praat, en Wagter ook. Wie is jy?” vra Emma braaf, maar staan darem ‘n
bietjie nader aan Wagter met haar hand op sy groot kop. Sy voel darem
veilig by hom. Met haar ander hand frommel sy een van die blaartjies van
die appelboompie die naaste aan haar stukkend.
“Los my blaartjie, eina, jy maak my seer. Dis ek, die
appelboompie hier by jou wat met jou praat,” sê dieselfde stem weer en
hierdie keer skrik Emma nie so groot nie. Sy kyk na die verfrommelde
stukkende blaartjie in haar hand en los dit. Sy kan darem nie glo die

boompie het met haar gepraat nie.
“Bome kan nie praat nie,” probeer sy seker maak.
“Ek kan met jou praat. Ek weet jy is nuuskierig, en seker nou
bang ook, maar jy hoef nie vir ons bang te wees nie. Ons kan jou niks maak
nie. Ons wil net nie groei nie.”
“Maar hoekom nie?” vra Emma nou, en los Wagter se kop om
oor die boompie se blaartjies te streel.
Fyn giggel die boompie. “Oeee, jy kielie my, dis so lekker.”
Nou lag Emma en hou aan streel oor die blaartjies.
“Ek wil nog weet hoekom julle nie wil groei nie,” sê sy egter.
“Wanneer ons groot is, moet ons vrugte dra… appels, en dan
kom die grootmense en hulle pluk alles af. Kan jy dink hoe seer gaan ons
kry met elke appel wat hulle van ons gaan afpluk?” vra die boompie.
Emma staan en dink. Sy moet die boompies oorreed om te
groei. Dan dink sy skielik aan iets.
“Jy is nog jonk, jy weet nie hoe dit is om appels aan jou
takkies te hê nie. Eers kom daar blommetjies uit, en hulle word dan kleinklein appeltjies. Daai appeltjies word groter en groter en groter tot hulle ryp
genoeg is om afgepluk te word. Kan jy nie dink hoe vreeslik swaar gaan die
klomp groot appels aan jou takkies hang en jou laat seerkry nie? Die mense
pluk dit af en jy kry regtig nie seer nie. Dan is jou takke weer lekker lig en
dra jy nie so swaar nie. As julle so klein gaan bly, gaan die boer julle uitkap

en weggooi omdat julle nie vir hom wil appels dra nie.”
“Maar dan sal ons doodgaan,” sê die boompie nou verskrik.
“Wel, die boer het julle gekoop om te plant om vir hom appels
te dra om te verkoop. As julle nie wil nie, beteken julle vir hom niks. Hy sal
vyf ander in julle plekke plant.”
“Sal ons regtig nie seerkry as hulle ons appels pluk nie?” vra
die boompie.
“Nee, julle sal nie, julle sal weer lekker lig en vrolik voel en
verder groei.”
“Maatjies, ek dink ek wil liewer groei en appels dra as om
uitgekap te word en iewers in die veld te lê en doodgaan,” sê die boompie
nou vir die ander vier boompies.
Al vier stem met hom saam. Nou is Emma baie bly en sy groet
die boompies om saam met Wagter huis toe te stap.
Daardie aand by die eettafel kyk sy na haar pappa en
mamma. Sy weet hulle gaan haar tog nie glo as sy sê die boompies het met
haar gepraat nie.
“Pappa het gister gesê as die boompies nie nou begin groei nie,
gaan Pappa hulle uitkap. Pappa moenie, gee hulle nog ‘n kansie. Pappa sal
sien so teen volgende week se kant gaan hulle almal nuwe blaartjies hê en
vinnig groei.”
“Nou toe nou, en hoe weet jy dit, my kindjie?” vra haar pappa

laggend en haar mamma glimlag ook ondeund.
“Ek weet sommer net. Die boompies het met my gepraat.”
Haar ouers lag en knip vir mekaar oog. “Seker in jou drome,
my kindjie, maar goed, ek sal hulle nog ‘n week kans gee,” sê Pappa.
Teen die einde van die volgende week kom haar pappa baie
verbaas by die huis aan en kyk na haar.
“Wel, Emmatjie, jou boompies het hulleself gered, want hulle
is eindelik besig om te groei. Dis maar goed jy het daai droom oor hulle
gehad anders was hulle nou uitgekap.”
Emma glimlag net en streel oor Wagter se kop. Dis haar en
Wagter se geheim.

DIE DANSENDE VARKIE
“Kraak-kraak-kraak…” kou die varke in die groot varkhok aan die
mieliepitte wat die boer so pas in hulle kosbakke gegooi het. Ooo, en daar is
lekker wortelskille en pampoenskille ook. Hulle hou baie meer van al
hierdie soorte kos as die varkmeel wat hulle party keer moet eet.
“Hallo… e… oom Groot vark,” praat ‘n dun stemmetjie
meteens aan die buitekant van die hok, en die ou groot vark kyk verbaas na
die kleinerige pienk varkie wat daar staan. Dit is beslis nie een van hulle
varkies nie.
“Ja, Pienk varkie, waar kom jy vandaan en wat soek jy hier?”

vra die ou grote.
“Ek het by ons hok uitgekruip en in die veld gaan rondloop,
en… enne toe kon ek nie weer die huis kry nie. Ek loop al meer as ‘n maand
rond, en het maar min kos geëet in die tyd. Ek is baie honger en ek hoor
julle eet so lekker. Kan… kan ek dalk ‘n ou bietjie kos kry?” vra die pienk
varkie smekend.
“Het die boer jou dan nie gesoek nie?” brom die ou grote,
want hy hou nie van nuwe varke wat sommer so daar aangestap kom nie.
“Ek weet nie. Ek het niks gehoor nie. Asseblief, ek is regtig
baie honger.”
“Ag so, en as ons vir jou van ons kos gee, wat gee jy vir ons?”
vra die ou grote se vrou wat ook nou nader gekom het.
“Ek… ek sal vir julle dans,” sê die pienk varkie effens skaam.
“Ha-ha-ha,” lag die twee groot varke. “Waar het jy nou al ooit
‘n vark gesien wat kan dans. Nee, jong, jy gaan net ons kos opvreet en dan
hardloop jy weg,” sê die groot vark.
“Sy jok nie vir julle nie, sy kan dans,” kom ‘n diep, growwe
stem vanuit die groot boom bo hulle, en al die varke kyk op. Daar sit ‘n
yslike groot arend en langs hom sit ‘n goudgeel kanarie.
“Wat weet jy van die pienk varkie af? Wie is jy?” vra die vark
se vrou.
“Ek is die grootste arend op die plaas en woon daar by die

berg. Ek vlieg bedags oral waar die pienk varkie loop om haar te beskerm.
Skaam julle, sy is nog klein, so waarom wil julle haar nie kos gee nie?” vra
die arend kwaai.
“Nou goed, sy kan kos kry, maar eers wanneer sy klaar vir ons
gedans het,” antwoord een van die ander varke.
Skielik vlieg die geel kanarie nader en kom sit op ‘n lae takkie
naby die varkie. “Kom, varkie, ek sal vir jou mooi fluit sodat jy sommer
lekker kan dans. Kyk, hier is vir jou ‘n blommetjie,” sê die kanarie, pluk ‘n
blommetjie van die boom af en laat val dit voor die pienk varkie op die
grond.
Die varkie kyk dankbaar na die kanarie en die arend, tel die
blommetjie op en lig haar voorpootjies op sodat sy net op haar agterpootjies
staan. Die kanarie begin vrolike deuntjies fluit, en die varkie begin dans. Al
in die rondte, al in die rondte, dan diékant toe, en dan daaikant toe. Haar
voorpootjies bly in die lug en hy knyp die blommetjie met een pootjie vas.
Al die varke het nou opgehou om te eet. Hulle kyk doodstil na
die dansende pienk varkie. So iets het hulle nog nooit gesien nie. En dan nog
die kanarie wat so mooi fluit. Skielik hou die kanarie op met fluit, en die
varkie hou op met dans. Die kanarie vlieg terug na die arend toe.
“Toe, julle het nou gesien hoe mooi kan sy dans. Gee nou vir
haar kos soos julle belowe het,” sê die arend.
Die twee grootste varke gooi vir haar iets van alles deur die

draad, en die pienk varkie eet haar trommeldik voor sy stadig begin
wegstap.
“Haai waarheen gaan jy dan nou? Jy sê dan jy weet nie waar
jou huis is nie,” roep ou groot vark.
“Ek weet nie, maar ek kan ook nie hier bly nie, want die boer
sal dalk nie daarvan hou nie, en… enne dalk julle ook nie,” antwoord die
pienk varkie weer in haar dun stemmetjie.
“Jy het so mooi gedans, ons sal graag elke dag wil sien hoe jy
dans,” sê die vark se vrou. “En as die boer sien hoe mooi jy dans, sal hy jou
nie wegjaag nie.”
“Ek kan nie sonder musiek dans nie, en ek weet die kanarie
kan nie hier bly nie, want sy het ‘n nessie vol kleintjies waarheen sy moet
teruggaan. En die arend kan ook nie hier bly nie, want sy vrou is by die berg
waar sy op hulle eiers sit en broei, so wie gaan dan na my kyk?”
“Wel, ons klein Mientjie kan mooi sing en geluide soos musiek
maak, so sy kan jou help. En as jy by ons bly, sal ons mos na jou kyk,”
antwoord die vark se vrou weer.

“Gou, maak gou, dans weer, want daar

kom die boer aan. Kom, kanarietjie, asseblief kom fluit weer vir haar,” roep
die vark se vrou nou.
Een-twee-drie sing die kanarie weer mooi, en die varkie dans
al in die rondte, heen en weer. Die boer kom tot stilstand toe hy daar
aankom en die vreemde klein pienk varkie so sien dans. So iets het hy nog

nooit gesien nie, en hy wonder waar kom die varkie vandaan. Die varkie
hou op met dans, en die kanarie vlieg terug na die arend toe. Effens
bangerig stap die pienk varkie tot voor die boer en kyk op na hom toe. Hy
maak sagte snorkgeluidjies.
Die boer buk by haar, sit sy hand op haar kop en krap liggies
tussen die pienk oortjies. “Nou waar op aarde kom jy vandaan? Het jy dalk
verdwaal? Ek het nog nooit ‘n varkie sien dans nie. Dit was tog te mooi. Jy
kan by my klein varkies in die hok gaan bly as jy wil. Daar sal jy elke dag
lekker kos kry,” praat die boer met haar, en die varkie spartel glad nie toe
die boer haar optel nie.
Al die varkies wil nou met haar gesels. Hulle wil weet hoe sy
so leer dans het, en of sy vir hulle ook sal leer. By die hek staan die boer
glimlaggend na hulle en kyk toe hy besef al die ander varkies hou van die
pienk varkie. Hulle sal mooi na haar kyk.
So het dit gekom dat die pienk varkie by sy nuwe tuiste baie
goed behandel is, en sy is ook nooit verkoop nie. Wanneer die boer gaste
kry, moet die pienk varkie vir hulle dans. Gewoonlik speel die boer se
dogtertjie klavier vir die varkie en dan dans sy tog te lekker.
So nou en dan het die arend en die kanarie kom hallo sê en
seker gemaak dit gaan nog goed met die pienk varkie.

DIE HAAS WEESKINDJIE

Stippie is ‘n baie mooi klein hasie. Sy ouers was altyd so trots op hom, en
baie van die ander groot hase was jaloers omdat hulle kindertjies nie
heeltemal so mooi soos Stippie is nie.
Maar toe raak Stippie se ouers een dag net weg. Hulle het
gaan kos soek en nie weer teruggekom na Stippie toe waar hy in die ou hol
boomstam waar hulle huis is, vir hulle gewag het nie.
Stippie is baie hartseer waar sy voor die gat in die hol
boomstam sit. Daar sit ‘n klomp groot hase by haar en almal wil haar nou
aanneem en as hulle kindjie grootmaak. Stippie is egter baie bang om
sommer na vreemde hase se huise toe te gaan. Sy ken hulle mos nie, maar ai,
sy is nog te klein om so alleen hier te bly en vir haarself te sorg.
“Stippie kom by ons bly. Sy sal van nou af my en my man se
kindjie wees,” sê ‘n groot bruin haas en staan nader.
“O nee, jy kan nie sommer net namens almal besluit nie. Ek
en my man kan baie beter vir Stippie sorg as julle. Sy kom na ons toe,”
praat ‘n groot grys haas ‘n entjie van haar af.
“En wat van ons? Ek en my vrou het nie ander kinders nie, en
sal nog beter na Stippie kan kyk. Sy kom na ons toe,” sê die diep stem van
‘n pikswart haas wat tussen die ander twee hase gaan staan.
“Wie het die mooiste en veiligste huis hier tussen al die hase?”
vra ‘n bont haas en kom ook nader. “Julle weet almal ek en my vrou het die
beste huis, ons ly nooit honger nie, en ons is twee sterk hase. Stippie sal die

beste versorging by ons kry.”
Al die hase wat gepraat het kom nou nader aan Stippie, en
almal vat aan haar. Stippie bewe so bang is sy. Sy ken nie een van die hase
nie, en nie een van hulle lyk juis asof hulle haar wil hê omdat hulle vir haar
lief is nie. Nee, hulle baklei eintlik met mekaar om te wys wie is die beste
onder hulle. Eintlik het dit niks met haar te doen nie. Sy wil nie by een van
hulle gaan woon nie. Hulle begin aan haar rem, en Stippie gee fyn
kermgeluidjies toe die geremmery haar seer maak.
“Staan opsy, en los vir Stippie uit,” praat die diep stem van
die grootste wit haas wat Stippie nog gesien het toe die haas reg voor haar
kom staan. Verbaas sien Stippie hoe die ander hase na haar luister, want
hulle staan almal ‘n entjie weg van Stippie af. Steeds bang, kyk Stippie op
na die groot wit haas hier voor haar.
“Stippie, wil jy by een van die haasgesinne gaan woon wat nou
hier gesê het hulle wil jou hê?” vra die wit haas nou sag vir Stippie toe sy
vooroor buig om naby Stippie te praat.
Verwonderd sien Stippie hoe sag die wit haas se oë na haar
kyk… amper net soos haar mamma en pappa na haar gekyk het. Sy skud
haar koppie, en prewel sag sodat net die wit haas haar kan hoor: “N-nee.”
“Hoekom nie, klein Stippie?”
“Hulle wil my nie regtig hê nie, hulle wil net vir mekaar wys
wie gaan wen. Ek wil graag by iemand bly wat vir my lief sal wees soos my

mamma en pappa was.”
“Hoe sal jy daarvan hou om by my te kom woon? My naam is
tannie Rienie. Ek het nie meer ‘n man nie, want hy is dood. Ek is ook nie
meer so jonk soos die ander hase nie, maar ek is nog baie gesond en sal mooi
na jou kan kyk. Ek sal al my liefde vir jou gee, want jy sal nie net my
kindjie wees nie, maar ook my maatjie. Ons kan saam kossies soek en saam
speletjies speel. Saans kan jy by my in my lekker warm bed slaap. My huis
is nie so mooi en spoggerig soos baie ander s’n nie, maar dit is veilig en
gerieflik,” praat Rienie sag met Stippie terwyl sy sag oor Stippie se koppie
en ruggie streel.
Stippie is nou sommer hartseer. Tannie Rienie klink nou net
soos haar ma, en sy kan sommer aanvoel tannie Rienie sal goed vir haar
wees. Sy skuifel ‘n entjie nader aan die wit haas, en kruip half onder haar
een poot in.
“Ja, ek sal graag by tannie Rienie wil kom woon, maar wat
gaan die ander hase sê? Ek is bang hulle gryp my weer en netnou skeur
hulle my uitmekaar,” prewel Stippie weer sag hier teen Rienie.
“Nee, hulle sal nie. Hulle luister altyd wat ek sê. Sien, ek is die
enigste dokter van die hase, en ek het al baie van hulle en hulle kinders
gesond gemaak. Ek vra nooit betaling daarvoor nie, en doen dit met liefde.”
“Oooo, dit het ek nie geweet nie. Gaan jy dan my mamma
wees?”

“Natuurlik gaan ek jou mamma wees wat baie lief vir jou
gaan wees.”
“Nou is ek baie bly. My nuwe mamma gaan ‘n dokter wees vir
wie al die ander hase luister, en sy gaan vir my lief wees. Dis al wat ek vra.”
“Dankie, Stippie. Luister almal julle…ek het besluit daar
gaan nie verder oor Stippie baklei word nie. Stippie kom by my woon. Ek is
baie alleen en Stippie sal net so goed wees vir my soos ek vir haar,” sê Rienie
nou hard.
Al lyk sommige hase nog bietjie ontevrede, knik almal kop en
staan nog ‘n entjie verder van Stippie af weg.
“Nou toe kom, my kindjie, ek het al klaar lekker kos gemaak,
en ek en jy gaan nou eet. En dink net hoe lekker warm gaan ons tweetjies
vanaand langs mekaar slaap en vir mekaar stories vertel,” sê Rienie terwyl
sy saam met ‘n opgewonde Stippie wegstap.
So het die wees hasie ‘n nuwe mamma gekry en baie lekker by
haar gewoon.

DIT IS NET MY MAMMA
Neelsie is ‘n klein wolhaarbrakkie, en hy is sy mamma se enigste kindjie. Sy
pappa het weggeraak, en nou is hy en sy mamma alleen.
Dit is aand, en dis nogal koud toe Neelsie styf teen haar ma
vas kruip en na ‘n tietie soek om melkies te drink, want hy is nog te klein

om ander kos te eet. Die melkies is lekker warm in sy mondjie, en hy maak
eintlik sy ogies toe van lekkerte.
“Neelsie, hoor jy ook ‘n geluidjie hier buite wat soos iemand
klink wat huil?” vra sy mamma meteens, en Neelsie se ogies vlieg oop. Die
tietie glip uit sy mondjie toe hy orent sit en sy oortjies spits om te luister.
“Wau-wau-waaau,” klink die fyn geluidjie in sy oortjies.
“Ja, Mamma ek hoor. Wat is dit?”
“Ek weet nie, maar ek sal moet gaan kyk, anders slaap ek nie
vannag nie. Lê jy maar net stil hier in die hok, hoor,” sê sy mamma, staan
op en kruip by hulle slaaphok uit.
Neelsie lê nou baie stil. Hy voel nogal effens bang, want sê nou
maar net dit is nie ‘n huilgeluidjie nie, maar dalk ‘n honger dier wat sy
mamma vang en opvreet? Hy wil-wil begin bewe van bangheid, maar dan
kom sy mamma skielik weer by die hok in. Hy ontspan en draf na haar toe,
maar steek dan in sy spoortjies vas.
In sy ma se mond hang ‘n wollerige dingetjie, en dit lyk darem
vir hom alte veel na ‘n klein katjie. Hy hou nie van katte nie, want hulle het
skerp naels en wanneer hy met hulle wil speel, kap-kap hulle altyd met hulle
skerp naels na hom toe.
“Mamma, wat is daai?” vra hy nou baie agterdogtig.
“Siestog, dis ‘n ou klein katjie, en sy is baie honger en
heeltemal alleen. Sy sê iemand het haar sommer hier in die agterplaas kom

weggooi, en sy weet nie wat het hulle met haar mamma en pappa, boeties en
sussies gemaak nie,” antwoord sy mamma en sit die katjie langs Neelsie
neer. Neelsie gee pad van die katjie af.
“Nou hoekom bring Mamma haar hierheen? Sy moet na haar
mamma-hulle toe gaan,” sê Neelsie nou skerp.
“Neelsie, sy weet nie waar hulle is nie, so waarheen moet sy
nou gaan? Nee wat, ons het baie plek, en ek gee regtig nie om as sy by ons
bly nie. Ek het baie melk vir haar ook.”
“Mamma bedoel ek moet saam met ‘n kat aan Mamma se
tieties my melk drink?” vra Neelsie nou verontwaardig.
“Wat is daarmee verkeerd, my kindjie? Ek sal jou mos nie
afskeep nie. Ja, ek weet eintlik is katte en honde nie maatjies nie, maar as sy
by ons grootword, sal julle tog kan maatjies wees, nè, my ou kietsie katjie?”
“Ek sal so bly wees. Ek sal nie stout wees nie. As jy nie van my
hou nie, Neelsie, sal ek nie naby jou lê nie. My naam is Nettie,” antwoord
die klein katjie in ‘n fyn stemmetjie.
“Ja, goed dan tog, maar net solank jy onthou hierdie is nét my
mamma, nie joune nie,” brom Neelsie en gaan staan styf teen sy ma.
“A nee a, Neelsie, moenie so lelik met Nettie praat nie. Sy is
nog jonger as jy, en sy is honger, koud en alleen. Nettie, ek sal vir jou sorg
net soos jou mamma vir jou gesorg het. Kom lê hier by ons, en drink jou
magie lekker vol melk. Jy sal sommer gou lekker warm word hier by ons

ook,” sê Neelsie se mamma nou streng.
“Dankie, baie dankie, Tannie,” praat die katjie fyntjies en
stap op wankelrige beentjies nader na waar Neelsie al klaar weer aan ‘n
tietie suig. Nettie soek na die tietie die vêrste van Neelsie af, vroetel en
vroetel met haar klein mondjie tot sy die tietie in haar mondjie het, en suig
dan tot die melkies lekker warm in haar mondjie begin loop. Sy is bangerig
vir Neelsie omdat hy so onvriendelik is, maar gelukkig is sy mamma groot
en sterk en sal sy darem seker keer dat Neelsie haar seermaak.
Neelsie voel glad nie gelukkig met Nettie hier by hom en sy
mamma nie. Sy maatjies gaan vir hom lag as hulle hoor hy moet sy mamma
met ‘n kat deel. Hy hoor die klapgeluidjies soos Nettie melk drink, sien hoe
sy met haar pootjies trap-trap teen sy mamma se pens, en moedswillig skop
hy haar van die tietie af weg. Nettie maak ‘n klageluidjie toe sy op haar
magie seerkry.
“Wat is dit, Nettie? Wat is fout?” vra sy mamma.
Neelsie skrik. Nou gaan Nettie sê dis hy wat haar weggeskop
het, en hy ken sy mamma as sy kwaad word. Sy sal hom sommer ‘n klap
met haar poot gee. Hy hou sy asem op en wag vir Nettie se antwoord. By
voorbaat kruip hy al ‘n entjie weg.
“Ek… ek… het ‘n kramp op my magie gekry, Tannie, maar
dis nou baie beter. Oe, Tannie se melkies is so lekker. Kan ek maar nog van
jou mamma se melkies kry, Neelsie?” vra Nettie sag.

Nou is Neelsie baie verbaas, want hy het regtig gedink Nettie
gaan nou lekker kry om hom by sy ma te verklik. Dalk sal Nettie tog nie so
‘n slegte maatjie wees nie. En wat as sy maatjies spot? Hy sal spog dat nie
een van hulle dit tog kan regkry om met ‘n katjie maats te wees nie, en hy
sal Nettie teen hulle beskerm.
“Natuurlik kan jy maar nog drink, Nettie. Mamma het
hopeloos te veel melk net vir my. En… en as Mamma nie omgee nie, kan jy
haar ook maar Mamma noem,” antwoord Neelsie nou en kruip weer nader.
Die keer tot teenaan Nettie wat versigtig nader kom aan hom. Hy lek liggies
oor haar kop, en sê saggies by haar oor: “Baie dankie dat jy nie geklik het
by my mamma nie. Ek was sommer netnou lelik met jou, en ek is jammer,
hoor.”
“Dis oukei, Neelsie, ek is bly jy is nie meer kwaad omdat ek
hier gaan bly nie. Jy is so ‘n mooi hondjie, en jou ma is so sterk. Ek gaan
lekker by julle woon,” antwoord Nettie net so sag.
“Wat praat julle tweetjies so saggies?” vra die mamma.
“Ons gesels sommer, Mamma. Nettie gaan ook nou vir
Mamma sê Mamma.”
“Dis reg so, Neelsie en Nettie. Nou moet julle klaar drink
sodat ons kan slaap, hoor.”
So het Nettie dan by Neelsie en hulle mamma groot geword,
en Neelsie het tog te lekker met haar gespeel sodat sy maatjies later lekker

jaloers geword het. Tot die dag dat hy en Nettie hulle nooi om te kom saam
speel. Al die hondjies het so baie van Nettie gehou dat hulle haar oral
beskerm het teen enige gevaar.

FEETJIE VAN KAMMALAND
Tillie is ‘n baie vrolike feetjie wat in Kammaland saam met ander feetjies en
kabouters tussen die mooi blomme, plante en paddastoele woon. Tillie is
altyd vrolik en almal hou van haar. Sy het die mooiste goue haartjies en
haar vlerkies blink net so mooi soos haar hare.
Elke dag vlieg Tillie van blom tot blom, plant tot plant en
paddastoel tot paddastoel. Vir almal vra sy hoe dit gaan en of daar iets is
wat sy vir hulle kan doen. Almal gesels ‘n rukkie met haar. Waar sy met iets
kan help, doen sy dit al singende, want niks is vir haar te moeilik nie, en sy
is ook glad nie lui nie.
Eendag nadat Tillie weer by almal gaan kuier het, stop sy heel
laaste by die grootste paddastoel in die tuin. Sy kuier altyd die langste daar,
want onder die ou groot paddastoel woon ‘n ou feetjie wat nie meer kan
vlieg nie. Tillie moet dan eers vir haar alles vertel van die dag se besoeke
aan die ander plekke. Sy doen dit graag, want sy kan sien hoe blink ouma
Lalie se ogies van belangstelling soos sy vertel. Gewoonlik vertel ouma Lalie
dan vir haar van dingetjies wat haar oorgekom het toe sy nog so jonk soos
Tillie was.

Vandag is dit egter anders, want Tillie kry nie vir ouma Lalie
by haar paddastoelhuisie nie. Sy loop en soek oral rond en roep na ouma
Lalie, maar die ouma antwoord nie en Tillie kan haar glad nie kry nie. Toe
praat ‘n ou dik stem skielik met haar vanagter die paddastoel se dik stam:
“Ek het ou Lalie hier weggejaag. Sy beteken tog niks meer vir
ons hier rond nie, so waarom moet sy die mooiste en beste paddastoelhuis in
Kammaland kry? Van nou af is ek die baas hier, en julle sal almal maak
soos ek sê.”
Tillie loer om die paddastoel se stam, en voor haar staan ‘n
yslike ou brulpadda. Tillie staan effens terug. Sy weet daai ou padda kan
haar met een hap insluk. Tog is sy dadelik vies.
“Ons ken jou nie eens nie. Ek het jou nog nooit gesien nie. Hoe
kan jy onse arme ouma Lalie sommer uit haar huisie skop? Ouma Lalie kan
skaars meer vir haarself sorg. Ek bring vir haar kossies en help haar met
alles elke dag. Jy is sommer ‘n wrede ou padda en ons sal nie vir jou luister
nie. Waarheen is ouma Lalie?” vra Tillie dapper.
“Ha-ha-ha,” lag die ou padda brullend. Die oumens het daar
na die digte varings toe geloop. Ek weet jy ken almal hier, en ek sê nou vir
jou ek wil met julle almal môreoggend hier praat, so gaan vertel vir hulle
om hier te wees. Kammaland is nou myne, en julle sal leef soos ek dit wil hê.
Nie een van julle ou pieperige goedjies is sterker as ek nie. Die wat nie wil
luister nie, vreet ek sommer op. As ou Lalie nie so oud en verplooid was nie,

het ek haar sommer dadelik opgevreet, want die huis is nou myne.”
“Jy is lelik en wreed, en niemand sal vir jou luister nie,” roep
Tillie hard en vlieg vinnig weg na die varings toe. Sy tref ouma Lalie daar
aan, bewend van die koue en haar ogies dik gehuil.
“Kom, ouma Lalie, jy kan by my kom woon. My huisie is nie
so groot nie, maar daar is ‘n plekkie vir Ouma. Ouma is so klein, kom hou
aan my vas en vlieg saam met my, dan hoef Ouma nie te loop nie.”
“Ag, dankie tog Tillie, kindjie. Wat sou ek tog sonder jou
gemaak het?” snik ouma Lalie en klou aan Tillie vas toe sy begin wegvlieg.
Terwyl hulle vlieg vertel Tillie vir haar wat die ou brulpadda haar beveel
het om te doen.
“Wat gaan ons doen, ouma Lalie? Hy is groter en sterker as
ons almal wat hier rond in Kammaland woon,” vra sy toe sy vir ouma Lalie
saggies neersit voor haar huisie en haar na binne toe help.
“Ek is nou so moeg, Tillie-kindjie, laat ek net so ‘n bietjie rus
en dink, en dan sal ek vir jou kan sê wat om te doen,” sê ouma Lalie uitasem
Sy het nou wel nie self die vliegwerk gedoen nie, maar sy het met al haar
krag aan Tillie vasgeklou en dit het haar moeg gemaak.
“Dis reg so, Ouma, ek sal solank vir ons kos maak,” antwoord
Tillie en kyk hoe ouma Lalie haar op die sagte blarebed gaan opkrul om te
rus.
Later het hulle pas klaar geëet, toe vryf ouma Lalie oor haar

magie. “So ja, nou voel ek sommer al klaar beter. En ek het ‘n plan met daai
ou padda. Jy sal my moet help, want jy weet ek kan nie meer vlieg nie. As jy
by Kammaland se hek uitvlieg na die boer se huis toe, sal jy ‘n houthok voor
die kombuisdeur sien staan. My ou vriend, Boel, die hond, woon daar. Gaan
vra hom om na my toe te kom, want ek het hom nodig.”
“Haai, Ouma, die hond sal my opvreet. Honde hou nie van ons
nie,” antwoord Tillie nou bang.
“Sê net vir hom jou ouma Lalie het hom nodig, en hy sal vir
jou niks maak nie. As dit nie vir my was nie, was ou Boel lankal dood, want
toe hy siek hier iewers onder ‘n bos gelê het, was dit ek wat destyds vir hom
medisynetjies aangemaak het om te drink, en dit het hom gesond gemaak.
Toe, vlieg nou,” sê ouma Lalie.
Nog maar bangerig vlieg Tillie, en toe sy naby die houthok
kom, loer die grootste hondekop by die hok uit wat sy nog gesien het. Sy
gaan sit op ‘n takkie van die boom net bokant die hok.
“Is jou naam Boel?” vra Tillie met ‘n fyn stemmetjie.
“Ja, dis ek. Wat wil jy hê? Weet jy nie hoe gevaarlik dit vir
jou is om hier rond te vlieg nie. Kyk daai groot kat wat daar lê, en kyk na
daai ander hond teen die boomstam.”
“O, toggie, dan moet jy gou luister, want ek is nou baie bang.
Ouma Lalie het my gestuur, sy het jou nodig en vra jy moet daar na ons toe
kom.”

“Ouma Lalie? My oumatjie Lalie?” vra Boel nou opgewonde.
“Ja, sy het mos jou lewe gered.”
“Kom wys my dadelik waar sy is,” antwoord Boel en kruip by
die hok uit. Nou sien Tillie eers hoe groot hy regtig is.
Sy vlieg voor hom uit en hy drafstap saam tot by haar huisie
waar hy saggies aan ouma Lalie snuif wat lê en slaap.
“Haai, ou Boel, dis lekker om jou weer te sien,” sê ouma Lalie
nog half deur die slaap.
“Dis net so lekker om Ouma weer te sien. Wat kan ek vir
Ouma doen?”
Ouma Lalie vertel hom van hulle probleem met die
brulpadda.
“So ‘n liederlike ou padda. Hoe kan hy sommer Ouma se
huisie vat en dan nog die ander inwonertjies van Kammaland wil staan en
rondjaag. Moenie bekommerd wees nie, Ouma, ek gaan hom nou sommer
dadelik wys hy is nie hier baas nie,” antwoord ou Boel vies.
“Jy moet hom darem nie doodmaak nie, Boel. Jaag hom net
terug na sy waterpoel toe en sê hom jy is hier baas en hy moet ons ander
uitlos,” sê ouma Lalie.
“Nou maar goed. Ek sou hom graag ‘n hap wou gee, want ek
is kwaad vir hom, maar omdat Ouma sê hy moenie seerkry nie, sal ek dit
nie doen nie. Ek kom Ouma sommer nou-nou haal terug na Ouma se huisie.

Wag net hier,” sê ou Boel en draf daar weg.
Hy bly nie baie lank weg nie, toe is hy terug, en sy rooi tong
hang laggend by sy bek uit toe hy na Tillie en Lalie kyk.
“Ou brulpadda het so groot geskrik, hy het dadelik weggehop
na sy waterpoel toe en geskreeu hy sal nie met julle lol nie, en Ouma kan jou
huisie weer terug kry,” vertel hy.
“Ag dankie tog, ou Boel. Dis lekker om so ‘n groot, sterk
maatjie te hê,” sê ouma Lalie.
“Dankie, Boel, ons sal jou altyd dankbaar bly,” sê Tillie toe
Boel vir ouma optel en terugdra na haar huisie toe.
So het dit gekom dat Tillie weer elke dag gelukkig en tevrede
haar rondtes in Kammaland gedoen het, en niemand het hulle ooit weer
gepla nie.

JANNIE VERF
Jannie is nog nie in die skool nie. Hy droom egter baie oor hoe dit nou
eintlik in die skool moet wees. Juis vanaand het sy mamma vir hom ‘n storie
gelees oor ‘n klein beertjie wat nie wou skool toe gaan nie, en wat toe met
hom gebeur het.
Hy is vaak, maar reeds dink hy aan wat hy môre alles gaan
doen as die son lekker skyn. Mamma het vir hom waterverf, ‘n kwas en ‘n
stapel papiere gegee waarop hy kan teken. Pappa het vir hom ‘n ding van

hout gemaak wat regop staan waarteen hy sy papier kan vas sit om regop te
kan staan en verf. Die grootmense noem dit ‘n esel, en hy kan nogal
verstaan hoekom.
Jannie staan voor sy esel. In sy een handjie het hy die houer
waarin verskillende kleure verf in gaatjies lê. In sy ander hand het hy sy
splinternuwe kwassie. Hy het die esel na die tuin naby sy mamma se
blomme gedra. Hy wil vandag haar blomtuin verf, of soos Mamma sê,
skilder.
Die goudgeel Afrikanertjies is vir hom tog te mooi. Hy verf
eerste ‘n paar van hulle op sy papier. Oe, en die mooi rooi rose moet nou ‘n
beurt kry. Ja, dit lyk nogal mooi, maar nou moet hy eers gou huis toe
hardloop, want Mamma het geroep hy moet kom ontbyt eet.
Met sy magie lekker vol, stap Jannie terug na sy esel toe. ‘n
Entjie van die esel af steek hy vas. Sy blommetjies is nog altyd op die papier,
maar in die middel van die blommetjies op ‘n stoeltjie sit ‘n dwergie met ‘n
groenpunthoedjie. Hy het ‘n welige bos grys baard, groen broekie en bruin
stewels aan. In sy mond hang ‘n kromsteelpyp wat hy met een hand vashou.
Nou verstaan Jannie nie so lekker wat het hier gebeur nie,
want dis nie hy wat daai dwergie daar geverf het nie. Iemand anders moes
hier gelol het terwyl hy geëet het. Maar nou ja, die ou dwergie hier tussen sy
blommetjies lyk nogal mooi. Hy sal dit maar so los en ‘n ander prent begin
skilder. Hy haal dit af en sit ‘n skoon papier op die esel.

Nou is dit die geel tulpe se beurt, en daarna kom die welige
groen varings en die spierwit varkore aan die beurt. Hy wil net met die
veelkleurige gesiggies begin, maar oe, daai melk wat hy gedrink het, het nou
gemaak dat hy eers moet badkamer toe hardloop.
Verlig stap hy weer uit na hy by die badkamer was. Weereens
steek Jannie so ‘n entjie voor sy esel vas. Dis nie die prent met die tulpe wat
op die esel is nie, dis die eerste prent met die dwergie wat daar staan. Net
hierdie keer lê daar op die grond by die groot oupa dwergie se voete ‘n klein
dwergie met ‘n perspunthoedjie en groen klere aan. Die klein dwergie het
stout, blink ogies en lag met ‘n wye oop mondjie.
Nee, kyk iemand lol met sy goed net sodra hy iewers gaan. Dis
tyd dat hy uitvind wie dit is. Hy erken die persoon verf nogal mooi, en laat
sy blommetjies rondom die dwergies nog mooier lyk, maar hy wil graag net
sy eie prentjie skilder. Hy haal weer die prent af en sit die halfklaar een met
die tulpe op die esel.
Hy verf vinnig die paar gesiggies, en sit die kwassie neer. Hy
gaan iewers in die huis wegkruip en deur die venster loer om te sien wie so
moedswillig is om met sy verfgoed te lol. Hy stap na sy kamer toe, want die
kamervenster is net reg om by uit te kyk na waar sy esel staan. Hy kyk en
kyk en kyk, en raak later moeg van kyk, want niemand lol met sy verfgoed
nie. Sy beentjies raak moeg van staan, en hy trek ‘n stoel nader om op te sit.
“Jannie… Jannie, word wakker, jong. Hoekom sit jy hier op

die stoel en slaap en nie in jou bedjie nie?”
Jannie ruk van die skrik en is sommer dadelik wawyd wakker.
Onthuts kyk hy by die venster uit. Die son skyn helder en die voëltjies fluit
soos hulle elke oggend vroeg fluit, maar nêrens staan sy esel met sy prent
nie. Hy vryf nog vaak deur sy ogies en kyk om na sy mamma toe.
Nou onthou hy. Hy het nog gelê en dink aan wat hy alles
vandag gaan doen, en het toe aan die slaap geraak. Hy het alles oor die
verwery gedroom, dis nooit waar nie. Dis vandag wat hy gaan verf. Hy lag
te lekker uit sy magie uit.
“En nou, Jannie, as jy so lekker lag kort na jy wakker geword
is? En jy het nog nie gesê waarom sit jy in die stoel en slaap nie.”
Hy vertel vir sy mamma van sy droom, en nou lag sy ook
lekker.
“Jy moes natuurlik so in jou droom en slaap hier in die stoel
kom sit het. Siestog, het jy nie koud gekry nie?” vra sy mamma.
“Ek kan nie iets van koud kry in my droom onthou nie,
Mamma, maar ek onthou te goed hoe die twee dwergies gelyk het, en ek
gaan hulle vandag verf,” antwoord hy en lag weer lekker. Hy is nou skoon
haastig om te gaan ontbyt eet, want hy wil gaan skilder.

MIEKIE EN MOLLIE
Miekie en Mollie is twee jong eekhorinkies. Hulle is al mooi groot genoeg

om self vir hulle kos te soek en is dus nie meer by hulle mamma en pappa
nie. Die tweetjies is baie ondeund, en los niemand uit nie. Elke dag stap
hulle in verskillende rigtings op soek na iets om te doen. So op die soektog
kry hulle sommer lekker kos om te eet ook.
Hulle is vandag in ‘n digte woud, en spring sommer van die
een boom se takke na die ander toe. Hulle het reeds hulle magies vol geëet
aan die pitte van dennebolle.
“Haai, Mollie, ons is nou by die end van die woud. Kyk, daar
is ‘n plaashuis. Kom ons klim af en kruip nader om te sien wat gaan daar
aan,” sê Miekie.
Kruip-kruip beweeg die tweetjies tot naby die groot huis.
Onder ‘n groot boom sien hulle die vier klein hondjies lê en slaap. Hulle kyk
na mekaar toe.
“Dink jy ook wat ek dink?” vra Mollie vir Miekie.
“Ja, kyk hulle mooi lang stertjies… net lekker om aan te trek
en dan weg te kruip,” lag Miekie, en hulle loop saggies tot by die slapende
hondjies. Hulle kyk darem versigtig rond om te sien of die groot ma-hond
nie naby is nie. Miekie spring eerste nader, pluk aan die bruin hondjie se
stert en Mollie pluk aan die swartetjie se stert. Soos blits spring hulle teen
die boomstam op en skuil tussen die takke.
Albei is dik van die lag toe hulle die hondjies se benoude
tjankies hoor en sien hoe hulle orent kom en om hulle rondkyk. Hulle weet

hulle het die hondjies nie seergemaak nie, hulle terg hulle net. Maar o wee,
daar kom die yslike ma-hond aangestap en Miekie en Mollie kruip tussen
nog digter takke in. Hulle sit doodstil en wag tot die kleintjies almal weer
styf teen die ma-hond lê en slaap voor hulle versigtig uit die boom klim en
terughardloop bos toe.
Eers toe hulle veilig in die bos is, lag hulle uit hulle magies uit
oor wat hulle gedoen het. Hulle rus ‘n bietjie en spring toe weer deur die
bome na die anderkant van die bos toe. Net voor hulle daar kom, sien hulle
twee varkies wat tussen die boomblare met hulle snoetjies rondvroetel na
iets om te eet. Net agter die varkies is ‘n waterstroompie met skoon, helder
water.
“Kom, ek het ‘n plan,” fluister Mollie vir Miekie, en hardloop
teen die boomstam af na die water toe so dat die varkies hulle nie kan sien
nie.
“Ons maak ons monde vol water, klouter in die boom tot net
bo die varkies, en laat drup dan die water op hulle koppe. Dink net hoe
snaaks gaan dit wees, want dit reën mos nie,” giggel Mollie.
Toe die eerste druppeltjies op die varkies val, kyk hulle
verbaas rond en ook op in die lug wat tussen die boomblare deur skyn.
Terwyl hulle opkyk, sit Miekie en Mollie baie stil, maar net soos hulle weer
begin rondvroetel, drup hulle weer water op die varkies se koppe. Die
varkies brom-brom oor die snaakse ding wat met hulle gebeur, en skielik

kan Miekie sy lag nie keer nie. Die laaste water spuit in ‘n boog by sy
mondjie uit toe hy aan die lag gaan, en beland alles op die een varkie se
snoet toe hy in die lug opkyk.
“Haai, julle twee stouterds. Julle het ons lekker gevang. Gee
nou pad en loop doen kwaad op ‘n ander plek, ons is honger en soek kos,” sê
die een varkie, en al laggend spring die eekhorinkies verder in die
boomtakke.
Dit word laat en Miekie en Mollie soek ‘n lekker digte boom
om in te slaap. Die volgende oggend vroeg is hulle wakker en honger. Hulle
het die vorige dag in die bos ‘n plek gesien waar plantjies groei wat lekker
knolletjies aan het. By die plek klim hulle af grond toe, en grawe van die
knolletjies uit om te eet. Dis lekker sappig en hulle eet hulle magies vol.
Skielik hoor hulle mense praat, en hulle klouter vinnig terug
in die boom. Daar wag hulle stil tot hulle die mense kan sien. Dis twee
grootmense en twee kindertjies wat na die waterstroompie toe stap.
“Hulle gaan piekniek hou. Kyk, daar gooi hulle nou ‘n
kombers oop op die grond om op te sit. Ooo, kyk net al die lekker kos wat
pak die vrou uit. Al is my magie vol, water my mond darem nou wanneer ek
na daardie lekker kos kyk,” fluister Mollie.
“Kyk, hulle gaan nie dadelik eet nie. Hulle gaan kyk hoe die
kinders met die rietjies in die water speel. Nou is ons kans,” sê Miekie, en
vinnig spring hulle grond toe. Versigtig loer hulle totdat niemand in hulle

rigting kyk nie, en gaan gryp vir hulle elkeen ‘n stukkie kaas. Terug in die
boom sit en knibbel hulle te lekker aan die kaas, en kyk hoe die mense nou
almal op die kombers gaan sit.
“Mamma het dan net twee stukkies kaas ingepak. Wie van
ons vier gaan vandag dan nie kaas kry nie?” vra die dogtertjie.
“Maar ek is baie seker ek het vier stukkies ingepak. Is julle
seker julle het nie al daarvan geëet nie?” vra die vrou, maar albei kinders
en die man skud kop.
“Ag toemaar, julle kinders kan dit maar eet. Daar is genoeg
ander kos vir ons,” antwoord die man. “Hier, vat vir julle elkeen ‘n piesang
en gaan speel maar weer. Kom daarna terug vir ‘n broodjie.”
Miekie en Mollie spring van boom tot boom tot hulle reg bo
die kinders sit. Dis ‘n entjie van die grootmense af, en die kinders eet die
helfte van hulle piesangs, sit die res dan eers op die gras langs hulle neer en
speel weer met die rietjies. Mollie en Miekie is vinnig af teen die boomstam,
gryp die halwe piesangs en verdwyn dan weer in die boom. Heerlik smul
hulle aan die piesangs, maar dis te veel om op te eet, en hulle gaan saggies
terug en sit die laaste stukkies piesang weer op die gras neer.
“Het jy van my piesang geëet?” vra die dogtertjie vir die
seuntjie toe sy sien haar stukkie is baie kleiner as wat sy onthou.
“Nee, en jy? Het jy van myne geëet?” vra die seuntjie toe hy
syne ook bekyk.

“Nee, maar iemand het van ons piesang geëet,” antwoord sy
en albei staan op en kyk om hulle rond, maar sien niks.
Hulle gaan vertel hulle ouers, maar dié glimlag net, want hulle
dink die outjies het maar net so lekker gespeel dat hulle nie eens weet
hoeveel van hulle piesang het hulle geëet nie. In die boom proes Miekie van
die lag, en dan kan Mollie ook nie meer haar lag inhou nie.
Voor die mense hulle kan sien, verdwyn hulle weer verder die
bosse in. Hulle het genoeg pret vir die dag gehad, en is nou nogal moeg.
Weer soek hulle ‘n lekker slaapplekkie. Hulle dink nou al wat se kattekwaad
hulle môre al weer gaan aanvang.
“Mollie, ons is mos nie regtig stout nie, nè?” vra Miekie half
deur die slaap.
“Nee, Miekie, ons soek maar net bietjie pret, en maak mos
niemand seer nie,” antwoord Mollie voor sy aan die slaap raak.

MINNIE MEERKAT
“Pappa en Mamma, ek kan nie meer loop nie, my voetjies is al baie seer,”
huil Minnie meerkat na hulle al baie ver vir die dag gestap het.
“Siestog, my ou kindjie, ek weet jy is moeg en seer, en seker al
honger ook. Kom ons rus eers ‘n bietjie,” sê mamma meerkat, en Minnie
gaan sit sommer dadelik teen ‘n boomstam.
“Rus julle solank. Ek gaan soek gou vir ons iets om te eet,” sê

pappa meerkat en stap weg.
“Mamma, hoekom het daai mense die bos afgebrand waar ons
huisie in die boomstam was?” vra Minnie. Sy verlang na hulle lekker warm
huisie.
“Hulle is sommer kwaaddoeners, Minnie. Hulle sal nog
gevang word, en dan gaan die polisie hulle swaar straf. Hulle sal moet tronk
toe gaan.”
“Waar gaan ons weer so ‘n lekker huisie kry? Ons het darem
vandag al baie ver geloop en soek en niks gekry nie.”
“Ons sal wel iewers ‘n plekkie kry, Minnie. O, hier kom
Pappa, en kyk net die lekker kossies,” sê mamma meerkat. “Jy kan maar
solank aan Mamma kom drink terwyl ek en Pappa eet.” Minnie skuif
dadelik nader en begin gulsig aan ‘n tietie drink.
‘n Rukkie lank is dit doodstil soos al drie eet. Daarna praat
pappa meerkat: “Dalk moet ons maar vannag hier teen die ou dik
boomstam slaap en môre verder soek.”
“Ja, kom ons maak so,” sê sy vroutjie.
Hulle kruip styf teen mekaar aan, en sommer gou slaap al
drie. Diep in die nag word Minnie ‘n slag wakker en voel sy kry koud. Sy
vroetel tot sy tussen haar mamma en pappa is, en slaap toe verder.
Die volgende oggend eet hulle nog van die kos wat hulle die
vorige aand geëet het, en Minnie drink weer voor hulle verder begin stap.

“Daar is ‘n groot bos. Dalk kry ons daar ‘n hol boomstam,” sê
mamma meerkat meteens.
“Dan moet ons nou vinnig loop,” sê Minnie opgewonde, want
sy kan al klaar weer voel haar voetjies begin seer word.
‘n Entjie in die bos in kry hulle ‘n boom wat omgeval het, en
daar waar die stam uit die grond uitgetrek het, sien hulle die holte in die
boomstam. Pappa meerkat stap dadelik nader om te gaan inloer. Die
volgende oomblik hoor hulle ‘n brul, en toe vlieg ‘n tier daar uit.
“Dis my huis, gee pad hier!” knor hy vir hulle, en
teleurgesteld moet hulle maar verder loop.
Dit is al tyd vir middagete toe hulle by ‘n waterstroom kom en
almal hulle magies vol drink.
“Miaaau… miaau…” hoor hulle meteens ‘n katjie se roep.
Hulle kyk rond, maar sien niks, en hoor weer die miaau van die katjie.
“Die katjie klink bang,” sê mamma meerkat en stap in die
rigting vanwaar hulle die stemmetjie gehoor het. “Haai, julle, kom kyk
hier,” roep sy na ‘n rukkie.
‘n Ou pophuis wat op sy sy lê en plek-plek stukkend is, lê
onder ‘n digte bos, en in die plek van die afgebreekte deurtjie, sit ‘n klein
grys katjie. Toe hy hulle sien, miaau hy weer en hulle stap nader.
“Klein katjie, hoekom skree jy so?” vra mamma meerkat en
Minnie verkyk haar aan die katjie se mooi ogies.

“’n Wilde dier het my mamma en pappa en boeties en sussies
almal gevang en opgevreet. Ek was nie in die huisie nie, want ek het agter
die huisie in die sand gespeel, en toe het hy my nie gekry nie. Toe ek hulle
hoor raas en skreeu, het ek onder die blare weggekruip. Nou is ek heeltemal
alleen en sommer baie honger. Ek kan nog nie kos vang en eet nie, want ek
het nog melkies aan my mamma gedrink,” huilsê die katjie nou droewig.
Mamma en pappa meerkat kyk na mekaar en al twee knik.
Dan stap mamma meerkat na die katjie toe.
“Het julle in die ou pophuis gewoon?” vra sy.
“Ja, dis ‘n baie lekker huisie, maar ek is bang so alleen in hom
en baie, baie honger,” kla die katjie weer.
“Hoe sal jy daarvan hou as ons drie saam met jou in jou
huisie kom woon, en jy kan lekker van my melkies drink, want ek het te veel
vir ons klein Minnie.”
“Regtig? Kan ek regtig van jou melkies kry? En sal julle
regtig by my kom woon sodat ek nie meer alleen sal wees nie?” vra die
katjie nou opgewonde en sy ogies blink.
“Ja, ons sal, en ja, jy kan melkies kry,” antwoord pappa
meerkat nou, en Minnie stap ook nader.
“Wat is jou naam, katjie?” vra Minnie.
“Ek is Elsie, en jy?”
“Minnie. Nou kan ons maatjies wees… sussies, nè?” sê Minnie

ook opgewonde.
So het dit gekom dat Elsie deel van die meerkatgesinnetjie
geword het, en die meerkatjies weer ‘n lekker huisie gekry het om in te
woon. Minnie en Elsie het heerlik gespeel en toe Elsie ‘n groot kat geword
het, het sy vir haar ‘n mannetjie gaan soek. Baie later eendag het sy haar
kindertjies vir die meerkatjies kom wys en vir hulle die storie vertel van hoe
sy met die meerkatjies maats geword het.

OUMA WITSTERT
Ouma Witstert, is die ouma van drie klein baie ondeunde apies. Dit is nou
skoolvakansie en die apies se ma het besluit die drietjies moet vir hulle
ouma gaan kuier sodat sy en haar man kan gaan winterskos bymekaar
maak. Met die drie kleintjies by hulle, is dit te moeilik.
Oortjies, Ogies en Neusie is baie opgewonde oor hierdie kuier. Hulle
hou baie van ouma Witstert. Sy vertel altyd vir hulle baie stories saans
wanneer hulle gaan slaap, en sy gee vir hulle baie lekker kos.
Oortjies het sy naam gekry omdat sy oortjies soos skulpies na binne
vou en dus nie soos die ander apies s’n lyk nie. Ogies het weer sy naam
gekry omdat sy ogies nie groot en rond lyk soos sy maats s’n nie, maar hulle
is altyd op sulke skrefies getrek. Dan is daar Neusie wat sy naam gekry het
omdat hy ‘n spierwit kolletjie op die punt van sy neus het.
Ouma Witstert se naam het sy gekry omdat sy weer ‘n lang wit streep

op haar stert het. Nou vertel Neusie dat net hy Ouma se kleinkind is, want
hulle het albei wit aan hulle lyfie. Dan moet jy hoor hoe gaan Ogies en
Oortjies tekere, want hulle is net so lief vir hulle ouma.
Die eerste dag wat hulle wakker word by ouma Witstert, sien die
drietjies dit gaan ‘n lekker sonskyndag wees. Omdat dit winter is, is hulle
baie lief om in die son te gaan sit en speel. Maar net so is ouma Witstert ook
lief om iewers in ‘n sonhoekie te gaan sit en sommer net niks doen nie.
In Ouma se kombuis in die grot kry hulle lekker vrugte om te eet vir
ontbyt, en toe hulle magies vol is, gaan hulle uit in die son.
“Kyk, daar sit Ouma ook in die son. Kyk hoe hang haar bril op die
punt van haar neus. Ek is seker sy sit en slaap al weer, want sy kyk glad nie
in die boek voor haar nie,” sê Oortjies en die ander twee giggel.
“Kom ons terg Ouma so ‘n bietjie,” sê Ogies ondeund.
Die drie kyk na mekaar en die pret dans in hulle ogies. Hulle sal hul
ouma nooit seermaak nie, maar ai, dis so lekker om met haar te speel.
“Neusie, gaan sit jy so ‘n entjie agter haar hoog in daai boom en maak
of jy huil. Ouma sal dit dadelik hoor, want Ouma hoor nogal goed al is sy al
oud. Wanneer Ouma dan opvlieg om te gaan kyk, sal haar boek val en ons
twee gaan dit gaps en wegkruip. Moenie dat Ouma jou raak sien nie, hoor
Neusie,” sê Ogies.
Hulle lag sag terwyl Neusie wegskarrel en in die boom gaan klim. Toe
hy dan ook oomblikke later vreeslik hartseer begin huil, vlieg ouma Witstert

orent, en net soos Ogies gesê het, val haar boek op die grond. Sy hardloop al
in die rondte op soek na die gehuil, en toe sy agter ‘n rots verdwyn, gryp
Oortjies die boek en hy en Ogies gaan skuil in ‘n digte bos.
Natuurlik huil Neusie nie nou meer nie, en hy sit en loer tussen die
digte blare van die boom deur na ouma Witstert wat nou glad nie kan
verstaan hoekom sy niemand sien nie. Na ‘n rukkie stap sy terug na haar
sonkolletjie toe.
“Nou waar is my boek dan nou?” mompel Ouma, en Neusie wat
intussen uit die boom geklim het stap nou nader aan Ouma.
“Môre, Ouma. Wat praat Ouma so met Ouma self?” vra hy
doodernstig.
“Môre, Neusie. Ek het hier gesit en lees toe ek ‘n klein apie hoor skree.
Toe het ek opgespring om te gaan kyk wat is fout, maar het niks gesien nie.
Nou toe ek hier terug kom, is my boek weg.”
“Is Ouma seker Ouma het gesit en lees? Het Ouma nie dalk gesit en
slaap en is nou net deurmekaar nie?” vra Neusie weer, en beduie met sy
handjies agter sy rug die ander twee moet ophou om te lag, want netnou
hoor Ouma hulle.
Hulle het egter vergeet hoe fyn Ouma hoor. Sy draai in die rigting van
die digte bos net toe daar weer ‘n giggel oor Ogies se lippe bars. Sy stap
nader, vlek die bos oop met haar hande en kyk in die blink ondeunde ogies
van haar ander twee kleinkinders vas. In Oortjies se hande hou hy haar

boek.
“Natuurlik is dit weer julle wat julle ouma se siel so staan en
versondig. Kom uit daar en bring my boek. En jy, klein Neusie, was
natuurlik die een wat hier iewers agter my kamma gehuil het. Gun julle
Ouma nou nie eers ‘n ou slapie in die son nie?” raas sy kamma met hulle,
maar hulle weet Ouma kan ‘n ou grappie vat en is nie regtig vir hulle kwaad
nie.
“Ag, ons speel net bietjie met Ouma,” antwoord Neusie en gaan vly
hom teen haar lyf.
Ouma Witstert lag saggies, en hou haar arms oop vir die ander
tweetjies ook wat nou vinnig nader kom.
“Ouma is lief vir julle, maar omdat julle my nou van my slapie beroof
het, moet julle elkeen vir ons twee lekker sappige wortels gaan soek vir
middagete.”
“Nou waar moet ons dit kry, Ouma?” vra Oortjies.
“By die boer hier onder se vuilgoedgat. Ek het al baie lekker kos daar
gekry, want sien, ou Betta wat vir hulle kos kook, skil nooit ‘n wortel wat ‘n
bytplek of swartplek aan het nie, sy gooi dit weg. Daai wortels makeer niks,
en ek eet te lekker daaraan. Toe, weg is julle dat ek nog ‘n ou rukkie hier in
die son kan slaap.”
Die drietjies is laggend daar weg, en het teen middagete met heerlike,
vars wortels wat net hier en daar ‘n ou kolletjie aan het terug gekom.

So het die dae die een na die ander by hulle ouma verby gegaan, en
elke dag het hulle eers bietjie met Ouma gespeel en dan verder self met
mekaar in die bome rond gespeel. Hulle was eintlik spyt toe die vakansie
verby is, maar hulle het darem na hulle ouers ook verlang, en was bly om
hulle te sien toe hulle hulle kom haal het.

TOMMIE DIE SPOKIE
In diereland is die koning van die diere baie streng wanneer van die diere se
kinders kwaad doen. Hy gee nie om vir die ondeundheid van die kleingoed
nie, maar wanneer hulle iets lelik aanvang, straf hy hulle. Hy wil hê die
kinders moet voorbeeldig groot word.
Net laas week het die meerkat se seuntjie, Tienie, ‘n baie ou
meerkat se kos gaan steel. Nie omdat hy dit self wil eet nie, maar omdat dit
vir hom lekker was om te hoor hoe die ou meerkat kerm oor sy kos wat weg
is. Die meerkatjie het geweet die ou meerkat is amper heel blind en sukkel
om kos in die hande te kry, so hy het ‘n baie lelike ding gedoen om die oue
se kos te steel.
Nou staan koning leeu voor Tienie en sy ouers. Die ouers het
van alles gehoor, en hulle stem heeltemal saam dat Tienie nou sal gestraf
moet word. Hulle praat niks terwyl leeu met Tienie praat nie.
“Tienie, jy weet dit wat jy gedoen het was baie lelik, nè?” vra
leeu.

Tienie boor koppig met sy toon in die sand. Hy het net ‘n ou
grappie gemaak en nou wil leeu hom daaroor straf.
“Dit was net ‘n grappie,” brom hy dan ook.
“O nee, Tienie, ‘n mens maak nie sulke grappe nie. Dit was
onvergeeflik van jou om die ou meerkat se kos te steel en dan boonop weg te
gooi. Kom saam met my. Vannag slaap jy in die bos,” beveel leeu.
“O nee… nie die bos nie,” skud Tienie sy kop. Hy het al
gehoor van die kinders wat so gestraf was wat in die bos moes slaap. Almal
sê daar loop ‘n spook rond wat jou rondjaag. Hy is baie bang vir spoke.
“Jy het nie ‘n keuse nie, Tienie. Kom saam. Jy mag eers môre
weer terugkom na jou ma-hulle toe. Vannag is jy op jou eie,” sê die leeu
streng en stoot Tienie voor hom uit. Sy ouers is hartseer en kyk hoe hy saam
met die leeu wegstap, maar hulle weet Tienie moet leer wat reg is.
Dit is amper donker toe Tienie saam met die leeu by die bos
kom. Hy loer in alle rigtings, en die bos lyk skielik vir hom baie vyandig. Hy
begin liggies bewe en vra: “As ek belowe om nooit weer so iets te doen nie,
kan ek nie dan maar asseblief huis toe gaan nie?”
“Nee, Tienie, jy moet op dieselfde manier as die ander leer dat
jy moet boet vir wat jy verkeerd gedoen het. Ek los jou nou hier in die
middel van die bos. En onthou, ek sal weet as jy die bos verlaat en huis toe
gaan. Hier is drie uile wat jou sal dophou wat vir my sal kom sê. Ek hoop na
vannag sal jy besef jy kan nie net doen wat jy wil en daarmee wegkom nie.”

Tienie kan amper nie meer rondom hom sien nie, so donker is
dit. Toe hy nie meer die leeu se voetstappe hoor nie, gaan skuifel hy styf teen
‘n boomstam aan. Sy oortjies is gespits en hy probeer hard om om hom in
die donker te kan sien, maar alles is pikswart in die digte bos.
“Hoooooo…” hoor Tienie ‘n geluid wat soos sterk wind klink,
maar daar waai nie ‘n wind nie, so hy weet dis iets anders. Hy druk hom
nog stywer teen die stam aan, en bewe nog meer.
“Hooooo…” hoor hy weer, en dan sien hy die yslike wit ding
hier naby hom in die lug sweef. Die wit gedaante verander kort-kort in ‘n
ander patroon en tussendeur “hoooo” hy aaneen. Hy kom hang net bokant
Tienie se kop in die boom en Tienie se ogies kyk wydgerek na die bewegende
gedaante.
“Ek… ek sal nooit weer nie, ek belowe… moet my nie
seermaak nie,” kerm Tienie.
Iets gryp aan Tienie se skouer en hy vlieg orent, maar sien
niks. Dan pluk iets hom weer aan sy hare en hy klap vinnig na sy kop toe,
maar daar is ook niks. Die wit gedaante is ook skielik nie meer te sien nie. ‘n
Takkie klap teen sy boude, en Tienie spring rond in die donker, maar
gewaar niks. Hy is nou baie bang. Hulle het vir hom gesê dit spook in die
bos, maar hy wou mos nie luister nie. Nou ondervind hy dit self, en alles net
omdat hy iets so lelik gedoen het.
Water spat in Tienie se gesig, en hy is nou seker hy het weer

die “hoooo” gehoor. Dit moet die spook wees wat hom so met hom lol, hy is
seker daarvan. Maar waar is hy dan nou? Hy sien niks wit gedaante nie. Iets
raps hom weer teen sy rug en Tienie gaan nou bitter bang aan die huil toe
hy maar weer teen die boomstam gaan sit. Hy was dom en stout, en hy weet
hy sal nooit weer so iets doen nie, maar dit lyk nie of die spook hom wil glo
nie. Sal hy maar weer probeer, wonder hy nou bibberend.
“Asseblief, ek weet nie wie jy is nie, maar ek is baie bang. Ek
wil so graag huis toe gaan na my mamma-hulle toe, en ek sal regtig, régtig
nooit weer so iets lelik doen nie. Ek het nou my les geleer,” roep hy hard,
maar alles om hom bly nou doodstil. Niks raak of klap meer aan hom nie,
maar niemand antwoord ook nie.
Saggies huil Tienie nog, maar toe alles om hom doodstil bly,
begin hy ophou huil. Hy sal maar net stil sit en wag dat dit lig word. Hy is
bang as hy beweeg en huis toe hardloop, gaan die uile sien en dan straf die
leeu hom weer. Dit word ‘n lang nag waarin Tienie niks slaap nie, want hy is
te bang om sy ogies toe te maak.
En in so drie bome weg van Tienie af, sit en glimlag die
grootste van die uile sag. Hy word Tommie genoem, en Tommie maak met
die hulp van twee ander uile in die bos vir koning leeu dat hy ‘n spokie is
wanneer daar kinders is wat gestraf moet word. Die ander uile gooi ‘n wit
doek oor hom en dan fladder hy in die lug rond by die kind. Nooit sal hy die
kinders seermaak nie, net toelaat dat die ander uile soms so liggies aan hom

tik.
Dit weet Tienie en die ander kinders mos nie, en na so ‘n nag
in die bos is hulle gewoonlik stroopsoet. Na daardie bos toe wil nie een van
hulle weer teruggaan nie.