اصلی Omnibus 21

Omnibus 21

,
0 / 0
دا کتاب تاسو ته څنګه خواښه شوه؟
د بار شوي فایل کیفیت څه دئ؟
تر څو چې د کتاب کیفیت آزمایښو وکړئ، بار ئې کړئ
د بار شوو فایلونو کیفیتی څه دئ؟

In die lekkerleesverhaal Señor die seerower wen verpleegster Andrea Smit ’n allemintige bedrag in ’n blokraaiselwedstryd – haar lewe verander ingrypend, en op ’n tropiese eiland kruis haar pad met dié van ’n aantreklike Spanjaard.In die speelse verhaal Junior in saal 7 gee ’n wit leuentjie daartoe aanleiding dat almal dink leerlingverpleegster Louwrinda Kemp het ’n verhouding met haar uiters aantreklike nuwe professor in Verloskunde. Maar kort voor lank besef sy dat daar tóg waarheid in hierdie gerug mag steek.In Kaalvoet Katryntjie verloor die hoofkarakter haar hart aan haar voog, Festus Dumas, wat vas oortuig is dat sy nog ’n giggelende tiener van om en by sestien is. En dan moet sy, gekwalifiseerde verpleegster van twintig, toekyk hoe die listige Shirley Rossouw vir Festus probeer verlei.

کال:
2011
ژبه:
afrikaans
ISBN 13:
9780624059233
ISBN:
B00BW7688S
فایل:
کاپی کول (pdf, 150 MB)

ممکن تاسی علاقمند شی Powered by Rec2Me

 

مهمي جملي

 
nie5255
haar3086
het3002
dit1779
wat1727
maar1664
van1569
sal1247
dat1229
jou1099
toe1076
hom1069
gaan1061
vir1052
kan996
dis866
aan780
net733
nou729
moet688
daar674
kom671
dan608
kyk606
nog583
ook572
ons565
weet564
weer543
wil525
hier439
soos434
wees428
laat416
uit399
hoe389
sien375
baie361
oor359
voel349
een333
dink311
maak302
kry299
bly264
lyk264
waar263
0 comments
 

To post a review, please sign in or sign up
تاسی کولی شی د کتاب په اړوند نظر څرګند کړی او خپله تجربه زمونږ سره شریکه کړی، نورو لوستونکو ته به زړه راښکونکی (دلچسپه) وی چې د لوستل شوو کتابونو په اړوند ستاسی په نظر پوه شی. بدون له دی چې کتاب مو خوښ شو اویا خوش نه شو، که تاسی صادقانه په دی اړوند مفصله قصه وکړی، خلک کولی شی د ځان لپاره نوی کتابونه بیدا کړی، چې هغوی ته زړه راښکونکی (دلچسپه) دی.
1

Omnibus 25

年:
2011
语言:
afrikaans
文件:
PDF, 1.37 MB
0 / 0
2

Ware Noord

年:
2014
语言:
afrikaans
文件:
PDF, 970 KB
0 / 0
Omnibus 21
Ena Murrya

Ena Murray se 21ste omnibus, waarin drie van haar gewildste stories
byeengebring is, bied ’n leesavontuur propvol liefdesintriges en heerlike
hospitaalhumor.
Señor die seerower
Toe verpleegsuster Andrea Smit ’n allemintige bedrag in ’n
blokraaiselwedstryd wen, het sy nooit kon droom hoe ingrypend dit haar lewe
sou verander nie. Sy was aanvanklik vas van plan om met haar beroep voort
te gaan, maar toe haar kollegas bly lol om geld te wil leen, raak die hospitaal
vir haar te klein.
Toe haar swerwerpa kort daarna op haar drumpel verskyn en haar nooi om
hom op een van sy avontuurtogte te vergesel, willig sy in – min wetende dat
haar pad op ’n tropiese eiland met dié van ’n aantreklike Spanjaard sal kruis;
dat sy ’n skynverhouding met hom sal aanknoop en sodoende in allerhande
onmoontlike situasies sal beland . . .
Die vreemde weë waarop geld, die sug na roem en veral die liefde ’n mens
se lewe kan lei, is die tema van hierdie lekkerleesverhaal.
Junior in saal 7
Leerlingverpleegster Louwrinda Kemp is siek en sat van haar manmal
kollegas se aanhoudende geterg omdat sy nie ’n vaste kêrel het nie. Sy besluit
om hul monde eens en vir altyd te snoer – met ’n foto van Oumatjie se
kleinseun wat sy aan hulle voorhou as haar sleep wat in die buiteland studeer.
Toe die mooie man op die foto egter kort daarna in lewende lywe voor haar
staan as die nuwe professor in verloskunde, weet sy nie hoe om haar uit dié
benarde situasie te wikkel nie.
Binne ’n dag versprei die nuus soos ’n veldbrand deur die groot
stadshospitaal dat die junior in saal 7 ’n verhouding het met die uiters
aantreklike professor Len Landman. Hoe Louwrinda ook al die vlamme
probeer doodslaan, dit help alles niks. En kort voor lank besef sy dat daar ’n
ander soort vuur haar binneste begin brand het . . .
Junior in saal 7 is ’n speelse hospitaalroman vol heerlike komiese
momente.

Kaalvoet Katryntjie
Katryn Klem sou ná haar pa se dood veel eerder saam met die klein haasbek
Poens op Skaars-van-als verhongerde katte en honde wou vet v; oer, afpootduiwe vertroetel en meerkatte uit slagysters red, maar haar hovaardige voog,
Festus Dumas, het ander planne. Met die intrapslag dring hy daarop aan dat
sy by hom in sy deftige stadshuis moet kom bly – want, meen hy, dié
kaalvoet mensie wat nie ’n dag ouer as sestien lyk nie, het vaderlike toesig
nodig.
Sommer vir die grap laat Katryn toe dat Festus dink sy is ’n blote kind.
Maar dié grap boemerang sodat sy later glad nie meer kan erken dat sy nie ’n
giggelende tiener is nie, maar ’n gekwalifiseerde verpleegster van twintig. Sy
moet die rol van kaalvoet Katryn bly speel, en met ’n hart wat pyn van haar
onverklaarde liefde, moet sy toekyk hoe die listige Shirley Rossouw haar
voog probeer verlei . . .
Kaalvoet Katryntjie is ’n verhaal wat mens plek-plek laat skater, maar wat
die leser ook diep sal laat nadink oor die dinge wat werklik waarde het in die
lewe.

Ena Murray is op die klein Karoodorpie Loxton
gebore, die middelste van drie dogters. Haar pa was die
plaaslike geneesheer, en dis hier waar haar groot
belangstelling in die geneeskunde ontstaan het.
Verskeie van haar verhale het dan ook ’n hospitaal as
milieu. Deesdae woon sy op Mosselbaai saam met haar
man, Jacques.

Inhoud
Señor die seerower
Junior in saal 7
Kaalvoet Katryntjie

Señor die seerower

1
__
“Dis nie waar nie! Dis nie wáár nie!”
Sy praat hardop met haarself, staar na die telegram in haar hand. “Dis nie
waar nie!” sê sy weer. Tog . . . sy lees: “Geluk. U is die enigste wenner van
ons groot blokraaisel. U kan u tjek en driehonderd en vyftig duisend rand by
ons kantoor in die stad kom afhaal.”
Dis nie waar nie! Maar haar ore, oë én tong kan nie al drie verkeerd wees
nie. Sy het die blokraaiselwedstryd in die Sondagkoerant gewen! Sy het . . .
driehonderd en vyftig duisend rand gewen!
Haar knieë gee onder haar mee. ’n Oomblik lank voel dit vir haar haar hart
het ook meegegee. Dis . . . ’n fortuin! En dis hare! Alles, álles hare! Sy moet
dit net gaan haal! ’n Hele, ronde driehonderd en vyftig duisend rand . . . en
dis waar!
Die volgende middag, terug in haar woonstel in die verpleegsterstehuis van
die hospitaal, is dit weer eens asof haar verstand dit nie wil aanvaar nie. Tog,
hier lê dit voor haar: die tjek. Dis ’n astronomiese bedrag vir ’n doodgewone
hospitaalsuster met geen ryk ouers of familie of selfs ’n hoop op ’n groot
erfporsie nie. En sy weet nie wat om daarmee te maak nie! Dit is wat gebeur
wanneer die werklikheid die droom vervang. Natuurlik het sy al soos elke
normale mens soms gewens dat sy baie geld moet hê, en dan sou sy dít en dít
en wat nog alles daarmee doen. En noudat sy so onverwags daardie duisende
gekry het, voel sy hulpeloos en magteloos en denkeloos. Sy het nie ’n benul
wat om met so ’n spul geld te maak nie!
Sy kan gaan klere koop, dink sy half verdwaas. Al die skeppings en
uitrustings wat sy nog altyd net in tydskrifte kon bewonder. Maar al kom die
rokke in haar kas wel uit afdelingswinkels, makeer hulle nog niks nie. Vir ’n
meisie wat van kleins af weet wat meet en pas is, is dit ondenkbaar dat sy ’n
nog heel bruikbare rok sal weggooi net om ’n peperduur een in sy plek te
hang. En wanneer en waarheen wil sy nou so danig die nuwe, peperduur klere
dra? Die grootste deel van die dag is sy in ’n uniform. Die bietjie wat sy
uitgaan, gaan sekerlik nie daardie koste werd wees nie.
Wat nou gemaak? Die geld belê? Waar? Sy het ’n paar rand in ’n

spaarrekening. Sy probeer elke maand ’n paar rand wegsit . . . totdat liewe Pa
weer op ’n dag uit die bloute verskyn en met alles wegloop. Haar mond trek
wrang. As haar pa hiérvan uitvind . . . Sy lag humorloos. Hy sal hom verbeel
hy sal die aarde se skatte daarmee kan opdiep!
Sy sug saggies. Haar arme pa. Die pa wat ná soveel jare van rondswerf oor
die aardbol steeds glo dat hy eendag, ééndag, die roem en rykdom gaan vind
waarna hy sy lewe lank nog soek. Liewe, goeie, goedige Pa met sy
seunsglimlag en verleë oë kry dit klokslag reg om haar swaarverdiende
spaargeldjies uit haar te trek vir nog ’n projek wat sy vooraf weet ewe
nutteloos en resultaatloos as al die voriges gaan wees.
Sy hoor hom al: “Hierdie bewyse is onomstootlik. Help my nog net hierdie
één keer. As ek dit kry, sal ek jou dubbel en dwars vergoed. Ons gaan skatryk
wees!”
En dan sal sy met ’n sinkende gevoel in haar hart sê: “Pa het dit laas ook
gesê. Én die keer voor dit. Onthou Pa? Pa was laas honderd persent seker Pa
gaan die ou Egiptiese graf met al die skatte ontdek wat ons skatryk sou
maak!”
“Ek weet, Andreatjie, maar . . .”
“Maar dit het nog nie één keer geslaag nie, Pa. Elke keer loop Pa se
soektog na roem en rykdom êrens op die aardbol op ’n ronde nul uit.”
“Ek weet, Dreatjie, maar hiérdie keer . . .”
“Nee, Pa. Ook hiérdie keer gaan dit misluk. Hoekom gaan werk Pa nie
liewer nie? Vergeet van roem en rykdom. Soek vaste werk en voer ’n eerbare
bestaan, eerder as om . . . as om agter wind aan te hardloop. Asseblief, Pa!”
Sy besef sy loop die toekoms vooruit, maar sy het al so baie soortgelyke
gesprekke met haar pa gehad dat sy haarself nie kan keer om die prentjie in
haar gedagte te voltooi nie: Sy sal redelikheid en regverdigheid aan haar kant
hê, maar haar pa sal haar weer, sonder om ’n woord te sê, laat voel sy laat
hom in die steek. Soos altyd sal hy opstaan, sy hande op sy kenmerkend
hulpelose, half verlore manier swaai, en net sê: “Dis dan maar goed,
Andreatjie. Pa sal nie weer lastig wees nie.”
Dan weet sy sy het klaar verloor. “Waarheen gaan Pa nou? Wat gaan Pa
nou doen?”
“Nee, ek sal maar sien, my kind. Moenie jou oor Pa bekommer nie. Pa sal
regkom.”
En sonder verdere betoog, sal sy die handdoek ingooi. “Hoeveel het Pa
nodig?”

“Nee, my kind, Pa wil nie jou geld hê nie. Pa sal regkom.”
Die geskiedenis sal hom herhaal soos talle kere tevore. Agterna sal sy aan
haarself moet erken dat sy teen die end haar Pa behoorlik gesoebat het om
haar swaarverdiende spaargeldjies te neem. “Ek het ’n paar rand gespaar. Ek
kan Pa daarmee help. Ek sal dit môre gaan trek . . .”
Die volgende middag sal die oorhandiging van die geld plaasvind en sy
reaksie sal min of meer wees: “Ag nee, Andreatjie, Pa wil dit regtig nie hê
nie. Pa sal ’n plan maak. Pa is al so diep in die skuld by jou, my kind . . .”
Sy is kwaad vir haarself oor die knop wat skielik in haar keel sit. Arme Pa.
Ná soveel jare het hy nog steeds net drome. Wat was dit wat Ma eenkeer gesê
het? ’n Mens wat nie meer drome het nie, het nie ’n rede om verder te leef
nie.
Sy onthou daardie dag baie goed. Sy was in opstand soos so dikwels
wanneer Pa sommer net verdwyn op die een of ander vergesogte skattejag, en
Ma alleen agterbly om die pot aan die kook te hou en ’n kind alleen groot te
maak.
“Maar wat van Má se drome?” het sy vurig gevra.
Haar ma het kalm geantwoord: “Ek het ook my droom, Andrea; Pa se
drome kom net altyd eerste.”
“Wat ís Ma se droom?” wou sy weet.
Haar ma het met deernis geglimlag. “Jou pa droom van die dag wanneer hy
op roem en rykdom kan aanspraak maak. Dit hou hom aan die gang; maak
die lewe vir hom die moeite werd. En ek . . . ek droom van daardie dag
wanneer Pa vir goed sal huis toe kom. Dit maak dit vir my die moeite werd
om vir hom te wag . . .”
Sy was nog ’n kind en het natuurlik niks van hierdie grootmenswysheid
verstaan nie. Sy weet nie of sy vandag al veel meer daarvan verstaan nie: Ma
is dood voordat haar droom verwesenlik kon word terwyl Pa steeds
voortdroom. En sy . . . sy het besluit: geen onbereikbare sterre vir haar nie;
geen drome wat nie verwesenlik kan word nie. Sy het vir haar ’n loopbaan
gekies, gesorg dat sy ’n vaste inkomste het en haar voete plat op die aarde
gehou. Sy het selfs elke maand ’n paar rand weggesit vir haar oudag . . . en
elke keer is Pa en sy drome met haar oudaggeld weg. Soos daardie laaste keer
...
Sy het die geld voor hom neergesit en haarself hoor sê: “Neem dit maar,
Pa. Pa kan maar regmaak wanneer . . . wanneer Pa eendag op die verlore skat
afkom.”

Sy het gesien hoe sy oë ophelder en sy stem was pateties van
dankbaarheid. En natuurlik het die belofte nie uitgebly nie. “Hierdie keer, my
kind . . . hiérdie keer sal jy sien . . . Pa kom terug met sakke vol geld!”
“Ja, Pa.”
Eers toe hy weg is, het sy daaraan gedink dat sy hom nie eens gevra het
waar hy hierdie keer na sy aardse rykdom sou gaan soek nie. Dalk was dit
hierdie keer die ark op die berg Ararat. Sy het meewarig geglimlag.
Sy doen dit nou weer. As Pa moet weet sy het so ’n kolossale bedrag geld
gewen, sal hy na ’n seerowerskat op die maan wil gaan soek! Nee, Pa mag
hiervan niks weet nie.
Maar hoe om die nuus nie wêreldkundig te maak nie, is ’n ander kwessie.
Natuurlik word die gelukkige wenner in die Sondagkoerant aangekondig, met
foto en stamboek – de lot. Natuurlik word sy deur die hele land beny, deur
almal wat jaar in en jaar uit daardie verdekselse blokraaisel invul en nog geen
sent gewen het nie, en ook deur diegene wat nog nooit in hul lewens ’n
enkele blokraaisel ingevul het nie.
En natuurlik is die hospitaal Maandagoggend op horings toe suster Andrea
Smit soos gewoonlik aan diens kom.
Net asof ek in die nag sou wegloop met my geld, dink sy amper ergerlik
toe sy die mense se verbasing sien. Natuurlik wil almal grappenderwys so ’n
ietsie leen, maar sy is ook nie seker nie. Sy het ’n spesmaas dat sy meer as
een tranerige storie sal moet aanhoor.
“Jy gaan seker dadelik ophou met werk, nè?” wil ’n kollega met openlike
afguns weet.
“Hoekom sal ek? Ek kan tog nie heeldag met my tone sit en speel nie?”
“O, maar daar is sóveel om te doen! As dit ék was, het ek vier en twintig
uur kennis gegee, ’n tas gepak en die wêreld ingevaar . . . O, as jy nie weet
wat om daarmee te doen nie, kan jy dit gerus aangee, suster! Ek sal wel
weet!”
Aan die einde van die dag is sy behoorlik siek en sat van haar aardse skat.
Toe sy haar kamerdeur oopsluit, lê daar nie minder nie as ses visitekaartjies
onder haar deur ingestoot. Almal van beleggingsmaatskappye wat haar
verseker hulle weet presies waar en hoe sy haar groot prys kan belê. Dank die
gode sy het nie ’n telefoon nie, anders was sy seker al skoon gek.
Teen Vrydag verlang sy hartlik terug na haar arm dae. Haar ontnugtering
met rykdom is groot. Soos haar gewildheid die afgelope week toegeneem het,
is net ongelooflik. Sy begin voel soos ’n bankoutomaat op ’n straathoek:

Almal wil ’n ou geldjie leen. Van tien tot tienduisend rand! Al manier om
hieruit los te kom, is om blatant ’n leuen te vertel: Sy het nog nie die geld
gekry nie. Ook onder haar mansvriende is sy skielik hoog in aanvraag. Almal
wil haar geluk vier – op háár koste natuurlik. En saans kruip sy soos ’n haas
in ’n gat in haar donker woonplek weg en weier om op die kloppe aan haar
deur te reageer, bevrees dat dit daardie een dokter is wat haar nog nooit
raakgesien het nie, maar sedert verlede Sondag se koerant verskyn het, suster
Andrea Smit net nie genoeg kan prys en vlei nie. Ag nee, besluit sy, dis niks
lekker om ryk te wees nie.
Al wat nou nog moet gebeur, is dat Pa ook hier moet aankom . . .
En dit is presies wat gebeur.
Dit is Pa in lewende lywe wat die volgende middag voor haar staan toe sy
haar woonsteldeur oopruk en effens onvriendelik losbars: “Kyk, dis my dag
vry en ek wil nie gesteur . . . O. Dis Pa.”
“Dag, Andreatjie.”
Sy kyk hom opsommend aan. Pa sal selfs op die berg Ararat van sy dogter
se groot geluk verneem! “Dag, Pa.” Dan droog: “Waar kom Pa so gou
vandaan?”
Hy lyk verleë. “Ek het verlang na jou, Dreatjie. Toe kom ek maar terug.”
Sy draai haar om. Haar pa verlang altyd na sy dogtertjie wanneer sy fondse
uitgeput is. Sy vra nie eens hoe dit met die laaste skattejag gegaan het nie. Sy
weet.
“Kom binne, Pa,” nooi sy.
“Hoe gaan dit met jou, my kind?”
Asof hy nie weet nie! “Goed dankie, Pa. Hoe gaan dit met Pa?”
“So-so, my kind. Ek begin voel ek word nie jonger nie.”
“Dan het Pa nou besluit om by die huis te bly?” Die “huis” sal nog gekoop
moet word. Pa het nog nooit sy eie huis besit nie.
“Nee, ek voel darem nog nie só gedaan nie! Ek het besluit ek sal nog een
keer . . . e . . .”
Haar mondhoeke smaal effens. “Skatte gaan jag?”
Hy lag sy verleë seunslaggie. “Ja. Dis soos jy dit altyd noem, nè? Ja, ek is
eintlik al weer op pad na . . .”
Sy hoor hom nie uit nie: Net eers ’n draai by sy ryk dogter kom maak! Sy
voel sommer lus en gaan koop vir haar ’n eiland en gaan bly alleen daar sodat
niemand haar ooit weer sal kry nie.

“. . . en toe het ek gewonder of jy nie lus voel om hierdie keer sáám met
my te gaan nie.”
Hy het nou weer haar volle aandag. “Saam waarheen?”
“Na Kokos toe. Ek het jou dan pas vertel . . .”
“Kokos? Watse plek is dit?”
“Maar ek het mos gesê dis ’n eiland . . .”
“’n Eiland!” Nou toe nou! “Is dit te koop?”
Dries Smit frons en kyk sy dogter ondersoekend aan. Dreatjie is regtig half
snaaks vandag. “Nee, natuurlik nie. Hoekom vra jy so ’n vraag?”
Sy sug en dis nou haar beurt om effens verleë te lyk. Sy is klaar besig om
gek te word. “Jammer. Dit was ’n flou grappie. Waar is die eiland en wat
gaan Pa hierdie keer soek?”
“Die eiland is in die Stille Oseaan aan die oostelike kant van Costa Rica.”
Sy speur in haar gedagtes rond. “Waar lê Costa Rica?”
“Dis waar die Panamakanaal is. Jy weet, tussen Noord- en Suid-Amerika.”
“O ja! En wat wil Pa daar gaan soek?”
“Seerowerskatte.”
“See . . .? Ag, Pa!”
“Nee regtig, Andrea!”
“Nee regtig, Pa! Kinders glo aan seerowers!”
“Seerowers het werklik bestaan, my kind. Dis nie stories nie. Dis historiese
feite.”
“Dit weet ek, Pa. Maar hul kamtige skatte . . .”
“. . . is meeste nog soek. En Kokos is dié eiland in die Stille Oseaan waar
dit versteek kon gewees het. Trouens, die eiland is bekend daarvoor.”
“Dat dit vol versteekte seerowerskatte is? En as dit so is, dink Pa Pa is die
eerste een wat daarna gaan soek? Gebruik tog Pa se verstand, asseblief!”
Teësinnig erken hy: “Daar is al baie op die eiland gedolwe, maar niemand
het nog die skatte gekry nie.”
“Maar Pá gaan die gelukkige een wees. Ai, Pa, ek weet nie . . . Wanneer
kom Pa eendag tot ruste?”
“Maar, my kind, as ’n mens nie soek nie, sal jy nie vind nie. ’n Mens kan
nie verwag dinge moet in jou skoot val nie. Jy moet van jou kant af iets
daaromtrent dóén.”
Dit is ook waar. Die afgelope week het een van haar kollegas haar
verkwalik dat sy die prys gewen het. Sy het sommer bitsig vertel dat sy haar
blokraaisel presies net soos Andrea s’n gehad het, maar dat sy dit toe nie

ingestuur het nie. Dis soos Pa sê: ’n Mens kan nie verwag om te wen met ’n
blokraaisel wat jy nie instuur nie. Maar seerowerskatte soek, is iets anders . . .
Of is dit? Sy frons. Sy verkwalik nou haar pa omdat hy na skatte wil gaan
soek waar honderde ander voor hom dit nie kon gevind het nie. Maar was
haar blokraaisel anders? Sy het saam met duisende ander haar raaisel ingevul
en gepos, wetende hoe skraal die kans was om te wen. Tog het sy dit gedoen .
. . en gewen! Sy kyk op.
“Hoeveel het Pa hierdie keer nodig?” Hulle kan net sowel ophou skerm.
Tot haar algehele verbasing skud hy die kop ontkennend. “Nee, ek het nie
kom geld vra nie . . .”
Sy vererg haar bloedig; sy het ’n moeilike week agter die rug. “Nou wat
hét Pa dan hier kom doen?”
Hy frons liggies. “Ek het jou gesê ek het na jou verlang. Ek wou jou net
weer ’n slag sien . . .”
“En geld vra. Pa, moenie draaie loop nie. Pa verlang na my wanneer Pa
geld nodig het. Dit was nog altyd so. Moenie stry nie!”
Hy maak sy kenmerkende gebaartjie met die hande. “Ja, my kind, ek weet
dit is so. Ek het nog elke keer by jou kom geld bedel. Maar my verlange na
jou is eg. Of jy dit wil glo of nie. Ek is ’n slegte pa. Ek weet dit. Maar ek het
jou opreg lief. Jy is my kind.”
Sy sluit haar oë. Nou laat hy haar weer gemeen voel! “Jammer, Pa. Ek wou
Pa nie seermaak nie, maar . . . ek hou nie van valsheid nie.”
“Valsheid?”
“Ja, Pa. Ons weet albei dat dit nie so toevallig is dat Pa hier opdaag ’n
week nadat ek geld gewen het nie. Pa het daarvan gehoor en . . .” Sy frons
kwaai. “Pa! Moet dit nie ontken nie! Pa weet ek het driehonderd en vyftig
duisend rand gewen!”
Stilte. Volslae verbystering op sy gesig.
Sy sluk. Dan kan hy nog toneelspeel ook! O, Pa!
“Dreatjie!”
“Hoeveel wou Pa daarvan gehad het?”
Dis sy beurt om te sluk. Dis . . . so goed soos ’n seerowerskat! Of byna . . .
“Nie ’n sent nie, my kind, dankie. Dankie vir die aanbod, maar Pa wil nie
een sent van jou geldjies hê nie.”
Geldjies! Die teësinnige deernis begin weer die oorhand oor haar kry.
Arme Pa! Sy lewe lank dwaal hy oor die aardbol rond, en hier vul sy dogter
in haar beknopte kamertjie net ’n simpele blokraaisel in en sý kry die skat!

Dis nie regverdig nie!
“Pa, ek wíl vir Pa daarvan gee. Ek is jammer ek was lelik. My senuwees is
gedaan. Al wat mens is, wil deesdae óf by my geld leen óf met my trou. Ek
sal Pa die helfte gee,” bied sy rojaal aan. “Maar, Pa, dan moet Pa belowe dat
Pa nou sal ophou ronddwaal. Kom ons koop vir ons ’n huisie en Pa bly tuis.”
Skielik voel haar hart seer. Foei tog, hy het oud geword die afgelope maande.
“Asseblief, Pa!”
“Ai, my kind . . . wil jy dan nog hierdie ou sleg by jou hê?”
“Pa . . .”
Dan is sy in sy arms, huil sy vir die eerste keer sedert haar ma se dood teen
haar pa se bors. Sy besef dat sy na hom verlang het, dat hy, met al sy foute en
tekortkominge Pá is . . . Pa bly.
“Ons . . . ons het net vir mekaar, Pa. Asseblief! Moenie weer weggaan nie!
Bly hier en laat ons vir ons ’n huisie koop. Asseblief, Pa.”
“My dogtertjie . . .” Hy druk haar teen hom vas, sy hart week. Skielik is
daar trane in sy oë. Hy en sy Here alleen weet hoe skuldig hy voel teenoor
hierdie dogter van hom. Sy sal hom nie glo nie, maar dit was elke keer baie
swaar om van haar en haar ma, en later van haar alleen, weg te gaan. Op sy
swerftogte oor die aardbol was hy altyd alleen. Daar was baie lang en
eensame nagte waarin hy verskriklik verlang het. Tog kon hy homself nie
keer nie. Die swerwersbloed vloei in sy are. Hy is gebore met ’n
swerwersgees en die avontuurlus wou hom net nooit begewe nie, ten spyte
van die herhaalde teleurstellings waarop alles telkens uitgeloop het. Hy was
al op hóéveel skattejagte . . . sonder sukses.
Op hierdie oomblik besef hy dat die enigste en grootste skat wat hy ooit sal
hê, sy dogter is. En sy smeek hom om nie weer weg te gaan nie. Sy pleit vir
’n huisie waar hulle saam kan gaan bly.
“Andrea, Pa belowe – en dis ’n waaragtige belofte – dat ek saam met jou in
daardie huisie sal kom bly as jy my net nog hierdie één keer sal laat begaan.
Ek het klaar my woord gegee, my kind. Maar dis hoekom ek jou gevra het
om hierdie keer saam met my te gaan. Ons hóéf nie weer van mekaar geskei
te wees nie. Jy sê jy het nou ’n bietjie geld. Ek kan ongelukkig nie aanbied
om jou koste te betaal nie, maar as jy vir jouself kan betaal, kan jy saam met
my kom. Jou lewe het in ’n sleur verval, my kind. Breek ’n bietjie weg terwyl
jy nou die geld en die geleentheid het. Asseblief, Andrea!”
Sy staan terug en kyk hom onseker aan. Sy voorstel was aanvanklik net te
vergesog om te oorweeg. Nou . . .

“Hoe lank sal Pa weg wees?”
“Dit kan ek nie sê nie. Jy weet hoe gaan dit met my skattejagte,” sê hy met
’n skewe glimlag.
Sy knik. Ja, sy weet. Dis onbepaald – totdat hy heilig oortuig is daar is niks
te vinde waar hy soek nie. Dit kan maande lank duur.
“Maar wat van my werk?” wil sy weet.
“Bedank. Wanneer ons terugkeer, sal jy maklik weer werk kry. Daar is
altyd ’n tekort aan opgeleide verpleegsusters.”
Dis ook waar. “Wanneer wou Pa gaan?”
“So gou moontlik.”
“Ek moet ’n maand kennis gee.”
“Gaan praat met die matrone. Sê sy kan maar die kennisgewingmaand se
geld hou. Jy wil vier en twintig uur kennis gee.”
“So gou? Wat is die haas?”
“Netnou vind iemand anders Bonito se skat voordat ek daar kom!”
“Bonito? Wie’s dit?”
“Die seerower wie se skat ek gaan soek.”
Sy moet lag. Pa sal altyd Pa bly. “Is dit werklik so noodsaaklik dat Pa dit
moet kry? Is driehonderd en vyftig duisend rand nie genoeg vir Pa en my
nie?”
“Hoe sal ek nou sê, kindjie? Dis baie geld – maar ’n paar miljoen dollar is
meer.”
Haar oë staan rond in haar kop. “Hoeveel?”
Haar pa knik. “Dis waarop die waarde van Bonito se skat geraam word. Ek
sal natuurlik net ’n gedeelte daarvan kry, maar selfs ’n kwart sal baie
miljoene werd wees. Dis seker nie te versmaai nie, of hoe, my kind?”
Andrea is stom. Haar verstand kan nie in miljoene funksioneer nie. Dit kon
skaars driehonderd en vyftig duisend rand verwerk. Sy voel skielik onrustig.
“Pa . . . is Pa se somme reg?”
Hy lag, voel weer die tinteling wat hy so goed ken. Hy ervaar dit elke keer
wanneer hy aan die begin van ’n projek staan. Ook hierdie keer . . . net
sterker as voorheen. Hierdie laaste skattejag van hom gaan suksesvol wees.
Hy wéét dit net! “Ja, Andrea. Ek het álles uitgevind. My gedagtes sing al
daarvan. Vyf en sestig miljoen dollar is die waarde van die skat. ’n Kwart van
’n kwart daarvan is steeds ’n paar miljoen rand – en dis myne.”
“Hoekom net ’n kwart van ’n kwart?”
Haar pa lag saggies en sê tergend: “Word jy nou gulsig, my kind?”

Sy grinnik verleë. Genugtig! Sy voel dronk in die kop! “Nee, ek bedoel
maar . . .”
“Ek verstaan. Nee, die res gaan natuurlik na señor Alonso en die Costa
Rica-regering.”
Sy frons. “Wie is señor Alonso en wat het die skat met Costa Rica te
doen?”
“Kokos behoort aan Costa Rica en ’n mens mag slegs na seerowerskatte op
die eiland soek met ’n permit van die regering, en dan ook op voorwaarde dat
die helfte van wat jy kry aan hulle afgestaan word.”
“O, die helfte nogal . . . En señor Alonso?”
“Hy is die man wat my gehuur het om na die skat te soek. Hy betaal my
reiskoste en voorsien my van wat ek ook al in my soektog nodig mag hê. As
ons iets kry, kry ek dus ’n kwart van ’n kwart van die totaal. Kry ons niks,
dra hy die verlies.” Hy glimlag. “Maar hierdie keer, dit verseker ek jou,
Andreatjie, gaan Pa dit kry. Hierdie keer gaan ek die boerpot wen!”
“Waar kom Pa aan dié señor Alonso?”
“Hy het aan mý gekom. Ek het baie mense leer ken deur die jare . . . Hy
het my geskakel en die voorstel gedoen. Ek het hom toe gesê ek is net eers op
pad terug Suid-Afrika toe om my dogter weer te sien, maar ek sal binne ’n
maand by hom wees. Die helfte van die maand is reeds verby. Ek het dus nie
baie tyd oor nie. Ek moet so gou moontlik vertrek.” Sy oë pleit. “Kom saam,
Andrea! Jy verdien ’n vakansie. Beskou dit as ’n heerlike, lang vakansie op
’n pragtige, veraf eiland. Jy sal geen ander koste hê as jou reisgeld nie, want
ons sal tuis gaan in señor Alonso se palacio. Dit gaan ons niks kos nie.”
“Palacio?”
“Ja. Paleis. Nou nie ’n regte paleis nie, maar dis glo ’n kolossale plek en
word na verwys as die palacio van Kokos. Hy is reeds ’n skatryk man.”
“Waarom wil hy dan so graag Bonito se skat ook nog hê?” wil Andrea
agterdogtig weet. Haar pa was nog altyd te liggelowig. Hy glo alles wat hy
hoor.
“Wanneer is genoeg genoeg? Selfs ’n miljoenêr versmaai nie nog ’n
miljoen of wat nie. Maar eintlik gaan dit vir hom om ’n ander rede. Hy
beweer hy is ’n direkte afstammeling van Bonito en dat die skat hóm toekom,
en niemand anders nie.”
Haar oë rek weer. “Pa bedoel hy is ook ’n seerower?”
“Nee, kind, natuurlik nie. Daar is nie meer vandag sulke goed soos
seerowers nie. Hy is net die hoeveelste agterkleinkind van die berugte Bonito.

Dis wat hy sê. Of hy dit kan bewys, weet ek nie. Maar dis nie ter sprake wat
my betref nie. Feit bly, Bonito se skat is nog nie gevind nie. Señor Alonso is
oortuig dat dit iewers op Kokos lê – en ek moet dit vind voordat iemand
anders dit kry. Andrea, ek sweer vandag dis die laaste keer. Ná Kokos sal ek
by jou kom bly en my oudag rustig slyt. Nog net hierdie één keer, asseblief,
my kind, en . . . kom saam met Pa, toe?”
Die volgende dag besoek Andrea die matrone se kantoor en stel haar saak.
Nie dat sy die dame alles vertel nie. Dié merkwaardige, stabiele vrou sal dink
haar altyd rustige verpleegsuster is haar wysie kwyt as gevolg van die klomp
geld wat sy gewen het as sy moet hoor sy wil aan die ander kant van die
wêreld na ’n seerowerskat gaan soek.
“Ja, suster Smit, ek moet erken ek het jou bedanking verwag.” Sy glimlag
spytig. Sy verloor ’n baie bekwame en betroubare personeellid. “Ek moet jou
nog gelukwens. Ek het natuurlik ook verneem van die groot geluk wat jou
getref het, maar . . .” Sy voel dit haar plig om te sê: “Om sommer te bedank
en op te hou met werk . . . Wil jy nie maar liewer net ’n maand vakansie
neem nie?”
“Dankie, matrone, maar . . . ek voel ek het in ’n sleur verval.” Sy praat
haar pa nou na die mond – iets wat sy nie geglo het sy ooit sou doen nie! “Ek
sal weer kom werk sodra ek voel ek het genoeg van . . . e . . . ledigheid
gehad. Ek is gewoond besig wees. Ek sal nie vir altyd ledig kan wees nie.”
“Ja. En geld hou ook nie vir ewig nie, nè?” voeg matrone droog by. “Nou
goed dan, suster. Ek aanvaar jou bedanking. Ek voel nie gelukkig omdat jy so
dadelik wil gaan nie, maar nouja . . .”
Alles verloop voorspoedig. Selfs die reisreëlings word in ’n japtrap en sonder
haakplekke afgehandel.
Elke bedenking aan haar kant praat haar Pa met oortuiging weg: “Dis nie
nodig dat ek señor Alonso moet laat weet jy kom saam nie. Ek sê jou dan die
man het ’n reusagtige huis. Daar sal plek wees vir jou. En sy vrou sal tien
teen een bly wees vir geselskap.”
“Maar hoe weet Pa? Het Pa hulle al ontmoet?”
“Nee. Ek en señor Alonso het net oor die telefoon gesels. Maar ek is
oortuig hy sal nie omgee nie. Al waarin hy belang stel, is die skat – en hoe
gouer ons op Kokos kom, hoe beter.”

2
__
“Hasta la vista, señorita. Ek hoop julle kry die skat waarna julle kom soek!”
Andrea glimlag die lieflike meisie, ’n pragvoorbeeld van die LatynsAmerikaanse skoonhede wat ’n mens in hierdie wêrelddeel aantref, breed toe.
“Adios, señorita! Dankie vir u goeie wense. Geniet u vakansie.”
“De seguro! Natuurlik!”
Met ’n wuif van die hand stap die Smitte se medepassasier weg. Hulle het
so pas op die lughawe El Coco in San José, hoofstad van Costa Rica, geland.
Terwyl Andrea haar pa na die ontvangtoonbank volg, kyk sy
geïnteresseerd om haar rond, en sy moet weer haar pa bewonder. Sedert hulle
uit Suid-Afrika weg is, het sy geleer om meer respek vir hom te kry. Dikwels
het sy skaam gevoel. In die verlede het sy, om heeltemal eerlik te wees, altyd
maar met ’n bietjie minagting aan haar pa gedink. Maar die afgelope dae dat
sy pal in sy geselskap was, het sy ’n ander Dries Smit leer ken.
Soos die wêreldreisiger wat hy inderdaad is, het hy alle reëlings
selfversekerd getref en hulle met gemak van die een land se lughawegebou na
die ander deurgevoer. Wat baie gerieflik is, is dat hy – soos sy tot haar
verbasing moes uitvind – ses tale magtig is.
Haar benoudheid om na die ander kant van die aardbol te reis, het ná die
eerste dag sommer verdwyn. Met haar pa aan haar sy sou sy om die aardbol
reis, wetende dat sy haar pad na Suid-Afrika sou terugvind. As sy op eie
houtjie haar land moes verlaat het, sou sy só weggeraak het dat hulle haar
nooit weer sou opspoor nie. Vir die meisie wat nog maar altyd in ’n klein
wêreldjie geleef het, is dit ’n besondere ervaring om soos ’n wêreldburger te
voel.
Ook vind sy in hierdie dae uit dat haar pa nie net ’n berese man is nie,
maar dat hy met gesag oor baie onderwerpe kan praat. Hy is nie ’n geleerde
man nie, maar hy is intelligent. Dikwels kom die gedagte by haar op dat dit ’n
jammerte is dat hy nooit die geleentheid gehad het om verder te studeer nie.
Sy kyk met ander oë na hom. Dit is so maklik om te oordeel en te veroordeel
. . . Haar pa was een van agt kinders uit ’n arm gesin. Hoewel haar pa graag
wou leer, moes hy uitspring en gaan werk om geldelik te help met die sewe
ander kinders. Al wat hom gegun was, was drome . . .

Opreg bid Andrea nou dat hy hiérdie keer sy droom verwesenlik sal sien.
Soos sy haar pa beter leer ken, weet Andrea nou dat sy skattejagtery nie
soseer gaan om die materiële sy van die saak nie, maar eerder om iets te
bereik; om erkenning te kry.
Terwyl haar pa na hul bagasie omsien, staan sy na die bedrywige menigte
om haar en kyk. Sy sien die donker señorita wat langs haar gesit het deur die
hoofuitgang verdwyn. Sy het heelwat inligting oor hierdie wêrelddeel van
haar gekry.
Die Costa Ricaners is oorwegend van Spaanse afkoms, aangesien dit
oorspronklik ’n Spaanse kolonie was. Natuurlik het daar intussen vermenging
plaasgevind, oorwegend met Amerikaners, en hier is ook heelwat WesIndiërs. Die taal wat meestal gebesig word, is Spaans, met natuurlik
Amerikaanse Engels wat ook baie gehoor word. Die señorita, baie duidelik
van Spaanse afkoms, het Andrea vertel dat daar wel nog suiwer Spaanse
families is – iets waarop hulle baie trots is. Ook is die band met Spanje nog
baie sterk in hierdie families.
Andrea het vertel dat sy en haar pa op pad is na ’n Spanjaard met die naam
Alonso en dat hulle op die eiland Kokos gaan bly. Die dametjie het haar
vreemd aangekyk en Andrea het gevra: “Ken u dalk hierdie Alonso?”
Haar antwoord was ietwat droog: “Hierdie Alonso, señorita, is Alonso
Juan Bonito de Vitoria – en almal in dié wêrelddeel weet wie hy is. Terloops,
’n mens praat nie sommer net van Alonso nie.” Haar oë het gevonkel. “Ek
dink nie hy sal baie daarvan hou nie!”
Andrea was verbaas. “Word hy dan elke keer voluit aangespreek?”
“Nee, natuurlik nie. Maar hy is ’n belangrike man, van hoë aansien in
Costa Rica. Nee, almal ken hom as don Alonso en so word hy ook deur almal
aangespreek. Dis ’n eerbiedwaardige aanspreekvorm wat ons Spanjaarde
het.”
“O, dankie dat jy my reggehelp het, señorita. Ek kon dalk ’n groot flater
begaan het!”
Die meisie het vriendelik geglimlag, steeds met die vonkeling in haar
donker oë, asof sy iets amusant vind. “Ja, en don Alonso is nie ’n man vir
flaters nie. Hy is nog van die ou garde. Baie gesteld op wat mag en nie mag
nie. Baie tradisievas.”
“O? Wel, ek sal gelukkig nie veel met die vername heer te doen kry nie.
Dis hy en my pa wat sake gaan doen.”
“Watse soort sake?”

Andrea het gelag en vrymoedig vertel: “My pa gaan op versoek van A . . .
ekskuus, don Alonso na die seerowerskat van Bonito op die eiland Kokos
soek.”
Die Spaanse señorita was diep geïnteresseerd. “En jy? Waar pas jý in die
prentjie?”
“Ek is glad nie in die prentjie nie,” het Andrea haar laggend verseker. “Ek
is met vakansie en drentel sommer net saam met my pa. Bly jy ook op Costa
Rica?”
“Nee. Ek is ook met vakansie.”
Sy hoor haar pa se naam word genoem en toe sy omkyk, sien sy ’n
motorbestuurder voor haar pa staan. ’n Rukkie later ry hulle in ’n luukse
motor deur San José en dan kies die voertuig koers na die buitewyke van die
hoofstad. Eerlank ry hulle tussen koffie- en piesangplantasies deur en sy
verneem van haar pa dat dit die twee belangrikste uitvoerprodukte van die
land is. Soos dit wil voorkom, is don Alonso – op navraag van haar pa aan
die motorbestuurder – een van die groot grondeienaars op Costa Rica. Die ou
man moet skatryk wees, dink Andrea toe sy ’n rukkie later die Spaanse huis
tussen die lowerryke bome sien verskyn. Dit lyk nie asof hy ’n seerowerskat
nodig het nie. Maar . . . hoe meer die mens het, hoe meer wil hy mos hê. Hy
is dus by al sy bekonkeldheid, soos die Spaanse señorita haar op die vliegtuig
gewaarsku het, nog boonop ’n ou gierigaard.
Die Spaanse huishoudster ontmoet hulle by die voordeur en Andrea kan
die verrassing op die vrou se gesig nie miskyk nie. Sy glimlag en volg haar
pa deur die luukse voorportaal na ’n besonder breë dubbeldeur met pragtige
houtsneewerk. Sy kyk verbaas om haar rond. Sy weet weinig van meubels,
maar selfs sý kan sien dat dit kosbaarhede is wat om haar staan. As hy dit nie
geërf het nie, moes die ou vrek al sweerlik vantevore op ’n seerowerskat
afgekom het. Sulke goed is seker net in museums en oliesjeiks se paleise te
sien.
Die dubbeldeur swaai oop en die huishoudster staan opsy sodat hulle kan
binnestap. Dan gaan die deur weer geluidloos agter hulle toe. Ver voor hulle,
’n saallengte ver, staan ’n massiewe lessenaar. Die ou gierigaard staan op . . .
en Andrea se bene weier meteens om haar nader aan hom te dra.
“Señor Smit? Baie welkom. U het veilig gereis?”
“Ja, dankie, don Alonso. Ek . . .”
Die donker oë kyk oor Dries Smit se skouer. “En wie is dit dié?” vra hy
streng.

“O . . . e . . . dis my dogter, Andrea. Ek . . .” Hy kyk teen die man se
donker frons vas. “Ek hoop nie u gee om dat sy saamgekom het nie . . .”
“Om wat hier te maak?”
Dries Smit kug. “Wel, sy het nou vakansie en ek het voorgestel dat sy my
vergesel. Ek moes u seker . . .”
“Hoe lank duur haar vakansie?”
Andrea begin haar stadigaan vererg, noudat die egste skok verby is.
“Nee, sy het onbepaald vakansie. Ek bedoel . . .”
“Wat my vader bedoel, señor, is dat ek op die oomblik nie werk het nie en
dus saam met hom gekom het vir die volle tydperk wat hy hier sal wees.”
Koel ontmoet haar blik syne oor die lengte van die saalagtige vertrek. “Gee u
om?”
“Ja.” Stilte. Die een hand wink na ’n stoel. “Sit, señor.” Hy gaan ook sit en
ignoreer Andrea waar sy nog steeds by die deur staan asof sy geplant is. Hy
spreek haar pa aan asof sy nie teenwoordig is nie. “U dogter sal onmiddellik
moet teruggaan.”
Dries Smit lyk verleë en ongemaklik. “Sy . . . sy sal nie lastig wees nie,
señor . . .”
“Daar bestaan nie ’n vrou wat nié lastig is nie. Ek ken hulle.”
Andrea sluk. Sou die mansmens wil beweer dat sy dalk lastig met hóm sal
raak? Sy voel die bloed na haar kop toe styg.
“Die soektog na Bonito se skat word in die grootste geheim gedoen.
Vanselfsprekend was net ons twee veronderstel om daarvan te weet.”
Dries Smit se oë sak. “Ek is jammer. Ek het nie besef . . . dis só ’n groot
geheim nie.”
Die vraag kom skerp: “Ek hoop nie jy het meer mense daarvan vertel nie –
dat jy spesifiek na die skat kom soek?”
“Nee. Nee! Ek weet darem van beter, maar . . .”
“Jou dogter het jy wel vertel. Dis jammer. Daarom moet sy dadelik
teruggaan na waar sy vandaan gekom het.”
“Hoekom?” werp Andrea die vraag vinnig tussenbeide.
Hy bly haar steeds ignoreer en antwoord haar vraag asof haar pa dit gestel
het: “Vyf en sestig miljoen dollar is nie kleingeld nie, señor. Veral as iemand
uitvind dat dit ék is wat na die skat laat soek, gaan dit geweldige
belangstelling wek, veral plaaslik. Ons gaan toegesak word deur nuuskieriges
en belangstellendes – mense wat sal wil aas indien die skat gekry word. Veral
leeglêers wat nie werk het nie, wat nie geregtig is op die skat nie . . . Voordat

jou dogter haar mond verbypraat, moet sy liewer terug.”
Haar bene dra haar ’n paar treë nader. “Maar ek kan my mond in SuidAfrika ook verbypraat.”
Sy oë bly op haar pa. “In ’n ander land sal dit afgemaak word as ’n grap; ’n
fabel wat nagejaag word. Hier in Costa Rica en op Kokos weet ons dis geen
fabel nie. Die skat ís daar; dit moet net gevind word.”
Dries Smit kyk sy dogter verskonend aan, kyk dan half pleitend op na sy
gasheer. “Maar as sy belowe dat sy haar mond sal hou . . .”
“Daar bestaan nie ’n vrou wat haar mond kan hou nie, señor Smit. Dit
behoort die lewe jou darem seker al te geleer het. Dit sal my nie verbaas as sy
dit reeds uitgebasuin het nie. Vra haar gerus.”
“Andreatjie, jy . . . jy het mos niemand op pad hierheen vertel wat ons hier
kom maak het nie, het jy?”
Andrea sluk. Ag, wel, die Spaanse señorita op die vliegtuig tel nie. Sy is
maar net ’n toeris wat ’n paar dae hier kom vakansie hou. Sy het seker al
klaar vergeet wat sy op die vliegtuig gehoor het.
“Natuurlik nie! Pa ken my . . .” Haar blik gaan woedend na die man agter
die lessenaar. “Die hele ding is maar net dat don Alonso bang is ek is ook
teen die einde van dié wat wil aas, een van die leeglêers wat nie geregtig is op
die skat nie. Ek wonder net hoeveel reg het hý daarop.”
“Andrea!”
Vir die eerste keer kyk die don direk na haar. “Ek is die enigste een wat
werklik reg daarop het, señorita. Ek is ’n direkte afstammeling van Bonito.”
“Die seerower?”
“Die seerower, señorita.”
“Maar dit was ook nie sý eiendom nie, was dit? Dit was alles gesteelde
goed, dan nie?”
“Andrea!”
“Laat haar gerus klaar praat, señor. Ja, señorita? Jy wou sê?”
“Ek het net gewonder hoekom alles so in die strengste geheimhouding
moet geskied. Het u ’n permit van die regering gekry?” Die gesig is geslote
en sy kry nie ’n antwoord nie. Sy vervolg: “Of is dit ’n geval dat u nie die
helfte van die skat aan die regering gaan oorhandig nie?”
“U het gelyk. Bonito was mý voorvader en, gesteelde goed of nie, sy skat
behoort aan mý. Ek is nie van plan om die helfte daarvan aan die regering te
gee nie.”
“Maar dis oneerlik!”

“Ek sien dit nie so nie. En wat u daarvan dink, señorita, kan my nie skeel
nie.” Hy wend hom tot haar pa. “U weet nou wat die stand van sake is, señor.
Is u nog bereid om na die skat te gaan soek?”
Dries Smit se oë gaan onseker na sy dogter wat hom kwaai aankyk, en hy
sê op sy verleë manier: “’n Paar miljoen is ’n paar miljoen, Andreatjie.”
“En tronk is tronk, Pa! Hierdie man gaan Pa in die moeilikheid laat beland.
Hy het Pa gekry om die vuilwerk vir hom te doen. Word Pa betrap, sal hy
voorgee hy ken Pa van geen kant af nie en Pa sal alleen gaan sit!”
“Ek verseker jou jou pa sal nie in die tronk beland nie.”
“Wat beteken die versekering van ’n seerower? Pa, ek dink . . .”
“Señorita, die oomblik wanneer ’n vrou begin dink, dompel sy almal om
haar in die ellende. Jy is nie gevra om te dink nie. Jy is gevra om onmiddellik
terug te gaan na waar jy vandaan kom.”
“Ek het op my eie koste tot hier gekom. Jy het geen seggenskap of reg om
my hier rond te beveel of weg te jaag nie. Ek sal op Costa Rica bly solank ek
wil en as ek so voel, sal ek Kokos toe ook gaan . . . of behoort die hele eiland
aan jou?”
“Nee. Net ’n gedeelte. En kan jy my vertel waar kry ’n werklose meisie die
geld om halfpad om die aardbol te kom?”
“Sy het . . .” begin haar pa ywerig verduidelik.
Maar sy val hom dwars in die rede en sê uit die hoogte: “Dis mý saak waar
ek daaraan kom, maar ek verseker jou ek hét geld . . . én dis eerlike geld én
dis baie . . . genoeg om jou dalk te kan uitkoop, don Alonso.”
“Dreatjie . . .”
“Ons het ’n ou gesegde wat sê alles wat blink, is nie goud nie, en hier . . .”
Sy kyk met blitsende oë om haar rond. “Hier blink alles net ’n bietjie te veel
om waar te wees. Jy is baie gretig dat daardie skat gekry moet word, nie waar
nie? Ek wonder nou net hoekom?”
Sy frons is onheilspellend. “Hoekom?”
“Vir ’n man wat oënskynlik so diep in die botter sit, behoort . . .”
“In die botter sit, señorita?”
“Ja, dis ook ’n gesegde in ons taal. Bedoelende: vir ’n man wat oënskynlik
só ryk is as wat dit voorkom, behoort ’n ekstra miljoen of twee nie veel saak
te maak nie. Jou gretigheid is ’n bietjie uit verhouding; so ook jou teësin om
op die wettige manier te werk te gaan.”
“’n Miljoen of twee! Soos alle vroue kan jy ook nie somme maak nie en
het nog minder begrip van geld! Besef jy hoeveel geld is hier in die spel? Ek

praat van vyf en sestig miljoen dollar!”
“Ek weet. Soos ek uitgewerk het, gaan jy steeds baie miljoene uit die
transaksie in jou sak steek nadat jy die regering sy wettige deel gegee het en
my pa syne gekry het. Kry ’n seerower nooit genoeg nie?”
“Señorita, hoekom sal ’n mens met minder tevrede wees as jy vyf en sestig
miljoen kan hê?”
“Ons het nóg ’n spreekwoord, señor: ’n gulsige hond verbrand sy mond. Jy
is gulsig.”
“Wat anders as gulsigheid het jou van die ander kant van die aardbol af
hierheen laat kom, señorita?”
“Ek het jou gesê ek hét geld.”
Sy donker oë blink uitdagend. “Veronderstel ek sê vir jou ek sal verdubbel
wat jy het . . . gaan jy nee sê en aandring op die helfte?”
Sy kyk hom vasgekeer en kwaad aan. “Dis geen argument nie.”
“O so? My oupagrootjie het vir mý deel gewerk, nie die Costa Ricaregering nie. Toe Bonito sy skat op Kokos weggesteek het, het hy dit sekerlik
bedoel vir sy nageslag. Dit was immers hý wat sy lewe daarvoor in gevaar
gestel het. En ék is sy nageslag.”
“Wat wil jy met so baie geld maak? Jý gaan buitendien nie ’n nageslag hê
nie . . .”
“Wat laat jou so dink? Sodra ek trou, sal ek kinders hê.”
“Jou opinie van my geslag, señor, laat my dink jy sal nie ’n vrou op hierdie
aarde kry wat goed genoeg sal wees om vir jou seerowertjies voort te bring
nie.”
“Andrea, my kind . . .”
Maar tot haar verbystering en haar pa se verligting lag don Alonso skielik
hardop. “A, señorita, jy dink al weer verkeerd. Alle vrou is goed genoeg vir
daardie doel. Dis tog waarvoor julle geskape is.”
Sy is opreg geskok. “Jy bedoel . . . om babas in die wêreld te bring is al
waarvoor ’n vrou vir jou bestaan?”
“Hoe dan anders, señorita? Dis al wat julle kan doen wat ’n man nié kan
doen nie. Dis ook ál wat julle goed kan doen . . .”
“En voor goed is?”
Hy glimlag. “En voor goed is.”
“Ek dank jou die duiwel!”
“Andrea . . .” Dries Smit staan vinnig op. Wat in sy dogter gevaar het, weet
hy nie, maar hier moet hy haar nou uitkry. “Señor, as u my sal sê waar ek

akkommodasie kan bespreek vir die nag en wanneer u wil hê ek Kokos toe
moet vertrek . . .”
“Jy het nêrens te bespreek nie, señor Smit. Jy bly hier en ons vertrek
môreoggend saam Kokos toe.”
Dries trap rond, kyk weer verleë en onseker na Andrea.
Uit die hoogte sê sy: “Moenie bekommerd wees nie, Pa. Ek sal my weg
vind. Ek sien Pa môre op Kokos. Tot siens.”
“Waarheen gaan jy?”
Sy kyk kil in die donker oë terug. “Hotel toe. Een wat nié aan jou behoort
nie.”
“Jammer, señorita. Ek het aandele in elke hotel in San José. Vir jou is hulle
almal vol. Jy sal van my gasvryheid gebruik maak tot tyd en wyl ek reëlings
vir jou terugsending getref het.”
“Jou gasvryheid is oorweldigend, señor – net soos jou goeie maniere.”
“Jou los mond is ontstellend, señorita – net soos jou domastrantheid. As
daar een ding is wat ek nie voor my oë kan verdra nie, is dit ’n vrou wat nie
haar plek ken nie.”
“Ja, ek weet presies wat jy van jou Spaanse vrou ver-wag – sy moet ’n
slavin wees in die kraamsaal. Dank die gode ek is nie ’n Spanjaard nie!”
“Maar solank jy onder hierdie Spanjaard se dak is, sal jy jou soos een
gedra.”
Sy wend haar woedend tot haar pa. Dinge is aan die handuit ruk. “Pa, ek
gaan nie hier bly nie.”
“Jy het nie ’n keuse nie, señorita Smit. Jy gaan nêrens heen nie. Daar is net
een ding op aarde erger as die atoombom – en dis ’n vrou met ’n los mond
wat op straat losgelaat is. Galicia sal julle jul kamers gaan wys. Ons ontmoet
mekaar oor ’n halfuur in die patio vir ’n skemerkelkie.” Daarmee gee hy ’n
stug knik en stap na die glasdeure wat op die veranda met die
gietystertraliewerk uitloop. Daar kyk hy vlugtig om. “O ja, señorita. Spaar
jou die moeite om jou teen my bevele te verset. Die hekke is klaar gesluit en
my twee waghonde word nou uit hul hokke gelaat.”
Met ’n geslote gesig volg Andrea Galicia na ’n kamer wat ook lyk asof dit
uit vervloë dae se seerowerbuit gemeubileer is. Sy staan nog onbeslis en
wonder wat haar nou te doen staan, toe daar ’n ligte kloppie aan haar deur is.
“Andrea . . .” sê haar pa paaiend toe hy sy kop om die kosyn steek.
Sy sug en gaan sit op die kant van die imposante bed. “Ek is jammer, Pa.
Ek . . . het Pa amper ’n paar miljoen gekos.” Sy glimlag grimmig.

Haar pa kyk haar bekommerd aan. “Maar wat het in jou gevaar, my kind?
Jy was aan die baklei binne die eerste minuut!”
Sy voel skaam en skuldig, maar nog steeds kwaad. “Dis hý . . . Dis alles sy
skuld!”
Haar pa frons. Hy wou ’n paar keer ’n hartaanval kry oor die dinge wat sy
vir die don gesê het! En die maniér waarop sy dit gesê het! “Hoe so, Andrea?
Wat het hy gedoen?”
“Eerstens is hy toe nie ’n stokou, gierige vrek nie, maar ’n bloedjong,
gierige vrek!”
“Wat?”
“Wel, ek . . . ek het ’n ou man met ’n grys kop en ’n kierie verwag. En hier
staan die grootmeneer toe op en lyk soos die koning van Skeba . . . en net so
hooghartig ook!”
Dries Smit is nou heeltemal in die duister. Die man kan mos nie help hoe
hy lyk nie! En hoekom het dit sy dogter so ontstel? “Daar was net ’n koningin
van Skeba,” sê hy verdwaas.
“Almiskie! En toe is hy nog boonop ongeskik. ‘En wie is dit dié?’ En
daardie kyk wat hy my gegee het! ‘Om wat hier te maak?’ Wat dink hy? Ek
het beslis nie agter hóm aan Costa Rica toe gekom nie! En die manier waarop
hy my teenwoordigheid geïgnoreer het en my met Pa bespreek het asof ek nie
in die vertrek is nie! En hy nooi Pa om te sit en hy laat my, ’n dame, daar
hoog en droog staan! En . . . die dinge wat hy toe teen my geslag kwytraak!
Ons is onbetroubaar en dom. Net goed genoeg vir slawewerk en voortplant –
soos ’n dier.”
“Andrea!”
“Hy is n chauvinistiese misbaksel en ek vind hom afstootlik!”
Haar pa kug. Hy het nie geweet sy dogter kan só heethoofdig raak nie. “As
jy regtig só ernstig daaroor voel, kan . . . kan ek hom maar sê ek sal hom nie
help nie en . . .”
“Sodat die gulsige ding met nóg meer kan wegkom? Beslis nie! Pa kan vir
hom gaan sê Pa wil ’n dubbele fooi hê omdat Pa hom onwettig moet help.”
Sy sien haar pa se oë en verduidelik vinnig: “Dis net reg! Hy wil hê Pa moet
sonder permit en die medewete van die regering na die skat soek sodat hy
meer in sy eie sak kan steek. In daardie geval behoort hy Pa te vergoed
daarvoor. Pa waag mos dan ook.”
Hy skud sy kop. “En jy beskuldig don Alonso van gierigheid en
gulsigheid? Nee, my kind.”

“Dit gaan nie om die geld nie, Pa. Wat my betref kan Pa al die geld in die
see gaan gooi wanneer Pa dit kry. Dis net . . .”
“Ja?”
“Dis net dat daardie man nie sommer net sy sin in alles kan kry nie.”
“Maar jy het niks met hom te doen nie, Andrea. Ons is net ’n rukkie hier
en dan skei ons paaie weer.”
“Ja, ek weet, maar . . . maar nietemin! En een ding is seker: Hy gaan my
nie soos ’n onoopgemaakte pakkie terugpos Suid-Afrika toe nie . . . en dit
nogal op mý koste. Dis nou duiwels seker!”
Haar pa is stom. Hy draai stil om en gaan na sy kamer. Hy het nooit besef
dat Andrea so ’n vurige geaardheid het nie. Hy het amper simpatie met don
Alonso se siening van die teenoorgestelde geslag. Hulle kan nie argumenteer
nie en hul tonge is te los. Andrea se vinnige tong het hom nou amper ’n paar
miljoen gekos. As die Spaanse heer hom regtig vererg het, kon hy hulle op
die plek die deur gewys het. Hy voel spyt dat sy dogter dadelik sal moet
teruggaan, maar hy besef dat sy en don Alonso nooit sal stryk nie. Andrea se
optrede het net daartoe bygedra om die don se opinie van die vroulike geslag
te bevestig. En haar antagonisme teenoor hul gasheer se lewensuitkyk sal nie
wyk nie. Daar is dus nêrens ’n ligstraal nie . . .
’n Halfuur later word hulle deur die goedige Galicia na die binnehof gelei
waar hul gasheer reeds op hulle wag. Hy staan dadelik op toe hy hulle
gewaar.
Natuurlik die goeie maniere ter wille van Pa, nie van my nie, dink Andrea
spytig en vererg haar sommer weer opnuut. Met ’n seerower as oergrootjie
behoort hy glad nie so ’n koninklike houding te handhaaf nie. As sý ’n
seerower in haar voorgeslagte gehad het, sou sy haar geskaam het. Maar hy
staan daar met sy donker kop trots op sy breë skouers, en sy hemp wat laag
oopgeknoop is, vertoon ’n sonbruin vel. Sy vind hom afstootlik, het sy haar
pa vertel. Maar sy moet erken – teësinnig, natuurlik – dat hy uiterlik ver van
afstootlik is. Haar frons verdiep. Dit is waarom hy so ’n dunk van homself
het en so meerderwaardig teenoor die vroulike geslag is.
“Señorita, jou frons sal hierdie voortreflike Spaanse wyn laat versuur. Sluk
die frons weg voordat dit gebeur.”
Sy neem die glasie, proe aan die wyn en knik, probeer haar nek só hou dat
sy hoop sy vertoon ook hooghartig. “Nie sleg nie, maar dit kom nie naby mý
land se wyne nie. Ons wyne is van wêreldgehalte.”
Sy is gereed vir ’n bytende antwoord, maar hy glimlag en knik

goedkeurend. “Ek kan altyd lojaliteit bewonder, selfs in ’n vrou.”
Hy het die wind uit haar seile en haar “Dankie” klink glad nie so sarkasties
as wat sy dit wou gehad het nie.
Dries Smit besluit: Hoe minder hierdie twee in mekaar se geselskap is, hoe
beter. “Ek brand om op Kokos te kom. U het nie miskien ’n kaart van die
eiland nie?”
“’n Baie volledige kaart waarop presies aangedui is waar en wanneer en
deur wie daar al gesoek is na die skat.”
“Is jy seker dit is nog daar?”
Die don kyk Andrea aan asof die kat haar ingedra het. Andrea behou haar
meerderwaardige toon: “Ek het maar net daaraan gedink . . . julle is miskien
nie die eerstes wat in die geheim na die skat soek nie. Is dit nie vreemd dat
daar nog nooit deur enigiemand iets gevind is nie?”
“’n Mens kry net iets as jy op die regte plek soek, señorita. Niemand het
nog op die regte plek gesoek nie.”
Sy voel soos ’n onnosel kind en vra opnuut vererg: “En weet jý waar die
regte plek is, señor?”
“Nee, señorita. Dis hoekom u vader hier is. Hý moet die regte plek kry.
Maar die skat ís op hierdie eiland.”
“Het jy bewyse?”
“Ek het nie bewyse nodig nie. Ek wéét net dit is hier.”
Sy glimlag stadig. “Intuïsie, señor? Ek dag dis net vroue wat daaraan ly.”
Hy ontmoet haar blik waterpas. “Dis reg. Vroue het intuïsie. ’n Man het
iets beters – ’n sesde sintuig.” Hy staan op. “Sal ons na die kaart gaan kyk,
señor?” Hy buig beleef in haar rigting. “U kan u solank gaan gereed maak vir
aandete, señorita. Ons eet oor ’n halfuur.” Hy moes die verwarde knip van
haar oë gesien het, want hy vervolg droogweg: “Ek verwag dat dames saans
formeel moet verklee vir aandete. Dis tradisie.”
Sy staar hom ongelowig aan. “Jy bedoel . . . jy bedoel . . . ek moet ’n
aandrok aantrek?”
“Nie heeltemal só formeel nie. As jy nie iets pasliks het nie, sal ek jou
vanaand verskoon. Ons kan die sakie môre regstel voordat ons Kokos toe
vertrek.”
“Voordat . . .? Maar ek gaan mos nie saam met julle Kokos toe nie. Jy het
mos gesê . . .”
“Ek het van opinie verander. Ek het besluit jy gaan saam.”
“Nou regtig! Hoekom?”

Hy glimlag vir haar, maar sy donker oë glimlag nie saam nie. “Om jou
onder oog te hou, señorita. Wat anders?”

3
__
Sy staar fronsend na haar hopie klere wat sy sommer op die bed uitgebondel
het. Sy beter iets “meer formeel” prakseer, anders kry sy dalk nie kos
vanaand nie. Haar grimmigheid het ongelukkig geen effek op haar eetlus nie.
Sy is rasend honger!
Sy pluk ’n donker, noupassende rok uit die bondel. Om dit meer “formeel”
te maak, sal sy ’n spleet aan die kant bewerkstellig. Hoe kaler die rok, hoe
meer formeel is dit mos. En die señor verwag iets meer formeels. Dan kry hy
dit . . . en ’n goeie stuk been op die koop toe.
Daar is nie veel van die halfuur oor wat sy gegun is nie, en ná ’n paar
vinnige hale lipstiffie en oogskadu maak sy stiptelik haar opwagting in die
eetkamer wat vir haar meer soos ’n raadsaal lyk.
Terwyl sy oor die lengte van die vertrek aanstap, begin sy bedenkinge kry
oor haar ingewing met die spleet. Daar is opsigtelik skok en daarna duidelike
ongemak op haar pa se gesig. En die señor, wat hou van formele aandetes,
lyk, na sy geslote gesig te oordeel, geensins beïndruk met háár smaak vir
formele drag nie. Sy koel blik vertel haar hulle gaan môreoggend op ’n
inkopietoer na San José se boetieks.
Of is dit nie die rok wat hom pla nie? Skort daar altemit iets met die been
wat die aantreklike Spaanse rower sien? Voordat sy haar kan bedink, kyk sy
af na haar been. Sý dink nie dit lyk te onaardig nie . . .
“Jy hoef nie my aandag so pertinent op jou anatomie te vestig nie. Ek kan
dit nie miskyk nie,” sê hy bedaard.
Sy sluk. Op dees aarde, níks stel hierdie man tevrede nie! Is sy toe van bo
tot onder, is dit nie goed genoeg nie. Is sy halfpad oop, is dit ook nie reg nie.
Miskien het sy hom verkeerd verstaan. Maar sy het nie.
Ysig kom dit: “Ek het gesê jy moet gaan vérklee – nie óntklee nie.”
Sy kners op haar tande. ’n Mens kan jouself seker ter wille van etlike
miljoene beteuel . . . Maar nie vir ’n sent minder nie!
Sy kry dit reg om tot twee te tel, maar toe moet dit uit: “Waar jy darem ’n
vrou gaan kry om jou klein seerowertjies in die wêreld te . . .”
“Andrea, my kind . . .”
“Hulle sal almal met nagrokke tot by hul tone gebore word.”

“Dis genoeg, señorita!”
“Dis nou te sê as hulle ooit gebore gaan word. Die óóievaar sal hulle moet
bring, anders gaan jy nooit babas hê nie!”
Hy stap met lang hale na haar toe en sê met sy hand onder haar elmboog:
“La comida esta’ en la mesa!” Die woorde word deur stywe lippe afgebyt.
“Wat sê hy, Pa?” vra sy onrustig. Dit voel vir haar sy word summier
gevonnis.
“Hy sê die kos is op die tafel. Kom eet . . . En gebruik asseblief jou mond
om mee te eet en nie te praat nie, Andrea! Jy gaan ons twee nog op straat laat
beland!”
Ten spyte van die ysige beer aan die bopunt van die kolossale tafel, geniet
Andrea die ete terdeë. Een ding is seker: Die man moet ongelooflik ryk wees
om só weelderig te kan leef.
Sy tel ingedagte ’n kandelaar op. “Dis antiek, nè?”
Die ysbeer antwoord: “Ja. Dit is al geslagte lank in die De Vitoria-familie.”
Sy sit dit versigtig neer. “Ek begryp.”
“Jy begryp niks nie, señorita. Ek het gesê in die De Vitoria-familie, nie die
Bonito-familie nie.”
“Was hulle ook seerowers, die De Vitorias?”
Dries Smit versluk hom amper aan sy wyn. Daar begin sy al weer!
“Nee, señorita. Hulle was gesiene handelaars en grondbaronne. My grond
hier op Costa Rica en op Kokos het ek van hulle geërf.”
Sy kyk onskuldig na hom op. “Wanneer het die . . . e . . . vermenging toe
plaasgevind? Dit moes ’n groot skok vir die De Vitorias gewees het.”
“Vermenging?”
“Die samesmelting van ’n respektabele familie met dié van ’n seerower.”
Sy glimlag skielik in sy ontevrede gesig op. “O ja, ek verstaan. ’n Bonitoseerower het natuurlik ’n De Vitoria-meisie ontvoer! Van die land af gegryp
en op sy skip weggevoer! Dis verskriklik romanties!”
Hy kyk haar met openlike afkeer aan. “Jy kyk na te veel onsinnige
Amerikaanse films, señorita. Daar was niks van die aard nie. Sy het heeltemal
vrywillig met hom saamgegaan.”
Haar oë val byna uit haar kop. “Met ’n seerower? Weg van al hierdie
dinge?” Sy beduie oor die tafel. “’n Verfynde meisie, van adellike afkoms,
vrywillig saam met ’n vuil, barbaarse seerower?”
“Ag, Andrea, tog!”
“Señorita, ek het nooit gesê die De Vitorias is van adellike afkoms nie. Ons

is nie. Maar hoe kan jy beweer Bonito was vuil en bar . . .?”
“Alle seerowers lyk mos so!”
“Het jy al een gesien?”
“Ja. In die films is hulle altyd bebaard en vuil en vol littekens.”
Haar pa sluk gespanne aan sy wyn. Geen mens sit aan so ’n deftige tafel,
met sulke puik kos voor jou, met die beste wyn in geslypte glase, met die
silwer skitterend om jou, en praat van vuil baarde nie!
Dit lyk asof die don sy lippe skaars van mekaar kan kry. “Films! Ek het
gesê jy kyk na te veel Amerikaanse snert! Daar was seerowers én seerowers.
Wat van die Engelse boekaniers soos Cox, Davis en Morgan? Daar was die
Fransman Sieur de Grammont en ook Pierre le Grand. Daar was kaptein
Mansvelt, die Hollander . . .”
“Maar hulle was boekaniers, nie seerowers nie.”
“Wat de duiwel is ’n boekanier anders as ’n seerower?” Sy vuis kom so
hard op die tafelblad neer dat die silwersoutpotjie wip.
“Die een was beskaaf en skoon en die ander nie.”
“O, genade!” Dries Smit vou maar solank sy servet op.
Die stilte kan met die swaar tafelmesse in vierkantige blokkies gesny word.
Andrea se lippe gaan oop om olie op die golwe te probeer gooi, maar haar pa
se stewige greep op haar pols laat haar haar mond weer toeklap. Wat gesê is,
is klaar gesê.
“Señorita, señorita De Vitoria was ’n hoogs verfynde dame wat haar nooit
ooit vrywillig aan ’n vuil, stinkende, beswete, bebaarde seerot sou gee nie.
Verstaan jy dit?”
Sy maak eers liggies keelskoon. “Ja, señor.”
“As julle klaar is, kan ons maar opstaan.” Don Alonso voeg die woord by
die daad en sy gaste volg noodgedwonge sy voorbeeld. Hul gasheer het
klaarblyklik alle smaak verloor vir die romerige nagereg wat nog
onaangeraak staan, en met ’n verlangende blik neem Andrea ook maar
afskeid van hare. Don Alonso is nou regtig kwaad en sy moet liewer nie haar
geluk verder beproef nie.
By die deur word daar op baie formele wyse van hulle afskeid geneem.
“Buenos noches, señor, señorita.”
Dit lyk asof haar pa haar oor sy knie wil trek toe hulle hul slaapkamers
bereik. “Nee, regtig, Andrea! Kan jy nie die man uitlos nie?”
“Maar ek weet nie hoe dit gebeur het nie!” verweer sy heftig, hoewel half
skuldig. “Ek het net gevra of die goed op die tafel egte antieke goed is en . . .

toe ek my kom kry, is ons aan die stry!” Sy trek haar skouers agteroor. “En
hy het woorde in my mond gelê wat ek nooit gesê het nie! Dis hý wat van
stinkende seerotte gepraat het! Nou’s dit skielik ek!”
“Ja, ek weet, maar . . .” Haar pa gee sy kenmerkende hulpelose armswaai
en skud sy kop. Al genade is dat Andrea bedags saam met hom sal moet gaan
wanneer hy op Kokos aan die werk spring. Hy kan dit nooit waag om haar
hier by don Alonso in die palacio te laat bly nie. Daar sal moord wees
voordat die skat gevind is.
Die volgende oggend vind Dries Smit sowel as don Alonso ’n baie
bedeesde jong dame aan die ontbyttafel. Sy het vir haarself lang, lang preke
lê en afsteek in die groot dubbelbed waar sy die vorige nag soos ’n
verdwaalde in ’n woestyn gevoel het.
Haar pa het reg, het sy haarself vertel. Wat het sy uit te waai met don
Alonso en sy voorouers? Ja, wat het sy met hom uit te waai? Sy sal haarself
nie weer laat uitlok nie. Haar pa kan maar die skuld op haar pak, maar sy het
die gevoel dat elke rusie tot dusver deur die Spaanse heer veroorsaak is. Hy
lok haar elke keer uit, maar sy gaan nie toelaat dat hy dit weer regkry nie.
Met hierdie vaste en goeie voorneme ontmoet sy die twee mans met ’n
vriendelike glimlag aan tafel. Sy wil-wil haar net vererg vir die agterdogtige
blik in don Alonso se oë. Dié man het darem nie ooghare vir haar nie. Sy
verseker haarself die gevoel is wederkerig toe sy plaasneem sonder dat sy ’n
toegeeflike glimlag van hóm ontvang. Hier doen sy haar bes om lief en
minsaam te wees, en wat kry sy daarvoor terug? ’n Speurende blik wat haar
deurboor asof hy wil sien of al haar binnegoed nog op die regte plekke is. Hy
kan vanoggend regtig nie oor haar kleredrag kla nie. Sy is pottoe. Daar is nie
eens ’n stukkie been te sien nie, want sy het ’n gemaklike langbroek
aangetrek. Hulle gaan mos eiland toe, en dis gemakliker in en uit ’n bootjie
met ’n langbroek. Maar aan die blik wat oor haar heupe gegly het, kon sy ewe
goed kaal gewees het. Ag, die man maak haar moeg!
“Wanneer vertrek ons?” wil sy weet.
Hy antwoord stug: “’n Uur na ontbyt . . . sodra jy vir jou ’n rok aangetrek
het.”
Dries Smit frons. Die man moet darem nie aanhou met Andrea bodder nie.
Sy lyk vir hom heel ordentlik in haar langbroek.
“Is daar iets verkeerd met my broek?” vra Andrea op die daad opstandig.
“Ek verkies dat dames wat in my geselskap gesien word, rokke dra. Ek hou
niks van die moderne vrou se gebroekdraery nie.”

Genugtig, hier begin dit al weer! Net betyds keer sy wat sy regtig wou sê.
Dit is asof sy letterlik voel hoe sy die leisels van haar tong styf intrek toe sy
sê: “Maar, señor, niemand sal my tog op ’n bootjie op die oop see sien nie.
Ek het juis die broek aangetrek omdat ek gedink het dis . . . e . . . ordentliker
met die inklim- en uitklimslag.”
Sy frons is kwaai. “Ag, onsin! Hoekom sal ons met ’n boot eiland toe
gaan?”
Sy kyk haar pa en don Alonso beurtelings aan. “Ons gaan nié met ’n boot
nie? Hoe kom ons dan op Kokos? Met ’n ballon?”
“Baie snaaks, señorita. Ek moet erken, ek vind jou opmerkings soms ’n
bietjie kinderagtig.”
Sy voel haar nekhare rys. “Ek het net ’n eenvoudige, ordentlike vraag
gestel. Pa . . .?”
“Ons vlieg daarheen, Andrea.”
“Vlieg? O! Met ’n vliegtuig?”
Dries Smit kyk don Alonso verskonend aan. “Ek dink nie sy weet presies
waar Kokos lê nie, señor.”
Andrea frons. Sy word nou agterdogtig. “Lê die eilandjie dan nie sommer
net hier om die draai nie?”
“Dis omtrent tweeduisend kilometer van die kus van Costa Rica af.” Sy oë
spot. “Wou jy róéi daarheen?”
“Tweeduisend kilometer! Maar Pa!”
“Wat is dit? Hoekom is jy so ontsteld daaroor? Wat maak dit saak waar die
eiland lê?” wil haar pa weet.
“Dis darem baie ver.”
“Ver van waar?” wil haar gasheer weet.
“Van die beskawing af.”
“Waarvoor is jy bang?”
Sy kyk hom fronsend aan. Daar is nie weghardloopplek nie, wil sy graag
sê. Sy het die gevoel dat solank hierdie man in die omtrek is, sy altyd êrens ’n
agterdeur moet oophou. En ’n eiland het nie juis ’n agterdeur nie. Sy sal moet
swem as sy wil wegkom.
Maar dié ontsnaproete word ook met sy volgende woorde afgesny: “Kokos
is nie ’n primitiewe, afgesonderde eilandjie nie, señorita. Wees gerus. Dit
word gereeld deur toeriste besoek. Al wat daar primitief is, is die haaie.”
“O? Haaie, sê jy?”
Hy begin vriendeliker lyk. Hy hou blykbaar baie van die eiland. “Ja. Maar

om te vergoed daarvoor, is daar geen slange, muskiete, rotte of muise op die
eiland nie. Wat daar wel is, is wildevarke, ’n aantal beeste, ape en duisende
voëls. Dis ’n voëlparadys en ’n oord vir jag – op die wildevarke, natuurlik –
en dit is veral bekend vir sy wonderlike hengelplekke. Amerika se president
Roosevelt het die eiland dikwels besoek om daar te gaan hengel. Stel dit jou
meer gerus dat jy nie heeltemal uit wat jý die beskawing noem, gaan padgee
nie?”
Sy is geensins gerusgestel nie, maar sy knik. Hoekom het sy so te kere
gegaan toe hy haar wou terugstuur Suid-Afrika toe? Nou sal hy haar nooit
laat gaan nie, al is dit bloot uit suiwer seerower-hardkoppigheid.
Hy sien die onsekerheid in haar oë en vra: “Of is daar ’n ander rede
hoekom jy nie so ver wil weggaan nie?”
“Nee, watter rede kan daar wees?”
“Miskien ’n ou kêreltjie wat jy daar anderkant gelos het op wie se briewe
jy wag? Dan kan ek jou ook . . .”
“Ek is nie maansiek nie, señor.”
“O? Dan het jy nie eens ’n spesiale vriend nie? Hoe oud is jy?”
Sy kyk hom waarskuwend aan. Hy moenie weer begin lol nie! “Hoekom?”
“Ek vra maar net. Jy lyk vir my oud genoeg om al getroud te gewees het
met minstens ’n kind of twee.”
Haar humeur dreig. “Señor, ek is twee en twintig. En ons Suid-Afrikaanse
vroue laat ons nie as broeikaste gebruik nie. Hoe oud is jý?”
“Twee en dertig.”
“’n Mens sal dit nie sê nie.”
“Wel, wat beteken dit? Ek kan dit kwalik as ’n kompliment aanvaar,
komende van jou, señorita,” sê hy vererg.
“Nee, ek . . . bedoel maar net . . . Ek het aanvanklik aanvaar jou señorita
bly seker op Kokos en jy hier.” Daar is so ’n halwe snorklag van haar pa se
kant af, maar sy lig haar oë onskuldig na die hoof van die tafel op. “Maar
later – toe ek hoor wat jy van vroumense dink – het ek geweet ek moet
verkeerd wees. Jy het blykbaar nog nie daarin geslaag om ’n nooi te kry wat
kans sien om net plesier en broeikas te wees nie.”
Sy gesig is onleesbaar. “Verkeerd, señorita. Ek hét iemand in die oog. Ek
is nog net besig om haar te leer . . . om haar plek te ken.”
“Werklik?” Sy wens hy wil stilbly. Sy wil niks van sy vrysake af weet nie.
Dis seker so droog soos die ou wyn wat hy gisteraand vir hulle geskink het.
Maar sy sal graag wou sien hoe lyk die mal señorita – want mal móét sy wees

– wat don Alonso in die oog het.
“Kry jy darem al iets uitgerig? Is sy darem vatbaar?”
“Andrea!”
“Vatbaar vir die lésse, Pa!”
“Dit sukkel maar ’n bietjie, maar ek sal haar wel regkry.”
“Foei tog. ’n Bietjie dom, hm?” Of sommer gewoon onnosel om met jóú
deurmekaar te raak, voeg sy swyend by.
“Ek hoop nie so nie, señorita. Sy moet vir my eendag ’n hele klompie
kinders gee,” antwoord hy gelykmatig.
“Ja, natuurlik. Maar jy moenie te lank wag nie, señor. Jy weet, ’n mens se
tyd gaan verby vir sulke dinge.”
Hy knik ernstig. “Ek sal onthou, señorita. Wyse raad. Dankie.”
“Ek neem aan sy is ook uit die een of ander adellike familie?”
“Hoekom adellik? Dis nie ’n vereiste nie.”
“O, nee, ek het maar gedink . . . daar is nou al seerowers en status gekruis.
Julle kort nou nog net ’n kroon.”
“Andrea . . .”
“Pa, wie het hiermee begin? Wie het eerste uitgevra oor ouderdom? Wie
het eerste gepraat van behoort getroud te wees en behoort al ’n dosyn
kleintjies te hê en . . .”
Sy kyk die man boosaardig aan toe hy skielik hardop lag en sy donker oë
vonkel van die pret – pret ten koste van háár, weet sy.
“Señorita, jy hét hoë aspirasies. Jy sal ook moet begin. ’n Mens se tyd gaan
verby vir sulke dinge. Hierdie goeie raad het iemand my onlangs gegee.”
“Ag, gaan bars!” skel sy onderlangs op Afrikaans en haar pa kyk hul
gasheer vinnig aan.
Dié knik net, met die lag weg uit sy oë. “Ek weet nie presies wat dit
beteken nie, maar ek kan my voorstel. Jou dogter se opvoeding laat veel te
wense oor, señor Smit.”
“Ek is jammer. Sy het meestal alleen by haar ma grootgeword . . .”
Andrea voel sy kan ontplof. Voordat sy egter haar pa oor sy gebrek aan
lojaliteit kan beetkry, laat don Alonso met oortuiging hoor: “Dit sal egter
reggestel word. Voordat sy Kokos verlaat, sal sy ’n dame wees.”
“Wie sê?”
Dan is die glimlag weer daar. “Dit sal vir my ’n plesier wees om jou ’n
lewensles of wat te leer.”
“’n Seerower gaan vir mý leer?”

“Daar is báie dinge wat jy sal moet leer. Is julle klaar? Dan kan ons gaan.
Solank ek en die señorita inkopies doen, kan jy solank Costa Rica verken,
señor. Ek glo jy sal dit geniet.”
Dries Smit glimlag. Ver en vreemde plekke is sy kos en grootste vreugde.
“Sekerlik, señor.”
“Inkopies?” wil Andrea weet.
“Ja, señorita. Jou eerste lesing is voor die deur: Hoe om soos ’n dame aan
te trek. Kom.”
Sy kyk hulpsoekend na haar pa, maar kan geen hulp uit daardie oord
verwag nie. Hy staan hom en verkyk aan die kroonkandelaar bokant hul
koppe, asof hy dit nou die eerste keer opmerk.
“Señor, ek sal nie toelaat dat jy vir my klere koop nie! Dis onbehoorlik.”
“Onbehoorlik?”
Haar wange is warm. “Ja. Ek is geleer ’n . . . ’n dame laat nie toe dat ’n
vreemde man vir haar klere koop nie. Dis . . . swak smaak, swak opvoeding .
. . e . . .”
“Ek gaan nie vir jou klere koop nie, señorita. Ek gaan jou maar net leiding
gee om sélf die regte klere te koop. Jy gaan ook self daarvoor betaal.” Sy oë
tart uitdagend. “Jy is mos vol geld, dan nie? Kan mos selfs vir mý uitkoop . .
.”
Sy staan vinnig op. Nee kyk, wat te erg is, is te erg! “Dis mý geld, en jy
gaan nie sommer mý geld rond en bont uitgee nie!”
Dries Smit tree tussenbeide. “Moenie so hardkoppig wees nie, Andrea! Ek
dink dis ’n goeie plan. Gaan koop vir jou ’n paar mooi goedjies. Dis nie elke
meisie wat aan die ander kant van die aardbol inkopies kan gaan doen nie.
Gaan kry vir jou iets wat jy kan saamneem huis toe as ’n aandenking.” Hy
sug toe hy haar bot gesig sien. “Ek sal jou alles terugbetaal sodra ek my
aandeel kry. Ek belowe!”
“Hmpff! Daardie aandeel sal ek glo wanneer ek dit sien.” Sy aarsel. Haar
pa het ’n punt beet. En al dink hierdie danige Spaanse señor daar skeel so
baie áán en mét haar dat sy kwalik as ’n vrou bestempel kan word, ís sy een.
Sy het nog nie veel aan haarself bestee nie. Sy kan gerus ’n paar stukkies
klere bykry . . .
Sy moes voet by stuk gehou en hom na sy peetjie gestuur het, besluit sy ’n
hele rukkie later. Om saam met die don inkopies te doen, is geen plesier nie.
Met alles wat vir haar mooi is, vind hy fout.
“Jy wil van my ’n Spaanse dame maak en dit sal ek nooit wees nie!”

protesteer sy later briesend.
Die antwoord is ewe koel: “Sulke hoë aspirasies sal selfs ék nooit hê nie,
señorita. Nee, ek wil jou net sover kry dat jy darem gangbaar is.” Sy
arendsoog het die rooi bikini wat sy onder die rokke ingedruk het, klaar
raakgesien. “Daardie ding koop jy nie. Sit dit terug.”
“Dis mý geld . . .”
“En dis mý dak waaronder jy sal vertoef. Jy sal nie so iets daar aantrek
nie.”
Andrea sluk en gooi dan maar om vredesonthalwe die stukkie swemklere
eenkant toe. Sy wonder klaar wat die verkoopsdames dink. Don Alonso is ’n
baie bekende persoon in San José.
Pak onder die arm staan sy eenkant toe don Alonso betaal. Sy het hom net
een kyk gegee en prontuit gesê: “Dis jóú klere hierdie. Jý het dit uitgesoek. Jý
betaal daarvoor.”
Hy het met ’n glimlaggie gehoorsaam en die verkoopsdame het breed
geglimlag. “Kom gerus weer, don Alonso. Dis altyd aangenaam om u tot
diens te wees.”
“Dankie, señorita. Adios.”
Andrea kyk skuins op na hom toe hulle terugry. Sy weet sy moet nie, maar
sy kan die vraag nie keer nie: “Doen jy hierdie soort ding gereeld?”
“Watter soort ding?”
“Om klere vir vroue te koop. Ek het die indruk gekry jy is ’n ou en
gewaardeerde klant in daardie dameswinkel.”
Hy werp haar ’n skuins blik toe en antwoord ernstig: “Ja. Ek tel dikwels
goed daar vir my ouma op.”
Sy kyk vinnig weg. Ouma! Hy moet dink sy is onnosel. Sy is nie genoeg
van ’n dame vir hom nie, maar hy is ’n ander soort “heer”. Koop klere vir
vroue, en dring agterna seker op “betaling” aan. Die kamtige heer sal
natuurlik nou betaling van haar ook wil hê . . . op sý voorwaardes. Maar
hierdie keer gaan hy hom vasloop, besluit sy. Laat hom net iets probeer . . .
“Regtig, señorita, as jy so gaan aanhou, gaan jy ’n plooi tussen jou oë hê so
diep soos die Grand Canyon voordat jy drie en twintig is. Lag tog ’n slag!”
Sy draai haar gesig weg van sy speurende blik en mompel vererg: “Ek voel
g’n lus vir lag nie. Waarvoor moet ek?”
“Ek moet sê ek het lank laas ’n ondankbaarder skepsel as jy teëgekom.
Hier sit ons met ’n kattebak vol klere waarvoor ék moes betaal, en jy lyk asof
ek jou ’n enkelkaartjie Siberië toe present gegee het. Soveel nuwe klere sal

elke ander vrou laat oorborrel van plesier, maar jy . . .”
“Ek is nie elke ander vrou nie, señor.”
“Dit weet ek teen hierdie tyd. Vertel my iets nuuts.”
Regtig, dié man! “Jý het daardie spul klere op my afgedwing. Ek sou dit
nooit gekies het nie. Elke mens betaal self vir dit wat hy graag wil hê, dankie.
En onthou asseblief: jou voorbarigheid gaan geen voordele inhou nie.”
“Ekskuus?”
Sy bly stil. Sy het weer te vinnig gepraat. Sy het geen bewyse dat die don
die soort man is wat op vergoeding sal aandring nie. Sy roer haar skouers
ongemaklik onder sy skroeiende blik. Natuurlik moet hy daardie soort man
wees! kom sy tot haar eie verdediging. Watter man koop ’n bagasiebak vol
klere vir ’n vrou en verwag nie iets in ruil daarvoor nie? Hy moet nog gebore
word! Maar don Alonso is lank gelede gebore en sy is self nie van gister af
op hierdie aarde nie.
“Jy het gesê, señorita?”
Sy lek oor haar lippe wat skielik droog voel, heilig oortuig hy kan hoor hoe
haar gedagtes maal. “Ek wil dit maar net aan jou tuisbring dat ek nie volgens
jóú smaak op ’n eiland tweeduisend kilometer van die beskawing af gaan
paradeer nie.”
Sy oë, wat nog ’n rukkie stil op haar bly rus, vertel haar dat hy nie so
oortuig is dat dit dít is wat sy bedoel nie. Dan besluit hy skynbaar om haar die
voordeel van die twyfel te gee en sê net kortaf: “Ek is nou hartlik siek van jou
gesanik. Loop dan maar kaal rond as jy so voel!”
Sy laat ’n lang, stadige, onhoorbare sug uit haar gespanne boesem ontsnap.
Genade, dit is een ding om parmantig te wees, maar dis ’n ander ding om ’n
man sonder bewyse van immorele gedrag of bedoelings te beskuldig.
Sy is hartlik dankbaar om haar pa op die sypaadjie te sien waar hy staan en
wuif om hul aandag te trek.
Toe hulle ’n ruk later by die lughawe kom, wag daar nog ’n verrassing.
Andrea en haar pa volg maar waar don Alonso lei, wissel net ’n vlugtige blik
toe hulle sien hulle is op pad na ’n sessitplek-privaatvliegtuig. Hulle wissel
weer ’n blik toe hulle sien don Alonso skuif self agter die stuur in. Natuurlik!
Wat kon haar laat dink het dat hy nie sy eie vliegtuig sal hê én dit self sal
loods nie? Om vir so ’n man te wil vertel sy sal hom kan uitkoop . . . met
driehonderd en vyftig duisend randjies!
“Wat amuseer jou so geweldig, señorita?”
Sy ontmoet sy oë, kyk dan weg, skud haar kop en laat laggend hoor: “Nee,

ek dink sommer net, señor.”
“Ek het jou reeds gesê dis ’n gevaarlike ding vir ’n vrou om te doen.”
Sy kyk terug na hom, al die geamuseerdheid weg, en laat waarskuwend
hoor: “Moenie weer begin nie, señor!”
Maar dis sý beurt om te lag en sy kop te skud terwyl hy die vliegtuig op die
aanloopbaan rig. “Ons begin maar nou eers, señorita.”
“Wat bedoel jy? Señor, as jy so gaan aanhou sukkel met my, kan jy my
maar nou aflaai!”
“Te laat, señorita. Ons is reeds in die lug . . . behalwe as jy bedoel ek moet
jou in die see afgooi?” Dan versober sy gesig effens, en hoewel die donker oë
steeds vonkel, klink sy volgende woorde nie tergend nie, maar eerder na ’n
dreigement: “Ons is op pad Kokos toe, Andrea Smit . . . en jy het geen idee
wat daar alles op jou wag nie!”

4
__
Andrea Smit vergeet haar bedenkinge ná don Alonso se geheimsinnige
woorde toe hulle eindelik die eiland onder hulle sien lê. Hoe laer hulle sak,
hoe skouspelagtiger word die toneel onder haar. ’n Tropiese eiland lyk altyd
vanuit die lug soos ’n groen smarag op ’n blou fluweelkussing en aangesien
dit Andrea se eerste ervaring is, laat dit haar sprakeloos.
“Dis . . . asemrowend!” fluister sy met ontsag.
Don Alonso se blik is die eerste keer warm op haar. Kokoseiland lê baie na
aan sy hart. Haar uitroep van bewondering maak dat sommer ’n klomp swart
kruisies teenoor haar naam doodgetrek word.
Daar is onverbloemde trots in sy stem toe hy hulle inlig: “Soos julle aan
die twee spitse reg onder ons kan sien, het Kokos ’n vulkaniese oorsprong.
Julle kan hiervandaan ook duidelik die twee hoofbaaie sien – Chathambaai is
die een aan die noordoostelike kus. Daar waar die bote meestal anker, soos
julle kan sien. Waferbaai is die ander een. Daar is ’n klein regeringspos wat
onder meer toesig hou oor die skatsoekery.” Dis duidelik dat hy nie van plan
is om daar te land nie, want die vliegtuig se neus swaai weg. “Vroeër is die
eiland uitsluitlik gebruik as ’n strafkolonie. Gelukkig het hulle daarvan
afgesien. Die eiland is in die besit van die Costa Rica-regering sedert 1888 en
dit staaf my siening dat hulle nie geregtig is op die helfte van wat hier gevind
word nie.”
“Hoe so?” wil Dries weet.
“Bonito het sy skat al in 1818 of 1819 hier kom versteek, lank voordat
Costa Rica enige seggenskap hier gehad het. Selfs kaptein Thompson van die
Mary Dear het sý skat voor Costa Rica se oorname hier kom versteek, reeds
in 1826.”
“Hier is dus meer as een skat?”
“Ja. Wie die berekening gedoen het, weet ek nie, maar daar word beweer
dat hier waarskynlik ’n honderdmiljoen dollar se skatte lê en wag om ontdek
te word, dié van Bonito en Thompson definitief.”
Teen haar sin is Andrea se belangstelling geprikkel. Tot dusver het sy nog
altyd skepties gestaan teenoor hierdie danige skat – of soos sy nou hoor:
skatte – en sy kon nie regtig opgewonde raak daaroor nie. Maar noudat

Kokos in al sy glorie in die son onder haar skitter, kry sy die gevoel dat
enigiets hier moontlik is – dat daar selfs seerowerskatte te vinde kan wees. En
sê nou haar pa gaan die gelukkige een wees om dit te ontdek?
“Waaruit bestaan die skatte, Bonito s’n veral?” wil sy weet.
“Dis glo hoofsaaklik afkomstig uit Peruviaanse kerke wat hy geplunder
het.”
Sy kyk hom geskok aan. “Kérke geplunder? Maar hy behoort hom mos te
skaam!”
Hy hou sy gesig ernstig, hoewel sy een mondhoek suspisieus trek. “Ek
dink nie hy is nou meer in staat om te bloos nie, señorita.”
“Maar kérke! En daardie danig verfynde De Vitoria-dame met wie hy
getroud was . . . Het sy nie omgegee dat haar man kerke besteel nie?”
“Dit sal ek nie kan sê nie. Feit bly, as hý dit nie besteel het nie, sou iemand
anders. Wat jy moet verstaan, señorita, is dat die meeste van die goed in
daardie kerke reeds gesteelde goed was. Ons praat van die negentiende eeu,
nie die twintigste eeu nie.”
Sy kyk hom ontevrede aan, voel vreemd teleurgesteld in hom. Dat hy so
iets nog probeer goedpraat! Hy behoort hom ook te skaam. Maar hy is mos
Bonito se agter-agterkleinkind. Hy sál dit goedpraat. Trouens, hy volg perfek
in sy oergrootjie se voetspore. Hy wil nou die skat terugsteel sonder dat die
regering daarvan weet!
“Steel is steel, señor!” sê sy streng. “Om darem ’n kerk te plunder . . . Dis
verskriklik!” veroordeel sy sonder skroom.
Hy knik. “Mag wees, maar dit sou veel erger gewees het as hy gewone
mense se goed geplunder het. Want die gewone mense was toe brandarm. Die
kerke het destyds al die skatte gehad. Nee, ek is trots op my voorsaat dat hy
die regte keuse gedoen het.” Met ’n skuins glimlag na Dries keer hy vinnig
die stortvloed verontwaardiging: “Ons gaan land. My grond lê nou reg onder
ons. Daar oorkant tussen die bome kan julle die palacio sien.”
Hulle kom ’n rukkie later op die aanloopbaan tot stilstand, en dadelik is
daar helpende hande om die bagasie aan te dra huis toe. Hulle stap sommer
die klein entjie en teen haar sin moet Andrea erken dat dit ’n idilliese plek is
wat don Alonso hier het.
Hy kyk op haar af. “Welkom op Kokos, señorita. Moenie dat die gedagte
aan my verskriklike voorsaat jou verblyf hier vertroebel nie. Die palacio het
niks met Bonito te doen nie. Alles hier, ook alles in die palacio, is wettig en
eerbaar deur die De Vitoria-familie deur die eeue bekom. Jy kan gerus slaap.

Niemand sal by jou kom spook nie.”
Die palacio is nie so ’n groot plek en het nie sulke saalagtige vertrekke
soos sy huis op Costa Rica nie, maar dit is net so weelderig en met
soortgelyke kosbare antieke stukke gemeubileer.
Die klere wat Andrea in San José gekoop het, sal by hierdie plek pas. Toe
sy gereed maak vir aandete, soek Andrea tussen die nuwe voorraad en voel ’n
opgewonde tinteling deur haar gaan toe sy haarself in die spieël beskou. Toe
sy die klere in die winkel aangepas het, moes sy op en af voor die heer
Alonso paradeer waar hy, kiertsregop op ’n stoel, haar van alle kante krities
beskou het. Noudat sy tyd het om met aandag na haarself te kyk, besef sy dat
don Alonso se smaak haar beslis aanstaan. Sy smaak is net te duur na haar
sin. Aangesien dit egter nie uit haar beursie betaal is nie, kan sy dit maar ten
volle geniet. Dis hopelik met die De Vitoria-erflating betaal, nie met wat uit
kerke gesteel is nie.
Hierdie keer is die reaksie op haar verskyning heelwat anders as die vorige
keer. Haar pa lyk soos net ’n trotse pa kan lyk, en die gasheer . . . die gasheer
se gesig bly eers geslote en onleesbaar, totdat hy die verergde vonkies in haar
oë sien en besluit om haar nie verder te terg nie. Soos ’n ridder kom buig hy
voor haar, neem haar hand en kus dit.
“Muy bonito,” prewel hy oor haar hand.
Haar oë flits vraend na haar pa. Kan die man nie in ’n verstaanbare taal sê
wat hy wil sê nie? Haar pa se glimlag en goedkeurende blik stel haar egter
gerus. Vir ’n wonder sê don Alonso sowaar mooi dinge vir haar. Sy glimlag
vir die eerste keer sover sy weet spontaan na hom en dit ontlok ’n verdere
Spaanse woordevloed.
“Andrea es la mas hermosa de las mugeres!”
Sy kan dit nie meer hou nie. “Wat práát die man, Pa?”
“Vra hom self, my kind,” glimlag haar pa goedig.
Don Alonso vertaal, sy oë waarderend op haar: “Andrea is die mooiste van
alle vroue!”
Sy kyk hom onseker, effens agterdogtig aan. Sy woorde maak haar
onrustig. Sy weet sy lyk nie onaardig nie, maar sy is geen Hollywoodskoonheid nie. Hy plak dit net ’n bietjie te dik aan.
Die welbekende frons vervang sy glimlag. “Wat pla, señorita? Wil jy meer
hoor?”
“Nee, regtig, dankie . . .”
“Weet jy nie eens hoe om ’n kompliment te aanvaar nie?” Hy is duidelik

omgekrap en sy vervies haar ook sommer.
“Natuurlik weet ek! Dink jy dis die eerste keer in my lewe dat iemand my
komplimenteer? Maar . . .”
“Maar wat?”
Dries Smit kyk hulle moedeloos aan.
“Maar sodra daar buitensporigheid bykom, weet ’n mens dis vals.”
“Wat was buitensporig aan wat ek gesê het?”
“Dat . . . dat . . . Aag, los dit!” Wat makeer haar om so te bloos? ’n Mens
sou sweer sy is ’n bakvissie!
“Ek is verplig om myself te korrigeer. Jy mag lýk soos die mooiste van alle
vroue, maar ek twyfel of jy dit ís.”
“Wat? Hoe durf jy . . .” Sy ysige woorde kwets haar onverwags.
“Daar moet iets met ’n vrou skort as sy kwaad word wanneer sy hoor sy is
mooi. Ek het so iets nog nooit belewe nie . . . Sal julle my asseblief verskoon
van aandete? ’n Geruste nag.”
Nog voordat Andrea se mond kan oopval, is hy reeds by die vertrek uit.
“Andrea, my kind . . .”
Sy laat haar kop sak, voel skielik aaklig. “Ek is jammer, Pa. Ek weet ek het
my baie swak gedra. Ek . . . weet nie . . . wat oor my gekom het nie.”
Vir die eerste keer is haar pa se stem ook koel. “Ek wonder self wat met
jou aangaan. Jy gaan daardie man om verskoning vra. Dadelik.”
“Maar hy is by die huis uit,” skerm sy.
“Dan doen jy dit wanneer hy weer inkom . . . al wag jy tot twaalfuur
vannag. Don Alonso verdien nie sulke blatante ongeskiktheid nie, Andrea.
Dit verbaas my dat ons nog hier op Kokos geduld word.”
“Ja, Pa.”
Sy en haar pa eet alleen en sy weet regtig nie wat sy eet nie. Ná ete gaan sit
haar pa by die kaart van die eiland wat op die tafel oopgesprei lê, en sy dwaal
rusteloos rond. Waar sou hy in die donker heen wees?
Later sê haar pa hy gaan slaap, hy wil vroeg môreoggend op ’n
verkenningstog gaan. Sy bly dus alleen agter en raak al meer bedees hoe later
dit word.
Sy kan van verligting en senuwees huil toe sy uiteindelik don Alonso se
voetstappe hoor. Sy spring op. Sy het twee ure gehad om haar toesprakie
agtermekaar te kry, maar haar verstand staan nou botstil.
Hy kom binne en sy kyk hom verbaas aan. Hy dra ’n rybroek en kamaste
en sy hare is deurmekaar en windverwaai. Hy stap na ’n lig om dit af te

skakel en dan eers sien hy haar raak. Hy kom tot stilstand. Die wind het nie
die kilheid uit sy oë weggewaai nie, sien sy.
“Dis al laat. U moet ook gaan rus, señorita. Goeienag.”
“Señor . . .”
“Jy hoef nie.”
“Hoef nie wat nie?”
“My om verskoning te vra nie. Ek sien jy vind dit nog swaarder as om ’n
kompliment te ontvang.”
Sy sluk. “Asseblief, ek wil . . .”
“Señorita Smit, my een voorsaat was ’n seerower, ja, en hy het kerke
besteel, maar hy het nie mense gemartel nie. Hy was dalk ’n dief, maar nie ’n
sadis nie. Gaan slaap nou.”
“Maar, kragtie, hou nou jou mond dat ek ook iets kan sê!” Nou is haar
senuwees aan flarde! Sy stap reg op hom af, spits haar ken op na hom toe.
Maggies, hy lyk nou kompleet soos sy seerowergrootjie met sy deurmekaar
hare en gepofde rybroek. Hy kort nog net ’n kapmes of swaard in die hand.
Dan sis sy stem oor haar. “Señorita, ek is by my perke, ek waarsku jou!
Waarvoor de duiwel lag jy?”
“Ek wou jou ’n kompliment maak, señor. Ek wou jou sê dit was ’n
pragtige kompliment wat jy mý gemaak het en dis wederkerig.”
Sy frons is onheilspellend. “Wederkerig?”
“Ja. Soos jy nou hier voor my staan, kan ek verstaan hoekom señorita De
Vitoria alles prysgegee het en vrywillig saam met Bonito weg is na sy
seerowerskip. Dis nou as Bonito enigsins so aantreklik was soos wat jy nou
is.”
Hy staar haar net aan en sy begin deur toe beweeg. “Goeienag, señor,” sê
sy en by die deur waag sy dit om oor haar skouer te kyk, vas teen sy kwaai
frons. “Señor, jy het my belowe jy gaan my baie dinge op Kokos leer. Dit lyk
my nie een daarvan is hoe om ’n opregte kompliment waardig en met grasie
te ontvang nie.”
“Ek sal jou meer as dit leer, señorita.” Sy het nie geweet hy kan so vinnig
beweeg nie, maar hy is skielik by haar en haar skouerknoppe word stewig
vasgevat. Die donker oë glinster diabolies in haar verskriktes af. “’n Mens
bedank iemand vir ’n kompliment. Ek wil jou bedank vir die een aan my
gerig . . . en daarna sê jy op dieselfde wyse dankie vir die een aan jou gerig.”
Sy het nie ’n benul waar sy bedanking eindig en hare begin nie. Toe sy
weer tot verhaal kom, hoor sy hom teen haar lippe fluister: “Jy sal maak dat

ek heeltemal verslaaf raak aan komplimente, señorita!” Dan word sy plegtig
by die deur uitgedruk en word dit vinnig agter haar toegetrek.
Die volgende oggend weet Andrea nie hoe sy ’n sekere persoon in die helder
daglig in die oë gaan kyk nie. Sy voel vies vir haarself. Dis darem wonderlik
waarvoor ’n mens kans sien wanneer dit donker is – dinge wat jy in die
helder oggendson nie eens sou oorweeg nie. Wat het haar besiel om sulke
snert kwyt te raak? Don Alonso kon nie anders nie as om die indruk te kry
dat sy met hom flankeer nie. Sy het, moet sy dan verleë aan haarself erken.
Daardie Spaanse tafelwyn moes na haar kop toe gegaan het. Haar gasheer kan
net een gevolgtrekking maak: Sy het by hom aangelê. Hy dink natuurlik nou
sy is goedkoop. Maar hy het darem ook nie op hom laat wag nie! praat sy
amper hardop. Hy trek verniet sy neus vanoggend vir haar op. Hy is ook maar
soos alle ander mans: sal nie ’n kans laat verbygaan nie. Dan is hy nog ’n
seerower op die koop toe en sal van elke geleentheid gebruik en misbruik
maak . . .
Nee, sy kan nie sê hy het misbruik gemaak nie. Hy het haar ná daardie
wonderlike soen netjies uit die vertrek gehelp en die deur toegetrek. As hy
wou, kon hy haar soos ’n egte seerower in sy arms geneem en in ’n ander
rigting met haar geloop het. Maar hy wou blykbaar nie . . .
Toe sy moet besluit wat om aan te trek, val haar keuse op haar ou,
betroubare langbroek. Dis van nuwe rokke en komplimente dat dinge lyk
soos dit vanoggend lyk.
Dat haar keuse nie sy goedkeuring wegdra nie, is onmiddellik duidelik toe
sy haar verskyning maak, maar dit skeel haar min. Van situasies waarin
komplimente uitgedeel kan word, bly sy weg in die toekoms.
“Hoe laat wil Pa gaan? Sommer net na ontbyt?” vra sy terwyl sy lustig aan
die kos wegval. Sy het gisteraand beslis nie haar ete geniet nie.
“Ja, dis die plan.”
Die gasheer se bekende frons verdiep. “Moet ek daarvan aflei dat jy saam
met jou pa wil gaan?”
“Ja.”
“Dit kan ek nie toelaat nie.”
Haar bekende frons verskyn ook nou. “Hoekom nie?”
“Jy gaan nie alleen op die eiland ronddwaal nie.”
“Pa is mos by my!”
“Ek ken jou reeds goed genoeg om te weet jy sal nie by jou pa bly nie en

hier is soms allerhande ongewenste elemente . . .”
“Ek kan myself verdedig . . .”
Sy oë is spottend. “Jy lyk daarna. Hier is genoeg te doen in die palacio.”
“Soos wat?”
“Soos briewe tik . . .”
“Jy het my pá gehuur, nie vir my nie!”
“Andreatjie . . .”
“Nee, maar basta met hom, Pa! Ek staan nie in sy diens nie.”
“Jy staan onder my jurisdiksie solank jy op Kokos en onder my dak is,
señorita Smit. Dít moet jy duidelik verstaan. Die saak is afgehandel. Jy
verlaat nie die palacio se gronde sonder my verlof nie.”
Met ’n lang lip staan sy by haar pa terwyl hy die nodige vir die aanvang
van sy soektog bymekaar kry.
“Hy is onuitstaanbaar!” blaas sy steeds stoom af. “Ek sweer hy is
gereïnkarneer.”
“Hoe nou? Wat bedoel jy?”
“Hy is net te ongelooflik Middeleeus om regtig ’n produk van die
twintigste eeu te wees. Hy is sy grootjie-seerower wat gereïnkarneer is. Hy
móét wees!”
Dries skud sy kop, lag dan tog met ’n simpatieke lig in sy oë. Andrea was
nog altyd ’n baie onafhanklike wese, en veral ná haar ma se dood, en met
haar pa altyd êrens op ’n uithoek van die aardbol, het sy geleer om vir
haarself te dink en te doen. Om nou soos ’n dom skoolkind behandel te word,
moet swaar wees. Dit mag die etiek wees onder die hoë Spanjaarde, maar dit
gaan nie deug met hierdie dogter van hom nie. Hy beter die skat gou kry . . .
Andrea staar haar pa vies agterna en gaan sit op die patio. Sy kyk
hulpeloos om haar rond. Hoe op aarde gaan sy hierdie lang dag omkry, en die
ander wat nog moet kom, as sy soos ’n Spaanse edelvrou heeldag handjies
gevou in die palacio moet sit? Haar lippe trek smalend. As sy in der waarheid
’n Spaanse dame was, sou sy, soos ’n sekere Spaanse heer oor die saak voel,
haar hande vol gehad het met al die klein Spanjaardjies. Maar danksy die
gode is sy nou nié ’n Spaanse dame nie en is haar altyd besige hande so ledig
dat sy kan gil daarvan.
Maar toe sy werk kry, is haar ledige hande geensins gewillig om besig te
raak nie.
“Ek was netnou ernstig. Ek sal dit waardeer as jy ’n paar briewe vir my
kan tik,” hoor sy ’n stem agter haar sê.

Sonder om om te kyk, sê sy: “Ek kan nie tik nie.” Dit word op ’n stemtoon
gesê wat dit laat klink asof dit ’n prestasie is.
“Alle vroumense kan tik. Wat kán jý dan doen?”
“Belangriker dinge.”
“Soos?” Die skeptiese toon in sy stem vertel haar dat hy dit sterk betwyfel
of sy enigiets kan doen.
“Soos mans was en skeer.”
“Wat?”
“Mans was en skeer,” herhaal sy en kyk om na hom.
Sy gesig is ’n stywe masker. “Is jy ernstig?”
“Natuurlik! ’n Hele paar honderd mans het die afgelope paar jaar onder my
hande deurgeloop. Ag, jy weet, ’n mens raak gewoond daaraan. Dis later soos
jou eie gesig: ’n mens sien dit nie meer raak nie.”
“Señorita, asseblief . . .”
“Maar dis ’n verpleegster se werk, señor!”
“Vanselfsprekend . . . maar die gedagte staan my nie aan nie.”
“Watter gedagte? Dat ’n vrou ’n siek man moet was en skeer en . . .”
“Asseblief! Nee! Nee, die gedagte dat daar al hónderde vréémde mans
onder jou hande deur is, ontstel my.”
Andrea kan bars van die lag. Voorwaar! Hy hoort in ’n klooster op die
hoogste kruin van die Himalaja-gebergtes! “Hoekom? Kry jy die mans
jammer? Ek verseker jou nie een het klagtes gehad nie. Ek is ’n goeie
verpleegster,” laat sy trots hoor.
Don Alonso se gesig verander nie. “Gaan jy terug na daardie . . . e . . .
beroep wanneer julle teruggaan?”
“Natuurlik. Dis dan al wat ek kan doen.”
“Jy kan trou en kinders hê.”
“Ag, genade, nee. Ek wil nie nou al trou nie. Ek is nog gans te jonk.”
“Nie te jonk om vreemde mans te was en . . .”
“Verpleging is ’n edel beroep, señor!” Sy begin haar vererg.
“Natuurlik is dit, maar dit pas nie by alle vroue nie.”
“En hoekom sal dit nie by mý pas nie? Ek is nie ’n Spaanse dame wat in ’n
glaskasteel opgesluit word totdat sy in ’n broeikas moet verander nie.”
Sy is oortuig dit is ’n egte Spaanse vloekwoord uit sy grootjie se
woordeskat wat gedemp oor sy lippe kom. “Jy verstaan my moedswillig
verkeerd!”
“Ons verstaan mekaar glád nie, señor – moedswillig of nie moedswillig

nie. Ons sál mekaar nooit verstaan nie.”
“Natuurlik sal ons mekaar verstaan as jy nie so hardkoppig is nie. Maar jy
hou vol om dinge te sê wat jy goed weet my in die harnas gaan jaag!”
“Maar ek praat die waarheid! Of wil jy voorgee ek staan jou en belieg?
Kom lê dan en gee my ’n kom water en ’n waslap. Dan sal jy self sien hoe
handig ek is . . .”
“Genugtig! Ek betwyfel nie jou bekwaamheid nie! Ná ’n paar honderd
mans onder jou hande deur is, behoort jy dit in jou slaap te kan doen! Dis net
. . .”
“Dis net wat? Wat krap jou om?”
“Die feit dat jy mans al só goed ken dat hulle nie meer vir jou vreemd is
nie.”
“Jy verstaan my verkeerd!” baklei sy terug. “Ek het dit nie só bedoel nie!”
“Jy het self gesê hulle is so bekend soos jou eie gesig!”
“Ja, ek het, maar . . .” Sy ruk haar asem in. Grote griet, waaroor staan hulle
en baklei? Dis ongelooflik!
“Daar! Jy kan dit nie ontken nie! Hoe kan jy verwag om geluk en
vervulling in jou huwelik te vind as jou man vir jou so bekend soos jou eie
gesig in die spieël gaan wees?”
Sy kyk hom verbaas aan. Hy is óf nie reg aanmekaar gesit nie óf hy is die
jaloersste man op aarde. Sy sal haar maar moet aanpas en saamspeel. Hy lyk
werklik ontstig.
“A, maar, señor, die man met wie ek eendag gaan trou, sal baie, baie
spesiaal wees. Hy sal daardie iets hê . . . daardie spesiale iets . . .”
“Jou man, señorita, sal beslis ’n baie spesiale iets moet hê . . . ’n spesiale
genade om met jou getroud te kan bly.”
Met dié verdoemende woorde stap hy die huis binne en sy staar hom
agterna. Wat op aarde sou die Spaanse señor só ontstel het?
Sy dwaal tuin toe, al verder van die palacio af weg. Later sien sy dit glad
nie meer nie. Dit hinder haar nie. Haar weg is nog deur geen hek of draad
versper nie, en sy vorder ongehinderd totdat sy later op ’n paar rotse tot
stilstand kom.
Sy kry nou baie warm in die langbroek en van die oefening, want sy het
vinnig gestap omdat sy self ook ontstig is deur die gesprek met don Alonso.
Die poel tussen die rotse lyk baie aanloklik. Sy kyk om haar rond. Niemand
is in sig nie. En as hierdie kusstrook aan die palacio behoort, soos sy aanvaar,
dan is dit redelik veilig om ’n vinnige swem te waag. Sy is nou jammer sy het

nie haar swemklere onder haar klere aan nie, maar ná nog ’n verkennende
blik rondom haar, voel sy gerus en begin haar langbroek afstroop. Sy aarsel,
maar trek dan haar bloes ook uit. En dan besluit sy die bra kan ook maar
gaan.
Tyd het ’n manier om verby te vlieg sonder dat ’n mens dit agterkom. Sy lê
in die water en dryf op haar rug, sluit haar oë. Dié don Alonso . . . ’n
Vreemde man. Hoekom sal dit hom so ontstel dat sy al honderde naakte mans
gesien het? Wat kan dit met hom te doen hê? Die feit dat dit deel is van haar
daaglikse pligte, maak blykbaar aan hom geen verskil nie. Hy was werklik
geskok! Die arme man, besluit sy, hy hoort rêrig in die Middeleeue. Hy is
heeltemal uit pas met die twintigste eeu. Of hy is sommer net . . .
“Is jy van die duiwel besete!” bars ’n stem hier digby haar oor los en die
volgende oomblik voel sy hoe sy uit die water gegryp en teen die rotse
uitgedra word.
Sy is aanvanklik te verlam van skrik om te reageer. Dan begin sy heftig
spartel.
“Lê stil! Wil jy ons hier laat aftuimel?” vra hy streng.
“Los my! Ek hét voete!”
“Maar geen verstand nie!”
Hy sit haar neer en sy kyk hom woedend aan, meer van skrik as van
enigiets anders. “Waar kom jy vandaan . . . O!” Sy gryp na haar bloes wat
langs haar voete lê en hou dit voor haar kaal borste. “Hoe dúrf jy my afloer?”
“Ek loer nie. Ek kyk. Daar is in elk geval niks besonders te sien nie.
Hoekom die haai so in jou belang gestel het, weet ek nie.”
“Haai? Háái?” Sy kyk beangs na die rotspoel.
Sy donker oë blits terwyl hy met die hand beduie. “Ja, haai, señorita. Kyk
daar! Net agter die rif waar jy jou lyf meermin gehou het.” Sy sidder en dit
klink vir haar asof hy dit geniet om haar verder in te lig: “Nog vyf minute en
die gety was hoog genoeg om hom deur te laat na die poel toe. En hy het
reeds gaste genooi om saam met hom maaltyd te kom hou. Kyk ’n bietjie
dieper die see in en jy sal nog vinne sien. Hierdie water is vervuil van die
haaie en ek het jou dit gesê!”
“Ek . . . ek het vergeet . . .” Sy sluk swaar. Dis ’n verskriklike groot haai
wat agter daardie rif rondswem!
“Trek aan! Jy het my al genoeg uitgelok. Ek waarborg nie wat die
volgende keer gaan gebeur nie.”
Sy swaai na hom terug en hierdie keer maak dit nie saak of die bloes sy

werk doen of nie. “Wil jy beweer ek het kom kaal swem om jou uit te lok?
Hoe durf jy! Ek het nie gesê jy moet agterna kom . . .”
Sy oë is kil. “Jy het goed genoeg geweet ek sou kom sodra ek jou vermis.
Wie probeer jy bluf?”
“Dis nie waar nie!”
“Trek aan, of jy ly die gevolge!”
Sy pluk die bloes oor haar kop en vlieg soos blits in die langbroek in
terwyl sy voel hoe haar binnegoed bewe. “Raak net aan my . . . jou
seerower!”
“Vir ’n seerower het ek my tot dusver besonder kuis gedra, veral aangesien
die buit so voor my neus gehou word.”
Sy kyk met ’n moordende blik op, vas teen haar bra wat swaaiend aan sy
voorvinger hang. “Jy het dít vergeet.”
Sy gryp dit by hom en stamp hom amper van die rotse af toe sy by hom
verbystorm. Hy kyk die woedende meisie agterna, die intieme kledingstuk
wapperend in haar regterhand, terwyl sy met lang hale en armswaaiend so
vinnig moontlik die grootste stuk aarde tussen hulle probeer inkry.
Toe haar pa daardie middag laat tuis kom, sit en wag sy dogter hom in.
Onder hierdie man se dak bly sy nie langer nie. As hy haar nie wil toelaat om
êrens anders op Kokos of Costa Rica te gaan bly nie, gaan sy sowaar terug na
haar eie land toe.
Maar die don spring haar voor. Hy het ook uitgesien na Dries Smit se
terugkeer. “Iets gevind?” wil hy met die intrapslag weet.
“Net dat al die waarskynlike plekke reeds baie goed deursoek is. Dis nie
die moeite werd om weer daar te gaan tyd mors nie . . . Ja, Andrea? Wat is
dit?”
“Ek wil Pa dadelik spreek. Privaat, asseblief.”
“Ja, señor Smit, ek het ook iets dringends om met julle te bespreek. Die
señorita se saak kan wag. Myne is dringender.”
“Myne . . .”
“Wag nou, Andrea. Ja, señor?”
“Ek wil jou om jou dogter se hand vra, asseblief.”
Andrea se mond val oop.

5
__
“As dit as ’n grap bedoel is . . .” sê Andrea dreigend.
“Ek voel nie na grappies nie, señorita, nie ná wat ek vandag verneem het
nie.”
“Wat het jy verneem?”
“My grootmoeder is op pad hierheen.”
“Jou ouma?” Iemand se verstand werk nie meer lekker nie, besluit Andrea
in absolute verwarring. “Dié ouma vir wie jy pakkies by die byderwetse
dameswinkel in San José kry?”
“Dieselfde een.”
Sy swyg en sien die verwarring op haar pa se gesig. Dit laat haar beter
voel. Hy verstaan ook nie.
Dries maak keel skoon. “As jy my sal verskoon, señor, maar wat het jou
grootmoeder se koms hierheen te doen met die feit dat jy skielik met my
dogter wil trou?”
“Ek wil nie werklik met haar trou nie, señor. Ek vra net ’n tydelike
verhouding of dat sy vóórgee daar is ’n verhouding tussen ons.”
Dries Smit se lippe sluit opmekaar. Don Alonso ofte nie, sy dogter is sy
dogter, en hy is baie lief vir haar en hy is trots op haar. “Jy moet liewer baie
duideliker praat, señor.” Hy kyk die ander man vas in die oë. “Jou voorstel
grens aan ’n ernstige belediging vir my dogter.”
“Dis nie so bedoel nie, señor. Ek verseker jou – en vir haar – dat as ek
gedink het sy is ’n slegte soort meisie, sou ek my nie na julle gewend het vir
hulp nie.”
“Hulp?” Andrea kry weer haar spraak terug. “Watse hulp?”
Die Spaanse heer is verleë. “Dis ’n lang storie.”
Sy swart oë waarsku haar dat die bordjies dalk op ’n dag verhang kan
word. Maar sy kyk hom met leedvermaak aan. Dis ’n seldsame verskynsel
om don Alonso in ’n hoek en benoud te sien. Sy gaan dit geniet solank sy
kan. Dis wonderlik om te weet hy kan ook in die knyp beland. Dit laat hom
meer menslik voorkom en haar meer menslik teenoor hom voel.
“My pa het ná my moeder se dood weer getrou, met ’n weduwee met ’n
dogtertjie. Toe my pa – en kort daarna ook my stiefma – oorlede is, het donna

Teresa vir Miranda onder haar vlerk geneem. Dié twee het baie geheg aan
mekaar geraak. Donna Teresa was nog altyd oortuig dat ek en Miranda
eendag sal trou. Dit is vir haar ’n uitgemaakte saak en met verloop van tyd
het sy hierdie gedagte ook in Miranda se kop geplant sodat sý ook nou
aanvaar dit is wat gaan gebeur . . .”
“Hoekom wil jy nie met haar trou nie? Is jy bang sy sal nie die verwagte
kwota seerowertjies kan produseer nie?”
“Nee, señorita,” kom die ysige antwoord. “Miranda is ’n pragtige meisie
en sy weet presies wat van haar verwag word wat die voortbestaan van my
nageslag betref. Sy is die ideale vrou vir my.”
“Dan verstaan ek jou nie, señor,” kom Dries by. “Wat hinder jou dan?”
Hy wend hom na die ouer man en sy tong kap die woorde af: “Die man is
die jagter, señor. Jy sal daarmee saamstem. ’n Man is nie net ’n noodsaaklike
benodigdheid tydens ’n huweliksbevestiging nie.”
’n Lig gaan vir Andrea op. “O, nou verstaan ek ook. Jy voel in jou eer
gekrenk. Jy wil die vrywerk én die vrawerk doen.”
Haar pa kyk haar fronsend aan. Regtig, soms is Andrea darem té
uitgesproke.
Don Alonso knik styf. “Ja, señorita. ’n Mens kan dit seker so ook stel.”
Dries Smit kyk die ander man simpatiek aan. “Ek verstaan, señor.
Niemand wil graag as vanselfsprekend aanvaar word nie. Maar om ’n
skynverhouding te gebruik om hulle ’n les te leer . . . Gaan jy nie miskien die
risiko loop om jou aanstaande dalk te verloor nie?”
“Nie sommer nie.” Hy glimlag effens. “Jy ken nog nie vir donna Teresa
nie. En Miranda is al soveel jare lank gewoond aan die gedagte dat sy nie
sommer daarvan sal afstand doen nie. Nee, maar hulle gaan goed skrik.”
“Maar dis ék wat die gevolge van hul skrik gaan dra,” protesteer Andrea.
Sy voel glad nie lus om by don Alonso se persoonlike sake betrek te word
nie. Sý is die een wat die spit gaan afbyt. Sy gaan beslis nie gewild wees by
die twee dames nie. En dit klink hoeka vir haar don Alonso het ’n regte
seerower-ouma . . .
“Ek is bereid om jou te vergoed vir jou dienste, señorita. Beskou dit as ’n
saketransaksie. Ek neem jou ’n kort rukkie in diens. Die salaris is
onderhandelbaar.”
“Wat bedoel jy . . . onderhandelbaar?”
Sy gesig is ernstig, maar Dries Smit sien die effense knip van die oog in sy
rigting. “Wel, voordat ’n mens oor ’n salaris kan ooreenkom, moet die

werkgewer darem weet of die werknemer iets werd is. Of hy, of sy in hierdie
geval, in staat is tot die eise wat die betrekking stel . . .”
“Bedoel jy nou daarmee dat jy twyfel of ek kan vry, señor? Dan verseker
ek jou ek . . .”
“Nee, nee, señorita! Daar sal nie sulke . . . hoë eise gestel word nie. Nee,
ek bedoel of jy ’n bietjie kan toneelspeel . . . en of jy ’n bietjie waagmoed
het.”
Sy frons kwaai in haar pa se rigting. “Pa, waarvoor sit en lag Pa? Dié man
wil my in ’n gemors laat beland en Pa dink dis snaaks.” Dan kyk sy kwaai na
die ander man. “Natuurlik kan ek toneelspeel as dit moet en natuurlik is ek
nie ’n lafaard nie!”
“Jy is nie bang nie?”
“Waarvoor moet ek bang wees?” vra sy agterdogtig.
“Nee . . . e . . . ek weet dis ’n onnodige vraag. Ek weet teen hierdie tyd jy
kan jou man staan . . . met jou mond.”
“Dankie,” sê sy sarkasties. “Hierdie ouma van jou . . . is sy ’n kwaai ou
dame?”
Sy gesig is onleesbaar. “Sy klink soms e