اصلی Jy Is Huis Vir My

Jy Is Huis Vir My

,
0 / 0
دا کتاب تاسو ته څنګه خواښه شوه؟
د بار شوي فایل کیفیت څه دئ؟
تر څو چې د کتاب کیفیت آزمایښو وکړئ، بار ئې کړئ
د بار شوو فایلونو کیفیتی څه دئ؟

Hy het haar hart gebreek toe hy ná hul nag van passie met ’n blonde pop by haar koffiewinkel opdaag. Maar nou is Leila se beste vriendin met Tinus se broer getroud en hy bly onder haar voete!

**

درجه (قاطیغوری(:
کال:
2017
ژبه:
afrikaans
ISBN 13:
9780799383294
ISBN:
B06XSDTDG1
فایل:
PDF, 553 KB
کاپی کول (pdf, 553 KB)

ممکن تاسی علاقمند شی Powered by Rec2Me

 

مهمي جملي

 
haar1364
nie1289
het895
wat540
vir459
maar425
van411
dit367
hom318
dis313
toe291
kan287
wil260
jou256
oor233
gaan217
aan213
net195
weet178
nou176
nog175
uit169
weer168
ons155
cara150
deur143
maak140
een136
teen132
wees125
kyk125
hoe125
daar122
sal117
moet111
sien108
baie106
vra99
kom98
kry91
hou88
kop85
ook78
1 comment
 
MariskaB
Was absoluut mal oor die boek. Het baie jare afrikaans gelees en die boek maak my weer uitsien na Afrikaanse romanse
25 August 2020 (22:22) 

To post a review, please sign in or sign up
تاسی کولی شی د کتاب په اړوند نظر څرګند کړی او خپله تجربه زمونږ سره شریکه کړی، نورو لوستونکو ته به زړه راښکونکی (دلچسپه) وی چې د لوستل شوو کتابونو په اړوند ستاسی په نظر پوه شی. بدون له دی چې کتاب مو خوښ شو اویا خوش نه شو، که تاسی صادقانه په دی اړوند مفصله قصه وکړی، خلک کولی شی د ځان لپاره نوی کتابونه بیدا کړی، چې هغوی ته زړه راښکونکی (دلچسپه) دی.
1

Tydlose liefde

کال:
2014
ژبه:
afrikaans
فایل:
PDF, 628 KB
0 / 0
2

'n Reenboog vir Kersfees

کال:
2010
ژبه:
afrikaans
فایل:
PDF, 760 KB
0 / 0
JY IS HUIS VIR MY
ELSA WINCKLER

www.lapa.co.za

Een

Leila begin glase bymekaarmaak en aandra kombuis toe. Solank sy kan besig
bly, hoef sy nie te dink aan teruggaan na haar kamer toe nie.
Die bruidspaar is so ’n uur gelede weg, hulle ouers het al gaan slaap en
sedertdien is die groot skuur wat vir die aand omskep is in ’n sprokiestuin aan
die leegloop. Die musiek speel nog en ’n paar bittereinders skuifel hier en
daar rond op die dansvloer, maar die meeste mense is al huis toe.
Michael Bublé sing. Die laaste woorde van die lied draai in haar kop:
“You’re the reason that I’m feeling/It’s finally safe to stay.”
Maar dit gebeur nie regtig nie. Niemand bly nie. In elk geval nie by haar
nie. Nie haar ouers nie, nie Tinus-flippen-Viljoen nie. Deksels! Sy wil nie aan
hom dink nie, maar dis baie moeilik.
Sy het sowaar die kamer reg langs Tinus gekry. Anders het sy lankal gaan
slaap. Net die blote gedagte dat daar slegs ’n muur tussen haar en sy bed gaan
wees, hou haar hier. As sy geweet het sy moet in die kamer slaap langs die
bruidegom se broer, sou sy beslis nie eens daaraan gedink het om vanaand
ook nog hier oor te bly nie.
Vir die afgelope twee baie deurmekaar dae is Leila op Cara se ouers se
plaas om te help met haar vriendin se troue. Behalwe dat sy en Cara al van
graad agt af beste vriendinne is, was sy ook die strooimeisie.
Vandat die bruidegom veertien dae gelede beslis aangekondig het hy wag
nie langer as twee weke om te trou nie, was dit ’n dolle gejaag om ’n rok vir
die bruid te kry en al die reëlings te tref terwyl Leila ook moes seker maak

dinge by haar koffiewinkel in Hermanus verloop glad in haar afwesigheid.
Die bruid het gisteraand by haar verloofde oorgeslaap en het eers laat
vanoggend hier opgedaag. Van toe af was dit chaos. ’n Stralende Cara het
haar bitter min aan die histerie rondom haar gesteur en Leila het besef om te
kla oor Tinus wat in die kamer langs haar gaan slaap, sou op dowe ore val.
Buitendien, as strooimeisie was dit haar plig om die bruid gelukkig te hou.
Dit was ’n maklik; e taak. Cara het net eenvoudig nie ophou glimlag nie.
Leila is so bly vir haar vriendin se onthalwe. Een kyk na die bruidegom,
Kobus, se warm blik op sy bruid, was genoeg om haar te oortuig ten minste
een Viljoen-broer het sy oujongkêrelstreke vir goed agter hom gelaat.
Leila sit die glase op ’n toonbank voor die kombuis neer. Haar oog val op
’n onaangeraakte glas vonkelwyn. Dis net wat sy nodig het. Sy neem ’n groot
sluk. Die borrels is weg, maar dit smaak heel lekker. Of dit ’n goeie idee is,
twyfel sy. Sy kon nie regtig eet vandag nie. Daar is ’n naar kol op haar maag,
een wat haar heeldag herinner langs wie se kamer sy vanaand gaan slaap.
Maar sy is nou bitterlik dors en die vonkelwyn regtig lekker.
“Jy het nog nie met my gedans nie,” sê ’n fluweelstem agter haar.
Leila keer ’n kreun net betyds. Dis hy. Tinus Viljoen. Broer van die
bruidegom. Die einste man wat ’n kamer langs haar het vanaand. Die einste
man wat haar hart ’n jaar gelede gebreek het.
Sy plak ’n glimlag op haar gesig en draai om. Ai. Sy druk met haar een
hand op die tafel agter haar. Dit maak nie saak hoe baie sy hom sien nie, hoe
seer hy haar gemaak het nie, elke liewe keer as haar oë op hom val, knak haar
knieë soos ’n simpel skooldogter s’n. Hy is net onmoontlik, belaglik
aantreklik. En sexy. Bitter, bitter sexy.
“Al die girls weg? Is ek al een wat oorgebly het om mee te flirt?” Sy hou
haar stem koel, afgetrokke.
’n Spier spring in sy wang, maar hy vat die glas by haar en sit dit op die

tafel agter haar neer. Hy buig feitlik bo-oor haar. Sy onthou sy reuk –
middernag en speserye. Dis waaraan hy haar altyd laat dink.
Hy vat haar hand en voor sy tot verhaal kom, tol hy haar in die rondte. Die
tempo van die musiek verander feitlik net daarna, hy trek haar nader en vou
sy arms styf om haar lyf. Die eerste soel note van Norah Jones se “Come
away with me” vul die groot skuur.
’n Snik steek agter in haar keel vas.
“Come away with me in the night.”
Dit sal so maklik wees om van alles te vergeet en om hom te volg – die nag
in na enige plek. Maar hy het nie gevra nie, hy sal nooit vra nie. Hy is nie die
soort man wat wil bly nie.
Hier en daar lag mense, kelners beweeg heen en weer, in die verte is die
geluid van motors wat wegtrek, maar hier in Tinus se arms, is sy in ’n ander
wêreld. Haar hande het op sy borskas beland. Sy breë, gespierde borskas. En
sy onthou presies hoe dit onder sy hemp lyk.
Sy mond beweeg teen haar slape op, sy warm asem vul haar ore, sy hart
klop vinnig teen haar lyf.
Wat dóén sy? Vinnig laat sak sy haar arms. “Tinus, moenie,” sê sy voordat
sy omdraai en vlug.
Met ’n swetswoord staar Tinus Leila agterna totdat sy by die groot deure van
die skuur uitstap. Bliksem. Hy vryf oor sy gesig. Dis verdomp ’n jaar later.
Hy moes lankal van haar vergeet het. Hoekom de hel kry hy dit nie reg nie?
Begeerte na haar vlam deur sy lyf, met ’n intensiteit wat hy ná ’n nag saam
met haar nog nie weer by enige ander vrou ervaar het nie.
Dwarsdeur die ganse dag kon hy wegbly van haar af. Hy kon selfs ignoreer
dat Zander Steyn met haar dans. Twaalf keer, as hy reg getel het. Tot nou net.
Hy het teruggekom nadat hy vriende buite afgesien het toe sy oë soos

gewoonlik na haar soek. En daar was sy – met ’n glas vonkelwyn in haar
hand en confetti in haar hare. Binne hom het iets losgeskeur en hy moes net
aan haar vat, haar ruik, haar glimlag van naby sien. Sy voorneme om ver van
haar af te bly, kon hom nie langer keer nie.
’n Jaar gelede het hy haar seergemaak. Sy gedrag was onvergeeflik, maar
hy moes haar laat insien hy is nie troumateriaal nie. Sy is oulik, sexy en
beeldskoon, daarom het hy haar uitgeneem. En sy het hom binne een aand so
betower, hy moes haar net weer sien en toe soen hy haar, slaap by haar.
Slaap? Gmf.
Hy onthou nie van die slaap nie, hy onthou wel van die seks. Seks … maar
dis nie die regte woord nie. Wat tussen hulle gebeur het, was baie meer as net
lyflike genot. Baie meer. Iets wat hom die volgende oggend paniekerig laat
besef het geen ander vrou interesseer hom meer behalwe sy nie. En dit kon
nie wees nie.
Hy hou van vroumense. In die meervoud. As prokureur het hy heeldag te
doen met mans wat hulle vrouens verneuk, vrouens wat skelm verhoudings
het en hy het lankal besluit dis baie eenvoudiger om op jou eie te wees. ’n
Man is nie gemaak om net by een vrou die res van sy lewe te wees nie. Kyk
na die statistieke.
En goed, sy ouers lyk heel tevrede met mekaar ná omtrent veertig jaar van
getroud wees en sy suster Sanet en haar man Jak maak geen geheim daarvan
hoe mal hulle oor mekaar is nie, maar hy kan nie help om te wonder hoe lank
sy broer Kobus se verliefdheid gaan hou nie.
Op een en veertig was Kobus ’n geswore oujongkêrel. Totdat hy vir Cara
ontmoet het. Skaars ’n maand later is die twee getroud. So vergewe hom as
hy skepties is oor die hele ding. Dis duidelik dat Kobus op die oomblik
heeltemal versot is op sy nuwe bruid, maar hoe lank gaan dit hou?
Nee wat, hy vry in die bondel en gewoonlik is dit maklik om aan ’n vrou te

verduidelik wanneer hy voel hy wil aanbeweeg. Binne dae kan hy van haar
vergeet en rondsoek na die volgende mooi poppie om uit te neem.
Buitendien, hy hou daarvan om te kom en te gaan soos hy wil. As hy ’n
naweek saam met die manne wil gaan duik, wil hy dit doen sonder
skuldgevoelens teenoor enigeen. As die branders hom roep, wil hy gaan
branderplank ry sonder verduidelikings. En van wat hy van sy pelle sien wat
reeds getroud is en nou ook sy broer, raak dit baie ingewikkeld om jou eie
ding te doen as jy eers ’n vrou het.
Maar Leila … Sy voete beweeg voordat hy weer met enige redenasie kan
begin. Hy vang haar halfpad op pad na die groot plaashuis toe.
“Leila.”
Sy hou aan met stap en hy gryp haar hand om haar te stop.
“Tinus, ek is moeg.”
“Ek ook, maar dink jy ek sal kan slaap en weet daar is net ’n muur tussen
ons?”
Sy stamp haar voet. “Moenie oor slaap en dun mure met my praat nie, hoe
dink jy voel ek daaroor? Ek weet nie eens wat om vir jou te sê nie. Ons was
bymekaar, onthou jy? Jy was die een wat ná ons nag saam …” Haar stem
raak weg en sy vee oor haar oë voordat sy weer na hom kyk. “Jy het my
seergemaak. En ek weet jy het dit doelbewus gedoen. Jy wou seker maak ek
weet jy stel nie belang in ’n langtermynverhouding nie. Ek het die boodskap
gekry, oukei. ’n Jaar gelede al.”
“Ek is jammer ek het jou seergemaak, maar ek is nie troumateriaal nie.”
Sy glimlag skeef en kruis haar arms om haar lyf. “Jy kon my gesê het en nie
met ’n blonde pop by my koffiewinkel opgedaag het die dag net ná jy … by
my was nie.”
“Jy het my … ek het vir die eerste keer niemand anders raakgesien nie en
dit …” Hy besef hy praat hopeloos te veel en sluk sy woorde in. Hel, hy moes

nie met haar gedans het nie en hy moes baie beslis nie agter haar aangeloop
het nie.
“Moenie goed sê wat jy nie bedoel nie,” sê sy.
Die vuur is terug in sy lyf. Hy steek sy hand uit na haar toe.
Maar sy tree vinnig terug en skud haar kop. “Tinus, kom ons vergeet wat
tussen ons gebeur het. Jou broer is met my beste vriendin getroud, ons gaan
noodwendig meer van mekaar sien. Ek is oukei. Ek was baie lank kwaad vir
jou en ook seergemaak, maar wat jy wel reggekry het, was om my te laat
besef wat ek in ’n man wil hê en wat ek nie wil hê nie. Jy is ’n baie goeie
voorbeeld van wat ek nié in ’n man wil hê nie. Ek wil graag trou en kinders
hê en ’n hond en ’n kat en ’n papegaai. My nuwejaarsvoorneme is juis om ’n
man te kry. Een wat bly, een wat net vir my wil hê, een wat, wanneer hy by
my is, net na my kyk en wie se oë nie ronddwaal na ander vrouens nie.”
Hy gee ’n tree agteruit.
Sy lag en beduie na sy gesig. “Foeitog. Totale paniek. Ontspan. Jy is lankal
nie meer op my lysie nie. Maar weet jy wat? Jy kan my dalk help om die
regte soort man in die hande te kry. Jy weet, jy ken die meeste ongetroude
mans op Hermanus, jy kan my waarsku as ek met een deurmekaar raak wat
nie goeie troumateriaal is nie. En dalk kan jy my aan iemand voorstel wat jy
dink ’n goeie man sal wees. Wat sê jy? Ek wonder juis oor Zander.”
“Nee,” kners hy uit voor hy dink. “Hy’s ’n player.”
“Sien?” glimlag sy. “Jy weet wat in mansmense se koppe aangaan, jy kan
my help. Soos ’n broer sou, jy weet? Ek dink dis ’n goeie plan.”
En voor hy sy oë knip, gooi sy haar arms om sy nek en soen hom op sy
wang. “Dankie, Ouboet!”
Sy dans weg voordat hy ’n woord uitkry.
Wat op aarde het so pas gebeur?

Uitasem druk Leila die kamerdeur agter haar toe. Die ellendige mansmens!
Toe al die ander girls weg is, sien hy haar raak en wil kyk wat hy kan regkry.
Tinus se sterk arms en Norah Jones se whisky-stem is ’n dodelike kombinasie
en so amper-amper het sy haar kop saam met haar hart verloor.
Om haar vries die lug, haar asem raak weg. Sy gaan sit vinnig op die bed.
Deksels! Met ’n sniklag val sy agteroor en gooi haar arm oor haar gesig. Sy
het sowaar lief geraak vir die man. Malverlief, halsoorkop, met haar hart,
haar siel, haar hele freaking wese.
Dis hoekom sy ’n jaar lank met ’n gat in haar binneste rondloop wat niks,
maar niks wil toemaak nie. Nie haar koffiewinkel of haar skilderwerk of
enigiets anders nie. Sy is lief vir Tinus Viljoen en hy is nie … hoe het hy dit
nou weer gestel? O ja, hy is nie troumateriaal nie.
Hoe sy dit reggekry het om haarself nie in sy arms te gooi nie, sal sy seker
nooit weet nie, en waar die plan vandaan kom om hom te kry om haar te help
man vang, weet sy ook nie, maar sy moes iets doen om seker te maak hy kom
nie agter hoe seer hy haar gemaak het nie.
Daar is ’n klop aan haar deur.
Sy spring op. Het sy haar verbeel? Maar daar is dit weer. Die geluid van
kneukels teen hout. Dis Tinus, sy weet net. Sy kan dit ignoreer, maar netnou
maak hy die res van die huis wakker.
Met rukkerige vingers kam sy haar hare en maak die deur oop.
En ai tog. Haar stomme hart bons opgewonde rond. Tinus leun teen die
kosyn, sy das af, ’n paar knope van sy hemp oopgeknoop, sy hande in sy
broeksakke.
“Tinus?” Sy probeer so koel en kalm as moontlik klink, gegewe die
omstandighede.
“Ek wou hoor, wat presies is jou vereistes?”
Haar oë het vasgehaak op sy mond. Sy sien dit beweeg, hoor vaagweg wat

hy sê, maar sy is so gefassineerd met sy lippe, sy sukkel om te verstaan wat
hy sê.
“Vereistes?” prewel sy.
“Ja, jy weet, wat is jou vereistes vir die man wat jy wil hê?” Hy stap in en
druk die kamerdeur agter hom toe. “Die een wat jy dink ek jou kan help
soek.”
“Man? Soek?” Dit neem ’n paar sekondes voor haar trae brein weer kan
funksioneer. O, ja. Sy het hom gevra om haar te help man soek. Diep binne
haar wil-wil ’n histeriese lag opborrel, maar sy sluk dit met mening terug.
Definitief nie die oomblik om te lag nie.
“O, jy bedoel my trouman?”
Die spier in sy wang spring. “Ja, wat is jou vereistes vir jou trouman?”
Hy klink vieserig. En geïrriteerd. Hoekom? Kan dit wees hy voel dalk tog
iets vir haar? Iets wat hom heeltemal uitfreak?
Sy draai haar rug op hom en begin die oorgooideken van haar bed aftrek.
Sy is heeltemal laf. Dis Tinus Viljoen, onthou? Die een wat elke week ’n
ander vrou aan die arm het. En dalk is dit nie so ’n slegte idee om hom te kry
om haar te help man soek nie.
“Wel,” sê sy tergend en tel die punte van die deken op sodat sy dit kan
opvou, “ek hou van ’n mooi man. ’n Mooi, gespierde man.”
Tinus se wenkbrou lig, maar hy sê nie iets nie, hy tel die ander punte van
die deken op en help haar om dit op te vou.
Wat wil sy in ’n man hê? Sy het nog nooit regtig vreeslik daaroor gedink
nie. Sy wil een hê wat bly. Dis min of meer die enigste vereiste.
’n Sentimentele lawwigheid wat sy onlangs op ’n sosiale webwerf gesien
het, skiet haar te binne. Sy kan ’n bietjie borduur daarop. So ’n man bestaan
in elk geval nie, sy kan netsowel groot droom terwyl sy onsin praat.
“Hy moet my agtuur-ontbyt wees, my elfuur-oggendkoffie, my twaalfuur-

glimlag, my eenuur-middagete, my halfagt-afspraak, my middernagdroom,
my sesuur-kussing terwyl ek slaap, my heeldag-beste pel, my vir-altydminnaar.”
Sy kake beweeg weer en hy brom onderlangs. “Bestaan daar sulke mans?
Wat jy beskryf, klink soos ’n held uit een van die love stories wat my ma
graag lees.”
“Ek is nog nie klaar nie.”
Hy vou sy arms en leun teen die tafel. “Ja?”
“Blomme. Hy moet vir my blomme bring. Nie net wanneer ek verjaar of
wanneer dit Kersfees is nie, sommer enige tyd. Omdat hy aan my dink, omdat
hy lief is vir my.” Sy draai haar rug op hom en sit die opgevoude deken op ’n
stoel wat langs die bed staan. “En natuurlik moet die man kan soen. Ek hou
van soen.”
Toe sy omdraai, staan hy teen haar.
“Jy hou van soen?” vra hy, sy stem hees.
Sy bedoel nie om dit te doen nie, maar, van voor af gefassineerd volg haar
oë weer die lyne van sy vol, sexy mond. Verbeel sy haar of is sy mond nou
nader? En is dit regtig nou warmer in die kamer as netnou?
Warm, dringende lippe pas perfek oor hare en al haar miljoene vrae
verdamp. Haar oë val toe. Haar een hand beland teen sy borskas, presies daar
waar sy hemp oopgeknoop is. Haar vingers sprei tevrede oop oor sy warm,
polsende vel.
Hy trek haar styf teen hom vas, die kloppende hitte van sy begeerte teen
haar lyf. Dís die soort man wat sy wil hê, een wat haar presies só soen, so
asof hy nie anders kan nie, so asof haar mond al is wat ’n diep dors kan les.
Só wil sy bemin word.
Hy lig sy kop stadig op, laat gly sy duim oor haar onderlip voordat hy
wegdraai. “Ek dink dié soen moet jou standaard wees. As jy iemand kan kry

wat jou ook so kan soen …”
“… en my wil hê …”
Nog voor sy haar sin klaarmaak, het hy teruggedraai en soen hy haar weer.
En vir een heerlike oomblik vou sy groot hande om haar borste. Sy oë is
halfmas toe hy weer sy kop oplig en stadig sy hande laat sak. “O, ek wil jou
hê, dís nie die probleem nie, glo my.”
Leila gaan sit op die bed. Haar bene kan haar nie meer regop hou nie. “Dis
die vir altyd en ewig waarmee jy ’n probleem het, nè?”
Hy glimlag skeef. “En die kinders en die hond en die kat en die papegaai.”
“Ek weet. Jy wil nie bly nie. En ek wil iemand hê wat by my sal bly. Vir
altyd.” Vir lang minute staar sy na hom voordat sy ’n glimlag op haar gesig
plak en opspring. “Wel, jy weet nou presies wat ek wil hê.” Sy maak die
kamerdeur oop. “Miskien moet jy my laat weet wanneer jou dagboek nie so
vol is nie, dan skiet ek jou vir ’n drink en jy help my die manne deurkyk. Hoe
klink dit vir jou?”
’n Storm woed agter sy oë, maar hy glimlag koel. “Fantasties. Ek sal jou
bel.” Die volgende oomblik storm hy voor haar verby en sy druk die deur
vinnig toe.
Was dit maar moontlik om die deur na haar hart net so styf toe te maak.
Terug in sy kamer stap Tinus heen en weer soos ’n vasgekeerde dier. Sy lyf,
sy hart, sy hele wese wil langsaan by Leila wees, hoe op aarde het dit gebeur?
Hy leun teen die muur wat sy kamer van hare skei en luister na die geluide
langsaan. Toe hy die stortkraan hoor, draai hy swetsend weg en pluk sy klere
uit op pad badkamer toe.
’n Yskoue stort is wat hy nou nodig het. Een wat die vuur in sy lyf kan blus,
Leila se geur van sy hande kan afwas, en wat hom kan wakker skud. Kinders,
honde, katte en papegaaie is beslis nie deel van sy toekomsplanne nie.

Hy draai die kraan wyd oop, sy asem slaan weg van die koue, maar hy staan
doodstil. Haar woorde van vroeër bly draai in sy kop: my agtuur-ontbyt, my
elfuur-oggendkoffie, my twaalfuur-glimlag, my eenuur-middagete, my
halfagt-afspraak, my middernagdroom, my sesuur-kussing terwyl ek slaap,
my heeldag-beste pel, my vir-altyd-minnaar.
Hy kan alles wees, maar nie vir altyd nie. Wat hou in elk geval verdomp vir
altyd? Wanneer is vir altyd verby?
Hy lig sy kop op en die water spuit oor sy gesig. Sy pa en ma is nog altyd
lief vir mekaar. Selfs hy kan dit sien. Dis nie asof hulle soos jong verliefdes
optree nie, maar sy ma se gesig verhelder wanneer sy pa in ’n vertrek instap
en sy pa soek altyd ’n verskoning om aan haar hand te vat – wanneer hulle
stap of sommer net sit en gesels.
Hoe weet ’n mens dat dit wat jy op ’n stadium vir ’n vrou voel, sal hou? Die
vinnige lyflike begeerte wat hy na ’n vrou het, is gewoonlik ná een nag
verby. En van wat hy gereeld eerstehands om hom sien gebeur, is dit duidelik
dat daar van die euforiese verliefdheid wat die meeste paartjies
bymekaarbring, teen die einde net mooi niks oorbly nie.
Uiteindelik draai hy die kraan toe. Hy kan nie die man wees wat Leila
nodig het nie, maar hy kan haar teen ’n klomp skobbejakke beskerm. Soos
byvoorbeeld teen iemand soos Zander bleddie Steyn.
Hy kyk verbaas af na sy gebalde vuiste. Geïrriteerd met homself ontspan hy
sy hande. As hy elke keer sy vuis in die man wat in Leila belangstel se gesig
wil druk, gaan hy nie kan help nie.
Dis stil in die vertrek langsaan. Hy gaan sit op die bed. Hy weet baie min
van haar af. Hy weet sy het ’n koffiewinkel, dis waar hy haar ontmoet het.
Maar noudat hy daaroor dink, anders as die meeste ander vrouens, praat sy
bitter min oor haarself.
Hy wonder nou nog hoekom hy besluit het om die gebou waar haar

koffiewinkel is en die woonstel waarin sy bly te koop toe dit ’n jaar gelede in
die mark was. Dit was net nadat hy besluit het hy kan nie weer vir Leila sien
nie, sy mors te veel met sy kop. Maar toe hy hoor die plek is in die mark, het
hy dadelik sy aanbod gemaak. Die koop is deur sonder dat Leila weet hy is
die nuwe eienaar. Sy weet net haar huurkontrak is deur ’n trust oorgeneem.
Dit was eenvoudig ’n goeie besigheidsbesluit. Die gebou is sentraal geleë,
dis een van die pragtige ou geboue in Hermanus en die ligging is baie gesog.
Die feit dat hy op so ’n manier nog kontak met haar het, nog weet wat in haar
lewe aangaan, is bloot toevallig.
Yeah, right. Dis gewoonlik net diep in die nag wat hy regtig eerlik met
homself oor die hele ding kan wees. Hy wou die gebou hê omdat hy op so ’n
manier deel sou wees van haar lewe. Dít was die hoofrede vir sy besluit.
Toe hy haar uitgeneem het, het hy nie vreeslik oor haar uitgevra nie. Hy
wou die verhouding, soos altyd, lig hou. Maar sedertdien bly hy oor haar
wonder. Lewe haar ouers byvoorbeeld nog? Hoe het sy in Hermanus beland?
Hulle het hierdie jaar Kersfees saam met Cara se mense op die plaas gevier
en Leila was ook by. Waar is haar mense?
Hy slaan met sy vuis in die kussing. En die belangrikste vraag: Hoekom kan
hy nie ophou dink aan die vroumens nie?

Twee

Met ’n snik skrik Leila wakker. Haar gesig is sopnat van die trane. Sy skuif
op teen die kussings en skakel die bedliggie aan.
Dit was weer Die Droom. Die een wat sy begin kry het net ná haar ouers
dood. Die droom waar haar pa en ma haar roep, maar sy kan nie by hulle
uitkom nie. Sy beur vorentoe, maar hulle raak al hoe dowwer en dowwer
totdat sy hulle nie meer kan sien nie. Sy het dit lanklaas gedroom.
Sy vee met haar hande oor haar wange. Dis al ses jaar vandat die
polisieman op Kersdag aan die deur kom klop het om vir haar te sê haar ouers
is albei in ’n motorongeluk dood. Sy skud haar kop. Dis nog altyd so moeilik
om daaraan te dink.
Sy hoor ’n klop. Droom sy nog? Maar daar is dit weer. Sy moes vir Tinus
wakker gehuil het. Sy stap tot by die deur.
“Tinus?” vra sy sag sonder om oop te maak.
“Jy oukei? Ek het jou hoor roep.”
“’n Droom. Jammer ek het jou wakker gemaak.”
“Maak oop!”
“Ek is oukei.”
“Leila, maak oop die deur. Ek wil sien of jy …”
Leila pluk die deur oop. “Ek sê jou mos ek is …”
Haar woorde droog op. Hy het net ’n kort slaapbroek aan en sy breë,
gespierde kaal borskas is reg voor haar. Sy oë rek en gly teen haar lyf af. O,
vrek, sy het net haar pajamas aan. En dit maak nie baie toe nie.

“Ek …”
“Magtig, Leila,” kreun hy terwyl sy een hand haar nadertrek. “Hoe de hel
moet ’n man dit hou?” Hy stap in die kamer in en druk die deur agter hom
toe. Sy arms vou om haar en vir ’n oomblik hou hy haar styf teen sy lyf vas.
Toe lig haar gesig op. “Moet my asseblief nie wegstuur nie.” Hy frons. “Jy
het gehuil.”
Sy knik en probeer uit sy arms loskom, maar hy verstewig sy greep.
“Hoekom?”
“Dis sommer net ’n droom wat ek soms kry.”
Hy druk haar op die bed neer, kyk rond en gryp uiteindelik die deken wat sy
vroeër netjies opgevou het, en gooi dit oor haar bene. “Ek kan nie konsentreer
as jy so lyk nie,” brom hy. Hy druk die deken aan weerskante van haar bene
vas en gaan sit langs haar. “So ja. Vertel my van jou droom.”
“Tinus, dis laat, ons is in Cara se ouers se huis.”
“Hoe gouer jy my vertel, hoe gouer loop ek.”
Sy sug en kam haar hare met haar vingers agtertoe. Hoe sy lyk, wil sy
eerder nie aan dink nie. En sy is sommer weer huilerig. “Ek gaan weer tjank,”
waarsku sy terwyl sy die trane probeer wegsluk.
“Vertel my. Al huil jy.”
Sy trek haar asem vinnig in. “My ouers is ses jaar gelede in ’n
motorongeluk dood. Op Kersdag. Die melk was op. Ek het my ma
aangemoedig om saam met my pa te ry, ek wou die tafel dek. So stupid. ’n
Bakkie het nie by die robot gestop nie en in hulle vasgejaag. Hulle is op slag
dood.” Sy vee oor haar gesig. Haar wange is weer nat van die trane.
Tinus staar vir minute na haar voordat hy haar met ’n kreun op sy skoot tel.
Hy druk haar gesig in sy nek en prewel allerhande onsin in haar oor. En toe
maak die krane behoorlik oop en sy huil haar hart uit – oor haar ouers wat sy
nooit weer sal sien nie, oor hoe moeilik dit was om te probeer aanbeweeg,

oor die man vir wie sy lief geraak het, die een wat haar so styf vashou, maar
nie by haar wil wees nie, nie wil bly nie.
En die hele tyd hou hy haar vas en gee die een snesie na die ander aan
totdat haar snikke bedaar en die stortvloed opdroog. Sy vryf teen sy
natgehuilde bolyf, ruk haar hand vinnig terug.
“Ek is jammer. Jy is sopnat gehuil.” Sy probeer van sy skoot af klim, maar
hy hou haar styf vas.
“Kan ek jou asseblief net nog ’n klein rukkie vashou?” vra hy.
“Ek dink nie so nie.”
Hy ignoreer haar en trek haar weer styf teen sy lyf vas. “Ek wil jou net
vashou. Dis al. Sjuut. Slaap nou. Ek is hier.”
Tinus trek die laken versigtig oor Leila. Sy het in sy arms aan die slaap
geraak. Om haar terug in haar bed te sit terwyl hy weet hy moet wegstap, was
een van die moeilikste dinge wat hy nog ooit moes doen. Leila in pajamas
wat net hier en daar iets toemaak, is nie ’n prentjie wat hy gou sal vergeet nie.
Hy wil langs haar inkruip, haar styf vashou, haar troos, vir haar sê alles sal
regkom.
Hy gaan sit op die bed langs haar en tel haar een hand op. Haar vingers vleg
in syne. Die bedliggie is nog aan, die lig val oor haar gesig. Hy kan nie ophou
om na haar te kyk nie.
Sy het op haar sy gedraai en haar lang, donkerbruin hare lê uitgesprei oor
die kussings. Haar ander hand is onder haar ken ingedruk, haar lang wimpers
lê weerloos teen haar wang.
Sy het geen grimering meer aan nie, maar sy het nog nooit so mooi gelyk
soos op hierdie oomblik nie. Kinders, hond, kat, papegaai.
Hy maak sy vingers los uit hare en staan op. Hy kyk nog een maal af na
haar voordat hy met lang treë deur toe stap. Hy is nie wat sy nodig het nie.

Maar hy kan haar help soek na die regte man. Sy is reg, hy weet presies wie
is nog soos hy en dis nie die soort man wat langtermyn dink nie en, soos hy
baie goed weet, nie die soort man wat sy moet kry nie.
Terug in sy eie bed sukkel hy om aan die slaap te raak. Net môre vind hy uit
waar is ’n lekker Oujaarspaartie. Het Kobus nie genoem die Snyman-susters
is die vakansie op Hermanus nie? Hy het nog altyd van Josie gehou, miskien
is sy net wat hy nodig het om sy aandag af te lei.
Sy oë val toe en hy probeer om Josie te gesig voor hom op te roep, maar al
wat hy sien, is ’n paar diepblou oë en Leila se lang, lang bene in haar baie
kort pajamabroekie.
Net Sanet en Jak is in die kombuis toe Tinus gaan koffie soek. Hy het baie
later geslaap as wat hy beplan het, maar hy het eers teen die vroeë oggendure
aan die slaap geraak en toe het hy ook nie baie diep geslaap nie. Daarvoor het
die een stomende droom na die ander gesorg. En die gesig in elke droom?
Leila Mouton. Hy hoop regtig nie hy hoef gou weer in ’n kamer langs haar te
slaap nie.
“En as jy so frons-frons opstaan?” vra Sanet. “Ek is verbaas jy het
gisteraand hier geslaap, ek het gedink jy is saam met daai blonde pop met wie
jy so baie gedans het, huis toe.”
“Blonde pop?” vra hy terwyl hy vir hom koffie ingooi. Hy onthou glad nie
van ’n blonde pop nie.
“O aarde, moenie vir my sê jy gaan nog vinniger deur die girls as vroeër
nie,” lag sy swaer.
“Waar is die ander mense?” vra hy.
“Ma en Pa is al op, hulle het met die kinders gaan stap,” sê Sanet. “Hulle
sal seker nou-nou hier wees.”
“En Leila?”

Sanet lig ’n wenkbrou. “Sy het al vroeg gery. So jy weet van haar?”
“Wat bedoel jy? Natuurlik weet ek van haar, ons het … sy en ek was … ons
was op ’n stadium …” Vrek, hy moes nie uitgevra het oor die vroumens nie
of iets oor haar gesê het nie. Hopelik kom Sanet nie agter hy het amper sy
mond verbygepraat nie.
Sanet se oë vernou egter en sy pen hom vas. “Moenie vir my sê jy het jou
gewone love-’em-en-leave-’em-roetine ook op Leila probeer nie?”
Tinus neem ’n groot sluk koffie.
Sanet gooi haar hand in die lug. “Wel, nou het ek alles gehoor. G’n wonder
jy het nie met haar gedans nie. Kan ’n man so onnosel wees? Sy is so ’n
stunning girl. Ek kan natuurlik verstaan hoekom sy niks verder met jou te
doen wil hê nie.”
Tinus sit die beker koffie neer. “Sy wil ’n man en kinders, honde, katte en
papegaaie hê. En jy weet hoe is ek. Maar ek het met haar gedans. Later, toe
almal al weg was. En sy is nie kwaad vir my nie. Wel, nie meer nie. Om die
waarheid te sê, sy het my gevra om haar te help om die regte trouman te kry.”
Sanet se mond val oop en sy sit haar vurk stadig neer. “Verstaan ek jou reg?
Jy het vir Leila seergemaak, maar sy het jou nou vergewe en jou gevra om vir
haar te help man soek?”
“Ja, ons is vriende.”
Sanet bars uit van die lag. Jak grinnik saam.
“Wat de hel is so snaaks?” brom Tinus. Magtig, hy het gedink gister se
sirkus is verby.
Sanet staan op en stap om die tafel na hom toe. Sy vou haar arms om sy nek
en vryf sy hare deurmekaar. “My stomme boeta. Jy is tog so onnosel. Maar
foeitog, jy is net ’n man, dit gaan jou ’n rukkie langer neem om te verstaan
wat aangaan.”
“Wie moet wat verstaan?” vra sy pa wat met klein Sophia op sy nek die

kombuis instap. Sy ma en Cara se ma en pa kom agter hom ingestap met
Sanet en Jak se twee ander kinders op hulle hakke.
“Ma, het jy geweet Tinus en Leila het ’n ding gehad?” Sanet se stem is vol
lag.
“Ons het nie ’n ding gehad nie, sy … ek …” Hy skuif sy stoel agteruit. “Ek
gaan ry. Dankie vir alles.”
Maar sy ma draai hom aan sy arm sodat hy verplig is om na haar te kyk.
“Het jy met die mooi kind gemors?” vra sy.
“Ma, sy wil trou en kinders hê, ek nie. Einde van die storie.”
Sy ma kyk nog vir ’n paar oomblikke na hom voordat sy by die tafel gaan
sit. “Martiens,” sê sy en kyk vies na sy pa, “ek weet nie wat jy jou
seunskinders geleer het nie. Hoekom is hulle so skrikkerig vir trou? Ten
minste het Kobus betyds van sienswyse verander.”
Sy pa soen sy ma teen haar wang. “Ek weet ook nie waar hulle daaraan kom
nie, ek is baie gelukkig getroud.”
“Hulle hou daarvan om in beheer te bly,” sê sy ma en gee hom ’n vies kyk.
“Kobus was net so totdat hy ’n vrou raakgeloop het wat sy voete onder hom
uitgeslaan het. Hy sal nooit weer in beheer wees nie, en dit pla hom glad nie
meer nie.”
Tinus vryf vies oor sy nek. Hoe op dees aarde het hy in hierdie situasie
beland? Beheer? Watse beheer? Vandat Leila in sy lewe gekom het, het hy
nie eens oor sy eie gedagtes beheer nie, verdomp. “Wat julle het, is spesiaal.
Glo my, ek sien gereeld hoe paartjies mekaar die hare invlieg. Nie ’n mooi
gesig nie.”
“Om getroud te wees beteken nie jy verskil nie oor dinge of raak nie kwaad
vir mekaar nie,” sê Jak en trek vir Sanet op sy skoot. “Maar, ek kan vir jou sê,
die opmaak agterna is ’n groot lekkerte. En wie wil nou in beheer wees as jou
droomvrou jou beheer?” Hy trek sy vrou se kop af vir ’n soen.

“Daar gaan hulle al weer,” sê Jacques, hulle oudste, en druk sy oë toe.
“Gross.”
“Jig,” beaam sy boetie, Martin.
Almal lag en vir ’n oomblik is die aandag van Tinus af. Dis net hier waar
hy homself uit die voete maak.
“Wel, ek is op pad,” begin hy, maar Sanet is nog nie klaar met hom nie.
“Leila het vir Tinus gevra om vir haar te help man soek,” kondig sy
doodluiters aan.
Dis vir ’n oomblik doodstil om die tafel voordat almal gelyk begin praat.
“Leila? Man soek?” vra Cara se ma verbaas.
“Nou toe nou,” sê sy ma met ’n kleinerige glimlag wat hy glad nie vertrou
nie.
Sy pa klap hom op die skouer. “Wel, dis een manier om seker te maak,” sê
hy met vonkelende oë.
“Presies,” sê hy. “Ek kan seker maak sy kry ’n man wat nie met haar sal
mors nie.”
“Soos wat jy gedoen het,” sê Sanet.
“Dis nie waarvan ek praat nie,” sê sy pa. “Maar jy is nie dom nie. Iewers sal
jy dit wel uitfigure.”
“Gee my ’n soen,” sê sy ma en beduie hy moet afbuk. Sy gee hom ’n stywe
drukkie voordat hy weer regop staan. “Bring vir Leila vir ’n braai sodat ons
vir haar kan wys daar is ordentlike Viljoens ook.”
“Wat van Oujaarsdag?” vra Sanet. “Ons kuier nog by Ma-hulle tot na
Nuwejaar. Ek hou van Leila en sal graag met haar wil gesels.”
“Ek sal by haar hoor,” brom hy voor hy wegstap. Magtig. As sy ma en
suster saamspan, het niemand ’n kans nie.
Oujaarsaand? Hy het mos eintlik klaar besluit hy gaan hoor wat Josie doen,
dan nie?

Dis die dag voor Oujaar. Leila sou nie vandag haar koffiewinkel oopgemaak
het nie, maar sy kon nie ’n minuut langer op die plaas bly nie. Nie met al die
herinneringe van haar op Tinus se skoot nie. En sy moes net besig bly.
Sy het douvoordag op die plaas weggetrek en skuins ná agtuur vanoggend
was die kaaskoek klaar en kon sy dit langs die wortelkoek op die toonbank
neersit. Daar was selfs nog tyd om skons te bak.
Wat het haar besiel om die man in die eerste plek in haar kamer toe te laat?
En nie net een keer nie. Twee keer. Toe huil sy hom sopnat en raak bo-op
hom aan die slaap.
Hoe sy weer op haar bed onder die komberse beland het, wil sy liewer nie
aan dink nie. Tinus moes haar opgetel, in die bed gesit en toegemaak het. Net
die blote gedagte aan sy groot, warm hande op haar lyf gee haar die een gloed
op die ander.
Die stuk kaaskoek wat sy in die bordjie skep, val om bo-op die coulis wat
sy met groot moeite in ’n patroontjie gespuit het. Vrek, dit kom nou van
helder oordag staan en droom oor Tinus freaking Viljoen. Sy vat ’n ander
bordjie en begin die hele proses van voor af.
Dis die laaste ding waarvoor sy tyd het. Sy het nie hulp vandag nie en
hardloop behoorlik op en af tussen die tafels om almal tevrede te hou. Die
wortelkoek is amper op, sy sal moet probeer om tussenin miskien nog skons
te bak.
Toe sy met die skinkbord uitstap, sien sy vir Zander Steyn in die deur. Sy
glimlag en wink hom in voordat sy die kaaskoek en koffie voor ’n kliënt
neersit. Sy weet Zander stel ook nie belang in meer as ’n bolangse fling nie,
en dit pas haar uitstekend. Hy is vrolik en goeie geselskap en daar is geen
kans dat sy haar hart kan verloor nie. Want haar hart behoort reeds aan
iemand anders.
Zander het intussen by ’n tafel gaan sit.

Sy stap na hom toe. “Wat kan ek vir jou bring?” vra sy vriendelik.
Hy gryp haar hand. “Ek het alles wat ek wil hê net hier,” sê hy en soen haar
hand.
Sy trek haar hand laggend uit syne. “Smooth talker, nè? Koffie? Tee?
Ystee?”
“Koffie as jy by my gaan sit,” flikflooi hy.
Met ’n glimlag beduie sy in die winkel. “Nie vandag nie, jammer. Dis net te
besig.”
“Nou maar goed. Koffie. Dan kan ek ten minste vir jou kyk,” terg hy.
Sy lag en stap tot agter die toonbank. Die man is ’n onmoontlike flirt, maar
dit pla haar glad nie, want sy voel net mooi niks vir hom nie.

Drie

Dit was nie sy plan nie. Glad nie. Maar toe Tinus hom kom kry, hou hy voor
Leila se koffiewinkel stil. Die gebou behoort aan hom, dis heeltemal
verstaanbaar as hy af en toe kom inloer. Dis buitendien tyd om na die gebou
se elektriese bedrading te kyk, en die kombuis van die koffiewinkel het ook
’n opgradering nodig. Dis ’n ou gebou en dinge kan maklik verkeerd gaan.
Hy pers sy lippe opmekaar en klim uit. Dis nie hoekom hy hier is nie. Ten
minste moet hy probeer om eerlik met homself te wees. Hy is hier omdat hy
vir Leila wil sien. Is sy oukei? Is sy nog hartseer ná haar droom oor haar
ouers?
En terwyl hy nou so bitter eerlik is met homself, kan hy ook maar erken, hy
wil haar sien om seker te maak hy verbeel hom nie die vreemde hol kol op sy
maag elke keer as sy oë op haar val nie.
Hy sien vir Zander Steyn raak toe hy in die koffiewinkel instap. ’n
Laggende Leila sit ’n koppie koffie voor hom neer. Vir ’n oomblik sien Tinus
net rooi voor hom en toe hy weer kan fokus, staan hy by die tafel waar
Zander sit.
“Tinus!” roep Zander luid. “Kom sit. Leila hier maak die lekkerste koffie.”
“Ek weet,” kry hy tussen sy tande deur uit. “Leila? Kan ek jou asseblief ’n
oomblik spreek?”
Zander frons vir ’n oomblik voordat die plooie op sy voorkop verdwyn en
sy simpel glimlag weer op sy bakkies sit. “O ja, jy wil seker besigheid gesels.
Maar dis reg, ek wag geduldig net hier vir Leila.”

Nog voor Zander klaar gepraat het, stuur Tinus vir Leila in die rigting van
die kombuis.
“Watse besigheid?” brom Leila.
Die laaste ding wat hy nou wil hê, is dat sy uitvind hy besit die gebou
waarin haar koffiewinkel is. Sy sal baie vinnig twee en twee bymekaarsit en
weet hy het die plek verlede jaar gekoop – nadat hy haar seergemaak het. Hy
wil nog self nie al die redes hoekom hy die plek gekoop het, hardop uitbasuin
nie, en om dit aan haar of enigiemand anders te probeer verduidelik, is
onmoontlik.
Hy druk haar voor hom by die kombuis in. “Besigheid is die laaste ding op
my brein.”
Sy draai om. En sy hart slaan bollemakiesie! Haar hare is in ’n poniestert
vasgemaak, maar hier en daar het ’n paar stringe ontsnap en krul om haar
gesig. Binne hom soek ’n maalkolk emosie plek om te ontsnap.
“Ek wou seker maak jy is oukei.”
Sy kantel haar kop. “Jy kon gebel het.”
“Sou jy geantwoord het?”
Sy gooi haar poniestert oor haar skouer. “Tinus, ek het ’n winkel vol mense,
’n kombuis vol skottelgoed, ek het nie tyd vir ginnegaap nie.”
Hy sien die berg skottelgoed agter haar raak. “Nou toe, gaan help die
mense, ek maak skoon.” Hy begin bordjies opmekaar stapel, koppies
uitspoel.
Sy trek aan sy arm. “Is jy nou heeltemal laf? Daar is ’n masjien, jy hoef nie
te was nie,” begin sy opgewerk praat.
Hy buk oor en soen haar. “Vir een wat ’n winkel vol mense het, praat jy
vreeslik baie. Ek kan skottelgoed in ’n masjien pak. Toe, gaan help jou
klante.” Hy maak die skottelgoedwasmasjien oop en begin koppies inpak.

Met tintelende lippe staar Leila verstom na Tinus se breë rug. Hy het haar
sowaar weer gesoen. En hy was skottelgoed. Bid jou aan. Tinus Viljoen,
hartebreker en ryk prokureur van Hermanus, was skottelgoed in haar
koffiewinkel. Vir ’n oomblik weier haar bene om te beweeg, maar iemand lag
binne en sy skarrel terug.
Hoekom hy hier is en hoekom hy haar weer gesoen het, verstaan sy nie,
maar sy is seker daarvan hy sal wel iewers moeg raak vir sy speletjie en
verdwyn.
Die volgende twee uur is totale chaos. Op ’n stadium het sy gesien die
skottelgoed is gewas en alles mooi weggepak. Sy het aanvaar Tinus het gery,
maar op pad terug uit die kombuis, kry sy hom al geselsend met die kliënte
terwyl hy koppies en bordjies bymekaarmaak en kombuis toe dra.
Sy het ’n paar keer probeer om vir hom te sê hy hoef nie te help nie, maar
elke keer het hy gemik om haar te soen. Sy is al so vies vir hom. Wat soek hy
hier? Maar omdat hy die skottelgoed gewas het, het sy ook tussendeur kans
gekry om nog deeg aan te maak en ekstra skons in die oond te druk.
Toe die laaste mense halfses uit die winkel stap, druk sy die deur vinnig toe
en draai die bordjie om sodat almal kan sien hierdie winkel is nou toe vir
besigheid. Sy is behoorlik van haar voete af gehardloop.
Die stomme Zander wou nog gesels, maar hy het uiteindelik moed opgegee.
Hy sien haar later, het hy beduie voor hy en sy spierwit glimlag by die deur
uit is.
Sy begin die stoele op die tafels tel sodat die skoonmakers môreoggend die
vloer kan was voordat hulle oopmaak. Haar voete klop behoorlik van al die
rondskarrel. Maar dit was ’n goeie dag; sy het baie meer gemaak as wat sy
gedink het sy sou.
Die deur na die kombuis swaai oop. “Waarmee kan ek nog help?” vra
Tinus.

Sy kom orent. “Tinus, baie dankie vir jou hulp, maar ek sal nou verder
regkom. Dit was regtig nie nodig nie.”
Terwyl sy praat, stap hy tot by haar en begin haar met die stoele help.
“Tinus,” begin sy opgewerk praat, maar hy buk oor en soen haar.
“Moenie my aanmekaar soen nie!” Vies ruk sy haar kop terug en pluk ’n
stoel onder die tafel uit.
“Ek hou daarvan.” En doodluiters pak hy stoele verder op die tafels.
Sy is sommer vies. Die man maak haar heeltemal mal. Hy wil haar nie hê
nie, maar hy soen haar aanhoudend – hoe verstaan sy dit? Sonder om weer in
sy rigting te kyk, tel sy nog stoele op en pak dit op die tafels.
Die volgende tafel se stoele is reeds opgepak, sien sy. Sy kyk rond, maar
Tinus het vinnig gewerk en daar is nie meer ’n stoel wat rondstaan nie.
“Ek wou nog vra wie se skilderye is teen die mure?” Tinus staan hande in
die broeksakke en kyk na ’n skildery van een van die ou huisies op
Hermanus.
“Myne,” sê sy afgetrokke terwyl sy rondkyk of alles in plek is. Nou nog net
die laaste skottelgoed was.
“Wat bedoel jy, joune?” vra Tinus verbaas. “Het jy dit geskilder?”
“Ja. Ek het kuns geswot, skilder is my eerste liefde. My ouers is dood die
jaar wat ek graad gekry het. Ek sou oorsee gaan rondloop en idees kry
voordat ek ernstig sou begin met my kunsloopbaan. Maar toe is hulle … weg
en ek het die koffiewinkel begin. En ek het begin om saans te skilder. Op die
manier kan ek beide my passies uitleef – ek hou van koek bak en om te
skilder is …” Sy druk haar hand teen haar hart. Dis altyd moeilik om te
verduidelik.
“Dit is wie jy is?” vra Tinus en begin deur die tafels na haar toe aanstap.
Sy knik.
“Jy is baie goed. Ek wil graag die een van die ou hawe by jou koop.”

“Dis nie nodig …”
“As jy weer vir my sê dis nie nodig nie, soen ek jou en dié keer gaan ek nie
gou ophou nie.”
“Tinus!” roep sy ontsteld uit. “Jy maak my heeltemal mal, weet jy? Wat
maak jy hier by my? Hoekom spandeer jy die hele dag in ’n kombuis terwyl
die son skyn, die branders breek, die strand vol sexy girls is?”
’n Frons keep diep in sy voorkop. Hy steek sy hande in sy broeksakke. “Ek
wou jou sien. Toe ek vanoggend opstaan, wou ek jou net sien. Moenie vir my
vra om dit te verduidelik nie; dis hoe dit is.”
“Ek gaan liewer skottelgoed was.” Sy vlieg om en storm kombuis toe. Maar
in die kombuis kom sy vinnig tot stilstand. Alles is gewas, netjies afgedroog
en weggepak.
Sy draai om en Tinus staan in die deur, ’n groot glimlag op sy gesig.
“Ek gaan gou ’n bottel wyn vir ons koop en sommer ’n pizza kry, wat sê jy?
Gaan stort lekker; ek bring aandete.”
Moedeloos staar sy na hom. “Hoekom?”
Hy glimlag. “Ek is honger en lus vir … ’n glas wyn.”
Die effense aarseling is genoeg om haar hartklop tot ver anderkant normaal
op te jaag. Sy moet hom uit haar kombuis kry en vinnig ook, anders is sy
kapabel en spring in sy arms.
“Goed, ek haal solank borde en glase uit.” Half desperaat druk sy aan sy
arm in ’n poging om hom uit te kry, maar al wat sy regkry, is om sy spiere
onder haar vingers te laat bult.
Sy kyk op. Donkerbruin oë gly koorsig oor haar gesig.
Buite klop iemand hard teen die winkel se deur. Sy duik onder Tinus se arm
deur om te kyk wie so hard klop. Dis Zander.
Sy glimlag en gaan sluit die deur oop. “Ek het al toegemaak.”
“Wonderlik, kom eet dan saam met my,” begin hy, maar Tinus het intussen

agter haar aangestap en sit sy hande op haar skouers.
“Zander,” groet hy ewe vriendelik.
Zander kyk na haar. “Ek het nie geweet daar is iets tussen julle nie.”
Sy wikkel haar skouers, maar Tinus hou sy hande stewig in plek. “Daar is
nie, ons is in die proses om vir haar ’n goeie man te soek. Een wat nie soos jy
elke aand ’n ander girl aan die arm het nie.”
Zander bars uit van die lag. “Jy’s ’n mooi een om te praat.”
“Dis hoekom ek haar kan help. Ek sien ouens soos jy op ’n afstand aankom
en kan haar waarsku.”
“Julle weet ek is net hier, nè?” sê Leila geïrriteerd.
Zander laat gly die agterkant van sy hand teen haar arm af. “Wel, skattebol,
ek is, soos Tinus, beslis nie in die mark vir iets ernstigs nie, maar as jy net ’n
lekker tyd wil hê, laat weet my!” En met ’n wuif stap hy doodluiters weg.
Leila draai om en staar na Tinus. Hy moenie dink hy het al die antwoorde
nie.
“Ek sê jou wat. Los die pizza en wyn, kom ons gaan iewers heen waar ek
die manne kan uitkyk. Wat van die nuwe eetplek in die volgende straat? Die
een wat ook ’n kroeggedeelte het. Ek gaan my mooimaak en dan kry ek jou
daar oor …” Sy kyk op haar horlosie. “Kom ons sê ’n halfuur.”
Tinus frons. “Jy is moeg ná die lang dag. Dink jy nie dis beter as jy met jou
voete in die lug gaan sit nie?”
Dis presies waarvoor sy lus is, maar dis ook presies wat sy nie kan doen
nie, in elk geval nie as Tinus by haar wil kom eet nie. Want sy weet, hy en sy
alleen in haar woonstel is só nie ’n goeie idee nie. Sy vertrou haarself glad
nie naby die man nie.
“Waarvan praat jy?” lag sy vrolik. “Maar foeitog, jy is ook al ouer. As jy
nie kan byhou nie, moet jy maar praat.”
Hy pluk haar nader en soen haar – hard, intens, vol passie. Hulle is beide

uitasem toe hy sy kop oplig.
“Ek kan byhou, moenie jou daaroor bekommer nie. Kry jou oor ’n halfuur,”
sê hy hygend en stap met lang treë uit die winkel.
Leila gaan leun teen die naaste tafel so tussendeur die stoele. Sjoe. Sy moet
eers lewe in haar bene kry voordat sy haar kan gaan mooimaak. M’m,
mooimaak.
Sy glimlag. Wil die man met haar mors? Wel, twee kan die speletjie speel.
Tinus rek sy nek sodat hy bo-oor die samedromming van mense in die kroeg
kan soek of Leila nie al haar opwagting gemaak het nie. Nee, sy is nog nie
hier nie. Hy neem ’n sluk van sy bier.
Help soek Leila na ’n man. Een met wie sy kan trou. Hoe de hel het hy in
die situasie beland? Aanvanklik het die hele idee nie so bisar geklink nie,
maar nou, terwyl hy vir haar sit en wag sodat hy haar aan ander mans kan
voorstel, wil hy yster breek.
Is sy ernstig of wil sy hom jaloers maak? Wel, miskien moet hy vir haar sê
sy hoef nie al die moeite te doen om uit te vind of hy jaloers is nie – hy is.
Hoe de hel kan hy haar aan ander mans voorstel as hy haar vir homself wil
hê? Hy neem weer ’n groot sluk bier. Dis die hele bleddie punt. Hy wil by
haar wees, maar sy het dit baie duidelik gemaak sy soek ’n trouman. En hy
wil nie trou nie. Nie nou al nie.
Hy frons. Hy wil nie trou nie. Gewoonlik klink dié sin so logies, want sy oë
soek maklik na die volgende mooi girl in die vertrek. Maar hier sit hy nou in
’n kroeg vol mooi en, te oordeel na al die flikkers wat al in sy rigting gegooi
is, gewillige girls, en wat doen hy? Hy sit en staar na sy bier en dink aan net
een meisie. Leila. En dis presies wat die afgelope twaalf maande gereeld met
hom gebeur.
Die volgende oomblik rys die hare op sy arms en hy weet sy is hier. Hy kyk

op. Sy kom na hom toe aangestap tussen die mense deur. Aanvanklik sien hy
net haar gesig, maar toe beweeg die mense weg en hy kan die hele Leila sien.
Sy hart maak ’n wilde boksprong en binne sekondes sak al sy bloed tot
onderkant sy middel. Hy het altyd geweet sy is beeldskoon, maar vanaand is
sy asemrowend mooi. Sy het ’n kort, baie kort, stywe beige rompie aan en ’n
pienkerige top met ’n wye nek. Wanneer sy beweeg, kry hy ’n glimp van ’n
bruingebrande, sexy skouer. Sy het ’n paar roomkleurige hoëhaksandale aan
met net hier en daar ’n dun bandjie.
Vrek! Hy is ’n dooie man.
Iemand kreun en hy besef verlangs dis hy. Maar hy het opgestaan en steek
sy hand uit na Leila. Haar vingers sluit om syne en sy lag op in sy gesig. Sy
skouers ontspan. Sy is hier. Sy is by hom.
“Hallo.” Sy het heelwat meer grimering aan as wat sy gewoonlik dra. Haar
oë lyk groter, intenser en haar mond is rooi geverf. Bloedrooi. En al waaraan
hy kan dink, is hoe graag hy dit wil afsoen. Hy wil sy tyd neem en haar
deeglik soen totdat daar nie meer ’n krieseltjie lipstiffie op haar lippe oor is
nie.
“… bietjie laat.” Haar laaste woorde is al wat registreer.
Hy neem haar hand en help haar op die kroegstoeltjie wat hy langs hom
oopgehou het. Haar kort rompie skuif nog verder op en sy oë haak vas op
haar lang, bruingebrande bene. Hy het ’n jaar gelede elke sentimeter van
hierdie einste bene onder sy hande en mond gevoel en hy onthou die
satynsagtheid van haar vel, haar unieke geur, haar …
“… al gesien?”
Met moeite kyk hy op. Hy moet keel skoonmaak voordat hy kan praat.
“Ekskuus, wat sê jy?”
Sy grinnik. “Ek vra of jy al enige potensiële kandidate gesien het.”
“Kandidate?”

Sy sug dramaties. “Die rede hoekom ons hier is, onthou?”
“O.” Magtig, hy staan en kwyl soos ’n skoolseun. “Ek het ’n tafel bespreek,
sal ons deurstap?”
“Nee, wag eers. Kry vir my ’n glas rooiwyn. Ek dink hier is meer mense, ek
het ’n beter kans om hier my trouman raak te loop as in die restaurant.” Sy
draai om in haar stoel en kyk die mense deur.
Hy bestel ’n glas wyn sonder om sy oë van haar af te haal.
“Ken jy daai ou?” vra sy en leun oor na hom toe.
Sy het ander parfuum aan – ’n swaarder geur wat sy mond onmiddellik
uitdroog.
“Dit help nie jy kyk vir my nie,” giggel sy en druk haar hand teen sy gesig
sodat sy kop draai. “Ek praat van die ou met die blonde kuif. Ken jy hom?”
vra sy weer. “Hy is baie aantreklik, of wat dink jy?”
Hy moet sy oë ’n paar keer knip voordat hy kan fokus. “Die een met die
blou strepieshemp?” vra hy toe hy uiteindelik die man raaksien na wie sy
wys.
“Ja. Weet jy iets van hom af?”
“Hy is ’n nuwe dokter op die dorp. Koen iemand. Koen du Toit.”
“Koen du Toit. M’m, hy is regtig ’n mooi man, dink jy nie so nie?” Sy
klink opgewonde en leun vorentoe om die man beter te bekyk.
“Ek sal nie weet nie, ek dink nie oor mooi mans nie.” Hy klink kortaf, hy
weet, maar magtig. “Ons het al saam ’n potjie gholf gespeel. Hy is die
afgelope paar maande by die dokterspraktyk waar ons gesinsdokter al jare
praktiseer. Ek weet nie verder iets van hom af nie.”
“Maar as julle saam gholf gespeel het, moet jy weet of hy gaaf is en
intelligent kan gesels. Toe, jy moet help. Ek kan sien hy is aantreklik, maar jy
moet die res van die prentjie vir my inkleur.”
Tinus frons. “Hy is gaaf. Ek weet nie veel meer nie. Soos ek sê, ons het net

een keer saam gholf gespeel.”
“Het julle gesels?”
“Ja, ons het gesels, maar dit beteken nie ek weet wat in sy kop aangaan
nie.”
“Maar dan moet jy weet waaroor hy graag gesels. Is hy vol van homself?
Stel hy belang in landsake? Sal hy oor die weg kom met Cara en Kobus,
byvoorbeeld? Dis alles dinge waaraan ek moet dink, onthou.”
“Ek kan nie onthou waaroor ons gepraat het nie. Magtig, dit was weke
gelede.”
“Wel, geoordeel net op looks, is hy beslis ’n kandidaat,” prewel sy, “maar
ek wil seker maak ek kyk almal deur. Is hier nog iemand wat jy kan
aanbeveel?” Haar kop draai heen en weer soos sy deur die mense kyk. “Oe,
wat van daai donkerkop aan die oorkant met die tatoe op sy boarm?”
Sy hart gaan staan amper toe hy sien na wie sy wys. “Is jy nou heeltemal
van jou sinne beroof?” kry hy dit uit en trek haar van die stoel af. “Ons gaan
eet.”
“Maar hy is aantreklik!” roep sy terwyl sy agter hom aantrippel. “En so
gespierd – presies waarna ek soek.”
“Hy was ook tot baie onlangs in die tronk,” sê hy met moeite.
“Hoekom?”
Die kelner herken vir Tinus en beduie waar hulle tafel is. Tinus vou sy
vingers stewiger om hare terwyl hulle tussen die tafels deur vleg. “Hy is bad
news. Dis al wat jy hoef te weet. Bly weg. Hy is beslis nie die soort man wat
jy aan jou vriende wil voorstel nie.”
By die tafel trek hy vir haar die stoel uit en sy gaan sit. Weer skuif die kort
rompie gevaarlik hoog op. Hy byt ’n swetswoord af en gaan sit vinnig
oorkant haar.
Sy beduie met haar hande. “Wel, die aand is nog jonk. As ons niemand

anders kry nie, sal ek my flikkers vir Koen du Toit begin gooi.”

Vier

Leila weet nie of sy moet lag of huil nie. Dis baie duidelik Tinus stel
hoegenaamd nie belang daarin om haar aan enige ander man voor te stel nie
en hy kners so hard op sy tande, sy kan dit hoor.
Hoe verstaan ’n mens so ’n man? Hy wil haar nie hê nie, maar hy wil haar
ook nie aan ’n ander man voorstel nie. ’n Kort fling is al wat hy in gedagte
het, en sy het soveel meer om te gee. Sy is lief vir hom. Hopeloos,
onherroeplik, vir altyd lief vir hom.
Die kelner stap nader en oorhandig die wynlys aan Tinus.
“Wat wil jy drink?” vra Tinus terwyl hy afkyk. “Weer rooiwyn? Jy hou van
’n cabernet sauvignon as ek reg onthou?”
Haar hart sug. Hy onthou van watter wyn sy hou. Hoe moet ’n hart dit
uitstaan? En natuurlik weet sy sy is heeltemal simpel. Natuurlik sal hy die
voorkeurdrankie onthou van al die vrouens wat hy uitneem – dis deel van sy
taktiek om die vrouens spesiaal te laat voel. Dis nou tot die oggend ná die
vorige nag. Dan kom ’n mens eers agter jy is een van baie wat geval het vir
sy sexy bruin oë.
“Jy onthou reg. Baie goeie taktiek, moet ek sê.”
“Wat bedoel jy?”
“Dit laat ’n vrou spesiaal voel as jy onthou wat sy drink, soos wat jy baie
goed sal weet.”
“Ek onthou van watter wyn jý hou, ek weet nie wat ander meisies drink
nie.”

“Ag, Tinus, toe nou,” glimlag sy breed en maak of sy vreeslik rondkyk na
ander mans. “Ons albei weet jy het ’n studie gemaak van hoe om ’n girl in die
bed te kry. Om te weet van watter drankie sy hou, is deel van jou taktiek.
“Waarvan praat jy?”
“Ons was saam, onthou?” sê sy ewe koel terwyl sy kamma rondkyk.
Tinus bestel die wyn en die kelner sit ’n spyskaart voor hulle elkeen neer.
“Ek onthou ons was saam,” sê hy. “Ek onthou … alles.” Die kyk in sy oë
dop haar maag sommer om.
“En die blondine van die volgende oggend?” lag sy vrolik. “Ontspan, Tinus.
Jy help my man soek, onthou?” Sy kyk af na die spyskaart, maar die letters
spring so rond voor haar oë, sy kan nie gelees kry nie. “Het jy al hier geëet?”
vra sy terwyl sy probeer fokus. “Wat kan jy aanbeveel?” En natuurlik wonder
sy dadelik watter ander vrou saam met hom hier was.
“Ek en ’n kliënt het middagete hier gehad net voor ons toegemaak het vir
die vakansie,” sê hy. “Ons het seekos geëet, maar ek het gehoor hulle steaks
is ook baie lekker.”
“Steak klink heerlik,” sug sy dankbaar en maak die spyskaart toe. “Ek besef
nou hoe honger ek is.”
Die kelner bring die bottel wyn en Tinus plaas hulle bestelling.
“Vertel my van jou skilderwerk,” vra hy en vat haar hand.
Sy word sommer weer warm en sy trek-trek aan haar hand om dit te probeer
loskry. Sy greep verstewig.
“Tinus, wat wil jy hê?”
Sy oë word donker, sy duim beweeg rusteloos oor haar hand. “Jou
skilderye,” is al wat hy sê. “Vertel my daarvan.”
Sy wil uitbrand en hy wil oor skilderye praat? Maar oukei, as hy oor ditjies
en datjies wil gesels, kan sy ook.
“Die koffiewinkel het vir lank al my aandag in beslag geneem, maar op ’n

dag het ek besef ek mis dit om te skilder. Ek was nie seker wat ek wou doen
nie, maar ek het my esel in die spaarkamer opgeslaan, my verf uitgehaal en
begin strepe verf. Die eerste poging was toe die Ou Hawe. Van toe af neem
ek foto’s van al Hermanus se ou geboue en dis wat ek op die oomblik
skilder.”
“Jy’s baie talentvol en ek was ernstig – ek wil dit graag koop. Ek het die
prys gesien, maar ek voel dis te min. Jy kan baie meer vra.”
Sy haal haar skouers op. “Ek is nie ’n bekende kunstenaar nie, dis my
prys.”
Uit die hoek van haar oog sien sy ’n beweging en toe sy kyk, is sy net
betyds om drie blondines gillend op Tinus te sien afstorm.
Hy staan laggend op en hou sy arms uit. Dis dieselfde drie blonde susters
wat ’n paar weke gelede ook op sy broer afgestorm het toe Kobus vir haar en
Cara uitgeneem het vir ete. So Tinus ken ook die klouerige sussies.
Sy het nie gedink dis moontlik nie, maar al drie hang aan sy nek. En dis
baie duidelik Tinus geniet die hele situasie terdeë.
“En toe staan en trou Kobus sommer,” pruil die een.
“Maar jy is nog hier,” giggel die ander.
“Of …” en drie pare oë draai in haar rigting.
Leila hou haar hande omhoog. “Net pelle. Om die waarheid te sê, hy help
my man soek.”
“Seriously?” vra die een.
“Jip. Hy ken die mans op die dorp en kan my help om die regte een te kies.”
“Wel, in daardie geval,” sê die enetjie weer pruilend, “sien ons jou
môreaand. Ons het ’n Oujaarsopskop by die huis.” Sy kyk oor haar skouer na
Leila. “En jy is ook baie welkom, hoor? Daar sal beslis baie manne wees, jy
sal kan kies en keur.”
Die drie poppies druk en soen om die beurt vir Tinus totdat Leila se tande

deurgekners is.
“Verskoon my,” sê sy, gryp haar handsak en pyl op die kleedkamers af.
In die klein badkamertjie staar sy na haarself in die spieël. Sy kan dit doen.
Geen meltdown is nodig en dit oor Tinus Viljoen nie. Sy weet presies wat hy
nie wil hê nie. Maar dêmmit, dis baie moeilik om lief te wees vir hom en toe
te sien hoe ander vrouens hom beklou.
Sy haal diep asem, maar daar is ’n knop in haar keel waar die lug net nie
wil verbykom nie. Vinnig sit sy nog lipstiffie op. So ja. Die drie sussies is
hopelik al weg; sy wil regtig nie langer hulle geflerrie aanskou nie.
Ken uitgestoot, stap sy uit die badkamer, vas in ’n breë borskas. Sy moet
ver opkyk, die man is groot. Dis die dokter wat sy vroeër raakgesien het.
Sy hande skiet uit en hy gryp haar skouers vas. “Sjoe, maar jy is haastig.”
Sy glimlag is breed.
“Ek is jammer.”
“Ek is nie. Ek het gewonder hoe ek jou alleen iewers kan kry sodat ek
myself aan jou kan voorstel.” Hy steek sy hand plegtig uit. “Koen du Toit.
Nuwe dokter op die dorp.”
Sy glimlag en vat sy hand. “Leila Mouton.”
“Kan ek iewers vir jou koffie koop, Leila Mouton?” Hy loer oor sy skouer
in die rigting van haar en Tinus se tafel. “Of is jy reeds …”
Sy skud haar kop heftig. “Nee, ons is net vriende. Ek dink jy ken hom.
Tinus Viljoen.”
“Die prokureur? Ja, ons het al saam gholf gespeel. Is jy seker ek krap nie in
sy slaai nie?” glimlag hy en vat haar hand.
“Kom stap saam. Jy kan hom self vra.”
Hy haal sy selfoon uit sy sak. “Voor ons stap, gee vir my jou selnommer,
asseblief.”

Waar de hel is Leila heen? Badkamer toe? Hoekom bly sy so lank weg? Sy
het haar seker vererg vir die Snyman-sussies, maar dis nie asof hy hulle tafel
toe genooi het nie, dis maar hulle manier om so sonder aankondiging op ’n
mens af te storm.
Hy draai weer om om te kyk of hy vir Leila sien. En daar is sy. Hy frons.
Sy kom in sy rigting aangestap, maar sy is nie alleen nie. Is dit …? Dis
wragtig die Koen-vent wat sy netnou raakgesien het. Sou sy hom gaan soek
het?
“Tinus, jy ken mos vir Koen du Toit. Ek het in hom vasgeloop. Hy wil my
nooi vir koffie, maar hy is bang hy krap in jou slaai. Ek het vir hom gesê ons
is net pelle.” Haar glimlag is breed, maar haar oë vermy syne.
Koen steek sy hand laggend uit om te groet. Vir ’n oomblik oorweeg Tinus
dit om sy vuis in die vent se bakkies te druk, maar hy trek sy mond in wat hy
hoop soos ’n glimlag lyk en skud die man se hand.
“Sy maak die lekkerste koffie op Hermanus, dis nie nodig om haar vir
koffie te nooi nie, gaan kuier sommer by haar koffiewinkel.” Terwyl hy vir
Koen verduidelik waar haar winkel is, druk hy sy gebalde vuiste in sy
broeksakke.
“En jy is oukei daarmee?” vra Koen.
Op daardie oomblik bring die kelner hulle kos. Tinus was nog nooit so bly
oor ’n onderbreking nie. Hoe de hel antwoord hy Koen se vraag? Hy wil
graag die man ’n drieletterwoord toesnou waaroor sy ma baie vies sou wees,
maar hy het nie die reg nie. Leila is nie syne nie.
Maar hy weet ook hy hou net mooi niks van die idee van ’n ander man naby
Leila nie.
“Ons kos is hier,” sê hy onnodig en gaan sit.
Koen kry die boodskap en met ’n vriendelike wuif stap hy weg.
Leila kyk rond voor sy gaan sit. “Die blonde susters? Ek sien hulle kon

hulle darem wegskeur van jou af.”
“Is dit hoekom jy vir Koen gaan opsoek het?”
Sy het begin eet en kyk nie op nie, skud net haar kop. “Ek het jou gesê ek
het in hom vasgeloop.”
“Hoekom het jy in die eerste plek weggeloop?”
“Ek was badkamer toe.”
“Is dit die enigste rede?”
Sy lig haar kop, haar oë is onleesbaar. “Watter ander rede sou daar wees?
Ek kan tog nie jaloers wees nie, dis nie asof jy my date is nie.”
“Sou jy wou hê ek moet jou date wees?”
Sy neem ’n sluk van haar wyn. “Tinus, jy is die een wat dit duidelik
gemaak het jy is nie troumateriaal nie, onthou jy?”
Hy knik, sy kos nog onaangeraak. “Ek weet. Maar moet dit so swart of wit
wees? Wil jy regtig so graag trou? En moet volgende jaar die jaar wees
waarin jy jou trouman kry? Kan ons nie net saam wees sonder die swaard van
ons-moet-trou wat bokant ons koppe hang nie? En wanneer een van ons wil
aanbeweeg, is dit verby en daar is nie hard feelings nie, of wat?”
Leila sit haar mes en vurk stadig neer en druk-druk die servet teen haar
mond. Uiteindelik kyk sy weer na hom. “Die feit dat jy dink om te trou is ’n
swaard oor ’n mens se kop, sê al genoeg. So jy stel voor is saam, ons slaap
saam, ek moet net onthou dis nie ’n permanente reëling nie?”
“Slaap is nie wat ek in gedagte het nie.”
Haar oë vernou. “Ek weet presies wat jy in gedagte het. ’n Tydelike lêplek
totdat jy aanbeweeg na die volgende girl.”
“Dis nie wat dit is nie,” sê hy vies.
“Jy kan dit mooi in doekies toedraai, maar dis presies wat dit sal wees.” Sy
tuur vir ’n rukkie na hom. “Die probleem is net, sê nou ek mis my trouman
terwyl ek by jou … slaap?”

En onmiddellik kan hy haar in sy bed sien, haar hare oor die kussing
gesprei, haar lang, soepel arms om sy nek. Slaap is beslis nie die regte woord
vir wat hy in gedagte het nie. Hy neem ’n groot sluk wyn. Die vroumens gaan
hom van sy sinne af maak.
Leila skud haar kop. “Nee wat, as jy onthou, het jy ’n jaar gelede al
aanbeweeg na die volgende vrou wat oor jou pad gekom het. Sommer die dag
net nadat jy saam met my was. Jy is nie die soort wat bly nie. Buitendien, ek
het ’n koffie date met Koen en jy het ’n Oujaarsdagafspraak met die Snymansussies.”
Sy grinnik. Grinnik!
“Ek dink jy is oukei, jy het ’n lêplek.”
“Jy is ook genooi, onthou?” brom hy onderlangs en krap die kos op sy bord
rond.
“Haai ja, is, nè? Hulle reken daar sal heelwat ander mans wees, dalk nog
een aan wie jy my kan voorstel. Nou maar goed. Kry my so teen sewe-uur by
die koffiewinkel, ek het admin wat moet klaar.”
Leila glimlag soet en neem die laaste hap van haar kos. Hy het nog nie eens
begin eet nie. Vandat hy gehoor het Koen du Toit wil Leila nooi vir koffie, is
sy eetlus daarmee heen.
Sy gesels vrolik verder. “Dis nou eintlik ’n baie goeie plan. By so ’n
huispartytjie kan jy my dalk net aan die regte man voorstel.”
Hy begin eet voordat hy iets sê wat kon gebly het. Vir haar ’n man soek?
Dêmmit, dis nie wat hy wil doen nie!
Dis laat toe hulle by die deur aan die onderkant van die gebou kom waar haar
koffiewinkel en woonstel is.
“Soos ek gesê het, dis regtig nie nodig dat jy saamgestap het nie,” sê Leila
terwyl sy in haar handsak grawe.

Tinus hou sy hand uit. “Ek sal oopsluit.”
“Tinus, regtig. Jy kan nou maar terugstap, ek is seker daarvan die sussies
wag nog vir jou.” Sy haal ’n sleutel uit en probeer die deur oopsluit, maar dit
glip uit haar hand.
Tinus buk af en tel die sleutel op. Hy ignoreer haar poging om dit weer by
hom te vat en sluit die deur oop.
“Tinus …”
Hy druk haar voor hom in en gee die sleutel vir haar.
“Sluit agter jou,” sê hy en druk die deur toe.
Terwyl sy toesluit, staan hy hande in sy broeksakke na haar en kyk.
Sy waai vrolik voordat sy omdraai en wegstap. Haar hart wil breek. Haar
hele wese moedig haar aan om in sy arms te spring. Miskien is hy reg. ’n
Kortstondige fling is dalk net wat nodig is om hom uit haar sisteem te kry.
Terwyl die gedagte deur haar kop flits, druk haar hand teen haar hart. Maar
sy’s lief vir hom, ’n fling kan nie werk nie. ’n Jaar gelede was hy by haar en
toe wou hy nie bly nie, wat is nou anders? Die seerkry sal sy nie ’n tweede
keer oorleef nie. Sy moet hom eenvoudig op ’n afstand hou.
Agter haar is ’n dringende klop en sy kyk om. Tinus staan nog net waar hy
was en hy wink haar nader. Haar hart bons laf in haar binneste rond. Oor dié
man is sy so ver heen, dis belaglik. Sy stap stadig terug en sluit weer die deur
oop.
“Het jy iets vergeet?” vra sy.
Die volgende oomblik vou sy hande om haar gesig. “Ja, dit,” sê hy en soen
haar.
Haar hande vou om syne om dit weg te druk, maar sy tong glip tussen haar
lippe deur tot in die holte van haar mond en haar vingers raak verstrengel in
syne. Sy soen verlei, verdoof totdat tyd verlangsaam, stop.
Sy hand vou agter om haar kop, buig haar agteroor, sy soen verdiep in

tonge en smake en asems wat al hoe vinniger en rukkeriger word. Haar hande
gryp sy skouers vas, ’n bondel spiere bult onder haar vingers, haar lyf buig,
pas perfek teen hom.
Hy lig sy kop uitasem op, sy oë vloeibare donkersjokolade. “Jy lyk so sexy
vanaand … ek moes net.”
“Dis nie deel van die ooreenkoms nie.”
Hy vryf oor sy gesig. “Jy wil mans ontmoet? Nou maar goed. Ek kry jou
môreoggend sesuur. Ons gaan gim.”
Sy wil huil. ’n Vuur woed in haar lyf ná sy soen, maar hy kan binne
sekondes afskakel en aanbied om haar aan ander mans in die gim voor te stel.
Wel, as hy kan, kan sy ook.
Sy sug kamma in ekstase. “Swetende, sexy mans – dis ’n wonderlike plan.
Ek het jou gesê ek hou van mooi, gespierde mans en ’n gim is net die plek
om hulle te sien. Toodles,” sê sy en druk die deur toe.
Tinus se kake is styf opmekaar geklem. Sy draai die sleutel. Hy druk sy
hand teen die glas voordat hy omdraai en wegstap.
Eers toe sy motor se ligte om die hoek verdwyn, kan haar bene weer
beweeg.
Tinus swets lank en hardop. Die vroumens maak hom van sy kop af.
Magtig, hy weet mos hy moet wegbly van haar af, sy soek ’n man wat by
haar wil bly, ’n trouman, ’n huis, kinders – alles wat hy nie wil hê nie. ’n Jaar
terug het hy dit al besef, maar hier is hy nog steeds.
En hy het wragtig aangebied om haar aan nog mans voor te stel. En dit
nadat hy elke man wat vanaand in haar rigting geglimlag het, met sy vuis
wou bykom. Wat de hel? Magtig, hy was nog nooit jaloers nie, maar hy is
bevrees dis presies wat hierdie belaglike gevoel is. Hy is nie die bakleierige
soort nie en hy het beslis nog nooit voorheen die mallemeule van emosies

beleef wat hy ervaar wanneer hy by Leila is nie.
En dis nie asof hy die afgelope twaalf maande by die huis sit en tob het oor
haar nie. Hy het seker elke ongetroude vrou in en om Hermanus uitgeneem.
Maar ná Leila kon hy nie weer enige entoesiasme optower om ’n vrou bed
toe te neem nie.
Hy wil haar hê, maar hy wil nie beloftes van vir ewig en altyd maak nie; dis
egter wat sy wil hê. Skaakmat.
Hy was oortuig daarvan sy is nie baie ernstig oor die mansoekery nie. Êrens
in ’n skuilhoek van sy gedagtes het hy gereken as sy by hom is, sal sy geen
ander man raaksien nie. Maar toe sien sy vir Koen raak. En sy het ’n date met
die vent nog voor die aand halfpad verby is.
Tinus draai by die oprit na sy huis in en druk die knoppie wat die
garagedeure toemaak. Binne sit hy lank in sy voertuig voordat hy uitklim.
Die gedagte van Leila saam met ’n ander man maak hom mal. Die gedagte
van ’n ander man se hande op haar, laat hom net rooi sien.
Die huis is stil en sonder enige warmte. Hy gooi die sleutels op die
kombuistoonbank en kyk om hom rond.
Hoekom het hy so ’n groot huis? Dis ’n plek vir ’n gesin. Vir ’n hond en ’n
kat en ’n papegaai. Hier is plek vir ’n donkerkopvrou en ’n haasbekdogtertjie
met lang, bruin vlegsels …
Hy draai om en stap gangaf kamer toe. Hy kan nie meer alles onthou wat sy
gesê het nie, iets van sy wil ’n man hê wat haar agtuur-ontbyt is, haar elfuuroggendkoffie, haar eenuur-middagete, haar halfagt-afspraak, haar droom,
haar kussing en … en. Hy kan nie die res onthou nie, maar iewers was daar
ook ’n vir-altyd-minnaar.
Haar vir-altyd-minnaar. Een wat … hoe stel sy dit? Bly. Sy wil ’n man hê
wat by haar bly.
Hy gaan sit op sy bed. En dis sy dilemma – hy wil by haar wees, by haar

bly, maar vir altyd? Sê nou hy sien môre ’n stunning girl wat hy wil ontmoet?
Hoe beloof jy trou aan een mens vir die res van jou lewe?
En sê nou daar is ’n ander vrou wat hom interesseer – sal hy van Leila
vergeet? Sal hy nooit wonder by watter ander man sy is nie?
Sy vuiste is al weer gebal.

Vyf

Vroegoggend raas Leila se foon haar wakker. Dit kan nie die wekker wees
nie, sy het nou net eers aan die slaap geraak. Die son is al op, maar hierdie
tyd van die jaar is dit al vyfuur lig.
Voel-voel soek sy haar foon. Dis ’n boodskap van Cara, sien sy. Net drie
hutsmerkwoorde: #seychelle #dolgelukkig #wensjywashier
Sy stuur ’n boodskap terug: #hermanus #wensekwasdaar
Cara stuur weer ’n boodskap: jy oukei?
Leila staar na haar foon. Sy is nie oukei nie, sy sal nooit weer heeltemal
oukei wees nie. Hoe kan sy? Sy het haar hart op ’n man verloor en hy stel net
in ’n flirtasie belang.
’n Ander boodskap kom deur. Dis nie ’n nommer wat sy ken nie. Sy maak
dit vinnig oop. Dis van Koen. Hy kom by haar koffie drink, sê hy. Sommer
nog vanoggend.
Wel, sy het ten minste nuus vir Cara.
Jip, tik sy. #koffiedate
Cara stuur ’n rits vraagtekens.
Leila tik: Koen du Toit. Nuwe dokter op dorp.
Sy grinnik en voeg by: #hotdate vanoggend
Cara sal daarvan hou.
Dis ’n rukkie stil, toe kom die boodskap terug: Kobus hou van hom. Laat
weet.
Leila rol haar oë en swaai haar bene uit die bed. Sy moet nog gewoond

daaraan raak dat sy nie meer net haar nuus met Cara deel nie, maar ook met
Cara se man. Wat haar laat besef, sy moet vir Cara van haar en Tinus se
reëling vertel.
Tinus help my man soek. Hy’t my aan Koen voorgestel. Gaan nou-nou gim,
nog #hotdates
Leila druk die stuurknoppie en hou haar asem op. Iewers gaan Cara hoor sy
en Tinus was saam en sy wil eerder vir haar laat weet van hulle twee se
ooreenkoms voordat sy by iemand anders hoor en haar eie wilde afleidings
maak.
Cara stuur ’n gesiggie met groot oë terug. Niks tussen julle nie? voeg sy by.
Nee. Net #hotdates
Hopelik sal dit haar vriendin eens en vir altyd oortuig daar is niks tussen
haar en Tinus nie. Sy weet Cara het vrae oor hulle twee. Op haar niggie Kotie
se troue wou Tinus haar vra om te dans en sy het vies reageer – Cara kon van
hulle lyftaal aflei iets het gebeur, maar sy het nooit vir Cara die hele
hartseerverhaal vertel nie. Waarvan sy geen geheim gemaak het nie, is wat sy
van die Viljoen-broers dink. Sy was so seergemaak en kwaad, sy kon nog nie
met iemand praat oor wat gebeur het nie.
Leila spring op en haal haar gimklere uit die kas. En vir ’n oomblik sien sy
Tinus se warm oë op haar. Dis nie waaraan sy nou moet dink nie! Sy trek
vinnig aan en maak haar hare in ’n poniestert vas.
’n Jaar gelede het sy een wonderlike nag saam met hom gehad. Hy was weg
toe sy wakker word, maar sy het opgewonde in haar koffiewinkel gewag om
van hom te hoor toe hy instap met ’n blondine oor hom gedrapeer. Die
vroumens het die hele tyd aan hom gehang, hom gesoen, en hy was so
ingenome met die girl, hy het skaars opgekyk toe Leila vra wat hulle wil
drink. Sy het die boodskap gekry.
Sy was verslae, hartseer en toe sommer net de vieste in vir hom. Dit was

duidelik hy het vir haar probeer sê hy is nie ’n one-girl man nie, maar in plaas
daarvan om met haar te praat, het die lafaard ’n makliker uitweg gekies om
haar te laat verstaan hoe hy dinge doen.
Dié keer is hy ten minste van die begin af eerlik: Kom ons is saam sonder –
hoe het hy dit nou weer gestel? – o ja, sonder die swaard van ons-moet-sekeruiteindelik-trou bokant ons koppe.
Hou hom op ’n afstand. Dit was gisteraand haar voorneme. Totdat hy haar
gesoen het. En wat doen sy toe? Klou vir dood aan die man soos ’n patetiese
outydse heldin.
Maar ai, sy vrek oor hom! Sy weet hy gaan haar weer seermaak; hy is nie
die soort wat bly nie, sy weet dit, maar …
Dis Oujaarsdag en sy gaan gim saam met Tinus en ’n man soek. Van môre
af sal sy weer planne maak, planne wat hom nie sal insluit nie.
In haar agterkop het ’n idee al ’n ruk gelede begin posvat – daar is nie
regtig ’n rede hoekom sy in Hermanus moet bly nie. Daar is baie ander
plekke waar sy ’n koffiewinkel kan begin. Miskien nader aan die Kaap. Sy
kan weer kontak maak met haar kunstenaarsvriende, dalk weer ’n kursus of
twee in skilderwerk doen. Sy sal moet uitvind.
Daar is ’n lewe sonder Tinus. Een wat heel lekker was voordat hy in haar
lewe gekom het. Sy het ander belangstellings, ander planne.
Haar voordeurklokkie lui. Tinus. Haar hart doen weer die
bollemakiesieding. Sy rol haar oë. Régtig?
Wat het hom besiel? Tinus probeer sy bes om op die metertjie van die
trapfiets waarop hy oefen te fokus, maar sy oë het ’n wil van hulle eie. En
wat hulle wil doen, is om Leila dop te hou.
Wat hom laat instem het om vir haar ’n man te help soek, kan hy nie
kleinkry nie. Was dit sy manier om seker te maak sy ontmoet geen ander man

nie? Wat dan natuurlik die vraag laat ontstaan – hoekom nie?
Leila het op ’n fiets skuins oorkant hom geklim en van waar hy staan, het
hy ’n onbelemmerde uitsig op haar skraal rug, haar netjiese boudjies, haar
sexy kuite, haar … Hy probeer weer voor hom kyk.
Toe sy die deur vanoggend vir hom oopmaak, het hy omgedraai en in die
rigting van sy motor gestap. Hopelik sou sy agter hom aankom. Vir ’n paar
minute het hy nie asem of woorde gehad om met haar te praat nie.
Sy is lank, lenig en sexy. En sy hou van mooi klere – dit het hy al ’n jaar
gelede agtergekom. Dis een van die dinge waarvan hy gehou het – jy kan
haar altyd deur ’n ring trek.
Wat hy ook baie goed onthou, is hoe sy gelyk het toe hy twaalf maande
gelede soos ’n lafaard uit haar woonstel gesluip het. Sy was vas aan die slaap,
die laken net hier en daar oor haar getrek, haar satynsagte lyf uitlokkend oor
die bed gedrapeer.
En vanoggend in haar stywe gimklere is dit al waaraan hy kan dink – hoe sy
gelyk het sonder ’n draad klere aan.
Sy oë draai weer onwillekeurig in haar rigting. Hy trap mis en val vorentoe
op die fiets. Met ’n swetswoord druk hy homself regop. Twee getatoeëerde,
gespierde javels leun oor Leila se fiets en sy flerrie openlik met al twee van
hulle!
Hy is by haar nog voordat hy daaroor kan dink. Sy hand vou oor haar
boarm en hy trek haar na hom toe.
“Verskoon ons,” mompel hy en trek haar weg.
Sy beur terug. “Maar dis nice ouens, ek het net lekker begin gesels.”
“Lekker begin flirt, bedoel jy,” kners hy die woorde uit.
Sy ruk haar arm los uit sy greep. “Maar is dit nie presies hoekom ons hier is
nie?”
Hy is lus en gooi haar oor sy skouer en neem haar ver weg waar niemand

anders na haar kan kyk behalwe hy nie.
“Ons is hier sodat ek jou aan ordéntlike mans kan voorstel,” sê hy.
“Wel, ons is al ’n halfuur hier en jy het my nog nie aan een man voorgestel
nie.”
Hy kyk vervaard rond. Aan wie kan hy haar voorstel? Watter man vertrou
hy honderd persent?
“Hallo, hallo, hallo,” sê ’n stem agter hulle.
Leila se oë lag en sy gooi haar poniestert oor haar skouer. Haar mondhoeke
trek boontoe.
“Hallo,” groet sy hees, stoot haar een heup vorentoe en steek haar hand uit.
“Tinus, gaan jy ons nie voorstel nie?”
Tinus byt so hard op sy tande, hy is seker daarvan hy gaan een breek. Van
alle bleddie mans op aarde, sal Arend de Jongh nou nader staan. Die man is
ook ’n prokureur, maar van die soort wat die beroep se naam sleg maak. Hy
is ’n aartsopperste skelm en is al deur twee vrouens as hy dit nie mis het nie.
Tinus trek vir Leila nader. “Nee,” sis hy in haar oor.
Maar óf sy hoor hom nie óf sy het besluit om haar nie aan hom te steur nie,
want toe hy weer sien, het Arend haar hand in albei syne.
“Arend de Jongh,” glimlag hy blink en glibberig.
“En ek is …”
“Ons is reeds op pad,” sê Tinus ongeskik en gryp haar hand. As hy sy sonde
nie ontsien nie!
“Tinus, wat op aarde maak jy nou?”
“As jy weet wat goed is vir jou, praat jy nie een woord verder nie.”
“Tinus!” roep sy vies uit en ruk haar hand los.
Hy kyk oor sy skouer, maar Arend het begin fiets trap en is reeds weer aan
die flirt met die vroumens langs hom. Hy ontspan. Baie effens.
“Ek gaan huis toe.” Leila lig haar ken vies. “En vergeet van ons reëling – ek

sal my eie man soek.” Sy wip om en begin wegstap.
Hy wil agter haar aanstorm, maar uitroepe laat hom omkyk. Iets moes
gebeur het, want mense drom saam om een van die fietse. Hy draf nader.
“Dis Arend,” sê iemand.
“Hy het nog so getrap, toe val hy vorentoe …”
“Dink jy dis ’n hartaanval?” vra nog iemand.
Die eienaar van die gim beur tussen die mense deur. “Staan opsy, mense,”
roep hy. “Ons het klaar die ambulans gebel. Staan terug, asseblief.”
Toe Tinus omdraai, is Leila agter hom, haar gesig bleek.
“Is dit die ou wat ek nou net ontmoet het?” vra sy.
Hy knik. “Iemand praat van ’n hartaanval, ek sal uitvind en jou laat weet.
En ek is jammer oor netnou.” Hy vryf oor sy nek. “Hy is nie die soort man …
hy was al twee keer getroud.”
Sy kyk rond en beduie met haar hand. “Wel, iewers in die groot gim moet
iemand wees wat aan jou hoë standaarde voldoen. Is jy seker jy het al die
mans deurgekyk?”
Sy oë bly op haar. “Nee.”
“Hoekom nie?”
Hy kyk ’n ruk lank na haar. “Kan ek jou vanaand kom haal? Ons kuier
hierdie Oujaar uit by my ouers se plek. Sanet en Jak is ook daar.”
“Wat van die sussies se paartie? Ek het nogal gedink dis ’n goeie plek om
mans te ontmoet.”
Hy buk vorentoe en soen haar. Dis al manier waaraan hy kan dink om haar
te laat ophou praat oor die verdomde mans wat sy wil ontmoet.
“Seweuur.” Hy draai om en stap weg in die rigting van sy motor. Hulle het
sommer van haar plek af tot hier gestap. En daar is niks wat hy graagter wil
doen as om weer saam met haar terug te stap nie.
Maar sy soek ’n man om mee te trou, een wat by haar sal bly. En dis nie hy

nie. Hy vryf oor sy borskas. Verbeel hy hom of voel hy ’n dowwe pyn?
Hartaanval. Arend is nie veel ouer as hy nie en dit wil lyk asof hy ’n
hartaanval gehad het.
Tinus frons voordat hy oor die straat na sy motor toe draf. Hy is heel
simpel. Hy is fiks, eet gesond, kry gereeld oefening, hy is nie ’n kandidaat vir
’n hartaanval nie.
En Leila? Wat as sy iets sou oorkom? En wat van haar as hy iets oorkom?
Sy het al erken hy het haar ’n jaar gelede seergemaak. Dit beteken sy moet
iets vir hom voel, of hoe? Hoe sal sy reageer as hy byvoorbeeld ’n hartaanval
kry?
Swetsend klim hy in sy motor. Die vroumens mors met sy kop. Hy is jonk
en gesond en baie ver van enige hartaanval af.

Ses

Teen vyfuur is haar hele klerekas op haar bed. En sy hét baie klere. Te veel.
Sy weet. Maar sy is mal oor mooi klere. Dis net, sy het deur die lang,
deurmekaar dag besluit hierdie Oujaarsaand sal haar laaste aand saam met
Tinus wees en sy wil goed voel oor haarself.
Miskien die lang, swart romp met die roomkleurige kanttoppie? Maar dis ’n
bietjie koelerig vandag. Haar hand vat ’n lap vas tussen al die deurmekaar
klere en sy trek die eerste rok wat sy uitgehaal het weer uit. Dit is dalk tog die
beste keuse. Die ligblou oorkruisrok is van ’n heerlik sagte lap gemaak wat
haar besonder vroulik laat voel. Dis tog ’n baie informele geleentheid, so haar
plat roomkleurige sandale sal die ding doen.
Sy hang vinnig al haar klere terug – sy weier om te dink hoekom. Haar
grimering is al aangewend en haar hare het sy uitgekam sodat dit glad agter
teen haar rug afhang. Die bande van die rok het sy net mooi vasgemaak toe
die klokkie aan die onderkant lui.
Met haar skoene in die hand draf sy tot by die knoppie wat die deur
oopmaak en terwyl sy wag vir Tinus om op te stap tot bo, glip sy haar sandale
aan. Diep asemteug. Vir ’n oomblik leun sy teen die tafel in die klein
voorportaal. Haar hart trom freneties en sy probeer dit met haar hand onder
beheer bring. Kalm bly. Dis net ’n man.
Die klokkie lui, sy maak die deur oop en ai, haar arme, stomme hart skakel
sowaar oor na ’n hoër rat. Tinus het roomkleurige jeans aan met ’n spierwit
hemp. Sy wil hom innooi, vriendelik klink, maar sy besef betyds sy gaan nie

’n woord uitkry nie en sy wink hom na binne.
“Handsak,” beduie sy voor sy vinnig terugskarrel na haar kamer toe.
In haar kamer gryp sy haar lipstiffie en met bewerige vingers probeer sy dit
aansit. Haar ingewande voel soos jellie. Vrek! Sy vee haar eerste poging af.
Dis lipstiffie. Sy kan dit doen. Ná nog twee probeerslae is sy uiteindelik
tevrede.
Op pad sitkamer toe, kondig haar foon ’n boodskap aan. Dis Cara.
Hoe was jou #hotdate? wil Cara weet.
Koen. Deksels, ja, sy moes vir Cara laat weet het van haar afspraak, maar
dis die laaste ding waaraan sy die afgelope paar uur gedink het. Om eerlik te
wees, sy het van Koen vergeet die oomblik toe hy uit haar winkel wegstap.
Hy’s gaaf, baie gaaf, en as dit nie vir Tinus was nie, sou sy ja gesê het vir sy
uitnodiging om môre saam met hom te kuier.
“Het jy iets warms?” vra Tinus.
Met haar vinger nog op haar foon, kyk sy op. Tinus se oë is halfmas, sy
kake styf opmekaar geklem.
“Die rok het moue,” sê sy.
Hy stap tot voor haar. Vir lang oomblikke staar hy na haar, sy hande in sy
broeksakke. Toe lig hy sy een hand op, laat gly dit oor die lae hals van die
rok tot teen die rondings van haar borste.
“Jy gaan koud kry,” prewel hy terwyl sy vinger die boonste lyn van haar
kurwes volg.
Sy druk haar handsak en foon in sy hande en draai vinnig terug kamer toe.
Leila se foon maak ’n geluid in Tinus se hand en verdwaas kyk hy af, die
geraas in sy ore nog so hard, hy kan nie glo hy hoor enige ander geluid nie.
Deksels! Sexy, sensueel, beeldskoon – Leila slaan sy asem weg. Die blou rok
wat sy aanhet, kruis voor en val in sagte voue teen haar lyf, vorm ’n spleet

aan weerskante waar haar lang bene tergend wegkruipertjie speel. En waar
die rok oormekaar vou, kon hy ’n glimp kry van sagte rondings. Toe moes hy
net voel.
Hy staar vir minute na haar foon voordat hy besef wat daar staan. Hy het
nie bedoel om te lees nie, maar die woorde vang sy oog: hoe was jou
#hotdate? Dis van Cara. Wie de hel? Sy vingers rol oor die boodskappe
totdat hy sien die #hotdate is Leila se woorde wat sy aan Cara gestuur het.
Oor Koen.
Sy vloekwoord is kort en hard.
“Lees jy my boodskappe?” roep Leila verontwaardig en gryp haar foon.
“Jy het jou foon in my hand gedruk.” Hy draai om en storm uit, en eers toe
hy halfpad teen die trappe af is, sien hy hy het nog haar handsak in sy hande.
Hy wag tot hy haar agter hom voel voordat hy verder stap. Sy druk die
voordeur toe, hy neem die sleutel by haar en sluit dit.
“Cara wou weet hoe dit gaan. Ek het haar van Koen vertel.”
“Jou hot date.”
Sy antwoord nie en hulle stap tot by sy motor. Hy hou die deur vir haar oop,
gee haar handsak aan. Met die toedrukslag, skuif sy op haar stoel, die rok val
oop en een lang been flits vir ’n oomblik tussen die voue van haar rok deur.
Hy druk die deur toe en stap om na sy sitplek. As hy die aand oorleef
sonder om haar oor sy skouer te gooi en die nag in te loop, sal dit ’n
wonderwerk wees.
In die motor vou haar geur om hom. Dis weer amber en muskus, die reuk
wat hom wil mal maak. Hy trek vinniger weg as wat hy bedoel het. Leila
snak na haar asem en hy haal onmiddellik sy voet van die petrol af.
“Ek is jammer.” Hy vou haar hand toe in syne en sit dit op sy been. “Jy
mors met my kop. Jy is ongelooflik en ek wil by jou wees.”
“Maar,” sê sy en probeer haar hand uit syne trek.

Hy hou stywer vas. “Maar.” Hy knik. “Jy is reg. Daar is ’n maar. Hoe lank
hou hierdie gevoel? Hoe weet ’n mens jy gaan môre, volgende jaar, oor
twintig jaar nog soos nou voel? Van wat ek elke dag sien, verdwyn dit bitter
vinnig.”
Sy tuur by die venster uit. “Dit hang alles af van wat die gevoel is.”
“Wat bedoel jy?”
“Tinus, dis oukei, ons wil verskillende dinge hê. Ek het jou gesê wat ek wil
hê, jy kan nie nou dikmond wees omdat ek vir Koen sien nie.” Sy trek haar
hand uit syne en tik sy skouer ewe vriendelik. “Kom ons geniet die aand
saam met jou mense so op die Oujaar.”
Ná ete skuif hulle uit stoep toe. Dis ’n wolklose, koel aand en Leila gooi die
lang serp wat sy op Tinus se aandrang saamgebring het, oor haar skouers.
Die mans het gebraai, met Sanet en Jak se kinders op die gras gespeel,
terwyl sy vir Sanet en Tinus se ma help slaai maak en tafel dek het.
Sy mis vanaand haar eie mense verskriklik en sou wat wou gee om vir haar
ma van Tinus te vertel. Van haar seer hart.
“Kom sit hier langs my, Leila,” nooi Sanet. “Ek het vroeër vandag met Cara
gesels. Sy sê jy het ’n hot date gehad?”
Leila sien hoe Tinus se kop in hulle rigting ruk.
“Dis iemand wat ek gisteraand ontmoet het. Hy het vandag in die winkel
kom koffie drink.”
“Is hy een van die ouens aan wie Tinus jou voorgestel het?”
Leila trek haar asem in en kyk na Tinus.
Sanet lag. “Tinus het ons vertel hy gaan jou help om ’n man te kry. Een wat
nie soos hy, net in kortstondige verhoudings belangstel nie.”
“Wel, Tinus het gesê hy is ’n gawe ou. Cara sê Kobus dink ook so.”
“Hy is glo ’n dokter?” vra Sanet.

“Ja, hy is nog net ’n paar maande op die dorp. Hy het ingekoop in ’n
bestaande praktyk en …”
“Ons is op pad,” val Tinus haar in die rede en trek haar aan haar hand op.
“Maar gaan ons nie bly tot middernag nie?” vra sy verbaas.
“Nee, ons ry.” Hy is kortaf en sonder om haar hand te los, buk hy af en soen
sy suster en ma.
“Ek stap saam,” sê sy pa, maar Tinus skud sy kop. “Dis nie nodig nie. Sit
lekker, Pa het heelaand rondgestaan.”
“Laat weet my van jou en Koen!” roep Sanet toe hulle al op pad voordeur
toe is.
Tinus grom langs haar en druk haar onseremonieel voor hom by die
voordeur uit.
“Tinus, wat gaan nou met jou aan?”
Hy vleg sy vingers in hare en stap vinniger motor toe.
“As jy nog een woord oor Koen verdomde du Toit sê, is ek nie
verantwoordelik vir my dade nie.”
Leila klim in die motor en gordel vas. Sy is nou ook vies. Dit was ’n
heerlike aand en sy was nog nie gereed om huis toe te gaan nie. Nou is hy
soos ’n stout seuntjie omdat sy nie sy speletjies wil speel nie.
Dis doodstil in die motor op pad na haar woonstel toe. ’n Groot gat vorm in
haar binneste en sy voel leeg. Een ding is vir haar glashelder: Sy kan nie weer
vir Tinus sien nie.
Toe hy voor haar woonstel stilhou, is sy soos blits uit die motor. Hy sal
weer daarop aandring om saam te stap tot by die deur, so sy probeer hom nie
eens keer nie. Sy handig haar sleutel gedwee oor aan hom en wag tot hy die
deur oopsluit. Toe gryp sy haar sleutel en stap voor hom verby. Aan die ander
kant van die deur draai sy so halfpad om.
“Dankie, Tinus. Ek het gedink dis beter vir my as ek jou nie weer sien nie.”

Sy probeer keer, maar hy stap agter haar in en druk die deur toe. “Wat de
hel bedoel jy?”
“Net wat ek sê. Ek is nie wat jy wil hê nie,” sy kruis haar arms, sluk teen
die groot knop in haar keel voor sy kan aangaan, “en dis nie vir my goed om
jou weer te sien nie.”
“So jy gaan sommer net so vergeet van wat tussen ons is?”
Vies, ontsteld kyk sy op na hom. “Jy is die een met die probleem, Tinus.
Nie ek nie. Ek weet wat ek voel.”
Sy oë vernou en hy stap tot reg voor haar.
Vrek, sy moes nie dit gesê het nie. “Jy wil nie gebind wees aan een
verhouding nie – jou woorde – en ek kan nie nog ’n keer by jou wees vir ’n
nag of ’n week of ’n maand en weet een of ander tyd gaan jy weer ’n
blondine wat aan jou hang vir my kom wys nie. Ek is nie sterk genoeg
daarvoor nie. Koen is ’n aangename ou. Ek wil die ding tussen ons ’n kans
gee en ek kan dit nie doen as jy my hand vashou en my bly soen asof ons
saam is nie. Ons is nie, want dis nie wat jy wil hê nie.”
Hy druk sy hande teen die muur aan weerskante van haar kop. Sy lippe is
millimeters van hare af.
“En jy gaan van my vergeet? Jy gaan hiervan vergeet? Soen my,” eis hy
voordat sy lippe hare vasvang.
Sy besef sy moet hom wegstoot; sy weet as sy slegs ligweg teen hom druk,
sal hy ophou, maar sy kan nie. Nie vir die beste wil in die wêreld nie. Dis wat
sy wil hê, dis waarvoor sy al heelaand wag.
Begeerte vloei deur haar soos warm heuning, haar behoefte aan hom slaan
teen die krop van haar maag. Hy kantel sy kop, verdiep die soen en lyflike
vreugde bruis deur haar teen die spoed van lig.
Met ’n kreun vou sy haar arms om sy nek, gulsig ontmoet sy elke haal van
sy tong. Daar is geen huiwering by een van hulle nie, al twee weet teen dié

tyd wat die ander begeer. Versengende hitte bou op, sy smag met elke klop
van haar hart om deel te word van hom.
Sy is ongetemde geure en satynteksture, uitlokkend, sexy, vrou. Haar mond
dryf hom tot op die rand van waansin. Sy hande raak verstrengel in haar hare,
hy trek haar kop verder terug sodat hy meer, baie meer kan kry van haar
ongeduldige, erotiese mond.
Haar lyf smelt teen syne en angstig druk hy teen haar bene totdat sy plek
maak en hy tussen hulle kan instap. Die kern van haar hitte brand teen sy
been en die leisels wat hy styf probeer vashou, raak los.
Soekend gly sy hande af teen haar sye, glip voor by haar rok in en
uiteindelik kan sy hand oor haar mildelike kurwes vou. Haar kreun meng met
syne, sy ander hand gly op teen haar been tot waar haar hitte hom uitnooi,
uitlok.
Uiteindelik dring die stemmetjie wat hy probeer ignoreer het, tot hom deur.
Sy wil vir Koen ’n kans gee. Vir Koen.
Met ’n swetswoord druk hy homself weg van haar en draai sy rug op haar.
Sy begeerte na haar klop pynlik, sy hande wat om haar rondings was, voel
leeg.
“So jy wil vir Koen du Toit hê en hiervan vergeet? Laat weet my hoe dit
gaan,” byt hy die woorde af voordat hy die deur oopruk en die nag instap.
Leila lê oopoë en staar na niks toe haar foon diep in die nag ’n boodskap
aankondig.
Jy en Tinus????? vra Cara se boodskap.
Dis vieruur die oggend hier, maar seker al oggend in die Seychelle. Leila
sug. Sanet moes vir Cara vertel het sy was saam met Tinus by haar mense. Sy
beur teen die kussings op. Haar hart is so seer, haar gemoed so vol, van slaap

was daar nog geen sprake nie.
#netvriende
Dis ’n rukkie stil. Toe kom die vraag: #metbyvoordele?
En toe loop die trane.
Gisteraand het sy lank na die deur gekyk wat Tinus agter hom toegemaak
het. En sy kon sweer sy hoor hoe haar hart in splinters breek. Sy het woonstel
toe gestap en in haar kamer op die netjiese bed gaan sit.
In haar agterkop was die hoop dat dit is waar hulle die aand sou eindig. Sy
wou dit nie vroeër aan haarself erken nie, maar dis hoekom sy al haar klere
weer netjies in die kas teruggepak het.
Maar sy was stokalleen toe sy later in die bed klim. En, het sy iewers deur
die lang nag besef, sy sal altyd alleen wees. Want sy het Tinus lief met elke
sel in haar lyf. Hy is haar vir-altyd-minnaar, dis net by hom wat sy alles van
haarself kan gee. Dit sal nie regverdig teenoor enige ander man wees om met
hom uit te gaan nie, want haar hart behoort aan Tinus. En dit gaan nooit
verander nie.
Ek gaan hom nie weer sien nie, tik sy vir Cara.
Minute later lui haar foon. Dis Cara. Maar sy kan nie nou praat nie. Sy laat
die foon lui en lui. Toe dit ophou, huiwer haar vinger lank bokant haar foon.
Sy het nog een boodskap wat sy moet stuur. Aan Koen. Sy wil hom nie aan
’n lyntjie hou nie.
Uiteindelik druk sy haar foon dood en skuif af teen die kussings. Sy trek die
laken oor haar kop en gee haar oor aan die seer snikke wat nie meer ingehou
wil wees nie.

Sewe

Dis ’n besige Maandag, maar Leila hou haar foon by haar. ’n Week en ’n
naweek is verby vandat sy laas vir Tinus gesien het. En sy wil steeds
aanmekaar huil.
Dis nog skoolvakansie, die dorp wriemel van vakansiegangers en die
koffiewinkel is behoorlik besig. Gelukkig. Ten minste is sy bedrywig deur
die dag. Dis net die nagte wat lank is.
Sy het al verlede week die agent gebel deur wie sy die gebou huur, maar hy
was met vakansie. Hopelik skakel hy hierdie week terug.
Noudat sy ’n plan het, wil sy dit so gou as moontlik deurvoer. Hier kan sy
nie langer bly nie. Dis sal net te pynlik wees om vir Tinus en sy nuutste pop
raak te loop. Nou verstaan sy hoekom sy die afgelope jaar so mistroostig was
– sy het haar hart verloor op die man en dit nie eens geweet nie.
Haar foon lui. Dis uiteindelik die agent. Wonderlik.
“Hallo, Steph. Mooi jaar vir jou,” groet sy vriendelik. “Dankie dat jy
terugskakel.”
“Hallo, hallo. Dankie, vir jou ook. En jy is op die lysie mense wat ek in elk
geval moes bel die week. Jy het my voorgespring.”
“O? Hoekom moes jy my bel?”
“Die eienaar wil hê ons moet na die elektrisiteit van die gebou kyk. Soos jy
weet, is dit ’n ou gebou en dis maar iets wat gereeld opgeknap moet word.
Indien nodig, moet die hele sisteem sommer vervang word.”
“Wel, ek bel om te hoor of ek uit die drie-maande-kennisgee-huurkontrak

kan kom. Ek trek weg en hoop ek kan dit eerder gouer as later doen. Julle kan
seker die opknapping doen wanneer ek uit is.”
“Dit behoort nie ’n probleem te wees nie. Om die waarheid te sê, ek het
heelwat mense wat in die gebou belangstel. Ek sal kyk of ek die eienaar in
die hande kan kry, ek bel hopelik nou-nou terug.”
“Dankie, Steph!”
Sy druk haar foon terug in haar voorskoot. Wel, dit was die eerste stap. Die
trane sit vlak, maar sy doen die regte ding.
Die kantore het al verlede week, die dag ná Nuwejaar oopgemaak. Die eerste
week van ’n jaar is gewoonlik deurmekaar, maar teen week twee het die
leerklerke ingeskakel en begin dinge loop. Altans dis hoe dit behoort te wees.
Maar teen tienuur het Tinus al vir sy sekretaresse geblaf, ’n kliënt kwaad
gemaak, en die klompie leerklerke in alle rigtings laat skarrel. Tinus is
omgekrap, kwaad, geïrriteerd en hy haal dit uit op almal wat naby hom kom.
“Waar de hel is my broer?” grom hy toe sy sekretaresse weer by hom
instap.
“Nog op sy honeymoon,” sê sy kortaf. “Soos aangedui op jou kalender, is
hy volgende week terug.”
Natuurlik. Sy broer is in die paradys met sy nuwe bruid en hy moet al die
gemors by die werk uitsorteer.
“Nog iets?” vra sy sekretaresse kil.
Hy sug. Dis nie haar skuld hy is soos ’n beer met ’n seer poot nie. “Ek is
jammer as ek ongeskik was,” brom hy.
“As?” vra sy sekretaresse sarkasties.
Bella is al hulle sekretaresse vandat hy en Kobus die praktyk oopgemaak
het. Hy onthou nie meer hoe oud sy is nie, maar haar kinders is al uit die huis.
Hy weet net hy sal nooit weer so ’n effektiewe en georganiseerde persoon in

sy lewe hê nie. Sy is die laaste mens wat hy moet kwaad maak.
Hy is befoeterd want hy mis vir Leila. Hy wil haar sien, aan haar vat, by
haar wees. En hy kan nie ophou om aan haar laaste woorde te dink nie. Sy het
gesê hy is die een met die probleem, sy weet wat sy voel.
Nou wil hy weet – wat voel sy? En hoekom sou sy sê dis nie vir haar goed
om hom weer te sien nie? Wat de hel beteken dit? En hoekom bly hy daaraan
dink? Magtig, daar is mos darem baie ander vrouens op Hermanus. Josie
Snyman pes hom juis al die hele week om haar iewers heen te neem, maar hy
sien net nie kans nie.
Hy vryf oor sy gesig. Ná ’n week wroeg hy wragtig nog oor Leila. Maak dit
’n jaar en ’n week. Teen dié tyd is sy en Koen flippin du Toit seker al
bymekaar en het sy lankal vergeet wat sy gesê het.
Wat ís hierdie vreemde hunkering na ’n vrou? Hy het waaragtig nog nooit
voorheen in sy lewe so iets beleef nie.
Maar hy skuld vir Bella ’n verskoning. Sy is nie die rede vir sy irritasie nie.
Hy knik. “Ek was kortaf met jou. Ek is jammer.”
Sy stap tot voor hom. “Iets waarmee ek kan help?” vra sy.
Hy staar ’n rukkie na haar. “Hoe lank is jy en jou man al getroud?”
Sy lig ’n wenkbrou. Hy het nog nooit so ’n persoonlike vraag gevra nie.
“Dertig jaar.”
“En jy voel nog oor hom soos jy aan die begin gevoel het?”
Sy gaan sit en kyk hom ’n rukkie aan voor sy antwoord. “Die aanvanklike
verliefdheid verander ná ’n rukkie in iets meer blywends. Ek word kwaad vir
hom en hy vir my, maar ek kan my nie ’n lewe sonder hom voorstel nie.” Sy
kantel haar kop en ’n baie effense glimlag trek haar mondhoeke op. “Hoekom
vra jy?”
Maar sy foon lui en sy staan op om dit te antwoord. Ná ’n paar woorde
oorhandig sy die gehoorstuk aan hom. Dis die eiendomsagent, beduie sy.

“Steph?” groet hy. “Mooi jaar vir jou. Kon jy toe ’n afspraak maak vir die
elektrisiën sodat hy na die geboue kan gaan kyk?”
“Ja, ’n mooi jaar vir jou ook. Ek het al met van die huurders gepraat en
afsprake gemaak, maar die koffiewinkel …”
Tinus se hart gee ’n ruk. “Ja? Wat van die koffiewinkel?”
“Die huurder het my al verlede week gebel, maar ek was nog met verlof.
Toe ek vanoggend terugskakel, het sy laat weet sy gee kennis en wou weet of
sy in plaas van die drie maande kennis wat die kontrak stipuleer, net ’n
maand kennis kan gee. Ek het vir haar gesê ek dink nie dis ’n probleem nie,
maar ek sal by jou hoor.”
“Waaaat?” glip dit uit voordat Tinus dit kan keer.
“Ja, sy gaan glo weg uit Hermanus. Maar ek het ander moontlike …”
Tinus is so ontsteld, hy hoor net elke tweede woord wat Steph sê. “Nee!”
roep hy half desperaat uit. “Daar is mos ’n kontrak.”
“Ja, ek weet, maar dis nou ’n baie goeie tyd vir die verhuring van dié tipe
persele, en ek hét iemand wat belangstel.”
“Nee,” sê Tinus weer, dié keer kortaf. “Daar is ’n kontrak. Sê vir haar sy
moet daarby hou.”
“Ek kan regtig dadelik vir jou iemand anders kry, dis nie nodig …”
“Drie maande.” Tinus sit die foon hard neer. Hy weet hy klink ongeskik en
sal later verskoning maak, maar verdomp!
Daar is ’n helse geraas in sy ore. Hoekom wil sy padgee uit Hermanus? Wat
van Koen? Wat van hom, Tinus?
Leila kyk kort-kort op haar horlosie. Hoekom bel Steph nie?
Sy wil so graag aan iets anders dink, aan iemand anders dink. Die enigste
ligpunt in die hele hartseerverhaal is dat Tinus nie weet hoe sy voel nie. Deur
’n wonderwerk het sy nog nie uitgeblaker sy is lief vir hom nie. Nou wil sy

net so gou as moontlik hier wegkom.
Sy het reeds oor die naweek gaan kyk na moontlike persele in SomersetWes waar sy ’n koffiewinkel kan begin. Daar is selfs ’n gevestigde een in die
mark waarvan sy baie hou. Sy kan egter nie planne maak voordat sy weet sy
kan uit haar kontrak aan dié kant kom nie.
Wat Cara van die hele petalje gaan sê, weet sy nie. Haar vriendin het haar
weer gebel, maar sy het dit geïgnoreer en net later ’n boodskap gestuur om te
sê sy is besig, sy sal praat wanneer Cara en Kobus terug is van hulle
wittebrood.
Haar foon lui. Dis weer Steph. Opgewonde antwoord sy.
“Wat sê die eienaar?” vra sy sonder om te groet.
“Jammer jong, maar hy voel ons moet by die kontrak hou.”
“Maar jy het gesê jy het huurders, dan nie?”
“Kyk, ek dink ons moet die ding ’n kans gee.”
“Sal dit help as ons ’n afspraak met hom maak? Ek het die nuwe eienaars of
eienaar – dis ’n trust as ek reg onthou – nooit ontmoet nie; ek het maar net
gehoor die plek is oorgeneem deur iemand anders.”
“Eienaar. Goed, kom ek kyk of ek ’n afspraak met hom gemaak kry.”
’n Nuwe groep mense stroom die winkel in en met haar foon nog teen haar
oor, beduie Leila waar hulle kan sit terwyl Steph groet. Sy bêre haar foon en
stap na die mense toe. Hoekom is dit so ’n gesukkel?
Tinus gooi sy foon neer en vryf verdwaas oor sy bors. Magtig, waar kom dié
pyn vandaan? Hartaanval. Arend het toe ’n hartaanval gehad. Dis moontlik
op hulle ouderdom. Is dit wat nou met hom gebeur?
Half paniekerig staan hy op, haal diep asem. Die pyn is nou erger, hy snak
en sukkel om asem te haal.
“Tinus?” vra Bella fronsend van die deur af. “Is jy oukei?”

Hoekom wil Leila weggaan? En waarnatoe nogal? Tinus vryf weer oor sy
borskas.
“Tinus?” Bella klink nou baie bekommerd. “Jy is bleek. Het jy pyn?”
Hy haal diep asem en gaan sit weer. “Dis nou beter. Ek het seker iets
geëet.”
“Jy het nog nooit oor enige pyn gekla nie. Jy gaan nou dadelik dokter toe.”
“Dis nie nodig nie, ek voel al klaar beter.”
“Of ek bel jou ma,” dreig sy.
Tinus gluur haar aan, maar sy kyk hom in die oë.
“Jy is nie meer twintig nie.”
“Ek is agt en dertig, nie oor die muur nie,” sê hy.
“Ek kan die ambulans bel …”
“Moenie laf wees nie, ek makeer niks.”
“Goed, dan bel ek jou ma.”
Tinus gluur haar aan. “Oukei, ek sal dokter toe gaan. Maar ek sal soontoe
stap, die spreekkamers is net om die hoek.”
Sy kyk op haar horlosie. “Jou eerste afspraak is eers teen twaalfuur, ek hoor
wat sê die dokter se ontvangsdame. Dis in elk geval ’n goeie ding om gereeld
vir ’n mediese ondersoek te gaan. Die kort stappie in die vars lug kan jou net
goed doen en almal in die kantoor sal baie bly wees om vir ’n rukkie vrede te
hê.”
Vies kyk hy haar agterna. Hy weet hy is onredelik vandag, maar magtig!
Leila deel spyskaarte aan ’n nuwe groep klante uit en is op pad kombuis toe
toe Steph weer bel.
“Ek is jammer, maar die eienaar se sekretaresse sê hy het glo siek geword
en is dokter toe. So kom ons wag, hopelik kan ons hom later die week sien.
Ek bel jou sodra ek van hom gehoor het.”

Vies begin Leila bordjies regsit. Steph het mense wat die plek wil huur, sy
verstaan nie hoekom die eienaar op die volle kennisgewingtydperk aandring
nie. Dis nie asof hy gaan sukkel om die eiendom te verhuur nie.
Sy is amper half paniekerig en sy weet hoekom – sy is bekommerd sy loop
weer vir Tinus raak voordat sy padgee uit Hermanus. Ná ’n week sonder hom
is sy hartseer, vies, ontsteld en haar arme kombuispersoneel en kelners loop
al wye draaie om haar.
Wat meer is, Cara en Kobus kom Vrydag van hulle wittebrood terug en sy
kon nog nooit haar hartseer vir Cara wegsteek nie, sy ken haar net te goed. Sy
het gehoop sy het al die reëlings klaar getref voordat sy weer vir Cara sien.
“Meneer Viljoen?” roep die ontvangsdame en Tinus staan op.
Hy voel beter. Die skerp pyn oor sy bors het verdwyn, hy kan netsowel
teruggaan kantoor toe, maar hy is nou hier. Dis dalk tog ’n goeie ding om
deeglik ondersoek te word.
“Dokter Minnaar is ongelukkig hospitaal toe vir ’n bevalling, maar ons
nuwe dokter, dokter Du Toit, kan u sien.”
Dokter Du Toit. Koen du Toit. Deksels!
Maar hy knik net en stap agter die ontvangsdame aan.
“Hierdie deur,” beduie sy en hy stap in.
Koen spring regop. “Tinus? Ek het nie besef jy is die pasiënt nie. Kom sit
gerus.”
Tinus gaan sit huiwerig. “Ek voel nou beter. Ek het vroeër ’n helse pyn oor
my borskas gehad, en ek het gehoor van Arend …”
“Arend de Jongh? Ja, die man is ook nog jonk. Kom sit hier op die bed. Ek
luister gou na jou hart en ons doen sommer ’n EKG ook.”
“Ek dink nie dis nodig nie.”
Koen glimlag. “Jy is nou hier.”

Koen luister met sy stetoskoop. “Het jy sommer net ’n pyn ervaar of het iets
gebeur?”
“Ek was ontsteld oor … iets het my ontstel.”
“En toe kry jy die pyn?”
“Dalk is dit net iets wat ek geëet het.”
“Kom ons doen die EKG, dan praat ons weer.”
Veertig minute later stap Koen saam met hom na buite.
“Ek is jammer ek het jou tyd gemors.”
Koen klap hom vriendelik op die skouer. “Nee wat, dis beter om seker te
maak.” Hy steek sy hand uit en groet hom. “Sê vir die mooie Leila groete as
jy haar weer sien.”
“Sien julle nie mekaar nie?” glip dit uit voordat Tinus kan keer.
Koen glimlag skeef. “Ons het een koffie-date gehad en ek het gehoop ek
kan haar weer uitneem, maar sy het dieselfde aand nog vir my laat weet sy
gaan weg uit die dorp en dink nie dis ’n goeie idee om my weer te sien nie.
Weet jy iets daarvan?”
“Ek het eers vandag gehoor sy wil weggaan.”
Koen lig ’n wenkbrou. “Is dit hoekom jy so ontsteld was? Ek dog julle is
net pelle.”
“Ons … dis ingewikkeld,” sê Tinus kortaf voordat hy vinnig wegstap.
Sy foon vibreer in sy sak. Hy het die klank afgesit en sy baadjie uitgetrek
vir die ondersoek. Dis Sanet, sien hy. Sy het hom vier keer probeer bel. Sou
iets fout wees met sy ouers?
Sanet antwoord ná die eerste lui.
“Wat is fout?” vra sy.
“Dis wat ek by jou wil weet. Jy het my vier keer gebel.”
“Jy was by die dokter. Hoekom?”

“Hoe de duiwel weet jy dit?”
“Jou sekretaresse het my vertel.”
Hy swets. “Hoekom de hel het sy julle gebel?”
“Ek het haar gebel.”
“Hoekom?”
“Ons wou hoor of jy en Leila nie wou oorkom vir aandete nie. Jak gaan
steak braai, maar toe hoor ek jy is dokter toe. Wat is fout?”
“Moet asseblief niks vir Ma sê nie, niks is fout nie. Ek het heel waarskynlik
iets geëet wat nie met my akkordeer nie.”
“O, dankie tog. Ek het al gewonder hoe ek vir Ma gaan vertel. Nou maar
sien ons vir jou en Leila vanaand?”
“Nee, Leila en ek … Dis ingewikkeld. Het jy geweet Leila wil wegtrek uit
Hermanus? Weet Cara? Weet jy hoekom?”
Dis ’n rukkie stil aan die ander kant. “Nee, ek het nie geweet nie. Maar ek
kan raai hoekom.”
“Hoekom?”
“Dit, my liewe boeta, sal jy maar self moet agterkom. So is jy nou oukei?
Ek hoef nie vir Ma te sê nie?”
“Asseblief nie!” roep hy uit. “Ek is blakend gesond. Ek dink regtig dit was
net iets wat ek geëet het. Die EKG …”
“EKG!” roep Sanet ontsteld. “Hoekom was dit nodig?”
Hy swets onderlangs. Sy suster mis niks. “Dit was … ek het sommer net ’n
vreemde pyn gekry, maar dis lankal weg,” voeg hy haastig by. Die laaste
ding wat hy wil hê, is dat sy ma bekommerd raak.
“Watse pyn?”
“Wie het ’n pyn?” hoor hy sy ma se stem in die agtergrond.
Gee hom krag. “Die EKG wys daar is op die aarde niks fout nie, ek sê mos
ek het seker net iets geëet.”

Sanet trek haar asem skerp in aan die ander kant. “Ek dink ek verstaan nou
wat aangaan. Jy het gehoor Leila gaan weg en toe kry jy ’n pyn oor j