اصلی Kringe in 'n bos

Kringe in 'n bos

,
0 / 0
دا کتاب تاسو ته څنګه خواښه شوه؟
د بار شوي فایل کیفیت څه دئ؟
تر څو چې د کتاب کیفیت آزمایښو وکړئ، بار ئې کړئ
د بار شوو فایلونو کیفیتی څه دئ؟

Saul Barnard is 'n houtkapper met 'n rustelose siel - hy wil vreemdes uit die Bos hou en die vernietiging van die Bos probeer keer. Dan is daar 'n legendariese olifantbul - Oupoot - wat losbreek van sy trop ... Oupoot en Saul het 'n vreemde band tussen hulle. In die groen skemerwêreld van die Outeniekwa loop hulle kringpaaie. Saul Barnard, deur sy mense verwerp en deur gewetenlose houtkopers tot kneg verneder; Oupoot, eindeloos agtervolg deur jagters. 'n Man en sy dier-broer – saamgegooi in 'n ongerepte oerbos, wat stuk vir stuk deur gouddelwers, boskappers en ander uitroeiers vernietig word. Saul volg Oupoot se spoor, al nader aan die waarheid wat sy lewe vir altyd sal verander.

Language Notes

Text: Afrikaans

About the Author

Dalene Matthee (gebore Scott) is op 13 Oktober 1938 op Riversdal gebore. Sy het in 1957 daar gematrikuleer, en aan 'n musiekskool op Oudtshoorn en by die Holy Cross Covent op Graaff-Reinet musiekopleiding ontvang. Voordat sy oornag roem verwerf het met haar eerste Bosroman, het Dalene tydskrifverhale geskryf en twee populêre romans gepubliseer: 'n Huis vir Nadia (1982) en Petronella van Aarde, Burgemeester (1983). Haar eerste boek was 'n kinderverhaal, Die twaalfuurstokkie (1970), en in 1982 het daar ook van haar 'n bundel kortverhale, Die Judasbok, verskyn. Kringe in 'n bos (1984), haar roman oor die uitwissing van olifante en die uitbuiting van houtkappers in die Knysna-bos, was 'n internasionale sukses. Nog drie Bos-boeke het gevolg: Fiela se kind (1985), Moerbeibos (1987) en Toorbos (2003). In 1993 het Brug van die esels verskyn en in 1995 Susters van Eva. Haar roman, Pieternella van die Kaap, het in Maart 2000 verskyn. Dalene Matthee se boeke is in sowat veertien tale vertaal, onder meer Frans, Duits, Spaans, Italiaans, Hebreeus en Yslands. Sy het die ATKV-prys vir goeie gewilde prosa vier keer verower, en in 1993 het sy in Zürich 'n Switserse literatuurprys ontvang vir haar "lewenskragtige literêre werk en haar hartstogtelike belangstelling in natuurbeskerming". Dalene Matthee sterf op Sondag, 20 Februarie 2005 in Mosselbaai nadat sy vir hartversaking behandel is. 

کال:
1983
ژبه:
afrikaans
ISBN 13:
9780624065579
ISBN:
B00E1IJ2VK
فایل:
کاپی کول (pdf, 126 MB)

ممکن تاسی علاقمند شی Powered by Rec2Me

 
0 comments
 

To post a review, please sign in or sign up
تاسی کولی شی د کتاب په اړوند نظر څرګند کړی او خپله تجربه زمونږ سره شریکه کړی، نورو لوستونکو ته به زړه راښکونکی (دلچسپه) وی چې د لوستل شوو کتابونو په اړوند ستاسی په نظر پوه شی. بدون له دی چې کتاب مو خوښ شو اویا خوش نه شو، که تاسی صادقانه په دی اړوند مفصله قصه وکړی، خلک کولی شی د ځان لپاره نوی کتابونه بیدا کړی، چې هغوی ته زړه راښکونکی (دلچسپه) دی.
1

Moerbeibos

سال:
1986
زبان:
afrikaans
فائل:
PDF, 1.41 MB
0 / 0
2

Fiela se kind

سال:
1984
زبان:
english
فائل:
PDF, 1.33 MB
0 / 0
Dalene Matthee
KRINGE IN
’N BOS

Tafelberg

VIR LARIUS,
AMANDA, TONI
EN HILARY

1
Kort ná sonop is hy aan die rand van die Bos en hy kry die karige
plankgeboutjie sonder veel gesoek. Hy klop en wag. Die ou bruinman wat
kom oopmaak, skrik en staar hom ontsteld aan.
“Baas Saul?”
“Ek kom leen die geweer, Maska.”
“Die geweer?” vra die oue agterdogtig. “Om wat te maak?”
“Ek het besluit dat Terblans nie Oupoot sal skiet nie. As iemand dit dan
moet doen, sal dit ek wees.”
Iets soos paniek maak ou Maska se klein swart ogies wild. “Jy? Jý gaan
hom skiet?”
“Ja.”
“Nee!” Dis ’n smeking om genade; hy steek sy hande voor hom uit en skud
sy kop. “Nie jy nie. Asseblief, baas Saul …”
“Leen my die geweer.”
“Maar ek het net twee koeëls!” skiet hoop die ou man binne. “En niemand
in hierdie bos sal vir jou ’n enkelte koeël bysit nie, hulle sal jou nie help nie,
baas Saul.”
“Twee koeëls is genoeg. Het jy kruit?”
“Dit lyk vir my die rykmanslewe het jou kop saf gemaak!” ruk ou Maska
hom skielik op. “Lyk vir my jy vergeet lat Oupoot Oupoot is! Lat al die slim
van al die olifante …” Hy bly stil en staan ’n oomblik verbyster. In sy
desperaatheid het hy die verbode naam gebruik en hy probeer dit vinnig
regpraat: “… lat al die slim van al die grootvoete saam in sy kop sit. Laat
Freek Terblans hom kom skiet en laat dit klaarkom.”
“Gee my die geweer. Freek Terblans sal hom nie skiet nie.”
“Baas Saul …” Die ou man slaan weer oor na pleit. “My hande het geweer
gedra vir die Engelsman wat die slag hier kom grootvoete skiet het. Ons was
vier man wat alles moes dra en as die een geweer leeg geskiet was, had ons
die volgende een gelaai en reg vir die vat …” Saul weet die ou man probeer
tyd wen deur te praat. “Ek het in my lewe nie ’n man gesien wat kan skiet
soos daardie man nie, hy had grootvoete in ’n ander land ook geskiet … Maar

toe kom draai die wind en ons staan onderkant die koei en toe sy storm, toe’s
daar nie tyd vir goed of sleg skiet nie, toe’s dit net skiet! Weet jy hoe lyk ’n
grootvoetkoei met ’n kwartpond lood in die long?;  Nee, jy weet nie. Weet jy
hoe sy klink? Hoe sy die wêreld uitmekaar skeur terwyl sy in haar eige bloed
versuip? Nee. Maar my oë het dit gesien. My ore het dit gehoor. Toe sy die
bloed eers deur haar slurp begin spuit, was dit of sy blind word van woede en
die Engelsman skree ons moet laai, maar ons kan nie …”
“Want julle sit in die bome en die gewere lê op die grond,” maak Saul vir
hom die storie klaar. Toe hy ’n kind was, het hy ou Maska dit dikwels hoor
vertel en altyd agterna die vreeslikste nagmerries gekry waarin dit hy was wat
voor die bebloede woede moes uit en nie kon nie. Elke keer het hy in
doodsangs wakker geskrik en hom met die wete getroos dat die Engelsman
tog daarin geslaag het om die ou koei met ’n hartskoot te verlos.
“En sy was nie eers amper so groot soos Oupoot nie,” voeg Maska
waarskuwend by.
“Leen my die geweer.”
“Jy kan dit nie loop doen nie!”
“Jy mors my tyd, Maska!”
“Moenie dit van my vra nie, baas Saul. Toe almal in hierdie bos jou wou
stenig, het ek vir jou gepleit.”
“Dankie. Net jammer dit het nie gehelp nie,” sê hy spottend. “Ek dink as
hulle kon, sou hulle Freek vra om my ook sommer te skiet.”
“Dis nie nou tyd vir daardie klas praatjies nie! Draai om en loop klim op
die skip – jy’s te lank al nie meer een van onse mense nie, baas Saul.”
“As jy nie vir my die geweer gee nie, sal ek een op die dorp loop kry. Maar
Terblans sal Oupoot nie skiet nie, dit sê ek jou nou vir die laaste keer.”
“Jy was van altyd af eiewys en annerster.”
“Nes julle.”
“Wat?”
“Toe maar. Gaan jy vir my die geweer leen, of moet ek teruggaan dorp toe
om een te kry?”
“As ek vir jou die geweer gee,” sê ou Maska radeloos, “sal jy my dan
belowe lat jy by Gert Oog sal loop probeer om ’n paar koeëls te kry?”
“Dit sal nie nodig wees nie!” keer Saul ongeduldig. “Watter kant toe is hy?
Oupoot?”
Die ou man haak eers die koeëlsak en kruitbus tydsaam van die draadhaak
af. “Hulle sê hy skuil Homtini se kant toe,” sê hy amper onhoorbaar. En toe

hy die geweer aangee, is daar ’n stil hovaardigheid in sy houding.
Minute later loop Saul Barnard die Bos in en dit voel vir hom hy loop
agteruit in homself in. Die feit dat hy op pad is om Oupoot, koning-olifant
van die Bos, te skiet, voel onwerklik en terselfdertyd die mees onvermydelike
daad van sy lewe.
Die vorige dag nog was hy aan boord van die Pictor. Die driemasbark van
450 ton het, seile opgerol, stuurboordkant teen die houtkaai vasgemeer gelê
en hy het aan die bakboordkant gestaan en die oorkantste oewer van die meer
bespied … Was die gevoel van onrustigheid wat hy nie kon afskud nie, ’n
voorgevoel wat hom wou waarsku dat die verlede nog nie heeltemal klaar
was met hom nie? Nee. Dit was die haas in hom om weg te kom.
Gister. Die luggie uit die suidooste was ’n lafenis ná die bedompigheid van
sy kajuit. Wes, waar die see deur die gat tussen die koppe kom, het die
branders wit geskuim oor die rif en die gety die groot uitgestrekte meer
binnegebring tot waar klein kabbels teen die houtromp van die Pictor kom
aanklots het.
Twee spierwit seevoëls het laag oor die meer aangevlieg gekom; hy het
hulle met sy oë gevolg tot waar hulle met ’n wye sirkel bokant die grootmas
kom draai het soos klein wit seile wat van die maste losgekom het. Hy het
hulle egter nie op hul noordwaartse vlug gevolg nie, maar sy rug gekeer
gehou op die bedrywighede van die dek en die kaai.
Dit was ’n warm dag.
Drie varke, ses bokke, ’n klompie hoenders en ’n paar makoue het gehok
en vasgemaak op die kaai gewag om gelaai te word: kos vir die lang vaart
Engeland toe. Sterk hande en ratse voete het die varswatervate teen die
laaiplank opgerol; regs van hom op die dek het ’n matroos seewater oor die
vate met die botter en pekelvleis gegooi om dit koel te hou. Alles moes wag
vir die hout om klaar ingelaai te word voordat dit in die ruim kon af.
Toe ’n sweep dorp se kant toe klap, het hy geweet dis nog ’n swaargelaaide
wa met hout uit die Bos. Geelhout-dwarslêers. Venyn het in hom opgeskiet
en die ongeduldigheid in hom aangeblaas. Vier dae lank was hulle al aan die
laai, van lig tot donker, en die haas om weg te kom, het in hom opgelaai soos
die hout in die skip se ruim. Hy was die eerste passasier wat aan boord
gegaan het en daar was ’n dringendheid in hom om teen die boegreling te
staan wanneer die skip die smal, gevaarlike deurgang tussen die koppe
aandurf, die oop see voor hulle lê en die gevreesde rif onder hulle. Dit sou

soos ’n geboorte wees. Die oomblik dat hulle deur was, sou hy vry wees van
alles wat hy eenmaal liefhad: die Bos, die mense van die Bos, die dinge van
die Bos. Van Kate. Van Oupoot. Die oomblik dat die boeg van die Pictor die
oop see binnekloof en die seile bolstaan in die wind, sou hy hom finaal
losmaak van nege-en-twintig jaar.
“Baas Saul?”
Dit het hom soos ’n vuishou teen die rug getref en hom laat omruk.
“Maska?”
“Middag, baas Saul.” Die verrimpelde Outeniekwa het onseker agter hom
gestaan. “Ek het met die wa saamgekom en toe sê baas Gert dit lyk na baas
Saul hier op die skip, toe vra ek die man daar onder of ek net ’n woord kan
kom praat met baas Saul. Hoor of baas Saul gehoor het?”
“Wat gehoor het?” het hy kortaf gevra. Hy wou deur niks gesteur wees nie.
“Van Jozef se kind. Joram, sy oudste.”
“Wat van hom?”
“Geskep. Nag voor laas. Die grootvoete is dwarsdeur Jozef se skerm
duskant Jim-Reid-se-Draai.” Hy het die skokgolf wat in hom opgestoot het,
probeer keer; waar ’n olifant deur ’n skerm is, bly min oor. Maar hy wou nie
langer van hierdie dinge weet nie! Niks van die Bos of uit die Bos het hom
meer aangestaan nie. Nie eens die kind van sy eie broer nie.
“Het die kind baie seer gekry?” het hy nogtans gevra.
“Dood. Hulle sê die tand is voor by sy maag in en agter by sy rug uit. Hulle
sou hom vanmiddag by Groot Eiland bêre. As dit nie was vir die hout wat op
die skip moes kom nie, het ek ook gegaan.”
Hy sien die ou man se oë na iets in syne soek en draai weg. Niemand sal
ooit weer in Saul Barnard se oë jammerte sien nie. Nie eens ou Maska nie. En
die Bos het maar net ’n wederoffer gevat …
“Gaan baas Saul met hierdie skip saam weg?” Dit was ’n versigtige,
agterdogtige vraag.
“Ja.”
“Ver?”
“Baie ver.” Hy het sy oë oorkant die meer teen die swartgroen koppe
gehou. Die inkomende gety het ’n swerm modderlopers uit ’n sandbaaitjie
opgejaag en hy het geweet ou Maska wag agter hom om te groet. Maar hy
sou nie omdraai voordat hy nie elke moontlike teken van emosie onder
beheer had nie.
“Hulle sê dis Oupoot wat dit gedoen het.”

Dit was of ’n tweede hou hom tref. Sy eerste gedagte was dat dit ’n slim
set van die ou man was en hy het die waarheid in sy oë gesoek toe hy
omdraai.
“Wat het jy gesê?”
“Hulle sê dis Oupoot se werk.”
“Dis ’n lieg.”
“Tien ander is glo saam met hom deur die skerm.”
“Dis ’n lieg en jy weet dit net so goed soos ek! Oupoot sou nie tien ander
saamgeneem het as hy die kwaad wou doen nie. Nie hy nie.”
“Hulle sê sy spore was daar.”
“Hy mag vroeër die nag daar verbygegaan het. Waar tien vertrap het, kan
jy in elk geval van niks seker wees nie en dit weet Jozef-hulle ook.”
“Ek sê maar soos baas Gert my gesê het.” Hy het weggekyk voor hy die
laaste hou slaan: “Freek Terblans kom hom skiet.”
Die woorde het hard getref.
“Hy kom Oupoot skiet?”
“Ja. Baas Gert sê dis al man wat Jozef vertrou om hom te skiet. Hy’t ’n
man oorgestuur Noetzie toe, na Freek toe, en hy’t laat weet hy sal hom
Vrydag kom skiet.”
Ná die aandete het Saul en Frank Jefferson, kaptein van die Pictor, ’n paar
rondtes kaart gespeel. Dit het egter nie die bitterheid wat in hom aan die
toeneem was, gekeer nie – ook nie die gevoel dat hy stadig teruggesleep word
na ’n vuur waardeur hy sy lewe lank geworstel het om te ontsnap nie.
“Jy is besonder stil?” het Jefferson teen nege-uur se kant opgemerk. Hulle
het mekaar reeds ’n hele klompie jare geken; vroeër was die Pictor een van
die skepe wat gereeld by die Knysnarivier aangedoen het en hulle het altyd
mekaar se geselskap opgesoek. “Of begin jy aan jou weggaan twyfel?”
“Nee. Nie vir ’n oomblik nie.”
Ná nog twee rondtes het Jefferson weer probeer: “Kan ek ’n persoonlike
vraag vra?”
“Vra gerus.”
“Dis baie opvallend dat jy nie meer baklei nie …”
“Baklei?” Die opmerking het hom verras.
“Nie met die vuiste nie, met iets binne-in jou … Nog sjerrie?”
“Nee dankie. Ek dink ek verstaan wat jy wil sê, en ek moet erken, jy verras
my met jou waarneming. Jy’t reg, ek baklei nie meer nie. Kom ons sê ek het

’n eenmansoorlog gevoer en verloor,” het hy erken en sinies bygevoeg: “ ’n
Oorlog wat nooit bestaan het nie oor dinge wat nooit bestaan het nie.”
“Jy het altyd die indruk geskep dat jy niks vrees nie, Saul Barnard. Jy skep
dit nog, behalwe dat jy nie meer baklei nie. Dit beteken nie dat jy nie meer
kwaad is nie.”
“Jou beurt om te deel,” het Saul die gesprek in ’n ander rigting gestuur.
Tienuur het hy die kaarte neergesit. “Ek is jammer, ek konsentreer nie.”
“Ek kom dit nog die hele aand agter.”
Hy het nie die lamp in sy kajuit opgesteek nie, ook nie sy klere uitgetrek
nie, maar net so op die bank in die donker gaan lê en Maska se woorde
teruggeroep: Freek Terblans het laat weet hy sal hom Vrydag kom skiet. Dit
het om en om deur sy kop kom draai totdat die wrewel en bitterheid hom
teruggejaag het dek toe.
Bokant Belvidere se koppe, aan die oorkant van die nagblink meer, het die
ster-kruis kopkant afgeduik op sy baan: Alfa, Beta, Gamma, Delta, het hy een
nag vir Kate die name van die vier punte geleer.
Die gedagte aan Kate het hom van die reling laat wegdraai en in die rigting
van die voormas laat loop. Deur die takelwerk kon hy die stil dorpie teen die
skuinste bokant die meer in die nagskemer sien lê. ’n Hond het êrens geblaf,
’n ander het antwoord gegee.
Kate.
Sy was ’n droom wat saam met baie ander drome vernietig moes word.
Aan die begin sou dit die seerste seer wees wat hy saam met hom moes dra.
Agter by die kruismas het die waker van die skip gekug en bakboordkant
die donker in gespoeg. Êrens in die uitgestrekte, digte Bos tussen die berge en
die dorpie was Oupoot ook op wag. Het hy in Kom-se-Bos geskuil? Bokant
Diepwalle? In een van Gouna se klowe? Het hy geweet dat die sandloper teen
hom omgekeer was? Het hy geweet dat hy uitgesit was om skuld te betaal
wat nie syne is nie? Oupoot sou nooit ’n enkele nag sy alleenheid gelos het
om saam met ’n trop te loop kwaad doen nie. Nooit. Daarvoor is hy te slim en
té lank al die leierolifant van die Bos. Jare gelede is daar ook sommer net
aanvaar dat dit hy was wat Marais vermorsel het, ten spyte van die feit dat
wat van Marais oor was, weke later per toeval gevind is en niemand meer kon
sweer watter een vir die verwoesting verantwoordelik was nie. Oupoot moes
die blaam dra omdat hy in die omgewing gesien is.
En Jozef het Freek Terblans laat weet om Oupoot te kom skiet. Freek, ’n
man wat menige olifant met een stuk lood inmekaar laat kniel het. Wat die

tande uitgekap en tussen die hout op sy wa versteek het om dit vir ’n flenter
van ’n prys op die dorp te loop verkwansel. ’n Man wat nie aan ’n hart- of
breinskoot glo nie, maar wat van die sykant af skiet om die massiewe rug
tussen die blaaie te vergruis.
Dit was toe dat hy gesweer het dat Freek Terblans Oupoot nie sou skiet
nie. Terblans se byle sou nie daardie tande uit hul kasse kap nie. Nee. Saul
Barnard sou Oupoot skiet. Hy was dit aan Oupoot verskuldig om hom die
vernedering te spaar om voor Terblans se geweer te kniel. Hy had nie ’n
keuse nie. Dié allerlaaste taak moes hy op homself neem. Hulle het Oupoot
reeds gehaat soos hulle hóm haat, en pleit om genade sou nie help nie.
Daarom loop sy voete weer oor die grond wat hy afgesweer het, hoor sy
ore weer die loeries, is hy weer eens in die altyd skemer wêreld van die Bos,
en daar sal Freek Terblans eers vir hóm moet skiet voordat hy op Oupoot sal
kan aanlê.
Daar is vier dae oor na Vrydag toe. Die Pictor sal nie voor Maandag
vertrek nie.
Saul Barnard, seun van die houtkapper Joram Barnard, is in die Bos ontvang
en gebore en grootgemaak. Op die sewende dag van Januarie 1860 is hy kort
duskant Krisjan-se-Nek onder ’n wit-els gebore omdat sy ma se tyd haar
oorval het op pad Brandrug toe waar haar mense gekap het. Hy was die
tweede seun. Jozef was toe twee jaar oud en sy pa moes hom in die fynruigte
wegsteek totdat alles verby was.
Sy ma kon lees en skryf. Hulle had ’n Bybel en sy het vir hom en Jozef
ook leer lees en skryf. Sy pa kon nie lees nie. Hy het gesê ’n man hoef nie te
kan lees en skryf om hout te werk nie. En soos die ou olifantbulle die jong
bulle leer, het hy hulle die dinge van die Bos geleer. Van die bome. Die
verskil tussen ’n kalander en ’n upright van die witpeer, die vlier, die rooi-els,
die wit-els; van assegaai en hardepeer, ysterhout, kershout en kamassie.
Sommige leer jy aan die lyf ken en ander aan die blaar. In die begin lyk ’n
jong stinkhoutboom en ’n saffraan na dieselfde ding, totdat jy geleer het om
steelkant van die stinkhoutblaar die twee harde knoppies te soek. Hulle het
die struike van die onderbos leer ken, wat medisyne is en wat nie. Watter
bessies jy kan eet, watter nie.
Hulle het die voëls leer ken. Hy en Jozef. Party aan die stem lank voordat
hulle hulle in die digtheid van die Bos gesien het. Die kok-kok-kok van die
groot loerie het jou ongeduldig gemaak omdat dit ’n roep sonder lyf bly,

sodat jy op ’n dag loop wag sit het met jou oë in die bosdak totdat die groot
groen voël geruisloos afgesweef het na ’n laer tak en die bloedrooi vere van
sy vlerke ’n oomblik in die sonspatsels geblink het.
Die bosloerie is ’n ander een. Kleiner as die groot loerie, net so mooi, maar
dommer. As jy jou lippe tuit om te fluit, maar jy fluit nie, jy hoot-hoot-hoot
deur jou lippe, lok jy hom van ver af nader, en as dit nie te ruig was nie en
Jozef het reg gemik met die klip, had hulle loerievleis in die pot vir die aand.
Soms het jou geluk by ’n bosduif gelê. Die kleinvoëls het met die tyd saam
name gekry: lawaaimakertjies, piet-my-vrou, die pikswart byevangers met die
swawelsterte, die bontrokkies, die kleinjantjies, die suikerbekkies. Die hele
swetterjoel.
En die bokke. Die bosbok met sy bruin lyf en witspikkel-halsband – ’n ou
ram word later amper swart van bruin en as jy een van hulle kwes, moet jy
maak dat jy wegkom, want hy sal vir jou inhaal en jou op ’n ongemaklike
plek bykom met sy horings. Hulle sê dis hoekom ou Anneries nooit getrou
het nie. Jy leer die grysbok in die kruppelbos ken. En die mooiste bokkie van
almal: die bloubokkie van die ruie onderbos. So klein, so lig van voet dat jy
selde sy stippelspoortjies kry, miskien iewers waar hy oor die dryfsand langs
’n stroompie is of oor ’n sandplek in ’n voetpad. Afgeslag, het hy maar ’n
groot hoender se vleis en sy wip moes jy fyn stel; nie net vir die bokkie self
nie, maar ook vir die boswagter.
“Julle roei die goed uit!” is die tyding op ’n dag die Bos in gestuur. “Die
man wat ons vang wat ’n bloubokkie vang, is in die moeilikheid!” Maar jy
laat nie ’n houtkapper só maklik skrik nie.
“Die man wat ’n bloubokkie vang, se liksens sal afgevat word!” is ’n beter
dreigement agterna gestuur.
Van toe af is die wippies en die boswagter fyn dopgehou. Sy pa het hulle
belet om weer ’n bloubokkiewip in ’n voetpad te stel, al was dit die beste
plek vir myle ver. Mens weet nooit watter dag die boswagter kies om rondom
die kap van jóú byl te kom spaai nie. Toe het hulle maar in die ruigtes gesoek
totdat hulle afkom op ’n hopie mis so groot soos gortkorreltjies, of
bloubokkiepaadjie kry. Sy pa het geglo jy moet vir die kop stel, nie vir die
pote nie. Jy buig ’n lekker jong boom af en bind ’n bloklynlus aan die punt
sodat dit twee handhoogtes bokant die grond sal hang nadat jy die boom se
punt geanker het dat dit net-net hou. Nou kom die bokkie wei-wei nader, sy
kop is deur die lus voor hy weet waar hy is, die boom skiet terug en ruk die
lus om sy gorrel vas, en die boswagter kan maar kom. Die bokkie sal bokant

sy kop in die Bos verwurg hang en hy sal onder verby en dit nie weet nie.
En die grootmense het jou nog ’n ander ding van die bloubokkie geleer:
hulle is anders as al die ander bokke in die Bos omdat hulle gal in hul koppe
sit. Sowaar. Daarom is hul naam ook galkoppies. En dit sou ’n bloubokkie
wees wat die eerste dink in Saul laat loskom het.
Maar voor dit alles en bo dit alles het hy en Jozef van die groot vrees wat
in die Bos wandel, geleer. Van die olifante. Hy was klein toe hy vir die eerste
keer die verskriklike bol mis gesien het. Seker so vyf jaar oud. Hy en sy pa en
Jozef en oom Anneries was op pad na waar daar stinkhout gewerk moes
word, en dit was die eerste keer dat hy volwaardig saamgeneem is om die
eerste take van ’n boskind te leer: die werk om die skerm. Water aandra,
vuurhout kap, vuur maak, die vuur oppas, die patats onder die as bak en
uithaal voordat die olie uitkook, koffie maak.
Die bol het in die voetpad gelê.
“Is dit één olifant s’n, Pa?” Hy het verskrik vasgesteek; dit was so groot
soos ’n jong os se kop!
“Stil!” het sy pa vinnig gekeer. “Jy noem nie sy naam in hierdie bos nie!
Hy hoor vir jou en dink jy roep hom. Kom!”
Maar hy sou bo-oor die grote bol moes trap en hy was te bang om dit te
doen. Oom Anneries het eendag gesê tien osse saam is een groot olifant se
lyf.
“Hy gaan ons trap, Pa!” het hy begin huil en agtertoe gestaan.
“Jy’s dom, man! Die mis is ten minste twee dae oud en teen dié tyd is hy
seker al bo by Jonkersberg as jy my vra. Kom!”
Van ou grootvoete of ou dikbene of van onse voorouers mag jy gepraat
het, maar nooit van ’n olifant nie. Net vreemdes het só onverskillig in die Bos
kom praat.
En hulle het van die eerste wapen teen die groot vrees van die Bos geleer:
die wind. Al roer daar nie ’n blaar om jou nie, soek jy ’n skerf blou lug
bokant jou deur die blaredak en wag dat ’n wolkie verbytrek sodat jy kan
weet watter kant toe om te hol as die takke Bos in breek.
Hy was nege toe hy vir die eerste keer alleen voor die groot vrees moes
staan. Hulle het getrek en by Groot Eiland gaan huismaak. Sara en
Magdalena was toe klein en Izak is kort daarna gebore. Wanneer daar ver van
die huis af gekap is, het hulle ’n skerm gemaak en in die Bos gebly totdat die
hout klaar was. Soms drie weke en langer. As hulle nie te ver van die huis af
gekap het nie, het hulle donkervoordag opgestaan om ligdag by die hout te

wees, heeldag gekap en laatmiddag weer teruggestap. Baie moeg.
Hulle het daardie keer by Witplekbos waenhout gemaak en alhoewel dit
maar so twee uur se stap van die huis af was, het sy pa aan die einde van die
eerste week besluit om skerm te maak en te bly tot die hout klaar is; die
suiker was op, die koffie en twak was min en by die huis was die meel ook
aan die opraak. Die hout moes uitgesleep en reggemaak word en op die dorp
kom. Saul was toe nog nooit op die dorp nie en sy idee van die plek was
taamlik vaag.
Teen die einde van die derde week het dit egter begin reën en dit was te nat
om te kap of te saag. Al wat hulle kon doen, was onder die skerm sit en hoop
dit klaar op. Oom Anneries was darem bly oor die reën; dit het hom kans
gegee om voor te kom met sy speke. Ses wa-speke het vir die ou ’n bottel
brandewyn, Cape Smoke, op die dorp geruil en hy kon die netjiesste speke
met ’n dissel uit ’n stuk assegaaihout kap. Later jare het Saul dikwels
gewonder hoeveel waens oor dié land kreun met ou Anneries se
brandewynspeke in die wiele.
Ou Anneries. Toe Saul op ’n dag uitvind dat sy regte naam eintlik Andries
van Huysteen is, het dit soos ’n vreemdeling geklink. Vandat hy sy verstand
gekry het, het die ou maar by hulle gewoon en in sy pa se span gekap.
Dit het vyf dae lank gereën. Toe dit opklaar, was die kos so te sê op. Een
van hulle sou moes huis toe om kos te haal. Hy of Jozef. Maar Jozef kon teen
daardie tyd al sterk help by die hout en elke hand had net sy vat.
Die volgende dag het Saul se pa hom tot by die naaste voetpad geneem.
“Jy steel nie napad nie,” het hy die orders afgegee. “Jy hou met hierdie
voetpad aan tot by die sleeppad en dan hou jy wes – sononder se kant toe, tot
by die ou skerm, en daarvandaan vat jy weer die voetpad.”
“Ja, Pa.”
“En jy luister heeltyd vir die grootvoete.”
“Ja, Pa.” In sy hart het hy klaar besluit om hulle te wys hoe gou hy met die
kos kon maak.
Dit was nat. Op plekke is hy gly-gly af en anderkant weer hou-hou uit.
Waar hy kon, het hy gedraf en die hele tyd sy ore rondom hom in die Bos
gegooi vir die breek van ’n tak wat ’n olifant kon verraai. Olifante is altyd
woelig in nat weer. En kort voor kwartdag was hy by die huis. Sy ma was een
van hulle te wagte – nie hom nie – sy het geweet hulle kos sou nie vir
reënweer uitkom nie en het patats gekook en askoek gebak.
Net ná halfdag was hy al weer op pad terug. In die sak oor sy rug was die

gaar kos, ’n paar treksels koffie en genoeg rou patats om die hout op klaar te
kry.
Hy het niks gehoor nie, nie ’n stok se kraak of ’n roersel nie. Niks. Hy was
die voetpad anderkant die sleeppad skaars in toe hy opkyk en hom sien. Die
olifant. Voor hom in die voetpad met sy broek na agter, en die wind was
verkeerde kant! Die skrik het hom soos ’n bliksemstraal geslaan. Toe die
slurp opkom en rondsnuif na waar die mensreuk vandaan kom, het hy agteruit
begin strompel maar terselfdertyd geweet hy gaan nie wegkom nie. Die
skurwe lyf was aan die omswaai en die krom, geel tande aan die omkom …
“As ’n grootvoet jou jaag, pluk jou baadjie of jou hemp uit en smyt dit
neer,” het sy pa hulle geleer. “Hy sal dink dis jy en dit eerste vertrap. Solank
hy sy mistake uitvind, hardloop jy of jy klim!”
Saul het die sak met die kos neergegooi en vinnig ’n wit-els gekies en
geklim. Halfpad boontoe het die vrees hom sy arms om ’n dwarstak laat gooi
en sy bene om ’n ander een laat vasknel. Toe hy afkyk, was daar twee
olifante onder die boom: die grote wat hy eerste gesien het en ’n jonger een.
Op die plek waar hy die sak neergegooi het, was hulle besig om die onderbos
uitmekaar te trap en in sy angs het hy gebid dat hulle tog hul woede op die
sak moes uittrap en van hom vergeet. Maar die jonger een het eerste die
mensreuk teen die boom gekry en toe begin stamp om hom daar uit te kry.
Die grote het ná ’n ruk kom help.
Hulle sê as ’n vuur wit brand, is hy op sy warmste; as vrees wit in jou
brand, is jy op jou bangste. Dit het hy daardie dag geleer … Solank die witels hou, moes hy hou, het hy hom voorgeneem. Hy wou nie doodraak nie, hy
wou nie onder hul pote beland en saam met die kos in die aarde in verflenter
word nie. Hulle het met die koppe hul woede teen die boom uitgehaal terwyl
hul pote die klam bos-aarde tot ’n pappery vertrap het en sloef-sloef uit die
modder gesuig het voor elke nuwe aanslag teen die ou wit-els se stam. En
elke keer het hy gedink: Met die volgende stamp skud hulle my uit en dan’s
ek dood! Elke keer dat hy sy oë oopgemaak het, het dit gelyk of die skurwe
boggelskofte nader aan sy voete is.
Hulle het hom daar probeer uitskud totdat die skemerte oor die bosvloer
begin kruip het. Toe het hulle sommer net weggestap. Dikbos in en hy kon
nie sien hoe ver nie. Hy het net die geswiep van die ruigte gehoor en toe was
dit stil. Hy het gewag. Sy arms was styf en seer, sy bene bloedvel geskuur, en
hy het nou eers agtergekom dat hy sy broek natgemaak het.
Toe dit nag was, het hy sy lyf versigtig in ’n ander mik ingewerskaf sodat

hy beter sou kon klou wanneer hulle terugkom.
Hulle het nie weer gekom nie. Ligdag het sy pa gekom. Hy het teen die
aand onrustig geword en voordag kom soek.
Hulle moes die hout op patats en die vleis van ’n bloubokkie klaar maak.
Sy ma het by Magrieta, oom Gert Oog se vrou, vir hulle ’n paar treksels
koffie geleen.

2
Vandat hy kan onthou, is Oupoot die mees gevreesde olifant in die Bos. Geen
houtkapper het sonder respek van hom gepraat of sy spoor gekry en nie
onmiddellik gekyk watter kant die wind waai nie.
Hy was veertien toe hy Oupoot vir die eerste keer gesien het. Baie dinge
het met hom gebeur toe hy veertien geword het …
Die godsiekte het twee maande voor sy verjaardag deur die Bos getrek:
masels, kinkhoes en plek-plek waterpokke. Magdalena moes eerste gaan lê.
Toe Sara inval, het hul ma ook siek geword. Masels. Hy en sy pa en Jozef en
ou Anneries het ver van die huis af kalander vir dwarslêers gewerk en van
niks geweet nie.
Tant Martjie van oom Martiens Botha, wat ook by Groot Eiland
huisgemaak het, het ou Maska gestuur om hulle te soek. As jy die Bos ken en
weet in watter rigting om te soek, kan jy soek, so nie moet jy wegbly uit hom.
Mens hoor ’n byl se kap diep Bos in en ou Maska het hulle die derde dag
gekry. Oom Gert Oog-hulle het ’n paar myl huiskant van hulle gekap en hom
gesê waar hulle is.
Hulle het die vuur doodgegooi en dadelik huis toe begin stap. Ses ure se
harde stap. Toe die sewester vir middernag sit, het hulle Groot Eiland se
oopte binnegeloop.
Die huis het na bossiegoed geruik, tant Martjie se gesig was dik en vreemd
in die kerslig en sy het hom en Jozef by die kamerdeur voorgekeer.
Houtkappers maak nie wonderlik huis nie; as die Bos om jou uitgekap
raak, gaan maak jy huis in ’n ander oopte. Hulle huis had net twee vertrekke.
Hy en Jozef het die katel in die voorvertrek gedeel. Sara en Magdalena en
Izak het by sy ma-hulle in die kamer geslaap. Ou Anneries het vir hom ’n
skerm buite teen die agterste muur gemaak.
Toe sy pa uit die kamer kom, was sy oë vreemd. Soos blind.
“Hoe’s dit dan met Ma?” wou Saul onrustig weet.
“Nie goed nie.”
“Waar’ s Izak en Magdalena?”
“Oorkant by oom Wiljam-hulle se huis. Die siekte is nog nie daar nie.

Magdalena is beter.”
Tant Martjie het waterpatats en mielies op die tafel gesit, maar net Jozef
het geëet.
“Ek wil Ma sien,” het Saul vir tant Martjie gesê. Sy pa het met die kop
beduie dat sy hom moes neem.
Sy ma het nie haar oë oopgemaak nie. Toe hy sy hand op haar voorkop sit,
was dit koud en nat en agter haar het Sara geroggel. Die huil het soos spelde
in sy keel gesteek.
“Hoekom lyk Ma só?” wou hy van tant Martjie weet.
“Binnetoe geslaan. Die masels.”
“En Sara?”
“Selle.”
“Sê sy moet hoes, tant Martjie! Hoor hoe roggel sy.”
“Sy sal nie hoor nie.” Die ou vrou het haar hand oor haar oë gesit en begin
huil.
Hy het buite in die naglug verder gaan skrik … Sy ma sou tog nie
doodraak nie? Sara ook nie? Sara was maar tien en so fluks; sy kon patats
plant soos ’n seun, sy’t hul ma met alles gehelp. Magdalena was maar sewe
en het die meeste van die tyd vir Ma met Izak gespeel. Sara was mooi en
slim. Sy ma het haar ook leer lees en skryf en Sara kon die Bybelboeke se
name aframmel sonder om te dink of weer van voor af te begin. Die twaalf
apostels se name ook. En die Tien Gebooie. Kort tevore, toe die predikant
deur die Bos gekom het, wou Sara nie saam met hom en sy pa en Jozef gaan
wegkruip nie; sy het by Ma in die huis gebly en dit vir die predikant ook
opgesê.
Ma en Sara sou tog nie nou staan doodraak nie?
Sy pa het agter hom by die huis uitgekom.
“Saul?”
“Hier is ek, Pa.”
“Ons moet vuurhout inbring. Tant Martjie wil ’n groot vuur hê, die huis
word koud.”
Gelukkig was dit somer. Wintertyd en reëntyd het die koue en die klamte
swaar uit die plankmure getrek.
Hulle is saam hout toe. Rondom Groot Eiland het die Bos soos ’n dik,
swart boggelmuur gelê; oorkant die diepsloot en teen die skuinste was lig in
oom Freek Terblans se huis. Die godsiekte het daar ook ingetrek. By oom
Stoffel Weyers-hulle ook.

“Pa,” het hy beangs in die donker gesê, “Ma en Sara is baie siek.”
“Moenie so sê nie!” het sy pa geskrik. “Jy roep dinge aan! Jou ma en Sara
is nie wel nie, jy sê só.”
“Ja, Pa. Hulle is nie wel nie.”
“Nee. Hulle is nie wel nie.”
“Oom Anneries het eendag van ’n dokter op die dorp gepraat. Ek en Jozef
kan die osse gaan aanhaal en wa toe jaag, ons kan die wa tot by die boonste
sleeppad bring en dan dra ons vir Ma en Sara tot by die wa. As ons voordag
begin draf, kan ons hulle môre teen die aand op die wa hê.”
“Nee, Saul, die dokter kan niks meer doen as tant Martjie nie. Dis die
godsiekte, hy loop sy loop en hy kies sy eie kant.”
Hulle het die vuur hoog aangepak. Na ’n ruk het hy by Jozef op die katel
gaan lê en aan die slaap geraak. Die lig was grysvaal in die huis toe sy pa
hulle kom wakker maak.
“Die engels het julle ma kom haal,” het hy gesê en buitetoe geloop.
Saul het nog vir Jozef gesê: “Dis nie waar nie, Ma slaap seker net, Pa het
verkeerd gekyk!” Maar tant Martjie het in die middeldeur kom staan en gesê
sy wil die katel vir Sara hê.
’n Uur later had die engels Sara ook weg.
Saul het so bang geword dat hulle hóm ook sou kom vat dat hy sommer die
Bos in gehardloop en gaan wegkruip het. Maar sy pa het hom daar kom
uitroep. Hy en Jozef moes Diepwalle toe om sy ma se mense te gaan sê, en
Diepwalle toe is ’n hele dag se stap.
Sy ma se mense is nie van hierdie bos nie. Sy oupa, Benjamin Steyn, het van
Grootvaders Bosch anderkant Heidelberg gekom en was daar ook ’n
houtkapper. Hy was ’n man van amper agtien toe daar op ’n dag ’n baie ryk
en vername man met vierhonderd skape van die Kaap af verbykom. Die man
sê toe hy is besig om ’n seilskip te bou en soek houtkappers vir hierdie bos.
Sy oupa het saamgekom. Hy sê hulle het meer as vyftig wavragte stinkhout
vir daardie skip uitgesleep. Die man se naam was George Rex en toe die skip
klaar was, drie jaar later, is sy oupa terug Grootvaders Bosch toe om die
meisie te haal wat belowe het om vir hom te wag. Maar sy was klaar getroud.
Toe bring hy haar suster saam en trou met haar: dis nou hulle ouma Johanna.
En ouma Johanna kon ook lees en skryf.
En dit was op pad Diepwalle toe om sy ma se mense te gaan sê, dat hy
Oupoot die eerste keer gesien het. Dit was net ná die middag en hy en Jozef

het by Klein-Skuinsbos gerus en van die waterpatats wat tant Martjie vir
hulle saamgegee het, geëet. Hulle het nie gepraat nie, sommer maar net gesit
en gewag dat hul bene beter moet voel.
Die beweging was links van hulle in die ruigte, net so ’n effense roering,
en hy dog eers dis ’n loerie of iets, maar toe roer dit weer en hy skrik hom
koud, want dis ’n reuse-oor wat tussen die blare flap! Dis ’n olifant! En hy
vat na Jozef en Jozef sien dit ook en skrik hom styf. Die olifant moes die hele
tyd daar gestaan en hulle dopgehou het. En hy weet hy en Jozef kies
instinktief dieselfde stinkhout vir die klim, maar hulle sit asof hulle rotse is!
En hy kan nie sluk nie, want sy hart klop te wild en die wind is teen sy rug …
Toe die bos voor hulle begin roer en die ontsaglike groot lyf geruisloos
vorentoe begin beweeg, het Jozef opgespring en boom toe gehardloop.
“Dis Oupoot!” het hy geskree en geklim dat die takke kraak.
Die volgende oomblik het die olifant in die oopte van ’n stuk kruppelbos
gestaan en Saul se hart wou uit sy borskas skop. En asof die olifant wou hê
dat hulle hom goed moes sien, gaan staan hy in die oopte en wieg sy slurp
stadig heen en weer oor die seweweeksvarings voor hom. Waar die groot, dik
tande langs sy kop uit die kasse bult, was hulle blink en geel tot halfpad waar
jare en jare se wortels grawe en bas afskeur die voorste deel tot by die ronde
punte groen-swart gevlek het. Ten minste honderd pond ivoor aan elke kant.
Hy het geweet hy moet by Jozef in die boom kom, maar sy oë wou nie
loskom van die ontsaglike olifant nie. Onder die oog wat na sy kant toe
gedraai was, het ’n nat kol die skurwe plooie donker gevlek asof hy gehuil
het. Oor sy kruis was ’n diep sloot waar ’n koeël jare gelede deurgegroef het
en in sy een oor was nog ’n ronde koeëlgat. Net die poot waarvan amper die
helfte glo weggeskiet is toe hy nog ’n kalf was, kon hy nie sien nie, want die
pote was in die kort ruigte verskuil.
“Saul!” het Jozef benoud uit die boom gefluister.
Maar hy kon nog steeds nie roer nie. Hy het die gevoel gekry dat die
olifant daar staan sodat hy hom goed kan bekyk en kan sien dat hy nie die
verbeelding van die houtkappers is nie … Daar was iets onbeskryfliks
verhewe aan hom. Plegtig groots. Saul se hele lyf was klam gesweet van
vrees en tog wou iets vir hom sê om nie bang te wees nie. Nie op dáárdie
oomblik nie.
Toe het die slurp skielik opgehou met wieg en die olifant het stadig oor die
oopte gestap en in die ruigtes verdwyn asof hy nooit daar was nie.
“Dit was Oupoot!” skree Jozef.

“Hy’t ons nie gejaag nie!” was die eerste woorde wat Saul kon uitkry. “Hy
kon ons getrap het, maar hy het nie.” Jozef het uit die boom geklim en
versigtig nader gekom. “Hoekom sou hy ons nie gejaag het nie?”
“Miskien het hy ons nie gesien nie.”
“Hy hét ons gesien. Ek weet. En die wind is verkeerd, hy hét ons gesien!”
“Ons moet loop,” het Jozef gesê en bly kyk in die rigting waar die olifant
verdwyn het.
“Miskien weet hy van Ma en Sara …” Saul kon nie dink waarom hy so iets
sê nie. Dis net dat hy nie kon verstaan hoekom die olifant net daar gestaan en
gestaan het nie.
“Jy’s laf,” het Jozef gesê en begin aanstap. “As daardie grootpoot vandag
omdraai, is ons getrap, ek sê jou! Kom!”
Teen die laatmiddag het hulle bokant Diepwalle in die hardepad uitgekom.
“Sal jý dit sê?” het Jozef onderlangs gevra.
“Jy’s die oudste.”
“Ouma sal dit van jou wil hoor.”
“Goed, ek sal sê.”
Heeldag deur die Bos het hy geweet Jozef wil nie hê hy moet sien dat hý
ook maar kort-kort huil nie. Jozef was soos hul pa. ’n Barnard met ysterhout
onder die bas: hard en sterk en goed. Hy het soms die gevoel gekry dat Jozef
en sy pa met mekaar praat sonder dat hulle iets sê; oor wat hulle moes kap,
waar die boom moet val en nie val nie …
Jozef was altyd bosmens. Hy wou nooit iets anders wees nie.
Hul ouma het langs die huis gestaan soos een wat wag. Sy het nader gekom
en haar oë was bang.
“Julle bring tyding.”
“Die engels het vir Ma en Sara kom vat,” het hy vinnig verby die knop in
sy keel gepraat en sonder dink bygevoeg: “En ons het Oupoot langs die pad
gekry.”
Hulle kon die volgende dag eers teruggaan huis toe. Sy oupa en sy ma se drie
broers het in Lelievleibos gekap en hulle moes Hans Oukas stuur om hulle te
roep. Hans Oukas is ’n Outeniekwa soos Maska.
Toe hulle die môre in die pad val, was hulle ag: hy en Jozef, hul ouma en
oupa en drie ooms en ou Sanna. Sanna is sommer van die los mense in die
Bos en sy gaan graag waar sterfte is. Sy is van Veltmaspad se mense en sy
was maar altyd simpel. Oom Willem, sy ma se oudste broer, het voor geloop,

toe sy oupa en ouma, toe hy en Jozef, en toe die ander twee broers met Sanna
agterna. So asof hulle klaar agter die kiste geloop het. En oom Willem het
napad Jonkersberg-Eiland deur gesteel en hulle amper in ’n groot trop laat
vasloop. Gelukkig was die wind reg en kon hulle bokant verby.
Kort nadat hulle by die huis aangekom het, het sy pa en oom Anneries van
die dorp af gekom met die twee kiste. Die volgende middag het hulle Ma en
Sara aan die onderpunt van Groot Eiland begrawe. Die meeste mense van
daardie deel van die Bos was daar. Saul het met Magdalena geloop en Jozef
met Izak. Magdalena wou weet waarheen die engels met Ma en Sara was en
wat dan in die kiste is. Jozef het ’n askoek in sy sak gehou en vir Izak gegee
as hy huil omdat die grootmense huil. Izak was toe vyf.
Daar was nie ’n predikant nie. Oom Johannes Pels, wat by Portland
tuiemaker was, het die diens kom hou. Hy het mooi gepraat en gesê die
mense van Groot Eiland sal Maria Barnard mis; hulle het altyd hul Bybels vir
haar gebring sodat sy die geboortes en die sterftes kon inskryf.
Magdalena en Izak is saam met hul ouma en oupa Steyn terug Diepwalle
toe en het Diepwallers geword. Jare later, nadat Saul se pa hom weggejaag
het, het Izak teruggekom en in Joram Barnard se span kom kap.
Sanna is nie saam terug Diepwalle toe nie. Sy maak so. Trek sommer in
waar heenkome is en ouma Steyn het gereken hulle moes haar maar hou; sy
kon darem na die tuin kyk, die vark kos gee en so aan.
Een ding moes Saul later van haar sê: sy kon ’n stuk grond net so goed
soos enige man omspit en ’n patatrank het net nooit onder haar hande verlep
nie. In die huis het hy en Jozef maar soms skoongemaak as dit te erg geword
het. Sanna het op die katel in die voorvertrek geslaap en hy en Jozef by hul pa
in die kamer.
Teen die laatmiddag drink Saul vir die eerste keer in ’n baie lang tyd die
bruin water van die Homtini en proe die Bos daarin. Iewers op hierdie dag het
Oupoot ook sy dors by ’n bosstroom geles. Waar? Nie ’n teken of ’n gerug
wat waar is, het hy van hom gekry nie. Dis nie vreemd nie; jy kan dae en
weke lank in hierdie uitgestrekte bos na ’n spesifieke olifant loop en soek. As
jy die tyd het. Gewoonlik weet iemand darem watter kant ’n trop wei of waar
Oupoot laas gesien is; jy moet maar net aanhou tot jy sy spoor kry en dan
moet jy bid dat dit nie reën nie en op hom bly.
’n Paar keer deur die dag wou hy omdraai en teruggaan, maar elke keer het
Freek Terblans se gesig hom laat voortsoek na ’n teken van Oupoot. Nie dat

die ou ivoordief ’n oulap se omgee of steur werd sou wees as hy hom in die
Bos moes raakloop nie; dis die geweer wat Freek dra wat hom met al groter
onrus laat voortsoek …
Kort duskant die plek waar hulle die slag die groot kalander afgekap het,
besluit hy om slaapplek vir die nag te soek, en kry dit in ’n holte tussen ’n
witpeer en ’n assegaai waar die onderbos dik onder ’n man se moeë lyf sal
wees.
In die laaste lig van die dag trek hy sy klere uit en loop in die koel water
van die Homtini in. Dis soos ou lafenis waarvan sy liggaam al byna vergeet
het … Die hele dag was vol ou dinge. Miskien is dit goed dat hy ’n laaste
keer deur hierdie bos moet loop sodat sy siel ontlaai kom van alles en hy leeg
aan boord van die Pictor kan gaan.
Sou hulle teen dié tyd weet dat hy terug is? Jozef-hulle? Die Bos het
eenmaal ’n manier om dinge te weet. Toe hy en Jozef klein was, het ou
Anneries altyd gesê die bosbokke vertel die bosloeries, die bosloeries vertel
die groot loeries en die groot loeries vlieg met die nuus van tak tot tak, van
boom tot boom en van kloof tot kloof, en voor jy weet, weet die grootvoete
waar jy is! Mens-nuus het sy eie manier om deur die Bos te trek.
Die volgende môre is sy lyf seer van die harde slaap. Daar is drie dae oor
waarin hy hom moet kry. Teen die tyd dat Freek begin soek, moet alles verby
wees.
Hy sal hoër langs die rivier op soek; die olifante is lief om op ’n plek
omtrent vier myl noord deur die rivier te gaan wanneer hulle wes trek.
Dis weer ’n warm dag. Ná omtrent twee uur se soek kry hy tekens waar ’n
trop die nag deur is en besluit om ’n oostelike rigting in te slaan. Dis amper
halfdag toe hy suid van hom byle hoor en nader stap. Hy moet kos kry.
“Is meneer van die dorp af?” Hulle herken hom nie. Dis ou Diepwallers
met seuns wat intussen groot manne geword het: pa, oupa, drie seuns. Hy
onthou die ou man goed.
“Ek wag vir ’n skip om klaar te laai, oom.”
“Lekker geweer wat meneer het. Meneer kan gerus vir ons ’n bosbok
skiet.”
“Oupa kan mos sien die meneer soek grootvoete met daardie ding,” merk
een van die seuns onderlangs op.
“Wat sal die meneer dan alleen loop en grootvoete jag?” brom die jonger
een.
“Ek verneem daar is Sondagnag ’n kind deur een van hulle gedood,” sê

Saul asof hy nie seker is nie.
“Saterdagnag gewees, meneer,” help die ou man hom reg. “Dis ’n
vreeslike ding. Nogal Jozef Barnard se oudste seun. Maar net twaalf jaar oud
gewees. Ons ken hulle goed. My suster is met ’n neef van hom getroud. Hulle
sê die grootvoete is dwarsdeur die skerm, die tand is agter by sy rug in en
voor by sy maag uit. Verskriklike ding. Ons slaap nie een nag nie. Hulle het
die kind dorp toe gedra, maar hy was af voorlat hulle daar was. Dis goed lat
meneer ’n swaar geweer by meneer het. Die boggher loop nog hier in die
Bos.”
“Wie?” lok hy hulle uit.
“Oupoot,” gee die een seun antwoord. “Hulle sê dis hy wat die kind geskep
het. Al baie kwaad in hierdie bos aangerig … Kry vir meneer van die patat.
Kleinkoos, gee vir die meneer jou katotjie … Dis ’n verskriklike grootvoet
meneer. Meneer moet lig loop vir hom. Ons is juis ’n man te wagte wat hom
moet kom skiet.”
“Watter kant toe is hy?”
“Hulle sê hy’s Kwê-se-Draai se kant toe,” gee die ou man antwoord.
“Watter rigting stap meneer?”
“Gouna se kant toe,” lieg hy.
“Meneer ken die Bos?”
“Ja. Ek ken die Bos.”
“Ek wou sê meneer se gesig lyk bekend,” sê die pa en kyk agterdogtig op.
“Maar ek was lank weg,” keer Saul vinnig en vra: “Hoeveel skuld ek vir
die kos?”
“Ons deel wat ons het, meneer,” sê die ou man trots en Saul sien sy hande
wat soos ’n ou boom se stam verknobbel is.
“Dan sê ek vir julle baie dankie.” Hy staan op en groet.
Toe hy van hulle wegstap, roer ’n weemoedigheid in hom wat hy nie
gekeer kry nie. Nêrens het hy edeler as húlle, die oues van die Bos,
teengekom nie. Opreg. Eenvoudig. Skoon van gemoed en van goedheid
tevrede met hul lot. Hulle is onskuldig omdat hulle nie weet wat hulle doen
nie … Dan stoot hy die oomblik se genade van hom weg; hy ken ook hul
koppigheid, hul blindheid! En hy kies koers Kwê-se-Draai toe.
Sy ma en Sara is November dood. Die Januarie daarna het hy veertien
geword. Hulle het by Grootdraai waenhout gemaak en die grootste gedeelte
van sy werk was nog altyd om die skerm. Omdat die waenhout teen ’n

taamlike skuinste gekap is, was die skerm ’n halfmyl laer af gemaak.
“Dis Saul, hy is verjaar vandag,” het sy pa op die ou Bos-manier teen die
voordag onder die skerm aangekondig.
“Geluk, Saul,” het oom Anneries krakerig omgedraai.
“Is ek nou veertien, Pa?” wou hy net seker maak.
“Ja. En geluk van my ook. As ’n man eers veertien is, begin jy vleis aan
jou bene kry en bas aan jou vel en kan jy uitkyk na die dag wat jy jou eie byl
kan swaai – jy moet kom begin uitkap aan die kwaallatte later vandag. Ons is
amper reg vir uitsleep.”
Dit was ’n vreemde gevoel. Die veertien-gevoel. So asof jy in twee bome
gelyk staan.
As een van hulle verjaar het, het sy ma altyd vir ’n vleiskossie gesorg. Hy
het die keer onthou toe sy pa verjaar het en die wildekat die oggend die laaste
hoender gevang het. Sy ma het die hele dag met ’n wip gesukkel, maar toe sy
pa-hulle teen skemer uit die Bos kom, was daar ’n fisant in die pot.
Maar al sou sy ma nog geleef het, sou sy nie op die dag van sy verjaardag
vir vleiskos kon sorg nie; hulle het te ver van die huis af gekap. Hulle sou ook
nie kon huis toe gaan nie, want die houtkoper op die dorp was haastig vir die
hout. Sy pa het gesê die man sê die hele land wag vir waens; die mense trek
van oral af agter diamante aan in die land op en die wamakers wag vir hout!
Omtrent al wat hout is vir alles kom uit hierdie bos.
Hy het besluit om vir sy eie verjaardagvleis ’n plan te maak. Nadat die
ander weg is hout toe, het hy ’n groot ysterhoutvuur aangepak sodat hy later
lekker as kon hê om patats in gaar te kry, die katotjies vir kwartdag se koffie
oor die kleinvuur gehang, en toe is hy met ’n stuk bloklyn en die klein
handbyltjie Bos in. Hy wou bloubokkievleis vir sy verjaardag hê.
Die nag se skemer was nog nie heeltemal onder uit die ruigtes weg nie en
hy moes mooi kyk vir ’n bloubokkiepaadjie of ’n bondeltjie mis. Sonopkant
het die egalige kap, kap, kap van die byle geklink en op plekke moes hy self
pad kap deur die fynruigte. Tekens dat bosvarke die nag bedrywig was, was
daar baie en kort-kort het ’n groot loerie bokant hom in die bome opgehou
met kok-kok-kok en in die keel begin gorrel en sis soos ’n slang om die ander
te sê van die naderende gevaar. Dis hoe hulle die grootvoete van ’n mens sê,
het Saul besluit.
In ’n oopte, waar die hout voorjare uitgekap is, het hy die bloubokkiemis
gekry. Maar daar was niks om ’n wip mee te stel nie en hy moes anderkant
die oopte maar weer die ruigtes in totdat hy uiteindelik die plek gekry het

waar die bloubokkietou deur die onderbos rank. Hy het geweet daar moet
iewers ’n paadjie wees. Waar bloubokkietou rank, kan jy seker wees van jou
geluk. ’n Entjie verder het hy die lus aan ’n vliertak se punt gestel.
“Ek het ’n galkoppiewip gestel,” sê hy toe sy pa-hulle kwartdag kom eet en
rook.
“Ja … ons had lank laas vleiskos,” sê sy pa en kyk anderpad. Vandat hul
ma en Sara dood is, het hy dikwels so in die niks sit en kyk.
Ná kwartdag, die dag van sy verjaardag, is hy, Saul, saam uit hout toe om
die kwaallatte te begin uitkap.
“Gert Willemse sê hy het die week voor laas agter by mister Barrington
gaan help kalander uitsleep,” het hy sy pa vir oom Anneries hoor sê. “Gert sê,
mister Barrington sê, daar kom ’n man aan.”
Kap, kap, kap. Ou Anneries kon soms baie draai met praat. “Watse man?”
“Die Goewerment het nou glo ’n grootman oor die Bos aangestel. ’n
Harison-kêrel. Hý gaat nou glo kom sê waar ons mag kap en nie mag kap nie.
En hy gaat glo baie boswagters aanstel wat elke dag moet bosloop en spaai.”
Kap, kap, kap. “Gert Willemse praat sy lewe lank nog altyd ’n bietjie te
skielik na my sin. Die magistraat op die dorp moes ook kastig boswagters
aanstel om vir die Goewerment te spaai en nou is hulle groter wildstelers as
ons.” Kap, kap, kap. “Jan Snel en sy twee helpers moes kastig hierlangs
spaai, nou hoor ek by jou skoonpa lat Jan agter by Kaffirskop vry. Spaai nou
sommer daar.”
“Die Kaffirskoppers sal nie met hulle laat skoor van hom nie … Toe, Saul!
wat staan jy soos ’n stoets byl en sukkel met daardie onderbos? Kap! En gaat
links by daardie upright verby anders sleep ons ons boontoe vas … Gert
Willemse sê hierdie Goewermentsman gaat lol. Hy’s glo moeilik. Hy praat
van alles bewaar vir die agtergeslagte of iets en hy wil glo al die grootvoete
ook laat tel.”
“Klink my na ’n mal man.”
Kort voor halfdag is Saul terug skerm toe om die patats in die vuur te kry
en die katotjies oor te hang vir etenstyd se koffie. En dit was net nadat hulle
klaar geëet het dat die twee skote Keurkop se kant toe klap.
“Dis raak,” het oom Anneries gelag, “nog een minder vir … Hoe’s die man
se naam, Joram? Harrington?”
“Harison.”
“Nog een minder vir Harison om te tel!”
“Ja,” het sy pa beaam. “Die boswagters kan liewers loop kyk of daai skoot

onder ’n liksens afgetrek is en of dit tandesteel se skiet is.”
“Hulle sê die base van die skippe by die dorp betaal goed vir die tande,” sê
oom Anneries. “Hulle neem dit glo saam Engeland toe vir messegoed se
hewwe. Kan jy dit nou glo!”
“Net Joram Barnard wat nie daardie klas geluk kry nie. Hy het nie geld vir
koeëls en kruit en skietliksens nie.”
“Aagneveryoumine, Joram,” het oom Anneries met ’n skelm laggie
getroos. “Een van die dae trek ons vir ons een plat op jou houtliksens. Wiljam
gaat mos nou self koeëls maak. Ons kry by hom en dan trek ons sommer vir
Oupoot plat … Ek wonder wat hulle nogal betaal vir so ’n tand?”
Ná halfdag was die bokkie in die wip. En hy het hom self by die skerm
gaan afslag; bietjie geskeur by die lieste maar glad nie sleg nie. Hy was nie
net bly oor die vleis omdat dit sy verjaardag was nie, maar ook vir sy pa en
Jozef en oom Anneries se part. Sy pa het altyd gesê daar is twee dinge wat ’n
moeë man weer man maak: ’n stukkie vleis en sy pyp.
En ’n bloubokkiekop gooi jy saam met die binnegoed weg, want sy gal sit
in sy kop. Jy eet nie sy kop nie. Sommer van nuuskierigheid vat hy die
handbyltjie en kloof die koppie middeldeur om te kyk hoe die gal nou eintlik
in die kop sit. Maar dit lyk nes enige ander bok se kop, hy kry nêrens ’n
galsakkie nie! Hy het tussen die binnegoed gaan krap en die gal op die
gewone plek gekry … Hy is weer terug na die koppie toe en het met sy
vingers in die oopgevlekte harspan gaan krap, geproe of dit bitter smaak,
maar niks. Hoe is dit dan moontlik? Die gal sit dan nie in sy kop nie? Dit was
al of ’n onrus deur hom trek.
Oorkant by Keurkop het nog ’n skoot geklap. Hy is weer uit boontoe en het
niks gesê van die bloubokkie nie.
“En jy sê ons niks?” lag Jozef die aand toe die vleis oor die kole hang.
“Pleks jy lankal verjaar het, man!”
Hy het gewag tot sy pa-hulle rook. “Sit sy gal regtig in sy kop?”
“Ek het gesien lat die honde hom jaag totlat hy blind is en gaat staan vir
die vat,” sê oom Anneries. “Hulle jaag hom totlat die gal in sy oë in loop.”
“Het oom die gal in sy kop gesién?”
“Nie lat ek kan onthou nie … Gee daar ’n stukkie vuur aan, my pyp is
dood.”
Hy het ’n stompie vuur uitgesoek en aangegee en weer gevra: “Het oom dit
gesién?”
“Wat gesien?”

“Die gal in sy kop. Ek het gekyk en daar is nie gal in sy kop nie, oom.”
“Kry end met jou gekef, Saul!” het sy pa hom stilgemaak.
En die onrus was weer in hom: Die grootmense het óf opsetlik vir hom
gelieg óf hulle het self die lieg geglo.
’n Mens begin so rondom veertien dink. Vóór dit dink iets anders vir jou.
Miskien dieselfde iets wat vir die diere dink? Miskien dink jy voor jy veertien
is sonder dink. Hy weet nie. Hy weet net dat die ander dink op ’n dag in jou
begin. Van binne af. Ook nie altyd nie. Soms dink jy jouself in ’n bosbraam
vas omdat jy nie na die dink wat van binne af kom, luister nie. Nie wil luister
nie. Soos wat hy op hierdie oomblik nie wil luister na iets wat vir hom sê dat
Oupoot nie Kwê-se-Draai toe is nie! Dat by besig is om tyd te mors.
Sou hy vandag as vyand in hierdie bos geloop het as hy nie daardie dag die
bloubokkie se kop oopgekloof het nie? Sy soektog na Oupoot is besig om
dinge in hóm oop te kloof wat hy nie oopgekloof wou hê nie! As hy nie
daardie dag die bloubokkie se gal gesoek het nie, sou hy vandag Jozef se
hand kon vat en vir hom sê: Ek is jammer oor jou seun? As hy terugdink, het
die eerste weerbarstigheid dáárdie dag in hom losgekom …
Jozef.
Jozef met die goeie hart. Jozef wat eenmaal die rieme van sy skouers
afgehaal het.
Die derde oggend ná sy veertiende verjaardag het hulle met die uitsleep van
die waenhout begin. As sy pa-hulle gekap het waar dit te skuins was om die
osse af te bring, moes hulle self die hout stuk vir stuk uitsleep tot waar die
osse aangehaak kon word. Afgesien van die kalander vir die buikplanke, was
die hout daardie keer nie te swaar nie. Sy pa het besluit dat hulle eerste die
kalander sou uitsleep tot bo in die sleeppad. In die sleeppad word al die hout
dan eers hoopgesleep en van voor af kantig gewerk en in die regte lengtes
gesaag voordat dit op die slee gelaai en met die osse tot by die wa gesleep
word.
Self uitsleep is eintlik maar net soos uitsleep met osse; al verskil is dat
hulle dan die osse is. Eers woel jy die rieme goed om die blok vas en dan, nes
met osse, span jy die sterkstes agter teen die blok in: sy pa en oom Anneries.
Tussen hulle deur kom dan twee ander rieme tot voor by hom en Jozef, en
eers moes hy Jozef se riem ook oor sy skouer vat. Jozef moes agter met die
handspar lig sodat die blok kopkant kon opswaai en agter omswaai.
Gewoonlik het ou Maska kom help met die uitsleep as dit te skuins was,

maar Maska was by oom Gert Oog aan die help en gevolglik moes Saul in sy
plek die rieme vat. Hy het nogal uitgesien daarna.
“Is jy reg vir ons, Jozef?” het sy pa geskree toe hulle ingespan was.
“Ja, Pa.”
“Hiep!” het sy pa die bevel gegee en almal lê gelyk vorentoe. “Kry voete!
Trek!”
Die rieme het oor sy skouers gespan en om sy hande styf getrek.
“Gelyk, manne!”
Die blok het geroer; die vastrap was sleg, maar hy het geroer.
“Lig sy kop, Jozef! Swaai sy gat!” Sy pa het die woorde ritmies afgemeet
en soos rympies laat klink.
Die blok het weer ’n ent gekom. Saul kon die krag waarmee sy pa en oom
Anneries agter hom trek, voel en het self nog harder vorentoe gebeur. Dit het
gevoel of sy bloed in sy kop saamdam en agter hulle het daar weer ’n skoot in
Keurkop se bos weerklink.
“Gelyk nou! Weer so! Nog ’n slag!”
Sy pa het altyd gesê hout-uitsleep is nie menswerk nie …
“Swaai sy gat, Jozef! Laat hom kom!”
Die sagte bosvloer het onder hul voete gesak.
“Weer so! Hiep! Hou hom! Bring hom!”
Die blok het mooi gekom.
“Kyk voor jou, Saul!” het sy pa vir hom geskree toe hy wou omkyk. “Sak!
Gelyk!”
Die rieme het in sy skouervleis ingesny, sy een voet het gegly en hom op
sy knieë laat beland.
“Op, Saul! Hou! Kry voete en hou hulle onder jou! Kom vat hier voor,
Jozef!”
Die blok het nog steeds gekom. Jozef het sy riem kom vat en langs Saul
ingeval.
“Gelyk! Wys hom, manne! Wys hom! Nog ’n slag. Vat hom uit!”
Langs hom het Jozef se asem hard en egalig geblaas; met sy linkerhand het
hy nog die sware handspar ook saamgesleep. Hy het sy broer se sweet geruik
en die spiere op sy arms sien bult.
“Hou hom, manne! Hou hom! Weer so!” Mense het altyd gesê daar is nie
’n man wat ’n span osse kan dryf soos Joram Barnard nie. “Weer so! Nog ’n
slag! Kyk voor jou, Saul!”
Die blok het mooi gekom. Tree vir tree. Hoër en hoër. Saul het gewens hy

kon sy riem oor sy kop lig sodat dit ’n slag in die ander skouer invreet. Maar
hy kon nie; dit het gevoel of daar tussen hulle en die kalanderblok net ’n
oomblik se skietgee lê dan gly hy terug tot onder. Voet vir voet het hulle hom
uitgetrek. Trek vir trek. Elke keer ’n entjie hoër teen die skuinste uit. Stadig
maar altyd hoër.
Hy het die klipbank voor sy oë sien inskuif.
“Hier’s klippe.” Hy wou die waarskuwing geskree het, maar sy stem het
stukkend en dun geklink.
“Vat Jozef se riem!” roep sy pa en hy wil skree dat hy nie kan nie. Maar
Jozef was klaar die riem aan die oorbring en hy moes dit saam met sy eie om
sy hande vaswoel. “Hou!” bulder sy pa. “Lig sy kop met die spar, Jozef! Laat
hom klim! Laat hom klim!”
Saul se bolyf was eerste oor die klipbank, toe sy voete. Sy neksenings het
tot in sy blaaie gepyn, sy lieste soos vuur gebrand.
“Lig hom, Jozef! Lig hom!”
Oom Anneries het soos ’n os geblaas.
“Kyk voor jou, Saul! Swaai met hom regs van die rooi-els verby!”
Daar was spikkels voor sy oë. Bittergoed het in sy keel opgekook en hy het
in sy hart geweet dat hy dit nooit tot bo sou maak nie.
“Kry bene, Saul!”
Die rooi-els het teen sy regterskouer verbygeskuur.
“Keer sy kop. Jozef! Dis smal hier!”
’n Os kan neerslaan as hy nie meer kan nie … Tree vir tree … beur na beur
… hoër … steiler …
“Kyk waar jy trap, Saul! Bring hom deur!”
’n Os kan neerslaan.
“Trek, manne! Gelyk!”
Hoër en hoër. Seerder en seerder.
Jozef het weer sy riem kom vat en Saul se hande het soos dooihout so dood
gevoel.
“Hou die witpeer dop! Gaat links verby!” Saul het gevoel sy maag skeur
uitmekaar toe hulle die blok by die witpeer verbysleep. Anderkant die
witpeer, waar die skuinste ’n holte maak, het sy pa uiteindelik “Asem!”
geskree.
Die rieme was skielik slap. Sy vooroorgeboë lyf wou nie regop kom nie.
Hy het stadig vorentoe geval, met sy dooie hande in die bosvloer gedruk,
omgerol en op sy rug bly lê. Sy keel het tot in sy bors gebrand.

“Ons is halfpad,” het sy pa iewers onderkant hom gesê.
“Lyk my jou Saul het kersgeblaas,” het oom Anneries gelag.
Saul het sy oë toegemaak en in sy hart getwyfel of hy ooit weer sou
regkom. Sy skouer en sy hande, sy hele lyf was tot niet. ’n Os is ’n os, maar
’n mens is ’n mens!
Ná ’n rukkie het hy sy oë oopgemaak en Jozef deur die spikkels op die
blok sien sit. Hy het Jozef in lengte ingegroei maar nog lank nie in taaiheid
nie. Sy pa en oom Anneries het ’n entjie laer af met dooie pype in hul monde
gerus. Joram Barnard was altyd streng oor rook. Net by die skerm waar dit
oopgekap is en ’n twakkool kan val sonder dat dit ’n hel om jou laat opvlam.
“Kom, kêrels!” Sy pa het opgestaan en die dooie pyp ingedagte uitgekap.
“Slegte kom van dikeet en lank lê.”
Toe oom Anneries en Jozef fynruigte toe loop, wou hy vir sy pa sê dat hy
nie sal kan op nie, dat hulle hom eers eenkant moet sleep om die
kalanderblok verby te kry.
“Op, Saul!”
Hy het stadig omgerol tot op sy maag en hande-viervoet orent gekom.
Agter hom het sy pa en oom Anneries onder die rieme gebuk en langs hom
het Jozef sy hande in sy riem vasgewoel.
“Op, Saul!”
Hy het sy kakebene opmekaar geklem sodat die woorde nie kon uit nie en
die riem oor sy ander skouer gevat.
Hoe Jozef geweet het dat hy anderkant uithou verby was toe hulle die blok
amper bo had, weet hy nie; hy het net gevoel Jozef bring sy skouer tot teen
syne en vat sy riem by hom. Toe hy in die kooigoedbos neersak sodat die
ander kon verbykom, het hy eers gesien dat die bloed op hul skouers ook
maar deur hul hemde slaan. Net minder as syne, want hulle was taaier.
Teen die aand had hulle die ander hout ook uitgesleep: hout vir twee
waens. Witpeer vir die vellings, assegaai vir die speke, ysterhout vir die
langwaens en die voortange en agtertange, ysterhout vir die disselbome.
Dit was ’n Vrydag.
Die volgende môre wou sy lyf nie regop kom nie; hy het die werk om die
skemer skerm kruip-kruip gedoen en sy pa en Jozef se koffie gemaak. Oom
Anneries was donkervoordag al weg dorp toe met sy speke. Meer as ’n
halfdag se stap, maar die ou het nie omgegee nie; hy het altyd gesê die
terugkom is so lekker.
Sy pa en Jozef is alleen uit sleeppad toe om met die regmaak van die hout

te begin. Hulle het niks gesê toe hy nie opstaan van die vuur af nie, hulle
moet geweet het sy lyf is te verniel.
“Hou jou lyf maar by die vuur,” het Jozef op sy manier getroos.
Eers teen halfdag, toe die hitte van die son tot onder in die Bos afgesak het,
kon hy sy lyf regop kry.
Daar was weer skote daardie dag.
Laatmiddag kon hy darem ’n halfblik water onder van die stroom af tot bo
sleep, en Jozef het hom skemerdonker kom help om Sondag se vuurhout te
kap. Joram Barnard het nie toegelaat dat ’n byl om sy skerm op die Sabbat
gelig word nie. Toe hulle klaar was met die vuurhout, het hy vir die eerste
keer met Jozef gepraat oor die ding wat die hele tyd nog in hom gebroei het.
“Jozef, ek het die ander dag die bloubokkie se kop oopgekap.”
“Jy moet maar weer jou lyf by die vuur kry. Die aandlug bring sommer
weer die styfte terug.”
Miskien het Jozef nie gehoor nie. “Ek het die bloubokkie se kop oopgekap
en sy gal sit nie in sy kop nie. Dis ’n lieg!”
“Jy weet mos sy gal sit in sy kop,” het Jozef skielik vererg gesê. “Almal
weet sy gal sit in sy kop. Loop kry jou lyf by die vuur.”
Hulle het geëet en gaan lê.

3
Daar is nie ’n enkele vars teken van ’n olifant by Kwê-se-Draai nie, en die
son begin middag toe trek. Watter kant toe sal hy nou soek?
Oos. In die rigting van die Knysnarivier.
As die dinge wat hy in hom loop en losdink, net tot ruste wil kom! Maar
dis soos ou, diepgewortelde dorings wat skielik begin sweer in sy vlees. Is dit
loutering? Nee! Hy het nie loutering kom soek nie. Hy wil Oupoot die
vernedering van Freek Terblans se skoot spaar en op die Pictor gaan klim en
die stof van alles van hom af was!
Wat van Kate?
As al die ander dinge dorings is wat in sy vlees sweer, is Kate ysterkettings
om sy enkels wat die hele tyd met hom saamsleep deur die Bos. En voordat
hy kan vry wees, moet hy hulle van hom loskry! Die uitsleep van daardie
waenhout dorp toe, dis waar die res begin het.
’n Uur anderkant Kwê-se-Draai kom hy by die bosstroom waar ’n groot
trop vroeër die dag gesuip en gerol het. Tussen twaalf en vyftien koeie met
vier kalfies by hulle. Hulle was nie haastig nie; al die toppe van die
boomvarings is afgevreet en dié wat nie vir die toppe sin had nie, het
omgestoot en die wortels afgevreet.
Oupoot se spoor is nie tussen hulle nie. Nie sover hy kan uitmaak nie.
Hy sal weer êrens moet kos kry.
Die waenhout.
Die volgende dag was Sondag. Toe hulle wakker word, het oom Anneries
langs die halfdooie vuur gelê, sy kop natgedou, en hy het gesnork soos een
wat kraansaag trek.
Sy pa het dikwels gesê die grootvoete gaan die ou nog trap omdat hy so
sonder respek in die donker deur die Bos van die dorp af kom.
Wanneer daar weg van die huis af gewerk is, het hulle Sondae maar
heeldag om die skerm rondgelê en gerus. Teen kwartdag het sy pa gewoonlik
vir hulle Psalm 23 opgesê en waar hy vashaak, het oom Anneries oorgevat en
die psalm enduit opgesê. Nog soos dit in die Bybel staan:
“Hy richt de tafel toe voor mijn aengesichte tegen over mijn

tegenpartijders; Hy maeckt mijn hooft vet met olie mijn beker is
overvloeijende. Immers sullen my het goede ende de weldadigheyt volgend
alle de dagen mijns levens; ende ick sal in het buys des Heeren blijden in
lenghte van dagen.”
En sal daar dan nie daardie Sondag nog ’n dink in hom staan loskom nie.
Sommer so vanself, soos ’n mens partykeer van een ding na ’n ander dink.
Die Bos is so ontsaglik groot en ruig, dink hy so by homself, hoe was dit dan
moontlik dat Adam en Eva so vrot weggekruip het dat God hulle sommer
gekry het om hulle hier uit te jaag? Hy sal in hierdie bos wegkruip dat
niemand hom kry nie … God kon tog nie bo uit die lug uit tot hier onder
gesien het nie. Selfs die son sukkel om tot onder te kom. Net flenters son kom
deur die blaredak … Miskien, as jy hoog in die lug kon vlieg oor Groot
Eiland of Klein Eiland of oor Peuter-se-Brand, of oor ’n stuk kruppelbos
waar die hout klaar uitgewerk is … Maar daar kon mos nie houtkappers in
Adam en Eva se tyd gewees het nie?
“Pa, het Adam en Eva in hierdie bos gewoon?”
Oom Anneries en Jozef het uitgebars van die lag en hy het simpel gevoel.
“Hulle het in die Hof van Eden gewoon, Saul,” het sy pa gesê en ook
gelag.
“Dis ’n tuin, nie ’n bos nie!” het oom Anneries gesê. Oom Anneries ken
die Bybel.
Hy wou nie hê hulle moes agterkom dat hy deurmekaar was nie; hy kon
sweer sy ma het gesê dit was ’n bos. Watse tuin?
“Watse tuin?”
“ ’n Tuin,” sê sy pa. “Met allerhande bome en vrugtebome en so aan.”
“Dan wás dit mos ’n bos!”
Maar sy pa wou nie kopgee nie. “Dit was ’n tuin, man! En in die middel
van die tuin het die boom van goed en kwaad gestaan.”
“Maer van den boom der kennisse des goets ende de quaets,” het oom
Anneries oorgeneem en met erns en vermaning aangehaal, “daer vanen sult
gy niet eten: want ten dage als gy daer van eet sult gy den doot sterven.”
Só het sy ma ook gesê. Saul het selfs geweet watter boom die boom van
goed en van kwaad is: die geelhoutboom. Tot die olifante weet dit. Dis die
enigste boom in die hele Bos waarvan hulle nie ’n blaartjie sal vreet nie, nie
’n stukkie bas van sal afskeur nie. Nie van ’n upright nie, nie van ’n kalander
nie.
Nou sê hulle dis nie Adam en Eva se bos nie? Sy kop was skielik baie

deurmekaar. Die bloubokkie se gal sit nie in sy kop nie, die geelhoutboom is
nie die boom van goed en van kwaad nie …
Hy het opgestaan om die water te begin aandra vuur toe; Sondag was die
dag waarop hulle hulle gewas het.
Die Maandagoggend het hulle die skerm sleeppad toe verskuif. Drie keer
op ’n dag skerm toe stap van daar bo af om te kom eet en rook, was nou te
ver en ’n mors van tyd. Die hout moes klaar en op die dorp kom. Die kos was
nou so min dat Saul die dae vooruit moes bereken en daarvolgens deel. Sy pa
en oom Anneries was op halfpyp stop.
Hulle had die skerm net mooi klaar toe die skote Gouna se kant toe klap.
So naby dat hulle die takke kon hoor breek.
“Hol! Hulle breek hierdie kant toe!” het sy pa geskree. En hy en Jozef kies
dieselfde witpeer, maar Jozef sukkel om op te kom en Saul moes
verbyhardloop. Toe die volgende skoot klap, het dit vir hom gevoel dis agter
sy hakskene vas, en toe die olifant blaas dat die wêreld dreun, was hy bo in ’n
boom. Die olifante het suid van hulle verbygebreek, Vlierdraai se kant toe; sy
pa het geskree hulle moet sit waar hulle sit, daar kan een gekwes wees en
skuil.
Dit was halfdag verby toe hulle weer op die grond kom. En oom Anneries
sê hy het op die dorp gehoor dis ’n Marais wat skiet. Hy gaan glo honderd
skiet.
“Honderd? Hoekom honderd?” Saul kon dit nie begryp nie.
“Seker vir die tande. Dis mos makliker as houtkap.”
“Hoeveel grootvoete is hier dan in die Bos?”
“Ek weet nie, seker ’n klomp honderde. Miskien duisend. Jy hoor dan jou
pa sê die Goewerment wil hulle laat tel. Gmf! Hulle dink seker dis hoenders
wat jy kan staan kiep-kiep. Wat weet ’n Goewerment van grootvoete af?”
Hy moes oom Anneries die dag by die vellingmote help: elke witpeermoot
moes kantig en presies sewe-en-twintig duim lank kom. Oom Anneries het
met die regsbyl kantig gemaak en Saul het gemeet en gesaag.
“Honderd grootvoete is baie, oom.” Saul het honderd dooie olifante in sy
verbeelding probeer hoopsleep.
“Ja. En sover dit my aangaan, kan hulle die laaste boggher skiet, hulle
moet net nie my staan saamskiet nie!” het oom Anneries ergerlik gesê en die
bloklyn gevra. “Plant ek mos een jaar mielies lat die wêreld sal kan saameet.
Daardie jare had ek huisgemaak anderkant Ysternek en ek en oorle Petrus
Barkhuyzen maak vir ons ’n lekker groot stuk aarde skoon … Jy moet die

bloklyn ordentlik deur die as trek voorlat jy hom vir my aangee! Ek wil nie
soek waar ek my merke maak nie … En oorle Petrus plant patats en ek plant
mielies. Daardie jare kap ek in jou oupa Barnard se span. En toe die mielies
opskiet, sit ek nog ewe sewe flenterpoppe vir die bosbokke op en ek sê vir
jou oupa die bosbokke dink dis sewe Barnards, want hulle kom tot op die
rand van die Bos, gee die poppe net een kyk en spring terug … Laat werk
daardie saag se tande, Saul! Jy’t nie jou hande nodig vir jou ore nie … En die
reën val daardie jaar of hy georder is en ek bring die mielies halflyfhoogte en
skuif die poppe uit solat die bokke hulle beter kan sien.” Kap, kap, kap.
“En toe, oom?”
“Toe kom die grootvoete. Dit was ’n Sondagnag. En wat hulle nie
opgevreet het nie, het hulle vertrap en verniel tot in die aarde in solat daar
ligdag nie ’n stoel gestaan het wat kon stronk nie.” Kap, kap, kap. “Ek hoop
die hele lot van hulle is onder die honderd wat Marais gaan skiet!”
Halfdag die Saterdag was die hout klaar. Die wete dat die dorp toe gaan
naby was, het beurte op Saul se maag gemaak tussen bang en bly. Hy sou op
veertien vir die eerste keer die dorp sien.
Sy pa is nog dieselfde middag weg om vir Magdalena en Izak te gaan
kuier, en die Maandagoggend sou hy op pad terug sommer by die wa, wat
duskant Diepwalle gestaan net, langs kom en die wa ghries. Hy en Jozef sou
voordag die osse by Loeriebos-se-Eiland gaan aanhaal. Oom Anneries had
nog ’n paar speke om klaar te maak.
Dinsdagmiddag had hulle die hout met die osse uitgesleep tot by die wa,
opgelaai en ingespan, en skemer het hulle by Witfontein uitgespan vir die
nag.
Saul het die laaste koffie en patats gedeel sodat daar vir voordag iets oor
was; sy pa en oom Anneries het die laaste twakkrummels gedeel.
“Is die see ver van die dorp af?” vra hy vir Jozef in die hoop dat dié hom
die vorige keer misgis het.
“Ver,” sê Jozef.
“Hoe ver?”
“Halfuur se draf tot agter.”
“Sal jy saam met my gaan?”
“Nee. Pa sal nie wag nie.”
“Ons kan die wa maklik weer inhol,” was hy bereid om selfs te soebat.
“Ek bly by die wa.” Klaar.
Jozef het nooit gehou van dorp toe gaan nie. Niemand hou skynbaar van

die dorp nie. Net oom Anneries. Of van die see nie. Die helfte van die
vooruitsig om te sien hoe lyk die dorp, is om te sien hoe lyk die see.
“Bloue water so ver as wat jou oë kan sien,” het sy ma probeer verduidelik
toe hy klein was. Hy wou altyd weet van die see. “Plat soos jou hand as jy ver
van hom af is en as jy by hom kom, sien jy hy het branders met witskuimtoppe.”
“Hóé wit?”
“Soos ’n vlier as hy blom.”
Hy het eenkeer die see by Diepwalle gehoor. Hulle het by sy ma se mense
gekuier en die snaakse gesuis was teen die aand in die lug. Aanhoudend, nes
die skreetor in die somer, net sagter en die hele lug vol. Hy het bang geword
toe dit donker word en die gesuis in die lug bly hang.
“Dis die see, Saul,” het sy oupa gelag. “As hy só by Noetzie stamp lat jy
hom tot hier kan hoor, kan jy jou klaarmaak vir reën.
Die volgende dag is hulle in die reën terug huis toe.
Hy het geweet hoe die see ruik. Altyd, wanneer die suidoos die mis van die
see se kant af die Bos injaag, het die souterige reuk saam met die bosreuk om
alles kom lê. Dan het die mis die hele wêreld omgetoor. Alles stiller gemaak.
Nader. Kleiner. Banger. Die bome het donker spoke in ’n dik, wit muur
geword en saam met die onderbos vlak voor jou verdwyn. As jy probeer
vinnig loop, lyk dit of die bome uit die mis uit na jóú toe aankom, en die bang
op jou maag was ’n lekker bang. As jy nie geweet het waar jy is nie, sou jy
nie geweet het wáár jy is nie! Toe hulle klein was, was sy ma altyd bang hulle
verdwaal as die mis deur die Bos kom. Soos die Terblans-kind wat hulle
nooit weer gekry het nie …
Hulle het voordag ingespan; sy pa wou vroeg op die dorp wees. En Saul
kon nie besluit of hy voor by Jozef, wat moes lei, wou loop, of agter by oom
Anneries by die briek nie.
“Hoeveel grootvoete dink oom het Marais al geskiet?” het hy agter by oom
Anneries gevra.
“Sal nie kan raai nie.”
“Hoeveel osse gaan in honderd grootvoete in?” gaan vra hy voor vir Jozef.
“Wat?”
“As daar tien osse in een groot grootvoet is, hoeveel osse is daar in
honderd grootvoete?”
“Seker baie.”
“Hoeveel baie?”

“Dis nie ’n wonder oom Anneries sê jou kop sit bo in die takke nie.”
“Hoekom sê hy so?”
“Jy wil altyd annerster goed weet as ander mense.”
Hy is terug na oom Anneries toe. “Hoekom sê oom my kop sit in die
takke?”
“Wat?”
“Jozef sê oom sê so.”
“Maar jou kop sit mos in die takke! En as jy vandag heel op die dorp wil
aankom, beter jy padgee daar van die wiel af!”
“Hoe ver is dit nog?”
“So drie uur.”
Hy is maar weer voor na Jozef toe. “Laat my ’n entjie lei?”
“Jy laat nie die osse opdam nie,” het Jozef gewaarsku en die rieme
aangegee.
Maar hy het nie lank gelei nie; die voorosse se horings was te na aan sy
blaaie en hy het onthou van die keer toe sy pa-hulle van die dorp af gekom
het met ’n alte kruppel Jozef: die voorosse het sy hakskeenvleis tot op die
been afgetrap.
“Ek het uitgereken hoeveel osse daar in honderd grootvoete is,” sê hy toe
Jozef weer die rieme kom vat. “Duisend. As Marais honderd grootvoete skiet,
is dit net so goed hy skiet duisend osse. Dis baie, nè?”
“Jy praat dom, Saul. ’n Man wat duisend osse skiet, is mal in sy kop.”
“Duisend skote. Duisend koeëls.”
“Maar die man skiet mos nie duisend osse nie!” Jozef was skielik kwaad.
“Hy skiet maar net honderd grootvoete! Pa sê hy hoop die man skiet al die
bogghers hier uit.”
Hy is maar weer agtertoe. Jozef was altyd gramstorig as daar dorp toe
gegaan word …
En niemand het hom gesê dat die dorp nie in die Bos is nie. Niemand nie.
Hulle het skynbaar aangeneem hy weet die dorp is nie in die Bos nie. Hoe
moes hy dit geweet het? Hy het gedink die Bos loop tot teenaan die see en
êrens, ’n halfuur se draf van die see af, is die dorp.
Hulle het oos van die dorp uit die Bos gekom. Die een oomblik was die
Bos nog om hulle, bokant hulle, en die volgende oomblik het dit al hoe ligter
begin word, was daar al meer son, en toe lê die wêreld skielik oop. Kaal.
Soos een sonder hoed. Sonder dak. Hy wou omspring en teruggaan na die

skemerskuilte van die Bos, en sy lyf het vanself langs die kant van die pad in
die muishondbos bly staan terwyl die wa verbykom en die son sy oë
seermaak.
“Kom, Saul!” skree oom Anneries toe hy saam met die briek verbykom.
Maar hy het in die muishondbos bly staan. Hy wou agterna skree dat hy daar
sal wag totdat hulle terugkom; hy het die woorde in sy kop geskree terwyl sy
voete die wa begin inhaal het die groot oopte in en sy hart het in sy ore
geklop.
Toe hulle wes draai en die wye water suid van hulle lê, het hy die wa
ingehol. “Is dit die see, oom?”
“Nee. Dis die Knysna voorlat hy daar agter in die koppe deur ’n gat see toe
loop.”
Die Knysnarivier? Dis onmoontlik.
“Die Knysna van onse bos?”
“Ja. Dis sy water wat jy daar sien lê. Jy sal netnou sien hoe lyk die gat
waar hy deurloop see toe en waar die skippe inkom. Party foeter sommer net
daar in die bek van die gat om en sink tot onder op die boom.”
Die groot oopte het sy kop duiselig gemaak; daar was te baie son en te baie
lig en dit was godsonmoontlik dat die bruin bosstroom hier uitgestrek en
blink kon lê … hoe’t hy so gekom?
“Vat wyer die draai!” het sy pa vir Jozef geskree. En hoe verder hulle wes
beweeg, hoe oper skuif ’n gat in die koppe waar oom Anneries gesê het die
Knysna see toe loop. Dit lyk of iemand ’n stomp byl gevat en sleg ingekeep
het tussen die koppe …
Hy het agter by die wa gebly toe hulle die eerste huise kry. Eers ver
uitmekaar. Toe al meer. Vierkantig en wit en die dakke is van riet gepak en
op party is nog ’n bohuis ook met vensters kompleet. En die tuine is geil en
loop tot teenaan die straat met blomme wat hy nog nooit van geweet het nie.
Die bang in hom was ’n ander soort bang as vir die grootvoete. Dit was déúr
hom.
Twee spierwit perde het voor ’n klein klipgeboutjie gewei en daar was die
mooiste vensters in die mure. Hy het nie geweet dis ’n kerk nie. Oom
Anneries het hom gesê.
En die mense! Hul klere. ’n Man het op ’n perd verbygekom; sy klere was
so netjies en platgestryk en sy skoene het tot amper by sy knieë gekom. Hoe
sou hy hulle aangekry het?
“Kom, Saul!”

“Het oom daardie man gesien?”
“Mister Thomas Rex,” het oom Anneries met respek gesnuif. “Hy’s ’n ryk
man. Ek het eenkeer stinkhout vir sy stalle gewerk. Baie perde.”
Hy het dit slootkant verbygewaag tot voor by Jozef. Jozef het nie
rondgekyk soos hy nie, net voor sy voete in die stofpad.
“Het jy die man op die perd gesien?”
“Nee.”
Twee vroue het uit ’n huis gekom. Hul rokke was van baie lap gemaak en
tot op die grond. Wyd. Soos die prentjie op sy ouma Steyn se
porseleinkommetjie. En hul hare was blink in die son en wonderbaarlik op
hul koppe gebondel sonder dat dit afval … Hier en daar was daar mense soos
hulle, maar ook nie heeltemal nie. En toe hy weer agter by die wa kom, skree
sy pa vir Jozef om wyd te hou met die osse.
Jozef het die osse in ’n dwarsstraat af gelei in die rigting van die groot,
uitgestrekte water. Toe Saul saam met die wa omkom, lê die twee skepe
sonder seile op die blinke water. Nes bome sonder blare. Vreemde goed uit ’n
vreemde wêreld …
Toe hy klein was, het sy pa eendag van die dorp af gekom en gesê daar lê
’n skip sonder een van sy maste by die dorp. Die skip was in ’n storm en sy
mas het afgebreek. Sy pa moes haastig kom mas kap. Ysterhout. Sestig voet
lank en Maska moes kom help. Ysterhout is nie ’n grap om te werk nie en
hulle het hom met die osse uitgesleep tot op die dorp. Daarna was hulle lank
ryk. Sy pa het tweehonderd riksdaalders vir die mas gekry: tagtig vir homself,
sewentig vir oom Anneries en vyftig vir Maska. Hulle het huisgoed en klere
gekoop, kos en ’n ysterpot, en die orige geld het sy pa weggesteek vir
hongertye en liksensgeld vir die volgende jaar se kap.
Jozef is met die voorosse by ’n groot werf in. Oral het hout gelê:
opgestapel en uitgestal. Hout net waar jy kyk! Langs die groot houtskuur het
ander waens weer van die hout opgelaai; in die onderste hoek het twee waens
afgelaai. Veltmaspaaiers.
Dit het vir Saul gevoel sy kop is te swaar vir sy lyf. Sommer die honger,
het hy besluit, voordag se kos was maar effentjies.
En dit was warm.
Hy en Jozef het opgeklim en die woelstokke begin losdraai; twee man bo
en twee man onder. Soos hulle aflaai, het hulle sommer die twee lotte
waenhout uitmekaar gepak. Netjies.
Toe dit klaar was, het sy pa en oom Anneries in die koelte van die wa gaan

sit en aan hul leë pype gesuig.
“En nou?” wou Saul weet.
“Nou wag ons vir mister Page om te kom.”
Ná ’n ruk het ’n man met rooierige hare en ’n wit gesig van die skuur se
kant af oor die oopte gekom. Hy had twee boeke in sy hand en sy klere was
soos dié van die man op die perd. Net sy skoene was nie so hoog op nie. Toe
die man nader kom, het sy pa opgestaan en sy pyp in sy sak gesteek.
“Name?” vra die man botaf.
“Joram Barnard.” Hulle het nie gegroet nie. “Waar is mister Page dan?”
vra sy pa versigtig.
“Ek is MacDonald,” sê die man en blaai deur die grootste boek. “Mister
Page is terug Engeland toe, die plek behoort nou aan my. Wat het julle
gebring?”
“Waenhout.”
“Waenhout?” Dit het geklink of die man hom vererg. “Noem jy dit
waenhout? Dis derdeklas hout!”
Saul het dieper agter die wa ingekruip sodat hy net met sy een oog langs
die wa af kon loer … As sy pa die man foeter omdat hy so staan en lieg, wil
hy nie naby wees nie. Joram Barnard raak nie maklik kwaad nie, maar as daar
’n ding is wat hom briesend maak, is dit ’n liegtery en ’n vloekery. Jy kan vir
’n boswagter lieg, want jy lieg vir jou maag en die bas aan jou lyf, sê sy pa
altyd. Jy lieg nie vir ander dinge nie. En die man het vir sy pa gestaan en lieg,
gesê dis derdeklas hout terwyl hy goed weet die hout is eersteklas.
“Julle bring waenhout terwyl die skepe lê en wag vir dwarslêers!” skel die
man. “Wat moet ek met waenhout maak?”
“Mister Page het gesê ons moet waenhout maak,” het sy pa gesê, en sy pa
was bang. Hy kon dit nie verstaan nie. Joram Barnard is nie ’n bang man nie
…
“Ek het niks met mister Page te doen nie! Die Goewerment wil dwarslêers
hê! Die spoorlyn Kimberley toe moet klaarkom en julle kom hier aan met
waenhout! Het julle bosmense dan nie verstand nie?”
“Dan verstaan ek dit nou glad nie,” het sy pa verslae gesê. “En ek sien hier
staan nog skuld op die boek vir ’n doodskis ook?”
“Die sterfte het onverwags oor my huis gekom, mister MacDonald, daar
was twee op die boek, een is afgebetaal.”
Die man het sy kop geskud en iets in die groot boek geskryf, toe iets in die
kleiner een, die blad uitgeskeur en vir sy pa gegee.

“Saul!” roep sy pa toe die man wegstap. “Kom lees hier.” Maar hy had
moeite met die lees. “Ek verstaan nie wat hier staan nie, Pa. Iets van tree
pennies.”
“Dis Engels,” het oom Anneries oor sy skouer kom help. “Lees soos dit
staan, ek sal weet wat jy lees.”
“Tree pennies s … u … g … a … r. Tree pennies c … o … f … f … e … e.
Five shillings off on c … o … f … f … i … n.”
“Kôffen,” sê oom Anneries. “Dis die kis.”
Tiekie se suiker, tiekie se koffie en vyf sjielings af op die kis? Al die kap,
al die saag, die kalanderblok se uitsleep, al die regkap, al die oplaai, al die
werk, dag na dag, week na week; alles vir ’n tiekie se suiker en ’n tiekie se
koffie en vyf sjielings af op die kis? En sy pa stáán net daar?
En die man kom halfpad teruggestap en skree oor die oopte: “Kry julle wa
uit die pad! Ek verwag waens met dwarslêers!”
“Meneer!” het sy pa skielik tot lewe gekom en met sy hoed voor sy bors tot
by die man gestap. “Meneer, ons weet nou nie hoe nie. Ons moet meel hê en
die suiker en die koffie sal nie uitkom nie. Dis twee waens se hout daardie,
meneer, ons kry gewoonlik een pond vyf vir een.”
“Laai op julle vrot hout!” snou die man skielik woedend en die bloed vlam
rooi in sy nek. “Vat dit weg van my werf af en loop verkoop dit op ’n ander
plek! Maar voor jy oplaai, betaal jy eers jou winkelskuld, want die winkel
behoort nou ook aan my!”
Saul het geweet hulle is vas. Die man het dit ook geweet.
“Ons sal gaan dwarslêers werk, meneer,” het sy pa mooigepraat. “As
mister MacDonald dan net vooruit kan help met ’n groter goodfor vir meel en
suiker en koffie en …’n bietjie twak tog, asseblief. Ek belowe meneer ons sal
gaan dwarslêers werk.”
Saul was nooit weer kind ná daardie dag nie. Iets breek in jou as jou pa,
groot sterk Joram Barnard, wat ’n byl kon swaai soos geen ander man in die
Bos nie, wat ’n treksaag lynreg deur die dikste kalanderblok kon laat skree,
wat met die krag van ’n os kon hout uitsleep, as jy hóm soos ’n hond sien vra
om kos en twak.
Teen skemer is hy bo in die Knysnarivier se klowe en hy is moeg. Die hele
dag geloop en nie ’n teken van Oupoot nie. Deur ’n oopte in die blaredak
kleur die son ’n streep windwolke rooi.
Agter ’n ou stinkhoutstomp, uitgehol aan die agterkant en skurf van die

mos, roep hy sy dag ten einde. Hy is honger. Daar is ’n geniepsigheid in die
luggie en hy trek sy baadjie om hom styf. Die vorige nag was dit bedompig.
Daar is spinnedrade oor sy gesig en toe hy hulle wegvee, voel hy die
tweedagstoppels onder sy hand.
En die slaap wil nie kom nie. Die spoke van gister wil nie tot ruste kom
nie. Hy wou die waenhout net tot by MacDonald uitgesleep het, nie die res
nie!
Nie Kate nie.
Hoe gaan hy haar leer haat?
Hulle is weer met die wa terug tot in die eerste straat. Terwyl sy pa en oom
Anneries met die goodfor by die sink-winkeltjie in is, het hy op die wa bly sit
en Jozef het voor by die osse gestaan.
Dit het gevoel of die hele wêreld hom bejok het, of sy lyf in ’n
deurmekaarbos beland het en nie weer kon loskom nie. Sy kop wou nie dink
nie. Agter hulle het die Veltmaspaaiers se lendelam wa met hulle goodfor
stilgehou …
’n Entjie laer af in die straat, in ’n groot, groen oopte, het ’n klein geboutjie
met ’n spits dakkie gestaan. Die twee woorde bokant die deur was met ’n
boog geskryf. Nie Hollands nie. P … U … B … L … I … C … S … C … H
… O … O … L. School? Hy was nog aan die sukkel om dit uit te maak, toe
die deur oopgaan en die kinders begin uitbondel. Dorpnaar-kinders. Ander
soort kinders. Met ander soort klere en skoene en pakkies boeke in lang
leerbande vasgegespe. Party van die kinders het in die straat af geloop en ’n
paar het na die wa se kant toe oor die straat gekom en na die osse en Jozef
gaan staan en kyk. Jozef het nie opgekyk nie. Saul het vinnig begin bid dat
hulle tog net asseblief hóm moes miskyk! Maar vier van hulle het aan die
onderkant langs die wa af gekom en net toe hy wou platval, sien hy hulle sien
hom en hy weet hy gaan aan die straatkant afspring en hol! Maar die voet
waarmee hy wou spring, bly oor die kant van die wa hang, want ’n
meisiekind staan waar hy wil land en sy staar hom aan asof hy wonderbaarlik
is.
“Do you come from the bush?” vra sy en agter hom lag die ander.
“They speak kitchen Dutch,” sê een, en Saul het geweet hy sou nie omgee
om net daar dood te raak nie.
“Is daar regtig olifante in die bos?” vra die meisiekind half dringend en sy
staan waar sy staan. Sy lyk soos ’n engel moet lyk, haar hare soos heuning as

die son daarop skyn en haar oë net so donker soos ’n ou kershout se bas. Haar
rok is van die fynste lap wat hy nog ooit gesien het en dit lyk of daar nog
nooit stof aan haar was nie. En hy sien sy eie vuil tone deur sy skoen se punt
steek en ruk sy been terug op die wa.
“Come on, Kate!” Die ander het begin haastig word. “They’re wild, these
woodcutters’ children.”
“Het jy al ’n olifant gesien?” bodder sy weer oor die olifante en bly hom
aanstaar. Toe vra sy met die grootste ongeduld: “Kan jy praat?”
Hy het sy kop laat sak en nie weer opgekyk nie. Toe sy saam met die ander
wegstap, het hy hulle hoor lag en geweet hulle lag vir hom.
Donker was hulle terug in die Bos. Dit was soos die toevou van ’n dik
kombers om sy lyf.
“Pa,” het hy gevra toe die vuur brand, “is ons witmense, Pa?”

4
Die Donderdagmôre, kort ná sonop, kry hy Oupoot se spoor. Ongeveer ’n
myl noord in die Knysna op van waar hy die vorige nag geslaap het, en die
olifant is van wes na oos deur die rivier. Teen die voordag, want die spoor is
nog klam waar hy aan die Oorkant uit is … Hoe ver is Oupoot voor? ’n Uur?
’n Oomblik wil angs en twyfel hom beetvat, maar hy druk dit van hom weg.
Hy het twee dae lank deur die Bos geloop om hierdie spoor te kry en
sentiment gaan nie Freek Terblans se hand stuit nie! Klaar.
Dis die ander ding wat in hom torring wat hy nie gekeer kry nie: hy is
minder as ’n halfuur van Groot Eiland af en as hy nie sy voete keer nie, gaan
hulle met hom noord draai en met hom daarheen loop. Om wat te gaan maak?
vra hy hom af, en volg Oupoot se spoor deur die klam onderbos. Al wat op
Groot Eiland oor is, is grafte: sy ma, Sara, sy pa. Maar hy moet kos in die
hande kry, miskien het ander daar gaan huismaak, stry die ander ding. Noudat
hy weet waar Oupoot se spoor is, kan hy maklik Groot Eiland toe gaan,
terugkom, die spoor weer kry en volg en lank voor donker klaarmaak wat hy
gekom het om te doen.
’n Halfuur later draai hy noord.
Toe hy die geweer gaan haal het, het Maska gesê ou Anneries het duskant
Kaffirskop huisgemaak; diep in die tagtig en kap nie meer nie, maar maak
darem nog gereeld sy speke en neem hulle dorp toe.
Had húlle reg en hy verkeerd? wonder hy skielik. Is slaaf wees, hond wees,
niks wees, blind wees nie tog maar die maklikste nie? Wat maak dit nou
eintlik saak waar die bloubokkie se gal sit? Of waar jy glo dit sit?
Nee – om ’n lieg te glo, is om jouself te verloën. Om ’n waarheid verby te
loop omdat lieg se pad gerieflik oopgetrap is, is eweso. Laat hy dan voor alles
skuldig staan, maar nie daarvoor nie!
Hy kom van die suidekant af Groot Eiland se oopte in. En hy skrik half. ’n
Oomblik voel dit of tyd nie werklikheid is nie: voorjare, gister en nou is
skielik saamgebondel in die knip van ’n oog, een groot tydlose moment.
Die huis staan nog. Vaal, uitgedorde plankmure soos dooihout in die Bos,
en die dak het eenkant gesak; voor die voorste venster hang nog ’n stuk

flentergordyn.
Oorkant die diepsloot is lewe: ’n yl sliert rook trek uit ’n skoorsteen en ’n
vark staan eenkant op lyn en vreet. Waar tant Martjie-hulle vroeër
huisgemaak het, het die fynruigte die aarde teruggevat en net ’n stuk van die
buitekaggel staan nog en steek soos ’n grafsteen uit die ruigte … Jy had min
tyd vir kind wees in die Bos. Jy moes jou speel by die diepsloot gou speel,
want as jou hande eers die kleinbyl kon vashou om vuurhout te kap of water
te haal, moes jy Bos toe om hande vir die kap te spaar.
Hy weet skielik dat daar iemand in hulle ou huis is. Dit voel onmoontlik,
maar hy kan sweer daar was ’n roersel by die toiinggordyn, en hy loop nader.
Hy klop en wag. Miskien was dit sy verbeelding of die wind. Hy klop weer
… Daar is iemand in die huis, hierdie keer het hy iets gehoor. Net toe hy wil
omdraai om agter te gaan kyk, kraak die deur op ’n skrefie oop.
“Goeiemôre,” groet hy en kan nie uitmaak wie agter die skrefie skuil nie.
“Môre.” Dis soos ’n knor. Maar hy het die stem tevore gehoor. Is dit
moontlik? Sy maak die deur ’n bietjie wyer oop; dit ís sy. Ou Sanna. “Meneer
is seker geverdwaal,” sê sy en dis nie meer ’n knor nie maar ’n waakhond se
blaf.
“Ek soek eintlik kos, ek is vir ’n paar dae terug in die Bos.” Hy sien haar
oë nouer trek om beter te kan sien. Toe herkenning in hulle opvlam, ruk sy
die deur heeltemal oop.
“Jirre? Is dit dan nie … Siet my oë nou goete?”
“Dag, Sanna.”
“Is dit jý, Saul?”
“Ja.”
“My Jirretjie! Kom in, Saul!” Toe hy oor die drumpel tree, kom die
bygeloof van jare se boslewe darem in haar op en vra sy skrikkerig: “Is jy in
die vlees of in die gees?”
“In die vlees, Sanna.”
Die huis ruik sleg. Die houtkatel se een poot is af en die katel staan skeef
gestut op ’n houtstomp. In die middel van die vertrek staan dieselfde tafel
nog. Verwaarloos. Twee van die stoele is nog oor. Dit was oorspronklik ’n
stinkhouttafel en vier stoele wat sy oupa Steyn vir sy ma as trouskat gemaak
het. Nie een van die twee stoele wat oor is, het ’n heel sitplek nie; die rieme
staan soos hare op ’n siek hond se rug.
“Lat dit nou regtig jý is, Saul?”
“Ja, Sanna, dit is ek.”

“Jy’t geverander,” sê sy verwonder en kruip onseker nader aan die kaggel
waar ou as vaal lê. “Jozef het gesê ek kan hier bly!” Daar is skielik weer
agterdog in haar.
“Dis reg so, Sanna. Dis goed dat jy hier bly.”
“Oupoot het Jozef se Joram geskep. Morsdood!” rammel sy die nuus
verskrik af.
“Maska het my dit gesê.”
“Freek Treblans kom hom skiet.” Grys toutjies hare hang onder ’n swart
kopdoek uit. “Sommer sy harspan inmekaar skiet, sê ek! Nogal Jozef se
oudste.”
“Hoe gaan dit met Jozef, Sanna?”
“Sien hom selde. Maandag by die begrafnis darem gesien. Hy’t mos by
Diepwalle huisgemaak en ek loop nie meer so ver nie … Jy’t ’n mooie man
geword, Saul. Nooit sê jy’s van onse mense nie. Kyk jou klere, nè?”
“Het jy kos in die huis, Sanna?”
“Askoek en suurmelk.”
“Ek sal jou betaal vir iets om te eet.”
Dis of die woord “betaal” koorsagtige haas in haar hande laat kom. Sy
gryp ’n afoorkoppie van die tafel af en spoel dit in die drinkwaterblik uit; die
blikbord wat sy van die rak afhaal, is vol stof en sy blaas dit af. Haar voete is
kaal en swart en gebars. Hoe oud sou sy wees? wonder hy.
“Ek verstaan dit nie,” praat sy half met haarself. “Hulle het gesê jy sal
genooit weer jou voete in die Bos sit nie en hier sit jy dan nou?”
“Ek is net vir ’n paar dae terug,” sê hy en vra: “Hoe oud is jy, Sanna?”
“My pa het gesê ek is die nag toe die eerste skip by die dorp deur die gat
gekom het, gebore. Oorle Pa kap toe vir die grootman van Melkhoutkraal en
hulle moes almal gaan help, want toe slaat die skip mos ’n rots in die bek van
die gat en loop val sommer in die vlak water om. Al wat hande was, moes
loop help red en optel. Jou oupa Steyn was ook by, hy’t nog vir jou ouma ’n
mooie porseleinkommetjie weggesteek.”
Sy moet dus in die sewentig wees, reken hy uit. “Het jy ’n skryfding,
Sanna? ’n Potlood of iets.”
“Hoe dan nou?”
“Ek wil iewers vir jou neerskryf hoe oud jy is, wanneer jy gebore is.”
“En hoe sal jý dan weet?” bestry sy verontwaardig die moontlikheid.
“As jy gebore is toe die eerste skip deur die gat probeer inkom het, is jy in
1817 gebore. Februarie.”

“Hoe sal jý dit weet?”
“Dis toe die eerste skip deur die gat gekom het. ’n Mens moet weet
wanneer jy gebore is, Sanna.”
“Ek het nie ’n potlood nie. Kom al die jare reg sonder weet, wat sal dit nou
saak maak?”
“Had jy broers en susters?”
“My ma het mos gesterwe nog voorlat ek kon loop. Ander het my gevat.”
Toe sy omdraai om die askoek te haal, vee hy die bord met sy baadjiepunt
uit. “Waarvan leef jy hier, Sanna?”
“Van kos! Waarvan dan anders? Ek plant mos vir Johannes Kapp-hulle. Sy
huismense maak te vrot tuin en die vrou loop pal met ’n kleintjie. Hy’t daar
anderkant die diepsloot kom huismaak. Ek plant vir my ook daar en hy gee
my darem so af en toe ’n bietjie melk en ’n skottel meel.”
“Kom die grootvoete nog hier?”
“Nee,” lag sy. “Vanlat Freek hulle die slag hier ingewag het, is hulle bietjie
skrikkerig vir Groot Eiland. Hulle onthou mos nes mense. Freek het daardie
dag ses geskiet. Ook die laaste grootvoetlewer wat oor my lippe was. Mens!
ons het van die geelvet so tussenin gesit en toe oor die vuur gebraai. Martjie
het sulke plat skywe van die boude uitgesny en twee dae lank gekook – so
sag soos murg, sê ek jou. Die derde dag moes hulle begin begrawe, die weer
was te warm.”
“En die tande?” vra hy en steek sy walging weg.
“Freek Treblans het hulle uit die kaste laat kap en toe het hy hulle laat
wegsleep. Ek sal jou nie kan sê waarnatoe nie.”
Die melk steek op sy tong en hy dwing hom om verby die vullis te kyk;
daar lê ’n strawwe dag voor, om ’n olifant in te haal moet jy krag in jou lyf
hê. Die askoek is egter onverbeterlik; Sanna had altyd ’n hand daarvoor.
“Is jy gelukkig, Sanna?” vra hy op ’n ingewing om meer te wil weet van
wat onder haar swart kopdoek aangaan.
“Hoe dan anders?”
“Hoe kry jy jou dae om? Jy is tog seker nie heeldag by die tuin nie?”
“Ek sit!” sê sy weer verontwaardig.
“Waaraan dink jy die hele dag?”
“Sommer. Voorjare en alles.”
“Was jy ooit op die dorp?”
“Mos die slag toe ons moes vlug.”
Hy weet waarna sy verwys, maar hy hou hom dom. “Wanneer was dit?”

“Met die groot vuur.”
“Hoe goed kan jý die vuur onthou, Sanna?” por hy haar aan.
“Hoe sal ek dit nie onthou nie? Ek was dan al ’n groot vrou sonder tande!
Ek had by Platbos huisgemaak saam met ander mense. ’n Niggie van
Anneries. Onthou jy vir Stoffel Blik wat die slag getrap is? Nou dit was van
hom ook ’n niggie. Lekker gebly by hulle, maar toe sit hulle my uit.”
“Vertel my van die vuur, Sanna,” por hy. Hy moet loop, maar ’n vreemde
nuuskierigheid torring aan hom.
“Soos oordeelsdag,” slaan sy haar hande saam. “Toe ons die oggend
wakker word, toe’s daar ’n warmte in die Bos wat ons nie ken nie, en toe ons
uitkyk, is dit blou van die rook. Nie lank nie, toe kom die mans uit die Bos en
hulle sê die wêreld brand en dit brand en dit brand na ons kant toe. Ons had
nie veel huisgoed nie, maar ons vat als. Ons bind bondels aanmekaar en ons
begin aanloop. By Keur-se-Rug voel dit die vuur is om ons bene. Jy sien nie
vlamme nie, jy hoor hulle net en die lug is so warm lat dit voel jou longe
skroei! Toe kom die wind. Booswarm, sê ek jou. Booswarm. En die Bos was
droog daardie jaar. Later moet ons die huisgoed stuk vir stuk laat lê om
vinniger voor te bly. Ek dog ek gaat af. En als wat leef, vlug. Bosbokke en
grysbokke en galkoppies en bosvarke, soos mal goed by ons verby. Toe ons
by die Homtini kom, had die vuur Witelskloof deurgekom en ons
voorgespring. Lat ek daardie dag ’n kalander sien val lat die water om hom
kook. Ons moes hoër op om boontoe te kon deur en die kinders skree. Jy kan
nie almal dra nie, party moet jy maar aan die arms saamsleep. Kan nie anders
nie, jy sien wat kom van bly lê – bráái. Uitgegroeide manne het daardie dag
saam met die vroumense gehuil. En by die boonste Eiland kry ons mense wat
van Kaagiesbos se kant af vlug. Hulle sê ons toe lat die vuur bergkant
verbytrek en met ’n ander strook seekant toe. Ons hou toe Grootbos se kant
toe. Kom ons by water, gooi ons die kinders en onsselwers nat en dan vlug
ons maar weer. By Portland had die vuur in een van die Knysna se klowe
opgehardloop en als wat ou mister Barrington had, afgebrand. Van sy perde
en varke en hoenders is by ons verby. En toe dit donker word, word dit nie
donker nie, dit word rooi. Die vlamme klap soos voorslagte in die klowe en
die kinders kan nie meer nie en ons kan nie meer nie en arme Berta Krisjan se
oorle skoonmoeder sak anderkant die diepkloof inmekaar en net daar het die
engels haar kom vat.” Sanna bly skielik stil en staar voor haar vas soos een
wat baie dinge sien.
“En toe, Sanna?”

“Die volgende dag het ons mense gekry wat van Maraisbos af vlug en
hulle sê ons toe dit brand nie op die dorp nie, lat ons by Gouna sal kan
deurkom tot onder. So kom ons toe die aand op die dorp en almal is uit hulle
huise uit en op die straat om te kyk hoelat die wêreld verbrand. Toe gee hulle
vir ons plek in die tronk en oral waar baie mense kan in. Nou net nie in hulle
huise nie. En die mense is goed vir ons, hulle het kos en komberse vir ons
gebring en ons het twee dae so gesit, toe vat ek my komberse en van die
ander goed en toe loop ek saam met jou ouma Diepwalle toe, want die ander
had toe klaar gesê ek moet uitskuif.”
Dit voel vir Saul of hy skielik swaar sluk aan die kos en hy stuur in ’n
ander rigting. Opsetlik. Hy wil háár uitleg hoor.
“Sanna, ek verstaan hier het baie diere in die Bos verbrand met daardie
vuur.”
“Gaar en verkool.”
“En die grootvoete?” vra hy wat hy eintlik wou vra.
“Hulle brand mos nie. Van alles het verbrand, maar nie van hulle nie.
Hulle weet mos dinge.”
“Hoe bedoel jy?”
“Hulle het geweet waar dit sal brand en nie sal brand nie. In watter klowe
jy kon skuil en uit watter jy moet uitbly. Hulle weet mos dinge. Oorle Wiljam
se hele span het agter die grootvoete aan gevlug en hulle sê toe hulle nog dink
hulle is vas, toe’s hulle oop … Maar jy moet mos weet van die vuur, Saul?
Het julle dan nie by Gouna geskuil nie?”
“Ja. Ek was nege. Pa het ons met rieme aanmekaar vasgebind en in die
water laat lê.”
Sy breek nog ’n askoek voor hom op die tafel oop en waai die vlieë weg.
“Ja, dit was ’n groot vuur.”
“Gee jy om as ek hierdie askoek saamneem vir later?”
“Ek gee jou nog een.”
“As ek geweet het jy woon nog hier en dat ek hierlangs sou kom, het ek vir
jou iets gebring, Sanna.”
“Bring vir my ’n stukkie bontgoed vir ’n rok en ’n trekseltjie koffie as jy
dalk weer kom.”
Hy staan op en haal twee goue muntstukke uit sy sak en sit dit op die tafel
neer. “Ek glo nie ek sal weer hierlangs kom nie, Sanna. Vra iemand om dit
vir jou op die dorp te gaan koop.”
Sy is soos ’n dier toe sy die geld van die tafel af gryp en tot by haar oë

bring om te probeer uitmaak wat dit is. “Hoeveel is dit?” vra sy en kyk
verskrik op.
“Genoeg vir bontgoed en koffie en skoene en ’n paar ander goed wat jy
nodig mag hê.”
“God sal jou seën, Saul Barnard!” En die ongeloof staan soos angs in haar
oë.
Op die onderpunt van Groot Eiland, waar sy ma en Sara en sy pa begrawe
lê, gaan staan hy ’n oomblik stil. Oor sy pa bult die aarde nog effens en hy
kan die plek uitken; oor sy ma en Sara het die onderbos oorgeneem. Waar
hulle naasteby moet lê, is die onderbos uitgekap en daar lê die vars graf van
Jozef se kind. ’n Handvol varklelies hang verlep in ’n verroeste blik.
Kort voor halfdag is hy terug op Oupoot se spoor en sukkel hy met ’n
skuldgevoel wat al dieper in hom invreet. ’n Skuldgevoel teenoor al die
Sannas van die Bos, al die Jozefs, die Anneriese en die Maskas. Skuldgevoel
waaroor?! skree dit hom later tot besinning. Hulle het hom as verraaier in
hierdie bos besweer, soos hulle Oupoot as moordenaar besweer het! Saul
Barnard skuld niemand nie en niemand skuld hom nie!
Waarom het hy dan teruggekom Bos toe? Veronderstel die skip was aan
anker lig toe Maska kom sê het van Jozef se kind en dat Freek vir Oupoot
kom skiet, sou hy dan nog steeds omgedraai het? Dis ’n onredelike vraag,
skerm hy vir homself en ruk terselfdertyd sy baadjie uit ’n doringbos los. Op
plekke is die onderbos oopgekneus waar Oupoot deur is; halfgevrete takke en
blare hang in die ruigtes en verraai die pad waar hy vooruit is. Dis duidelik
dat hy tydsaam geloop en vreet het …
’n Uur later loop die spoor in ’n sleeppad in en ’n entjie verder kry hy die
bol mis: gesond en nog nie heeltemal koud nie. Oupoot is dus nog lank nie op
die laaste tand in sy bek nie, vir hom het die stadige hongerdood van die
ouderdom nog nie begin nie … En hy kan nie te ver voor wees nie …
Veronderstel die Pictor was aan anker lig? kom koggel die vraag weer by
hom. Sou hy sy rug op Maska gedraai het? Op Oupoot?
Toe hy ’n man geword het en seunstyd se drome vervaag het, het ’n soort
respek, ’n intense bewustheid van die ou patriarg van die Bos die plek van
drome ingeneem. Nee – dit was meer: daar was iets tussen hom en Oupoot
wat die grootste nugterheid van denke nie kon ontken nie. Geen houtkapper
of sy kind of enige bewoner van die Bos onderskat ooit die gevaar wat in ’n
grootvoet skuil nie. Eeue se haat vir die mens skuil in elkeen van hulle; vir
die mens wat die geweer dra wat die warm lood in die skurwe lyf laat inkwes

om daar te sweer totdat hy besete van die pyn na die diepste klowe vlug en
daar in vernedering gaan sterf. Soms heel die wonde. Soms is die lood
genadig en tref dit waar die dood gouer kom.
Ten spyte van alles wou die gevoel van vreesloosheid teenoor Oupoot
nooit van hom wyk nie. Respek, bewondering, maar nie vrees nie.
En voordat hierdie dag verby is, moet sy hand die sneller trek om Oupoot
te skiet. Hy het nie ’n keuse nie. Voor Freek Terblans sal Oupoot nie
neerkniel nie. Ja, erken hy aan homself, as die skip aan anker lig was, sou hy
omgedraai het om dit te kom doen.
Hy volg die spoor ’n uur lank in ’n oostelike rigting in die sleeppad langs
tot waar die olifant weer die ruigtes ingeswaai het om onder by ’n bosstroom
sy dors te les. Die glyspore aan die oorkant is nat en vars … Sou Oupoot weet
dat iemand besig is om hom te agtervolg? Seker nie. Hy was nie haastig by
die water nie. ’n Mens kan natuurlik nooit seker wees van wat hulle weet en
nie weet nie, maar die wind waai van die middag af taamlik sterk uit Oupoot
se rigting, dus is dit onwaarskynlik dat hy sou agtergekom het hy word
agtervolg.
’n Ander ding word egter al hoe duideliker: Oupoot is op pad Grootbos
toe. Gouna se kant toe. Verby Gouna lê Kom-se-Bos, dan Jim Reid-se-Draai
en Diepwalle waar Jozef bly en Freek Terblans seker sal begin soek …
Die gedagte laat Saul onmiddellik die ruigtes voor hom met groter haas
wegdruk. Hoe ver is Oupoot voor? Dit kan nie te ver wees nie. Die
kwartponder hang swaar om sy skouer en hy moet die gewig kort-kort
verskuif. Suid van hom roep ’n bosloerie in die ruigtes en die versoeking is
groot om hom soos kindertyd nader te koggel … ’n Oomblik speel daar selfs
’n glimlag om sy mond voordat ’n hardheid weer in sy oë kom lê.
Ná daardie eerste keer dat hy saam dorp toe was, het hulle ’n paar dae by die
huis gaan rus om reg te maak vir die volgende kap. Die beste en swaarste
slypgoed het altyd by die huis gebly; sy pa en oom Anneries het die sae en
die byle geslyp tot daar nie ’n stoets kolletjie op ’n blad of tussen twee tande
oorgebly het nie. Hy en Jozef het self die naald gevat en gelap waar dit nodig
was. Ou Sanna het elke keer wanneer hulle ’n winkelhaak in ’n broek of ’n
hemp kom wys, weggeskram en met drif in die tuin gaan spit.
Die Sondagaand het sy pa die aankondiging gedoen:
“As hy nog staan, staan hy duskant Hottentotskloof met sy voete as ’t ware
in die water van die Homtini. Die mooiste kalander wat my twee oë gesien

het. As MacDonald en die Goewerment dwarslêers wil hê, sal hulle
dwarslêers kry. Ons sal môre donkervoordag opstaan en regmaak vir die
gaan.”
Dit was ’n volle dag se harde stap. Kloof af en kloof uit. Kloof af. Kloof
uit. Soms ure napad deur die digste bos met alles wat moes saam tussen die
vier rûe gedeel.
“Hoe gaan ons die hout hier uitkry, Pa?” het Saul halfpad benoud gevra.
“Wys my ’n hout wat Joram Barnard nie uit hierdie bos kan kry nie en ek
wys jou ’n hout wat nie bestaan nie.”
In sy hart het Saul gehoop die kalander staan nie meer nie.
Kort ná kwartdag het die skote Kwê-se-Draai se kant toe geklap.
“Mis!” lag oom Anneries. “Die telling bly op dertig.”
Volgens gerugte het Marais toe al dertig geskiet.
Teen latenstyd was hulle hoog bo la