اصلی Op soek na 'n held

Op soek na 'n held

,
0 / 0
دا کتاب تاسو ته څنګه خواښه شوه؟
د بار شوي فایل کیفیت څه دئ؟
تر څو چې د کتاب کیفیت آزمایښو وکړئ، بار ئې کړئ
د بار شوو فایلونو کیفیتی څه دئ؟
درجه (قاطیغوری(:
کال:
2014
ژبه:
afrikaans
ISBN 13:
9780799368109
ISBN:
fe0cf050-d47b-4f38-a421-79c99d54405e
فایل:
PDF, 568 KB
کاپی کول (pdf, 568 KB)

ممکن تاسی علاقمند شی Powered by Rec2Me

 
0 comments
 

To post a review, please sign in or sign up
تاسی کولی شی د کتاب په اړوند نظر څرګند کړی او خپله تجربه زمونږ سره شریکه کړی، نورو لوستونکو ته به زړه راښکونکی (دلچسپه) وی چې د لوستل شوو کتابونو په اړوند ستاسی په نظر پوه شی. بدون له دی چې کتاب مو خوښ شو اویا خوش نه شو، که تاسی صادقانه په دی اړوند مفصله قصه وکړی، خلک کولی شی د ځان لپاره نوی کتابونه بیدا کړی، چې هغوی ته زړه راښکونکی (دلچسپه) دی.
1

Porselein van staal

سال:
2005
زبان:
afrikaans
فائل:
PDF, 631 KB
0 / 0
2

Labirint

سال:
2012
زبان:
afrikaans
فائل:
PDF, 1.36 MB
0 / 0
Op soek na ’n held
CHANETTE PAUL

www.lapa.co.za

Een
“Klink vir my of jy op die punt van ’n senu-instorting staan, maar jou net nie
die luukse daarvan wil gun nie.” Helga se stem oor die telefoon is so koel
soos haar Noorse voorkoms, maar Kiara ken haar goed genoeg om tog ’n
tikkie kommer daarin raak te hoor.
“Ek het gewoon nie nou die tyd daarvoor nie, Helga. En ek kan dit nie
bekostig nie, in elke sin van die woord. My deadline stoom nader met die
spoed van wit lig en ek kry nie ’n verdomde held nie.” Kiara probeer die
paniek wat sy voel uit haar stem weer.
“Ontspan, man. Jy weet mos al teen dié tyd die goed bestaan nie. Verbeel
jou een – soos jy nog al die jare gedoen het terwyl jy met daardie skarminkel
getroud was en steeds jou vrystories kon skryf.” Soos altyd wanneer Helga na
Kiara se gewese man verwys, sluip daar duidelike minagting in haar intonasie
in.
“Ek kan nie meer nie. My standaardheld is nou al vyf jaar jonger as ek. Ek
kan nie op hom verlief raak nie, en as ek nie op hom verlief is nie, kan ek
hom nie skryf nie. En terwyl ek getroud was, het ek nog altyd geglo dat regte
helde tog nog daar buite rondloop – ek het net te gou met ’n skynheld getrou.
Maar nou …”
Kiara gooi haar vry hand in die lug op asof Helga haar hier, meer as
duisend kilometer van haar af, kan sien, en dink vlugtig aan die afsprake die
afgelope drie jaar ná haar egskeiding. Die prokureur wat sy by ’n
kunsuitstalling ontmoet het, het so belowend gelyk – tot hy met die derde
afspraak ná die soveelste glas wyn vir haar gesê het sy vrou verstaan hom nie.
En dan was daar die – weliswaar baie sexy en skatryk – sakeman. Gedurende
hul tweede gesprek oor glinsterende silwereetgerei en die flonkering van
kerslig wat in kristal weerkaats, het hy haar gevra wat haar gunstelingmusiek
is.
“Ek gaan deesdae nogal deur ’n Verdi-fase,” het sy gesê.
Hy het gefrons. “Ek het nie geweet hy sing nou ook nie?”
Sy het hom verward aangekyk.
“Bedoel jy die ou wat die Big Brother-reeks so ’n ruk terug gewen het?”
het hy gevra en sy kon net haar kop;  stadig heen en weer skud.
“Jy het nog altyd in ’n seepbel geleef, Kia,” ruk Helga se stem haar terug

tot die werklikheid, “en ek weet die realiteit van die lewe is vir jou swaar.
Maar dink jy nie dis hoog tyd dat jy daarmee vrede maak dat die lewe nie is
soos jy hom graag wil hê nie? Besef dat die werklikheid en die heerlike
romantiese boeke wat jy skryf op die aarde niks met mekaar gemeen het
nie?”
Kiara druk haar vingers diep in die warboel van haar krullerige hare in. Sy
staar na die rits rugkante van boeke wat uit haar pen, of liewer haar
rekenaarmuis, verskyn het. Legende van die liefde, Liefde in laventel,
Woestynliefde, Eiland van begeerte, en die res. Twintig het sy nou die dag
getel. En nou wil nommer een en twintig net nie kom nie. Leandra, die sexy
heldin, sit ongeduldig en wag vir die held wat Kiara van êrens af moet
optower, maar hy maak eenvoudig nie sy opwagting nie.
Sy sug diep. “Seker maar. Maar dis ook nie net die heldding nie. My
huisbaas het die woonstel in die mark gesit en hy oorweeg reeds ’n aanbod.
Ek kan oor ’n maand op straat sit en ek het nie die tyd óf die krag om
woonplek te soek en te trek en te alles nie.
“En soos jy weet, het ek nie eens meubels nie. Toe ek hier ingetrek het, het
dit my uitstekend gepas dat die woonstel gemeubileer is. Veral met dié dat
my roerende bates bestaan uit ’n kat, ’n paar bokse los goed en boeke, ’n
argaïese rekenaar wat net vir my en moontlik ’n afslaer in antiekware van
enige nut kan wees… en Skorrie, wat maar clapped out is, selfs sover dit
bakkies aangaan.”
’n Bakkie, dink sy, wat dringend versien moet word en waarvan die bande
só afgeloop is dat ’n by wat sy sit daarop kry, ’n lek kan veroorsaak. En my
tantièmetjek kom eers oor twee maande. En dit gaan nie eens my huidige
opgehoopte skuld dek nie, dink sy, maar sê dit nie hardop nie, want sy weet
Helga sal aanbied om geld voor te skiet, en dit wil sy nie hê nie. Die
versoeking sal net te groot wees en dan is sy nog dieper in die skuld.
“Ag, jou arme ding.” Helga bly ’n oomblik stil. Kiara kan amper hoor hoe
haar peettante deur die ratte van haar gedagteprosesse gaan. “Ek kan nie help
met die heldding nie, Kia, jy weet ek dink mans is ’n subspesie – nee, die
amoeba waaruit die vrou deur ’n láááng proses van evolusie ontwikkel het –
maar met praktiese goed soos verblyf kan ek wel help. Gee my so ’n dag of
wat. Moenie dáároor paniekerig raak nie. Ek het dalk iets op my boeke. Dis
in elk geval hoog tyd dat jy terugkom Suide toe. Jy kan mos enige plek skryf,
en die beperktheid van jou roerende bates is ’n pluspunt.”
Kiara sug dié keer innerlik. Helga is dierbaar, maar sy het nie ’n idee

presies hoe benard Kiara se finansies daar uitsien nie. Die koopsomme van
die huise op die boeke van Helga se baie suksesvolle eiendomsagentskap op
Hermanus beloop selde minder as sewe syfers. Sy wil nie eens dink wat die
huur daarvan sal wees nie – selfs al sou sy dit oorweeg om uit Pretoria weg te
trek.
“Dankie, Helga, maar ek sal …”
Sy laat die sin in die lug hang. Sy wou sê sy sal regkom, soos sy nog altyd
reggekom het, maar sy glo dit nie meer nie en sy kan nie vir Helga van alle
mense lieg nie. Want dié keer weet sy regtig nie meer watter kant toe nie.
“Jy’t ’n break nodig, Kiatjie. Soos in ’n vakansie, maar ook in die lewe. En
so van vakansie gepraat … Haai, wee’jy …” Sy klap haar vingers hard
genoeg om hoorbaar te wees oor die foon. “Ek het nou net aan iets gedink.
Laat dit aan my oor, ek bel jou môre terug.”
“Helga ek wil nie …” Kiara kyk na die gehoorbuis wat skielik stil geword
het.
Sy wip van die skrik toe Skat skielik van nêrens af op haar skoot spring en
met ’n fyn miaaugeluid en groot, groen oë om aandag vra.
Kiara sit die gehoorbuis neer en slaan haar arms om die sagte lyf van die
spierwit Persiese kat en druk haar styf teen haar vas. “Ai, skatkat, hierdie keer
weet Ma regtig nie. ’Ant Helga wil help, maar ek dink Ma is verby die
stadium dat sy gehelp kan word. Hoe voel jy oor verblyf in ’n
stormwaterpyp?”
Skat begin gelukkig spin en toe Kiara haar arms om die kat losmaak, krul
sy soos ’n groot draairoomys op die verbleikte, bont lap van haar skoot op.
“Blouvlam pleks van Clover-volroom?”
Skat spin met meer oorgawe.
Kiara sit ’n ruk lank net na die kat se wollyf en staar, en kyk dan weer na
die bont rugkante van haar boeke. Sy rek en trek haar heel eerste boek uit die
rak. Maalstroom van ekstase, Kiara Albertyn, lees sy op die omslag en
onthou nog goed hoe sy rondgedans het van vreugde en trots en
verwondering toe sy dié boekie die eerste keer in haar hande gehou het. Peet
het sy ekspressiewe wenkbroue gelig toe sy dit vir hom wys. “Ek dag jy skryf
’n regte boek,” het hy droogweg gesê en toe gevra wat eet hulle vanaand.
Vandat sy kan onthou, wou sy skryf. Nie letterkunde nie, nie boeke waarin
daar gewroeg word oor die lewe nie. Bloot lekkerleesboeke wat ’n mens met
’n sug van behaaglikheid laat terugsit nadat jy die laaste paragraaf gelees het.
Stories wat jou laat goed voel en met moed en hoop agterlaat. Stories wat jou

laat vergeet dat die lewe nie is soos dit eintlik behoort te wees nie.
Sy kyk na die held op die omslag. Hy lyk glad nie soos sy haar hom
voorgestel het terwyl sy geskryf het nie. Die held in haar kop was baie groter,
sterker, met ruwer gelaatstrekke. Sagter oë. Sonder ydelheid, maar met baie
selfvertroue. Hoe verlief was sy nie op hierdie held van haar nie.
Die held in haar kop was die vervolmaking van wat sy gedink het Peet was
toe sy hom die eerste keer op ’n sokkie ontmoet het – desjare, amper twee
dekades gelede, toe daar nog goed soos sokkies was.
Toe hy haar op die skouer tik waar sy op die saal se stoep gestaan het om
ná die vorige dans af te koel, het sy omgekyk. Sy het die groot skouers en die
smal heupe gesien, die langerige, blonde hare, en gedink hy lyk soos ’n man
wat ál sewe die oseane al bevaar het. Net een kyk en sy was halsoorkop
verlief.
Hulle het die res van die aand net met mekaar gedans. Die volgende
oggend het hy haar gebel en daardie aand toe die eerstejaar aankondig dat
daar vir Kiara voordeur is, het sy geweet dat dit Peet was.
Dit het nie saak gemaak dat hy in sy vyfde jaar was en nog nie sy B.Com.
voltooi het nie. Dit het nie saak gemaak dat hy, soos sy spoedig gehoor het,
bekend daarvoor was dat hy los en vas met meisies uitgaan en hulle dan net
so laat staan nie. Dit het nie saak gemaak dat hul agtergronde so verskil het
nie – hy uit ’n gegoede huis waar daar min sprake van meelewing tussen die
gesinslede was en sy uit ’n beskeie huis, maar een ryk aan liefde en deernis.
Toe almal nog geleef het, in elk geval.
Sy was mooi. Met haar rooibruin krulhare en oë wat soms seegroen en
soms seeblou is, selfs báie mooi volgens meeste mense. Met haar slanke lyf
en heuningkleur vel wat so maklik die glans van die son absorbeer en
weergee. Maar sy dink dit was haar onskuld wat hom geboei het. Onskuld
wat sy nie buite die huwelik aan hom wou afstaan nie. Agterna beskou, kan
sy nie anders nie as om te dink dat dít die hoofrede was waarom hy haar aan
die einde van daardie jaar gevra het om met hom te trou.
“Maar wat het my laat ja sê, Skat? Wat het my besiel om te trou kort nadat
ek my honneurs in Afrikaanse en Nederlandse letterkunde gekry het? Nogal
cum laude ook. Kan jy glo, liefie? Ek kan dus nie té dom wees nie, of hoe?”
Skat strek ’n pootjie uit en trek dit dan weer onder haar in. “En tog het ek
nie twee keer gedink voor ek met Peet getrou het nie. Al het Helga en ’n
vriendin of twee my teen Peet gewaarsku. Al het ek sélf my bedenkinge
gehad, hoe goed ek dit ook al vir myself probeer wegsteek het. Ek het so ’n

groot behoefte gehad aan liefde dat ek my intuïsie geïgnoreer het.”
Kiara skud haar kop ingedagte en streel oor Skat se sagte lyf. Miskien was
sy verlief op die liefde self. Miskien is sy steeds. Dié dat sy, omdat sý nie
liefde kan vind nie, dit in haar stories vervolmaak.
Sy skryf haar helde tot volmaaktheid. Sy skryf haar heldinne sodat met
hulle gebeur wat sy wil hê met haar moet gebeur. Sy skryf haar hartsake – die
lewe – reg.
“En nou kan ek nie meer nie, want die held vir my nuwe storie wil nie
opdaag nie.” Kiara maak haar oë toe. Nie dat hy so baie van die ander sal
verskil nie. Hy sal groot wees, breë skouers hê en smal heupe. Sy haar- en
oogkleur wissel van boek tot boek en sy agtergrond en sekere aspekte van sy
persoonlikheid, sy voorkeure, afkere en vaardighede ook.
Maar die held bly in wese dieselfde. Die man met deernis, die vermoë tot
liefde – die hele, breë spektrum daarvan. Haar held gee om as die heldinne
griep kry, troos hulle wanneer hulle hartseer is, bederf haar, begrýp haar en
boweal bemin hy haar met elke ons van sy groot lyf, sy skerp verstand, sy
deurwinterde psige, sy pragtige siel. Net vir haar. Vir ewig en altyd.
“My held, Skat, is ’n man der manne. Elke vrou se droom. En ’n man, wat
so hartseer as wat dit mag klink, nie in die werklike lewe bestaan nie. Soos
Helga my gewaarsku het. Soos ek self agtergekom het.” Skat begin effentjies
snork.
Dit het lank geduur om agter te kom dat Peet nie ’n held se agterent is nie,
maar sy hét geleidelik besef mans word sieker as vroue, dat hul probleme
groter en belangriker is as vroue s’n, hulle ego’s fyner van nerf en hul liefde
anders is. En daarmee kon sy vir lief neem.
Maar toe sy ook uiteindelik agterkom getroude mans is minder getroud as
hul vroue, kon sy dit nie verwerk nie. Miskien het sy haar maar net blind
gehou vir die ooglopende tekens wat sy – met die wysheid van terugskouing
– nie kan glo sy vir agt jaar misgekyk het nie.
“Ek weet dit klink onnosel, Skat, maar ek het werklik geglo Peet werk lang
ure. Dat Peet gereeld na kongresse en seminare moes gaan, wat gereeld oor
naweke gehou is. Dat Peet besig was om ’n neseier vir ons op te bou – dié dat
daar altyd minder geld was as wat hy verdien het. Nooit het ek vermoed dat
al daardie ekstra geld op ander vroue bestee is nie. Op naweke aan die
KwaZulu-Natalse kus, duur etes by restaurante, waarvoor daar vir óns nooit
geld was nie.” Kiara staar nikssiende na die heldin op die omslag van die
boek. “En natuurlik was ek die laaste een wat dit agtergekom het.”

Dit was die moeilikste – die vernedering toe sy agterkom dat mense om
haar lankal geweet het wat sy stompsinnig geweier het om raak te sien. Die
verleentheid toe sy besef het daar word al hóé lank agter haar rug gelag
omdat sy so onnosel is. En tog het sy nog byna twee jaar aanhou probeer om
hom terug te wen.
“Hoe kon ek so ’n idioot van myself gemaak het?” Kiara druk haar wang
teen Skat se sagte pels.
Maar dis verby. Die verlede het sy afgesweer. Solank sy kon skryf, kon sy
haarself wegvoer uit haar nuwe bestaan, wat meer oor óórlewing as oor
bélewing gegaan het. En daar was ’n paar opwindende oomblikke toe sy
gedink het sy het iemand ontmoet wat moontlikhede inhou. Maar sy het ook
geleer om fyner op te let, meer krities te wees, haar intuïsie te vertrou.
“En nou, Skat, is ek dieper in die dertig as wat ek ooit in goeie geselskap
sal erken. Ontgogel. Ontnugter. En heldloos. Nou kan ek nie eens meer my
held skrýf nie, laat staan probeer vind. En dis ’n ramp, want sonder helde kan
ek nie ’n bestaan, hoe karig ook al, maak nie. Op meer as een vlak,” sug sy
vir die soveelste maal, “kan ek sonder ’n held nie oorleef nie. En, Skat, tensy
jy sonder katkorreltjies en melk kan klaarkom, jy natuurlik ook nie.”
“Noem my jou fairy godmother,” val Helga met die deur in die huis toe sy
Kiara die volgende dag weer bel. “Nee, ek het nie vir jou ’n held nie, maar ek
het vir jou woonplek gekry. En nie wáár nie, by Merenzee. Op die oewer van
die lagune met die see net ’n klipgooi van jou af. Jy kan die see van die
boonste verdieping se balkon af sien. En nie net ’n strepie nie, ’n hele
panorama daarvan. En … tra-la, la-la-la … jy kan dié naweek intrek.”
“’n Dubbelverdieping met ’n seeuitsig? Heerlikheid, Helga, jy weet mos ek
kan nie …” raak Kiara sommer ergerlik, maar Helga val haar in die rede.
“Nie so vinnig nie, liefie. Ja, ek weet mos. En ek weet ook jy weier om
finansiële hulp van my te aanvaar. Maar die huis is deel van ’n boedel, maar
dié is bevries en dit gaan maande duur voor dit afgehandel is omdat die een
of ander regsgeding daaroor aan die gang is. Intussen soek die prokureur aan
die roer van sake na iemand wat die plek kan oppas en onderhou tot die
boedel beredder kan word. Hy is ’n goeie kennis van my, doen baie van my
oordragwerk.
“Kortliks, liefie, in ruil vir algemene, daaglikse onderhoud kan jy gratis,
verniet en for free bly – buiten natuurlik water en ligte en sulke goed. En dis
gemeubileer. Daar is selfs ’n TV – jy weet, daardie boksding met prentjies
waarsonder jy nou al drie jaar klaarkom. Hoe, weet g’n mens nie.”

Sy skep vinnig asem en gaan aan voor Kiara ’n verdwaasde woord kan
inkry. “Die enigste terugslag is natuurlik dat Merenzee ’n hele paar kilometer
van winkels en goed is. So ’n goeie twintig kilometer Hermanus toe en ek
dink so dertig Kleinmond toe. Botrivier tel nie. En daar is maar min
permanente inwoners. Jy gaan eensaam en geïsoleer wees. Dis eintlik maar
net ’n vakansieoordjie met huise wat in privaat besit is. Vrot pad ook
daarheen. Maar as jy, Skat, Skorrie en jou sought-after-by-Sotheby’srekenaar kans sien daarvoor, is dit joune.”
“Verniet? ’n Houthuis op die lagune? Met ’n uitsig op die see?” herhaal
Kiara verdwaas.
“Die seeuitsig is net van die balkon en ook van so ’n verspotte
werkkamertjie langs die balkon af. Dis eintlik maar deel van die balkon. Dalk
kan jy Sotheby daar opstel en die held wat oor die sewe seë na jou toe
aangevaar kom, daar bedroom.”
Daar is ’n vreemde sagtheid in Helga se stem. “Moenie my verkeerd
verstaan nie, Kia, dis nie ’n paleis nie. Net ’n vakansiehuis van hout met
vakansiemeubels en ’n hemelse uitsig. Om die waarheid te sê, dis alles ’n
bietjie verwaarloos, maar dis verniet en ek is seker dis heel bewoonbaar. En
dan is jy darem nader aan my ook as in daardie helhool wat julle die
uitvoerende hoofstad noem.”
“Ek woon lekker in Pretoria, dankie. Dis nie naastenby die helhool
waarvoor julle Kapenaars dit aansien nie,” tree Kiara in die bres vir die plek
waar sy die afgelope sewentien jaar al soveel ellende deurgemaak het.
Nee, darem nie die hele sewentien jaar vandat sy hier bo is nie. Haar
studentejare was heel prettig en die grootste deel van die dekade dat sy
getroud was, het sy ook gedink sy is relatief gelukkig. Dis eintlik net die
laaste vyf jaar dat die lewe hier in die Noorde vir haar werklik skewebek
getrek het.
“Jy is self ’n Kapenaar, onthou, al is jy by wyse van spreke ’n ekspat.
Hoekom jy destyds Tuks toe is om te gaan swot, weet g’n mens tot vandag
toe nie.” Aan Helga se stem kan Kiara hoor dat sy wel nog onthou wat die
redes was.
Sy wou wegkom van die versmorende simpatie van vriende en familie ná
die motorongeluk wat haar ouers en haar suster se lewens in haar matriekjaar
geëis het. Sy wou wegkom van alles wat bekend was. Veral van De
Waalrylaan waar die ongeluk gebeur het. Weg van Brackenfell af waar die
huurhuis waarin hulle jare der jare gewoon het, gestaan het – teen daardie tyd

reeds met nuwe huurders in.
Hoe stiksienig klink dit nie nou nie, maar toe het dit sin gemaak dat sy alle
los goed verkoop en net met die kontant wat dit opgelewer het en haar karige
studiepolis Pretoria toe is om ’n nuwe lewe te begin. Groot besluite vir ’n
agttienjarige om te neem, maar Helga, haar peettante en voog en besig om te
skei, het ná ure lange argumente en baie kopskud bes gegee.
“Gaan, Kia, maar jy weet jy is altyd by my welkom. Ek weet dis nou
aaklig hier, maar as hierdie ellendige skeisaak afgehandel is, gaan ek my op
Hermanus vestig en dan staan my deure wawyd en permanent vir jou oop. As
jy klaar studeer het, kom jy na my toe, gehoor?” het sy uiteindelik gesê.
Maar Kiara het nie gegaan nie. Nie permanent nie. Net vir vakansies toe sy
studeer het en later af en toe saam met Peet.
“Jy was nou lank genoeg trots, Kia,” ruk Helga se stem haar terug tot die
hede. “Skud die Transvaalse stof van jou voete af en kom hierheen, soos ek
jou al destyds gesmeek het toe jy van die skarminkel se manewales gehoor
het. Dis die ideale kans. Dis Maandag vandag. Dit gee jou vier dae om te pak.
Vrydag ry jy, slaap oor in die Karoo en Saterdag kan jy teen middagete hier
wees.”
Sy het toe uiteindelik heelwat meer goed en minder vriende as wat sy gedink
het, dink Kiara toe sy Vrydag, lank voor dagbreek, die bakkiekappie se deur
sluit. En sy is bankrotter as ooit. Die agterjaartmechanic het haar steeds meer
gevra vir die diens as wat sy beraam het, en selfs versoolde bande het haar
dieper in die rooi gekry as wat sy gehoop het. Maar, besluit sy toe sy die
enjin aanskakel, sy is op pad. Na ’n nuwe lewe. Al weer.
Die bande sing oor die teer en die enjin klink vir ’n verandering egalig toe
sy deur die sporadiese verkeer is en die deurpad aandurf. Die son is nog net
’n belofte, al is dit hoogsomer. Vir oorslaap is daar definitief nie geld nie. Sy
sal Helga verras. As alles goed verloop, behoort sy oor veertien uur op
Hermanus in te klok.
Namate die kilometers onder die versolings verdwyn, begin Kiara vir die
eerste keer in ’n lang ruk ontspan. Die afgelope vier dae was ’n malhuis van
pak en reëlings tref. Die woonsteleienaar het geen beswaar gehad nie
aangesien sy reeds vir Februarie vooruitbetaal het en die koopkontrak
geteken is. En die paar vriendinne was relatief traanloos oor haar vertrek –
haar lang ure agter die rekenaar was nie bevorderlik vir vriendskappe nie. Die
res was tydrowend, maar redelik maklik.
Sy loer na Skat wat ’n bedwelmde miaaugeluid uit die draadhokkie langs

haar op die passasiersitplek maak. “Toemaar, ounooi. Die pilletjie sal teen
môre uitgewerk wees.”
Sy druk-druk aan die kussing wat sy onder Skat ingepas het en trek die
handdoek wat sy oor die hokkie gegooi het só dat sy Skat kan dophou, maar
dat die kat nie veel van haar vreemde omgewing kan sien nie. “As Ma op
Bloem bene rek en hopelik ’n koffie te drinke kan kry, gee Ma vir jou water,
gehoor?”
Wat sou sy sonder Skat gedoen het? mymer Kiara terwyl populiere in die
oggendskemerte verbyflits.
Skat was ’n geskenk van Helga wat sy deur ’n kennis aan die Rand vir
Kiara gereël het. “Dank die gode julle het nooit kinders gehad nie, maar jy’t
geselskap nodig en ek weet jy is dol op katte,” het Helga gesê toe Kiara haar
bel nadat die wit bondeltjie by haar afgelewer is met ’n ruiker en ’n kaartjie
daarby.
Skat was meer as geselskap. Skat kon Kiara uit die staanspoor soos ’n boek
lees. Die oggende dat sy met nat wange wakker geword het, was Skat op haar
bors, besig om die trane met haar skurwe tong af te lek. As Kiara se storie
vlot verloop, het Skat haar tevrede op die lessenaar tuisgemaak en eers weer
haar kop gelig wanneer Kiara gaan tee maak het. As dit nie goed gegaan het
nie, het sy op haar skoot gespring en trooswoordjies in kattetaal gespin.
Skat het dit verduur dat sy elke September op ’n oggend opgeraap word en
Kiara met haar ronddans op die maat van New Kids on the Block se Happy
Birthday, en lankmoedig gewag tot die tweede deel van die ritueel volvoer
word: ’n halwe blikkie tuna in die oggend en die res vir die aand. “’n
Bederfie vir ’n verjaarkat,” het Kiara telkens verduidelik. ’n Bederfie wat ook
op Kiara se eie verjaardag, ses weke later, elke jaar herhaal is.
Skat, het Kiara lankal reeds besluit, is die reïnkarnasie van iemand wat
vroeër baie vir haar omgegee het.
Kiara se gedagtes loop wye draaie terwyl Skorrie die kilometers opslurp,
die eerste skemerte sonsopkoms word en die sonsopkoms vroegoggend. Die
koffie by een van Bloemfontein se vulstasies is ’n welkome afwisseling. Skat
drink ’n paar lekseltjies water, Kiara verruil haar jean vir ’n kortbroek en dan
is hulle weer op pad.
Dis bloedig warm en Kiara voel tam en loom en baie verlig toe sy die bordjie
sien wat aandui dat Beaufort-Wes nog net tien kilometer ver lê. Kiara kyk
vlugtig op haar horlosie. G’n wonder sy is so honger nie. “’n Broodjie en ’n
yskoue koeldrank is nou net die ding, Skat.” Sy loer vlugtig onder die

handdoek in, maar Skat slaap vas.
Hoewel sy effens verfris voel toe sy op Beaufort-Wes wegtrek, haal die
moegheid Kiara weer vinnig in. Op Laingsburg moet sy noodgedwonge stop
om te probeer wakker word en op Touwsrivier weer.
Sy het pas afgedraai Worcester toe toe ’n klapgeluid gevolg deur ’n
aanhoudende geflap-flap-flap haar laat wakker skrik. Sy rem instinktief en
moes aan die stuur geruk het, want die volgende oomblik is sy met twee
wiele op die grondskouer van die pad en die volgende oomblik kom die
bakkie met ’n knarsgeluid en ’n kopknakruk teen ’n verdwaalde boom tot
stilstand. Skat gee ’n benoude miaau toe die hokkie teen die paneelkissie
kantel en dan is dit stil.
Kiara maak haar oë oop, vryf haar nek en toe die brandplek waar die
sitplekgordel oor haar borsbeen vasgeruk het.
“Skat?” roep Kiara paniekerig uit en kantel die hokkie terug voor sy
beangs onder die handdoek inloer. Skat kyk haar verdwaas met knippende oë
aan, sug dan en kry weer haar lê.
Kiara knip die sitplekgordel met bewende vingers los en klim uit. Een van
die voorste bande is aan flarde en die neus is kreukelrig om die boomstam
gevou. Kiara moet vinnig weer haar sit in die bakkie kry toe haar bene
onbedaarlik begin rittel. Sy bly ’n ruk lank net so dwars op die sitplek sit met
haar lam bene buitetoe, haar kop in haar hande.
“Heerlikheid, Skat, dit was amper,” prewel sy en lig haar kop moeisaam
op. “As ons nie relatief stadig gery het nie, weet ek nie so mooi nie.
Verdomde versoolde band. Verdomde boom. Kyk, dis vir omtrent ’n
kilometer die enigste een langs die pad.”
Sy kyk verskrik om toe ’n yslike BMW in ’n stofwolk agter haar stilhou en
die deur oopvlieg. ’n Lang man in ’n plooitjiesbroek en ’n netjiese hemp kom
haastig aangestap.
“Is jy oukei?” vra hy toe hy met kommer in sy blou oë oor haar buig.
Sy knik. “Ek dink so. Ja. Ja, ek is oukei. Net geskrik.”
Hy hurk voor haar en vee ’n hand vol krulle uit haar gesig. “Is jy seker?”
Sy knik weer. Die simpatie in sy blik laat haar oë skielik warm voel en die
volgende oomblik bars sy in trane uit.
Sy arm is om haar skouer en sy mooi hemp is nat gehuil teen die skouer
toe sy uiteindelik weer haar kop oplig. ’n Haelwit sakdoek verskyn uit die
niet in haar hand en sy snuit haar neus onvroulik voor sy die trane afvee. Sy
staar na die swart maskarastrepe op die sakdoek en sien dan hul maats teen

die sagte lap van sy hemp raak. “Ek is jammer.”
“Dis niks. Het jy al iemand gebel?” Hy is ontstellend aantreklik, let sy nou
eers op. Sy sandkleurige hare steek amper blonderig af teen sy sonbruin vel
en sy beenstruktuur herinner haar aan die een of ander sepieheld. Die silwer
spikkels in sy hare en die diepte van die plooitjies om sy oë verklap dat hy
heelwat ouer is as wat sy lyf verraai, maar aanskoulik, dié is hy.
Sy skud haar kop ontkennend. “Ek het nie ’n sel nie.”
Hy knip syne van sy gevlegde leergordel af. “Is daar iemand wat jy wil bel
voor ek vir jou ’n insleepdiens in die hande kry?”
Kiara kyk verstorwe na hom. Insleepdiens. Herstelwerk. Paneelklopper.
Rande. Baie daarvan, dink sy staccato. En hoe de hel gaan sy by Helga
uitkom? En wat maak sy met al die goed agter in die bakkie? Sou die
rekenaar dit oorleef het?
“My peettante. Ek is op pad na haar toe,” dwing sy haar gedagtes terug na
die onmiddellike.
Hy hou die foon na haar toe uit. “Ken jy die nommer?”
Sy knik. Sy het Helga al genoeg gebel om die nommer selfs in ’n koma te
kan onthou. En tog huiwer sy toe sy die nommer geskakel het voor sy die
skakelknoppie druk. Wat kan Helga doen? Sy gaan haar net ontstel.
“Waar woon jou peettante?” vra hy toe sy net na die foon staar.
“Hermanus.”
Hy vat die foon weer by haar. “Nou maar dan is daar geen probleem nie.
Dis juis waarheen ek op pad is. Ons kry jou bakkie tot op Worcester en dan
ry jy saam met my. Dis nie so ver nie. So ’n uur en ’n half se ry.”
“Maar my goed agter in die bakkie?” Alles wat sy besit, is daarin, dink sy
terwyl paniek weer ’n houvas op haar begin kry. “En dis al lank ná vyf.”
“Ons sal iets reël.” Hy druk ’n paar knoppies op die foon, vra die nommer
van ’n insleepdiens, bel hulle, tref reëlings en haak dan weer die foon aan sy
gordel. “Kom ons kyk wat ons in my kar ingepas kry. Wat sal jy dringend
nodig hê?”
“Skat.”
Hy kyk haar skewekop aan.
Kiara grinnik verleë. “Nee, nie jy nie, hoewel jy soos een optree. Ek praat
van my kat.” Sy beduie na die hokkie agter haar. “En seker ’n tas met klere
en my badkamertassie.”
Hy knik, glimlag en steek sy hand na haar toe uit. “Leon Killian. Dis nou
wanneer ek nie ‘skat’ genoem word nie.”

Kiara kyk effens lighoofdig na hom. Jou haarstyl is te netjies, jy’s ’n bietjie
korter, skraler en het nie sulke breë skouers nie, Leon Killian, maar vir jou
kan ek dalk nog in ’n held omskep, dink sy vlugtig voor sy toelaat dat sy
sonbruin hand om hare vou. “Kiara. Kiara Albertyn.”

Twee
“Hemel, Kiara, hoekom het jy my nie dadelik gebel nie?” Helga is nog net so
bleek van die skrik soos toe sy die deur oopgemaak het vir Kiara met Skat se
hokkie in die een hand en Leon Killian aan haar sy. Ná Kiara se flou: “Hallo,
Helga, ek het so ’n klein ongelukkie gehad,” het sy hulle in haar gesellige
sitkamer sitgemaak en dadelik begin peper met vrae tot sy elke detail uit
Kiara getrek het.
“Jy sou net rasend van bekommernis gewees het en Leon was so gaaf om
my met alles te help en nog ’n geleentheid hierheen ook te gee.” Kiara vee
moeg oor haar oë.
Helga se diepblou oë kyk na Leon. “’n Engel uit die hemel, dis wat jy is.”
Sy staan op en stap na die antieke jonkmanskas. Sy is nog net so mooi en
slank soos altyd, let Kiara op. En so kaalvoet in haar ontwerpersjean en
modieuse kamisooltoppie lyk sy steeds nie ’n dag ouer as veertig nie, ten
spyte daarvan dat haar vyftigste verjaardag om die draai loer.
“Ek kry vir ons ’n lekker cabernet om oor die skok te kom. Kiara, jy kan
intussen vir Skat in die kombuis sit en water gee. Maak net die deur toe. As
sy dalk die een of ander glipsie van die kalmeerpil kry, wil ek nie hê dit moet
op een van my kelims gebeur nie.”
Kiara tel Skat tydsaam in die kombuis uit, sit die kussing vir haar op die
Italiaanse teëls neer en troetel haar ’n bietjie voor sy ’n bakkie vol water tap.
“Ma kom gee nou-nou vir jou korreltjies. Gelukkig het ek onthou om jou
reissak ook saam te bring,” sê sy en wag tot Skat begin drink voor sy die deur
agter haar toetrek en terugstap.
Helga gee vir haar ’n glas wyn aan. “Leon sê my Skorrie het meer skade as
wat dit op die oog af gelyk het en Sotheby se monitorskerm is aan stukke?”
Kiara knik en teug aan die wyn. Ten spyte van die benoudheid wat weer
oor haar kom oor die koste-implikasies wat sy heelpad van Worcester na
Hermanus sit en probeer bereken het, grinnik sy teen die glasrand toe sy Leon
se frons sien.
“Skorrie is my bakkie en Sotheby my rekenaar,” verduidelik sy en gaan sit
langs Helga op een van die sagte rusbanke.
Hy knik en glimlag. “Skat, Skorrie en Sotheby.”
Kiara sug onwillekeurig. “Ja, die drie belangrikste goed in my lewe, buiten

my peettante … en nou is twee van hulle kapot.”
“Ag, Kia, dis aardse goed. Ons sal ’n plan maak. Met die goed agter in die
bakkie ook. Nou moet jy net eers ná jou trauma ontspan. Ons slaap vanaand
daaroor en môre lyk alles weer beter. Al wat regtig belangrik is, is dat jy nie
seergekry het nie en dat Skat oukei is.”
Kiara knik. Sy weet dis waar, maar sy het tog ’n vermoede dat dinge nie
sommer gou beter sal lyk nie. Sy’s sonder vervoer, wat beteken dat sy gaan
sukkel om op ’n afgeleë plek soos Merenzee reg te kom, en sonder rekenaar,
wat beteken dat sy nie haar brood kan verdien nie. En sy het eenvoudig net
nie die middele om een van die twee te laat herstel nie, laat staan vervang.
“Jy vat die RAV’ie en gebruik dit tot Skorrie weer heel is en basta. Ek ry in
elk geval meesal met die Peugeot rond vir my werk. Die RAV gebruik ek
sommer net vir pret vandat my ouditeur gesê het ek moet ’n gewone kar vir
belastingdoeleindes koop.
“Kry Skat reg en pak jou goedjies. Oor ’n uur neem ek jou Merenzee toe.
Met ’n bietjie geluk aan ons kant sal Leon-die-engel sy belofte nakom en reël
dat jou ander bagasie by jou uitkom en ’n kwotasie vir Skorrie kry. Moet sê,
jy het jou Samaritaan goed gekies. Vir ’n amoeba is hy wraggies nie te vrot
nie. Aantreklik, behulpsaam, klaarblyklik welaf en boonop enkellopend, as ’n
mens hom kan glo. Net ’n bietjie te gretig om te help, as ek moet kritiseer.
Lyk my hy het ’n oog op jou.”
“Ag, bog. Hy is seker maklik tien jaar ouer as ek. Buitendien, hoe weet jy
hy’s enkellopend?” vra Kiara, sluk die laaste van haar oggendkoffie weg en
sit die beker op die bedkassie neer.
Helga haal haar skouers op. “Ek het hom ná die tweede glas wyn, toe jy vir
Skat gaan kos gee het, gevra of sy vrou nie bekommerd sal wees as hy so laat
by die huis kom nie.” Sy gee ’n skalkse laggie. “En toe sê hy nee, sy eksvrou
weet van sy kom en gaan niks sedert hulle vyf jaar gelede geskei is nie.”
“Dit sê boggherol. Hy kan ’n geduldige, inwonende vriendin hê.” Kiara
vou die T-hemp waarin sy geslaap het op en sit dit bo in haar tas.
Helga skud haar kop. “Ook nie. En voor jy vra, hy het gesê dis vir hom
lekker om loshotnot te wees en aan niemand verslag hoef te doen as hy ’n
damsel in distress wil help nie. Maar dit daar gelaat.” Sy trek haar kamerjas
se band stywer om haar smal middel. “Ek gaan gou stort.”
Kiara knip die tas toe en kom regop. “Is jy nou seker oor die RAV? Ek is
doodbang ek stamp jou kar ook nog.”
“Ek is seker en jy sal nie. En al gebeur dit, is dit ook nie ’n krisis nie. Dis

waarvoor versekering daar is.” Sy kyk skewekop na Kiara asof iets haar
byval. “Ek neem aan Skorrie …”
Kiara skud haar kop. “Nee, Skorrie is nie verseker nie en Sotheby ook
nie.”
“H’m. Newwermaaind. Sien jou nou-nou.”
Helga lyk vars en pragtig in ’n wit denim en ’n koel toppie wat moontlik
op Madeira geborduur is toe sy die voordeur van haar luuksemeenthuis agter
hulle sluit. Haar blonde hare is met ’n versierde knip op haar kop vasgesteek
en sagte sliertjies kinkel om haar ovaal gesig.
Sy lyk eerder soos mý suster pleks van my ma se laatlamsussie, dink Kiara
toe sy Skat op die passasiersitplek van die RAV sit en voel effens verslons in
haar verbleikte jean en Mr Price-toppie. Die leersandale wat al baie beter dae
geken het, steek af teen die fyn bandjiesandale aan Helga se skraal voete.
Helga is dalk vyftien jaar ouer as sy, maar Kiara voel vandag asof dit eerder
andersom is. Sy het ’n rustelose nag agter die rug, geteister deur drome
waarin sy berekening ná berekening maak terwyl ’n groen trol vir haar sit en
lag.
“Nou toe, volg my,” gee Helga opdrag en klim in die silwer Peugeot wat
haar ’n paar honderdduisend uit die sak moes gejaag het.
“Ek het bitter maar goed geskei,” het Helga vir haar gesê toe die skeisaak
ná ’n lang gesloer afgehandel was. Haar gewese man het duur betaal vir sy
flater om Helga op die een of ander seminaar met sy sekretaresse te kul, dink
Kiara toe sy agter Helga aan in die hoofpad indraai. Maar hy kon. Hy was ’n
baie welaf man. En daarom kon Helga haar op Hermanus kom vestig en met
’n stewige neseier haar onderneming aan die gang kry – ’n besigheid wat die
afgelope sewentien jaar floreer het.
“En ek het bitter én sleg geskei, Skat, in teenstelling met Helga … en in
nog groter teenstelling met Zsa Zsa Gabor. Dié het glo gesê sy is ’n goeie
huishoudster – elke keer as sy skei, hou sy die huis,” sê Kiara hardop en loer
vinnig na die kat wat steeds effens bedremmeld daar uitsien.
Sonder kinders was daar nie sprake van onderhoud nie. En die geld wat
hulle uit die verkoop van die huis gekry het, was kwalik genoeg om die
uitstaande skuld te delg. Sy kon kies of sy Skorrie of die helfte van die
meubels wou hê. Skorrie het gewen. En nou staan Skorrie met ’n haaslip en
die somtotaal van haar aardse besittings op Worcester terwyl haar
bankrekening reeds rooibek vir haar lag. Maar dis seker ook haar eie skuld.
Sy wóú mos voltyds skryf.

Kiara is so ingedagte dat sy eers op die laaste nippertjie agterkom dat
Helga haar flikkerlig aangeskakel het. Die slegte teerpad waarop hulle
afdraai, word ’n rukkie later ’n slegte grondpad – wat al hoe slegter raak.
Helga hou stil by ’n sekuriteitswag op sy pos by ’n valboom, gesels en beduie
na agter voor sy deurgelaat word en Kiara ook.
Sy volg die Peugeot toe dit weer afdraai en daarna deur ’n digbegroeide
omgewing ry met hier en daar ’n houthuis tussen die takke deur sigbaar. Daar
is beskeie enkelverdiepings en luuksedubbelverdiepings, hier en daar ’n
huisie skaars groter as ’n hut en ander wat indrukwekkend oor die
melkhoutkrone troon.
Hulle draai weer en volg ’n paadjie wat parallel met die strandmeer loop.
Kiara kan nie veel daarvan inneem nie omdat sy op die gaterige pad moet let,
maar dan hou Helga stil. Kiara parkeer langs haar en kyk dan eers behoorlik
na die huis wat tussen die digte bome en plantegroei uitsteek.
Haar eerste indruk van die huis is dat dit effens verwaarloos is, wat dit ’n
byna spookagtige voorkoms gee. Melkhoutbome leun teen die huis aan asof
hulle die verweerde mure bymekaar wil hou.
“Dis die agterkant. Moenie skrik nie, dit raak beter,” laat Helga by die
venster hoor wat Kiara oopgedraai het. Helga maak die deur vir haar oop.
“Kom, ek het die agterdeursleutel hier.”
Die deurhandvatsel en sleutelgat is verroes en dit duur ’n rukkie voor
Helga met heelwat onderlangse gemompel die deur oopgesluit kry en dit dan
met die hulp van haar skouer en heup moet oopstamp.
Die huis ruik muf van toe staan. Die son skemer blouerig deur die
toegetrekte gordyne en gooi ’n onaardse lig oor dowwe vorms wat meubels
moet wees.
“Ag, dêmmit, ek het een van die oord se skoonmakers gevra om die plek te
kom regruk en die vensters oop te maak. Maar ons is vroeg, miskien kom sy
later. Ek het gesê jy sal eers laatmiddag hier wees.”
Helga druk ’n ligskakelaar, maar die gloeilamp gee een flits en ’n pieng en
die kamer behou sy blou skemerte. Helga swets hardop. “Ek wou so graag
gehad het dit moet wonderlik lyk as jy hier aankom. Wou blomme en wyn en
alles kom neersit het.”
Kiara hou haar terug toe sy mik na die muur van gordyne. “Ontspan,
Helga, ek is in die sewende hemel. Dit ís wonderlik.”
Helga gee haar arm ’n drukkie en stap vorentoe. “Kyk net hier.” Sy pluk
die gordyne met een beweging weerskante toe en laat die sonlig plotseling na

binne.
Kiara knip haar oë en snak na haar asem. Melkhouttakke vorm ’n raam om
’n onvergeetlike skildery. Die huis sit hoërig bo die smal, silwer sandsoom
tussen die huis se houtdek en die lagune. Sonstrale flits en kartel diamanté uit
die riffeling op die water. Aan die anderkantste oewer kan sy nog ’n strook
sand sien, daaragter plate fynbos en nog verder agtertoe berge.
“Dis asemrowend,” fluister Kiara.
“Kom kyk hier buite.” Helga vroetel met die naaste van die twee stelle
reuseglasskuifdeure wat die hele voorkant beslaan. Vars seelug bol in die
blou gordyne en stu die muwwe huis binne toe sy dit met ’n bietjie moeite
oopgestoot kry. Dis die balkon bo hul koppe wat skadu oor die dek verskaf,
besef Kiara toe sy buitetoe loop. En dan vergeet sy alles terwyl sy die soutlug
gemeng met fynbos inasem.
“Mooi, nè?” sê Helga sag langs haar.
In die verte hoor Kiara die see se geruis en bo hulle ritsel en gesels die
bome. “Absoluut asemrowend,” herhaal Kiara fluisterend. Sy drink die toneel
in en draai om. Sy sit haar hande op die skraal skouerknoppe en trek haar
peettante tot teen haar. “Dankie. So baie dankie.”
“Dit, my Kia-kind, is die grootste plesier wat my nog te beurt geval het.”
Helga gooi haar arms oop en draai in die rondte. “Hier,” verklaar sy met
oortuiging, “sal jy kan asemhaal én skryf.”
As ek ’n rekenaar gehad het, dink Kiara, maar dan glimlag sy skielik vir
die eerste keer sedert die ongeluk spontaan. Helga is reg. Hier sál sy kan
skryf. Al moet sy dit met die hand doen. Tolstoi het ’n boek geskryf van ver
oor duisend baie fyngedrukte bladsye. En sy tyd van oorlog en vrede was
lank voor rekenaars uitgevind is.
’n Beweging op die meer trek haar oog. Met die ritmiese indompeling en
uitlig van ’n spaan, skiet ’n blou kajak oor die water. Dáár is nou vir jou ’n
paar skouers, dink Kiara en haar glimlag verbreed. Ja-nee, hier sal sy kan
skryf – veral as die meer sulke interessanthede oplewer.
“Nou toe, jy kan self maar verder verken. Bo is die en suitehoofslaapkamer wat op die balkon uitloop. En dan is daar ook die
balkonkamertjie waarvan ek jou vertel het. Hier onder is ’n badkamer met ’n
stort agter daardie deur, en ’n slaapkamer deur dáárdie een. In die kaste is
linne en handdoeke en breekgoed en alles.
“Volgens die prokureur is net die persoonlikste goed van die ou tante wat
hier gewoon het, verwyder voor sy na ’n versorgingseenheid toe is. Verder is

alles net so gelos. Zoek dus en gij zullen vinden – of so iets. Ek kom vanaand
oor en bring vir ons ’n pizza. Rig jou nou maar eers in sover jy kan, en
ontspan. Alles is onder beheer.”
Helga soen haar op die wang. “Kom gou saam kar toe. Ek het vanoggend
sommer vinnig vir jou ’n bietjie proviand ingepak. Niks spesiaals nie. Net
koffie en so.”
Kiara wuif Helga met die een hand tot siens, verskuif die kartondoos onder
haar ander arm en stap weer na haar nuwe tuiste. Sy sit die boks op die
toonbank van die oopplankombuis neer en laat haar oë oor die vertrek dwaal.
Die meubels is nie luuks nie, maar gesellig. Afgewitte hout met blou aksente
en vet, bloubont kussings op die rusbank en stoele. Glad nie outanteagtig nie.
Bokant die oop kaggel hang ’n enorme skildery van ’n meermin in
skakerings van blou, groen en ’n tikseltjie koraal. Kitsch onderwerp dalk,
dink sy vlugtig, maar die subtiele aanslag en die kunstenaar se wonderlike
vakmanskap maak ’n besonderse kunswerk daarvan.
Kiara draai om en kyk kopskuddend rond. Sy het voorwaar met haar stêre
in die paradys geval.
Die steil houttrap kraak toe sy boontoe gaan. Ook hier moet sy eers die
gordyne ooptrek voor sy behoorlik kan sien wat aangaan. Daar is nog ’n stel
glasskuifdeure wat haar op die balkon uitspoeg.
Sy snak na haar asem toe sy die uitsig sien. Nie net lê die grootste deel van
die lagune voor haar nie, maar aan die regterkant ook die monding en die
baai. Sy drink die uitsig in voor sy verder op haar ontdekkingsreis gaan.
Die linkerkantste deel van die balkon is omskep in ’n klein vertrekkie met
nog ’n glasskuifdeur wat toegang daartoe bied. Sy toets die deur en is verras
toe dit effens rukkerig oopgly. Toe sy die Bali-blinders ooptrek, sug sy
behaaglik. Die groot vensters gee dieselfde uitsig oor die lagune en die see.
Die hele muur, wat rug aan rug met die slaapkamer is, word deur ’n boekrak
beslaan.
Sy gaan sit agter die lessenaar op die wit geverfde, outydse kantoorstoel
met sy bloubont kussing. Sy kan na al drie kante toe uitkyk – vorentoe na die
lagune, links by die skuifdeur uit na die see en deur die venster aan die
regterkant kyk sy uit bo-oor die toppe van die bome. Dit gee haar ’n nuwe
uitsig op die sandsoom, wat verder op langs die water strek en ook op ’n
groterige houthut, half verskans deur melkhoutbome en ’n bietjie laer geleë
as haar huis.
En, lig sy haar wenkbroue en leun vorentoe, op die oomblik ook ’n

pragtige uitsig op die eienaar van die breë skouers wat nou besig is om sy
kajak met sy rug na haar toe uit die water te sleep.
Sjoe, dáár’s nou vir jou ’n lyf. Sy neem die sonbruin, gespierde rug, die
stewige sitvlak in die effens verbleikte, bont swembroek, die sterk kuite en
die bultende biseps deeglik in. Die hare, wat langerig en nat in die stewige
nek kinkel, is donker. Die man sou bonkig gewees het as hy korter was, besef
sy toe hy regop kom, maar sy lengte maak dat hy perfek in verhouding is.
Niks korter as twee meter nie, skat sy en sluk toe hy omdraai en die kajak oor
die sand begin sleep.
Dis ’n bietjie te ver om sy gelaatstrekke uit te maak, maar selfs van hier af
kan sy sien dat sy ruwe aantreklikheid enige meisie se knieë sal lam maak,
om van die songelouterde sespak weerskante van sy naeltjie nie te praat nie.
Kiara glimlag, knoop haar vingers agter haar kop en leun terug in die stoel.
Daar het jy dit, Kiara Albertyn. Die kajakman se lyf, Leon se ridderlikheid en
hope verbeelding. Gooi die spulletjie saam en voilà! – jou held. Haar glimlag
blus effens. Nou het jy nog net ’n rekenaar nodig.
Op die ingewing van die oomblik trek sy die lessenaar se boonste laai oop.
’n Omsendbrief lê bo en in ’n hoekie is ’n stomp potlood wat duidelik die
laaste keer met ’n mes skerp gemaak is. Sy draai die omsendbrief om en sit
dit met die skoon kant voor haar neer.
Wat sal sy naam wees? Sy tik-tik met die agterkant van die potlood teen
haar lippe. Name is so belangrik. Gewoonlik soek sy ’n paar vir elke karakter
in ’n naamboekie – name waarvan die betekenis iets sê van die karakters wat
sy beoog. Dan roep sy die karakters een-een in, laat hulle voor haar sit en
hoor watter naam hulle verkies. Soms verwerp hulle die name en kies hul eie,
maar ander is meer gedwee.
Maar haar naamboekie lê nog agter in haar bakkie. “Oukei, Leandra,”
spreek sy haar heldin sag aan, “wat wil jy hê moet sy naam wees?”
Sy kyk weer na die kajakman wat die kajak tot langs die houthut sleep en
dit dan omdraai, penskant boontoe. Hy maak die spaan teen die pilaar van sy
veranda staan, trek ’n bont handdoek van die houtreling om die stoepie af en
vryf eers sy hare en dan sy lyf droog. Sy spiere knoop en ontknoop blinkbruin
in die son. Kiara se maag maak ’n vreemde draai en kersvet smelt agter haar
naeltjie. Amoeba of te not, mooi was nog nooit lelik nie.
“Jy’s ’n baie gelukkige meisie, Leandra, hy is ’n beeld van ’n man, en ek
gaan hom die wonderlikste persoonlikheid gee – hom vervolmaak net vir jou.
Wat van Jacques?”

Leandra skud haar kop.
“H’m, jy’s reg,” gee Kiara toe. “Te sissierig. André ook. Hierdie Poseidon,
hierdie godheid uit die see, het ’n sterk naam nodig. Iets Bybels, dalk. OuTestamenties. Uit ’n tyd toe manne nog mánne was. Maar oukei, kom ons los
die naam voorlopig.”
“Leandra,” skryf Kiara in dik potloodhale, “kom by die kajakman op die
silwer sandsoom langs die meer tot stilstand. Hy kyk om asof hy haar
teenwoordigheid aanvoel. Sy oë is die kleur van die see op ’n wolklose dag.
Hulle verdonker effens terwyl hy haar op en af bekyk en dan regop kom.
“‘En waaraan het ek die eer te danke?’ Sy oë is warm en waarderend en sy
weet instinktief dat hy hou van wat hy sien.”
“Joe-hoe!”
Kiara ruk soos sy skrik toe die stem van onder af deur die houtvloer na
haar toe aankom. Sy spring op en draf na die trap. “Hallo?”
“Dis ek, Anne. Ek kom maak skoon. Sien toe die deur staan klaar oop.”
Kiara stap met die trap af. Anne wag haar hande op haar mollige heupe in.
“Hallo, Anne.”
“Môre, Mevrou. Hoe het Mevrou my dan nou so voorgespring? Dag
Mevrou kom eers laatmiddag aan? Miss Helga gaan my mos nou kwalik
neem.” Anne se bekommerde frons verdiep. “En ’n mens ruik net muf.”
“Alles in die haak, Anne. Ek het vroeër aangekom as wat Helga my
verwag het.” Kiara steek haar hand uit. “Ek is Kiara.”
“Kiara? Dis ’n fensie naam? Wat klink dit dan nou so half bekenderig vir
my?” Sy slaan een hand oor haar mond terwyl sy Kiara se groet vlugtig met
die ander bevestig. “Maar mensig, moenie vir my sê Mevrou is Kiara
Albertyn nie?”
Kiara kyk haar verras aan. “Ja, ek is, maar hoe …?”
“Maar my jinnetjie! Mevrou is dan my favourite skrywer. Ek het ’n ieder
en ’n elk van Mevrou se boeke gelees. Nee kyk, vanaand brag ek dat dit bars.
Ek gaan ’n hit wees as ek kan sê dat ek vir Kiara Albertyn werk, dis nou nie
altemit nie. Kom, ek maak vir Mevrou ’n bietjie koffie voor ek aan die werk
spring. ’n Famous mens kan nie droogbek wees en in so ’n muwwe,
stowwerige plek bly nie.”
Sy beduie na die boks op die toonbank. “Wat’s hierin?” vra sy en klap die
deksel oop. “Ja, sien ek. Koffie. Brood en kaas en tamaties en melk ook. Ai
tog, en die yskas staan nog af.”
Kiara glimlag en knik. “Dis baie lank laas dat iemand in my eie huis vir

my ’n koppie koffie gemaak het. Dit klink heerlik.” ’n Klaende en baie
bekende geluid laat Kiara haar hand oor haar mond klap. “O, hemel!” roep sy
ontsteld uit. “Skat!”
Sy is nie al een wat Skat se geweeklaag gehoor het nie, sien Kiara en steek
vas toe die RAV sigbaar word. ’n Stewige, bont sitvlak en hemelse manlike
bene steek by die oop deur uit en dan kom hy regop uit sy gebukkende
posisie met Skat op die arm.
“Nare baas wat jy het,” hoor sy die diep stem wat pas by die groot lyf.
“Arme weeskatjie. Ek sal hulle aangee vir dieremishandeling, hoor?”
Skat miaau instemmend.
“Skat!” Kiara kry weer genoeg beheer oor haar bene om vorentoe te
beweeg. Sy kom voor die lewenslange man tot stilstand en hou haar hande uit
om Skat by hom te vat. Hy kyk haar langsaam op en af en sy mond trek op ’n
afkerige plooi. “Skaam jy jou nie? Dis nou wel koel hier onder die bome en
die venster was oop, maar deksels, julle kan nie die arme kat net so aan
homself oorlaat nie. Ek is lus en gee jou by die DBV aan. En moet my nie
‘skat!’ nie. Julle jappiemaniere werk nie hier rond nie.”
Kiara se mond val onwillekeurig oop voor sy weer haar positiewe
bymekaargeskraap kry. “Jy sal jou wat verbeel, Meneer. Skat is my kat se
naam, ek is g’n ’n jappie nie en my kat was skaars ’n halfuur alleen in ’n koel
motor waar sý volop vars lug gekry het. Ek sal háár nou by jou vat.”
Kiara gee ’n tree nader, druk haar hande onder Skat se lyf in en lig die kat
doelgerig uit sy greep. Die vel van sy binnearms is koel en sag toe haar arms
daarteen skuur. ’n Rilling glip teen haar rugstring af, maar sy ignoreer dit en
druk Skat teen haar vas.
“Toemaar, ounooi, Ma gaan jou nou versorg,” sê sy sag en druk ’n soen op
die sagte pels tussen die spits oortjies. Sy laat rus haar ken ’n oomblik op
Skat se kop en kyk op na die groot man met die befoeterde oë. Hulle is toe
nie blou soos die see op ’n wolklose dag nie, maar groenerig met goue
spikkels. Sy wimpers is donker met opwippuntjies wat blond deur die son
verkleur is. Die donker hare is ook hier en daar ligter verbleik en hy is ouer as
wat sy gedink het. En aantrekliker.
“Verspotte naam vir ’n kat,” is al wat hy sê voor hy afkyk na ’n rooibont
kat wat uit die niet verskyn en teen sy bene kom aanskuur. Hy buk en tel die
kat op. Sy hande is groot, maar sy vingers lank en amper delikaat in
vergelyking met sy groot lyf, merk Kiara op.
“Kom, Piet, hierdie grênd mense van die grênd kar met die grênd kat wil

huis toe gaan,” sê hy vir die kat en kyk effens vermakerig na Kiara.
“Piet?” Kiara snork, draai kop in die lug om en stap na die agterdeur. “En
jy sê Skát is ’n verspotte naam?” sê sy oor haar skouer voor sy die huis
binnegaan.
“Ag, is dit dan nou nie te skattig nie,” koer Anne toe sy Skat sien.
“Ek gaan haar voorlopig in die onderste badkamer toemaak, Anne, en dan
sal ek haar geleidelik aan die huis gewoond maak. Moet asseblief nie dat sy
uitkom nie. Ek is bang sy gaan uit en verdwaal. Hierdie bol wol is my hart se
punt.” In die badkamer troetel sy Skat ’n rukkie en maak dan die deur
sorgvuldig agter haar toe.
“Wat soek Mevrou?” vra Anne toe Kiara kombuiskasdeure begin oop- en
toemaak.
“’n Piering. Skat het lank laas melk gehad.” Sy vat die piering toe Anne
een optower en kry die melk uit die yskas wat Anne intussen aangeskakel het.
“Mevrou moet maar ligloop vir daardie een,” sê Anne terwyl sy kookwater
in ’n koffiebeker gooi. “Die man van langsaan, bedoel ek. Ek wil nou nie
skinner nie, maar lyk my dáár is nou ’n losbol as daar al ooit een was. Ek
hoor daar is meisies in en uit by die deur. En nooit dieselfdes nie. Bly ’n paar
uur en dan sien jy hulle nie weer nie. Behalwe die donkerkoppie. As sý kuier,
kúier sy glo.”
Sy skud haar kop en stoot die beker na Kiara toe. “Klink na ’n regte
casanova as Mevrou mý vra.”
“Een met vrot maniere boonop,” mompel Kiara, om die een of ander rede
omgekrap oor Anne se inligting, en dra die piering melk met omsigtigheid
badkamer toe.
Met Skat geholpe, vat sy haar beker stoep toe, drink die koffie rustig klaar
en besluit dan teen haar vae voorneme om op die strand te gaan stap. En dit
het niks te doen met die houthut en sy inwoner nie, probeer sy haarself
oortuig. Sy wil uitpak wat daar uit te pakke is, ingerig raak. So gou moontlik.
Genadiglik is die RAV dié keer verlate toe sy buite kom om haar goed in te
dra.

Drie
“Ek het nooit bedoel jy moet self ry om die goed te gaan haal nie!” protesteer
Kiara toe Leon laatmiddag uit die luukse-Range Rover Discovery, tot
barstens toe volgepak, klim.
“Nou wat dan?” glimlag hy en soen haar op die wang asof hy dit al sy lewe
lank doen. “Hallo, Kiara.”
“Hallo. Ek het gedink jy sal iets … iets anders reël. Iemand met ’n bakkie
wat in elk geval deurkom, of so iets.”
Iets wat my nie nog dieper in die skuld by jou laat voel nie, dink sy heimlik
en kyk onwillekeurig om toe sy ’n beweging uit die hoek van haar oog
gewaar. Miskien het sy haar verbeel, maar dit het baie gelyk na ’n paar baie
breë skouers wat agter die bome verdwyn het. Sy draai terug na Leon toe hy
hom uitstrek.
“Dan gaan jy seker ook vir my vies wees omdat ek jou bakkie op ’n Araam Hermanus toe gesleep het?”
“Jy’t wat?” frons sy.
“Sommer twee vlieë met een klap. Die bakkie staan by ’n paneelklopper
wat ek ken en vertrou. Hy sal vir my ’n kwotasie gee sodra hy die skade
bereken het. Hy het ook werktuigkundiges wat vir hom werk, daarom kan
alles sommer gelyktydig reggemaak word. Die paar los goed wat ek nie in die
Discovery kon inpas nie, is ook daarin, maar jy behoort dit in die RAV te kan
kry as jy weer Hermanus toe gaan.
“Maar nou sit my tong aan my verhemelte vas. Hoe lyk dit met ’n glasie
wyn? Ek het ’n kissie Du Toitskloof Sauvignon Blanc net-net ingepas gekry
nadat al jou goed ingepak was.” Hy stap om na die passasiersdeur en tel ’n
kissie van die stapel goed op die sitplek af op.
Kiara gooi haar hande in die lug. “Ek weet nie wat om te sê nie, Leon.
Soveel moeite en ergernis en dit net omdat ek …”
“Toe-toe nou, ek het dit met die grootste liefde gedoen. Een aand maak jy
vir my ’n lekker bord kos en dan is ons kwits.” Hy wag vir haar om binne te
stap, volg haar en sit die kissie op die toonbank neer voor hy rondkyk. “Maar
dit lyk sommer spoggerig.”
Kiara knik. Anne het wondere verrig. Alles wat opgeklop, gewas, gevee en
uitgeskud kan word, het deurgeloop. Selfs die katoengordyne is gewas,

gestryk en weer opgehang. En die meermin bokant die kaggel lyk om die een
of ander rede helderder en skalkser, asof sy bly is om weer aandag te kry.
“Danksy hulp wat Helga vir my gereël het.” En die feit dat ek glo hier
famous is, grinnik sy heimlik.
Die bries sug deur die oop deure, dra die seelug die huis binne en meng
met die vars geur van skoonmaakmiddels wat nog in die lug hang. Anne het
selfs ’n pak kerse opgediep en in kershouers gedruk toe sy agterkom die
sitkamer se lig het geblaas en sy nie ekstra gloeilampe kon kry nie.
Kiara voel Leon se oë op haar en haar glimlag verstrak effens. Leon tree op
asof stewige vriendskapsbande reeds tussen hulle gesmee is. Hy doen te veel
vir haar. Dit laat haar ongemaklik voel. Sou hy die een of ander vergoeding
buiten ’n bord kos verwag? Of is sy nou te agterdogtig?
“Nou hoop ek net jy het wynglase en ’n kurktrekker,” onderbreek hy haar
gedagtes. “Daardie houtdek roep my.” Hy slaan die kissie wyn se klappe oop
en haal twee bottels uit. “Sit een sommer dadelik in die yskas. Dié een sal
maar met ys koud gedokter moet word. Dis te sê as jy het.”
“Ek het.” Kiara glimlag en probeer haar verdere ongemak onderdruk.
Beplan hy om twee bottels te drink? Haar beskonke te maak en dan sy
betaling te eis?
Sy haal wynglase uit en stoot die kurktrekker oor die toonbank na hom toe
voor sy buk om ys uit die vriesgedeelte van die yskas uit te haal. Nee wat, die
man is net besonder gaaf, besluit sy. Basta met die agterdog. Buitendien, sy is
heel veilig met Helga wat ook vanaand oorkom.
“Dit voel asof ek net heeldag teruggesit het terwyl almal hul verstand af
sukkel om my probleme vir my op te los en alles vir my te doen,” sê sy toe sy
regop kom en die blokkies in ’n yshouer uitdruk.
“Geniet dit. Ek is seker dit gebeur min genoeg.” Die kurkprop floep uit die
bottelnek, Leon ruik aan die wyn en knik voor hy vir hulle inskink.
Die blou tafeldoek met bont, handgeverfde skulpe fladder effens in die
bries toe hulle op die stoepstoele gaan sit, die wynbottel in die ys geplant op
die tafel tussen hulle.
“’n Wonderlike uitsig,” sug Leon behaaglik en hou sy glas wyn in die lug.
“Op jou nuwe woonplek. Ek hoop jy is baie gelukkig hier, ten spyte van die
ietwat rampspoedige reis hierheen.”
Kiara glimlag wrang. “Dankie. En baie dankie vir al jou hulp. Ek weet nie
hoe om daarvoor te vergoed nie.”
“Ek het mos gesê, ’n lekker ete sal meer as genoeg wees.” Hy teug aan sy

wyn.
“Dis dan afgespreek.” Kiara proe aan die wyn en skryf nog ’n item by die
lys van probleme wat sy in haar kop ronddra. Dis nie net dat sy ongemaklik
voel omdat Leon haar met soveel goed help nie, sy is boonop nie ’n wafferse
kok nie. Nee, dis sagkens gestel. Haar kulinêre vermoëns begin en eindig
deesdae by slaai en ’n paar pastageregte. Dis asof sy heeltemal verleer het om
te kook vandat sy geskei is.
Leon kruis sy bene en vou sy hande agter sy kop. “Ek het nooit leer kook
soos die meeste mans ná hul egskeidings nie,” bieg hy. “Dis net soveel
makliker om uit te eet of iets by Woolies te kry wat ek net in die oond kan
druk.”
“Jy klink soos Helga. Sy kán natuurlik heerlik kook, maar sy sê dis nie die
moeite werd vir een mens nie. Sy het seker al aandele in Woolies soos sy
aangaan. Ek dink …”
“Kia, waar’s jy? Het Skorrie ’n gedaantewisseling ondergaan, of het jy …
O, hallo, Leon. Haai, Kia.” Die geur van warm pizza kom agter Helga aan toe
sy op die dek uitstap.
“Praat van die duiwel. Hallo, Helga. Nee, Skorrie is nog Skorrie. Leon was
so gaaf …”
Leon se stoelpote kras oor die dek toe hy vinnig orent kom. “Hallo,
Helga.” Kiara sien hoe sy oë waarderend oor haar peettante se slanke figuur
in die ligblou sonrok gaan. Die man het definitief ’n oog vir ’n mooi vrou.
“Dis ’n lekker verrassing om jou hier te sien.”
Helga vat-vat aan haar hare wat los en blink oor haar skouers lê. “Ek het
jou nie hier verwag nie, maar ek moes geraai het toe ek die Discovery gesien
het. Gelukkig het ek twee pizzas gekry, dis genoeg vir ons almal.”
Kiara kyk haar peettante effens uit die veld geslaan aan. Helga kan altyd
deur ’n ring getrek word, maar sy word selde in ’n rok gesien, en nog minder
met los hare. En sy sal in haar dag des lewens nooit twee pizzas vir net die
twee van hulle kry nie, daarvoor is sy te bewus van haar figuur, al is sy nou
nie juis pynlik daaroor nie. Het sy vermoed Leon gaan hier wees?
“Net jammer jy het nou nie ’n ekstra een om te vries vir die wis en die
onwis nie, maar volgende keer bring ek weer een.” Helga glimlag gul en
Kiara skud haar kop. Sy was te lank alleen en voor dit te lank agterdogtig. Dit
kom nou daarvan.
Dit word ’n gesellige aand, maar iets aan Helga bly Kiara hinder. Verbeel
sy haar, of is Helga, vir iemand wat glo mans is die amoeba waaruit die vrou

ontwikkel het, baie bewus van elke beweging wat Leon maak? En besonder
opgenome met sy gevatte antwoorde in hul skertsende gesprekke. Sy kan ook
sweer haar heupe swaai effentjies meer as wat Kiara kan onthou toe Helga
opstaan om badkamer toe te gaan. Of is sy nou laf? wonder sy terwyl sy oor
die donker vlek wat die meer is, staar.
Kiara word uit haar gedagtes geruk toe Leon oor die tafel leun en sy hand
oor hare vou. “Kiara, daardie bakkie van jou kon nie op ’n meer geleë
oomblik besluit het om ’n boom sy eie te maak nie.”
Kiara se oë rek. “Ek …”
Hy soen haar kneukels en sy skrik haar woorde skoon weg. “Ek kan nie vir
jou sê …” Hy kyk vinnig op toe daar ’n beweging by die stoeptrap is.
“As jy nie kos vir jou kat het nie, kon jy net gevra het.” Die diep stem met
die effense grinterigheid kan net aan een mens behoort, besef Kiara in die
breukdeel van ’n sekonde terwyl sy haar kop omruk en haar hand amper
skuldig uit Leon s’n trek.
“Ekskuus?” vra Kiara verward en spring op.
Skat kyk met ’n beskuldigende, plat gesiggie na haar waar sy heel
gemaklik in die krink van die gespierde arm lê, die groot hand besig om haar
kop te troetel.
“Hoe het jy uitgekom, snip?” vra sy en steek haar hande uit na Skat, maar
haar buurman draai skuins sodat sy nie kan bykom nie.
“Sy het so tien minute gelede daar by my aangekom en omtrent al Piet se
kos opgevreet, sy melk gepolish en toe kom miaau vir nog. Sy loop ook
effens mankerig, asof daar fout is met haar agterlyf. Ek het jou al voorheen
gewaarsku, ek kla jou by die DBV aan as jy nie ordentlik na jou kat kan
omsien nie – en ek is doodernstig.”
Kiara skud haar kop effens verdwaas. “Dis die kalmeerpilletjie van gister
wat nog nie heeltemal uitgewerk het nie. Ons het ver gery. Maar ek verstaan
nie. Ek het haar in die badkamer toegemaak om haar eers gewoond te maak
aan haar nuwe omgewing en sy het ’n vol bak kos én melk, waarvan sy niks
wou weet nie. Ek het gedink sy is net vreemd.”
“En ek moet jou glo? Hoe het sy dan uitgekom?” Sy oë glinster in die
kerslig wat agter glaskoepeltjies op die tafel flonker. “Maar nou ja …
Designer-base van designer-katte en designer-karre wat in die kerslig sit en
wyn drink en vry met, lyk my, designer-lovers, het dikwels geen tyd of
aanvoeling vir die behoeftes van hul diere nie. Dié dat hulle hul katte
overdose op kalmeerpille en dan op ’n vreemde plek aan hul lot oorlaat.”

Kiara snak verontwaardig na haar asem.
“Stadig nou. Dis my skuld,” kom Leon tussenbei. “Kiara hét Skat versorg
en toegemaak. Dis ék wat die badkamervenster netnou oopgemaak het toe ek
’n draai gaan loop het. Ek het nooit eens aan die kat gedink nie.”
Die kajakman kyk Leon op en af. “Dis wat gebeur as jou koerasie hoër
raak as jou IK.” Hy hou Skat uit na Kiara en sy vat die wit bondel haastig.
“Dis jou laaste kans. Volgende keer hou ek haar by my en bel die DBV om ’n
saak teen jou aanhangig te maak.” Hy draai in sy groot spore om en stap met
besliste treë weg in die rigting van sy hut, waar die ligte dofweg tussen die
plantegroei flikker.
“Ongeskikte …” prewel Leon effens verdwaas en kyk die groot man hande
op die heupe en kopskuddend agterna.
“Sjoe, wie is dié hunk?” vra Helga toe sy op die stoep kom en hul oë volg.
“My buurman, Atilla die Hun,” kners Kiara tussen haar tande deur en dra
Skat terug badkamer toe waar haar kos en melk onaangeraak staan.
“En dít?” vra sy verwytend en beduie na die bakkies. Skat kyk haar met
groot oë sonder ’n greintjie berou aan. Kiara sug, trek die venster toe en maak
seker die deur is ook toe voor sy dek toe stap.
Helga se kop is agteroor gegooi en haar lag klink helder op toe Kiara buite
kom. “Leon sê my nou net wat ou Attie te sê gehad het.”
“Attie?” vra Kiara, haar kop nog doenig met Skat se snaakse gedrag.
“Attie die Hun, ja. Wat ’n Hun ook al mag wees.” Helga klink nog
heeltemal te vol van die lag.
“Die Hunne was ’n Asiatiese ras wat Europa in die vierde en vyfde eeu
oorrompel het. Atilla was hul aanvoerder,” antwoord Kiara.
“Whatever,” grinnik Helga en skud haar kop. “Maar ek dink tog baie
meisiekinders sal hoegenaamd nie omgee as hulle deur hierdie spesifieke
Hun verower word nie.”
“Klaarblyklik,” brom Kiara en neem ’n groot sluk wyn.
“Ek is jammer oor die venster, Kiara,” laat hoor Leon verleë. “Ek het Skat
daar sien sit, maar ek het nie verder gedink as wat my neus lank is nie. Ek is
net bly sy het nie verdwyn nie.”
“Dis in die haak, Leon. Ek moes julle daarvan gesê het. Hoe lyk dit met ’n
bietjie koffie?”
Leon kyk op sy horlosie en kom orent. “Genugtig, kyk waar stap die tyd
aan. Dankie, Kiara, maar nee, ek moet môre vroeg aan die gang kom. Ek wou
eintlik vra of jy kans sien om my huis toe te neem, dan kan jy die Discovery

môre rustig afpak. Maar as jy ook reg is om te gaan, Helga, kan ek dalk
sommer saam met jou ry?”
“Natuurlik,” knik Helga. “Soos dit vir my geklink het toe jy netnou beduie
het, is jou huis eintlik op my pad van hier af. Maar het jy vervoer daar?”
“Dis op jou pad, ja. My BM staan by die huis.” Leon sit ’n stel sleutels op
die tafel neer. “Kiara, ek sal sorg dat een van my mense iemand hier kom
aflaai om jou te kom help en daarna die Discovery terug te vat.”
“Ek het self my bakkie gepak, ek sal regkom met die afpak ook,”
protesteer Kiara.
“Ag bog, Kiara, laat Leon toe om jou te help.” Helga tel haar handsak op
en kom orent. “Ek is ook al flou, maar miskien kan julle my net gou help om
’n paar goed uit my kar te haal. En Kiara, jy gaan nou nie weer staan en
kapsie maak nie. Dis net ’n bietjie proviand en ’n welkom-terug-in-die-Kaapgeskenkie.”
Kiara skud net haar kop en volg Helga en Leon gedwee. “Maar waar’s jou
kar dan?” frons Kiara toe hulle buite kom.
“Dit staan tussen die Discovery en die RAV. Ek het juis netnou gedink sy
lyk soos ’n ou skilpadjie tussen die hoë manne.” Helga stap om en maak die
kattebak oop. “Hier, vat die twee sakke binnetoe. Ek en Leon kan die res
indra.”
Kiara is besig om die sakke uit te pak toe hulle elkeen met ’n groot boks in
die arms binnekom. Sy loer oor haar skouer en besef dadelik wat die
welkom-terug-geskenkie behels. “Jy kan dit nie doen nie, Helga. Hoe kan ek
…”
“Bog, Kiara. Ek kan dit bekostig, gun my die voorreg om jou ’n bietjie te
bederf. Jy’s my peetkind, en buitendien, jy het dit broodnodig.” Sy sit ’n boks
met ’n splinternuwe drukker langs die splinternuwe rekenaar wat Leon
ingedra het neer en slaan haar arm om Kiara se skouers. “En dis hoog tyd dat
jy hulp met ’n bietjie meer grasie leer aanvaar. Leon, kry gou vir my die
rekenaarmonitor ook uit, asseblief? Dis op die agterste sitplek.”
Sy druk Kiara teen haar vas toe hy uit is en soen haar op haar kroontjie.
“Sien jou so ’n bietjie later die week. Raak maar eers tuis, maar onthou my
dan dat ek jou vertel watse groot geskenk jy vir mý gegee het,” fluister sy sag
in Kiara se oor.
Toe sy wakker word, weet Kiara nie onmiddellik waar sy is nie. Sy knip haar
oë verward. Sonlig stroom by die kamer in en agter die glasdeure blink die
strandmeer soos ’n spieël. Merenzee, onthou sy dan, strek haar lank uit in die

koningsgrootte bed en sug behaaglik, bly dat sy nie die gordyne die vorige
aand toegetrek het nie.
Skat kyk effens geaffronteerd op waar sy by Kiara se voete opgekrul lê.
“Ek het nie gedroom nie, Skat, ek is wraggies steeds in die paradys.” Sy
vryf die sagte oortjies en spring energiek uit die bed. “Gaan jy nou leer om
binne te bly, of moet ek jou weer vandag in die badkamer toemaak?” vra sy
terwyl sy die trap afstap met Skat op haar hakke.
“Haai, jy,” groet sy die meermin in die verbygaan en trek die gordyne oop.
“Daar’s hy. Jy kan g’n so in die skemer hang nie. Jy sal die water wil sien.”
In die kombuis maak sy vir haar koffie, gee vir Skat melk en dra dan die
koffiebeker op na die balkon. Die son is heerlik warm op haar kaal arms
terwyl sy die effens dynserige uitsig indrink. ’n Beduidenis van ’n bries speel
met die soom van haar kort nagrok.
Skat kom flikflooi teen haar kuite. “Miskien moet ek jou hier in die
slaapkamer toemaak, dan kan jy binne bly as jy wil, of op die balkon uitkom
as jy vars lug nodig het. Ek sal jou sandboksie sommer hier in die hoek van
die balkon neersit. Nou nie hieroor of daaroor nie, Skat, maar dis maar ’n bra
onwelriekende besigheid.”
Skat gaan sit met haar rug na Kiara op die punt van die balkon. “Wip jou
maar, dis die waarheid. Ek sal baie bly wees as jy so gou moontlik hier tuis
raak sodat jy buitetoe kan gaan wanneer die natuur roep. Die drie jaar in die
woonstel was erg genoeg. Ek dink dis tyd dat jy leer om effens bedagsamer te
wees wat jou toiletgeriewe betref.”
Kiara hou haar kop skuins. “Het iemand geklop, Skat?”
Sy sit haar beker haastig neer en draf binnetoe. Ja, daar kom dit weer. “Ek
kom,” skree sy teen die trap af, pluk haar nagrok oor haar kop en gryp die
eerste die beste ding wat in haar kas hang – ’n strandrokkie wat sy lankal
besluit het ’n bietjie te kort en te verbleik is, maar nooit van ontslae geraak
het nie.
“Môre, Mevrou, ek is Dawid Hendrickse,” groet die stewige man voor haar
en kyk oor sy skouer. Hy wys duim boontoe vir die bestuurder van ’n Golfie
dat hy reggekom het en draai om na Kiara toe die karretjie wegtrek. “Meneer
Leon het my gestuur vir die Discovery en om te help uitpak.” Die man is
netjies uitgevat in ’n langbroek en langmouhemp. Op sy hempsak is ’n
geborduurde logo: Killian-motors, Hermanus.
Leon het gesê sy van is Killian, onthou Kiara. Killian-motors, nè? Takke
landwyd as sy dit nie mis het nie.

“Môre. Ek is jammer, ek het nog nie kans gehad om daarmee te begin nie.”
“Geen probleem nie, Mevrou. Dis waarvoor ek hier is.” Hy glimlag
spierwit, wat haar nie heeltemal oortuig nie, veral toe hy oor sy donkerblou
das met nog ’n Killian-motors-logo stryk.
“Jy lyk heeltemal te netjies om met stowwerige bokse te sukkel. En dis
boonop Sondag,” blaker sy dit uit.
Dawid Hendrickse kyk haar verras aan en dan glimlag hy weer, dié keer
opreg. “Dis regtig nie ’n probleem nie, Mevrou. Meneer Leon het my al op
vreemder missies gestuur en op vreemder dae. Ons loop al ’n lang pad saam.”
“Nou maar goed, dit sal vinniger gaan, en jy is seker haastig. Ek kry net
gou die sleutels,” gee Kiara bes.
“Is Mevrou regtig ’n skrywer?” vra Dawid toe sy weer te voorskyn kom en
die sleutels aan hom oorhandig. “Meneer Leon het so iets genoem.”
Sy knik. “Regtig.”
“Sjoe, my vrou gaan baie beïndruk wees. Sy is baie lief vir lees.” Hy maak
die deur oop en lig die eerste boks uit. “Nee, wag, Mevrou,” keer hy toe sy
mik vir die volgende een. “Wys my net waarheen dit moet gaan. Meneer
Leon sal nie wil hê Mevrou moet dit self dra nie.”
“Bog, ek is nie van glas gemaak nie. Ek het elkeen van die bokse self
gepak en gelaai.” Kiara lig die boks uit die bak en stap vooruit na die
houthuis toe.
Met Dawid se hulp gaan die uitpak van die Discovery vinnig. Hy help haar
om die bokse met boeke boontoe te dra en piekel Sotheby en die nuwe
rekenaar ook op voor hy ry.
Dis al laatmiddag toe Kiara tevrede is dat elke boek staan waar dit moet staan
en haar klere uitgehang is.
Vanaand sal sy haar splinternuwe rekenaar opgestel kry, besluit sy.
Gelukkig het sy al haar belangrikste dokumente op stiffies gekopieer en hoef
sy Sotheby voorlopig nie weer aan die gang te kry om hulle oor te dra nie.
Maar sy het eers ’n stort nodig om af te koel, besluit sy en strek haar lyf
effens tam voor sy haar yskas opsoek en Helga se siening van “’n bietjie
proviand” beproef.
Nee! besef sy dan met ’n salige gevoel. Hier is stort vir skoonkom. Sy kan
gaan swem om af te koel.
“Paradys, paradys, jou lieflike ding,” sing sy onderlangs en haal haar
swemklere met ’n breë glimlag uit die kas. Voor sy die skreebont sarong om
haar middel bind, loer sy vlugtig in die spieël. Vreeslik bleek, maar nie sleg

vir ’n dertigplusser nie, dink sy toe sy in die rondte draai en haar slanke
postuur en, genadiglik, sellulietvrye bene krities beskou. Die eenstuk het al
beter dae gesien en gaap effens om haar vol borste, maar haar magie is
plankplat.
Armoede het sy voordele, grinnik sy en maak haar hare in ’n hoë poniestert
op haar kop vas. Die rekvermoë van die ou stukkie broekrek wat sy daarvoor
gebruik, is al amper uit, maar dit hou darem die krullerige boskaas bo.
Sy loer om die balkondeur. “Soet wees, Skat, Ma is nou terug.” Skat se
oortjies roer, maar haar oë bly toe waar sy op ’n dekstoel lê wat Kiara in die
rommelkas onder die trap ontdek en op die balkon staangemaak het.
Die silwer sand is warm onder haar kaal voete en Kiara draf vlugvoetig
water toe. Daarenteen is die water skokkoud toe sy instap en raak kouer hoe
dieper dit word. Net een raad daarvoor, besluit sy, trek haar asem in en duik
die koue water tegemoet. Haar asem slaan skoon weg, maar dan raak haar
warm vel gewoond aan die temperatuur. Sy swem met lang hale ’n ent in die
meer in, draai op haar rug en dryf in die effense kabbeling van die water. Bo
haar is die lug hemelsblou en êrens op die agtergrond krys seemeeue.
Kiara maak haar oë toe. “Het jy al aan ’n naam vir jou held gedink,
Leandra? Jy weet ons kan hom nie so naamloos geskryf kry nie,” praat sy
haar heldin in haar gedagtes aan. Leandra skud kop.
“Leandra dobber loom op die geriffelde oppervlak van die strandmeer,
haar gedagtes by die kajakman se hemelsblou oë,” skryf Kiara in haar
gedagtes. “Dis oë wat wegsteek, maar ook openbaar. Oë waarin ’n geheime
seer verskuil is, maar nie ontken dat hy geraak word deur haar beeldskone
gesig en modellyf nie.
“‘Leandra,’ hoor sy die diep stem hier naby haar.
“Sy droom, dink sy net voor haar oë oopflikker, maar sien dan dat dit nie
’n droom is nie. Atilla se oë luier passievol oor die slankheid van haar lyf en
haar vol borste. Hy …”
Kiara sug. “Oukei, oukei, ek weet Atilla werk nie, maar ek kan ook nie
aanhou verwys na die kajakman nie.”
Sy laat haar onderlyf sak en begin met lui hale na die kant toe swem. Die
naamboek lê reeds op haar lessenaar. Vanaand moet die held ’n naam kry, al
vat dit hoe lank.
Sy klappertand toe sy op die sand kom en droog haar met vinnige
vryfbewegings af voor sy die sarong weer om haar middel bind. Haar lyf
gloei van die koue en sy voel vars en verkwik toe sy na die houthuis begin

aanstryk. Van hier af sien sy vir die eerste keer hoe naby die Hun se hut
eintlik aan hare is. En dat die hut met sy groot vensters eintlik heelwat groter
is as wat sy vermoed het.
Sy loer onderlangs daarheen en kyk vinnig weg toe sy die Hun sien waar
hy op sy stoep sit met ’n bier by sy elmboog. Sy stap effens vinniger en frons
dan. Het sy haar verbeel of … Sy ruk tot stilstand en kyk weer.
Die Hun kyk haar met ’n opgetrekte wenkbrou aan en streel met ’n
oordrewe beweging oor die lyf van die kat op sy skoot. ’n Wit kat. ’n Persiese
kat. Skat.
Kiara maak haar oë toe, sug en laat haar kop vorentoe knak. Sy staan ’n
sekonde of wat so voor sy diep asemhaal, haar oë oopmaak en weer opkyk.
Hy sit nog net so. En Skat ook. Sy gooi die handdoek oor haar skouer en
koers gelate daarheen. By die stoeptrap gaan sy staan.
“Hoe de hel het jy van die balkon af gekom?” spreek sy Skat ergerlik aan.
“Eenvoudig, liewe Watson, daar’s ’n boom langs die balkon.” Hy beduie
met ’n wye gebaar, wat die volle omvang van sy borskas in die wit T-hemp
ten toon stel, na die boom, maar sy volg nie die beweging nie. Sy lees die
spreuk op sy bors. “Men are from earth. Women are from earth. Deal with
it.”
Sy kyk hom reguit aan. “Kyk, Skat mag dalk ’n ‘designer-kat’ wees, maar
sy is die punt van my hart. Ek het haar nog nooit verwaarloos nie en sal ook
nooit nie. Sy is in ’n vreemde omgewing en voel seker vreemd, dié dat sy
vreemd optree. Dankie dat jy jou weer eens oor haar ontferm het, maar as jy
my nog een keer met die DBV dreig, begin ek skree en hou nie weer op nie.”
“Ek sien sy is geborsel en gevoed en sy loop nie meer snaaks nie. En ek
dink sy is heel tuis hier rond. Sy sal nie meer sommer wegloop nie, behalwe
miskien nou en dan na my toe, en ek gee nie om nie. Daarom is dit nie nodig
dat jy die voëls die skrik op die lyf jaag met onaardse gille nie.” Hy sit Skat
op die tafel neer en kom regop.
Kiara bly stil, onkant betrap deur sy nuwe houding, en staar ’n oomblik
berispend na Skat wat haar lui uitrek en begin was.
“Kiara.” Sy diep stem liefkoos die naam.
Verras kyk sy na hom.
Sy hande gly in sy bont broek se sakke in en hy kom leun met sy skouer
teen die verandapilaar by haar. “Loverboy het jou Kiara genoem.”
Sy ontwyk nie sy oë nie. “Hy is nie my loverboy nie. Ek ken die man
skaars. Nie dat dit enigiets met jou te doen het nie.”

Skat spring van die tafel af, kom ewe ongeërg nader gestap en skuur teen
Kiara se bene. Sy buk en tel die kat op voor sy weer opkyk na die man wat
oor haar troon.
“Nee, dit het nie.” Sy oë glinster sinies. “Maar dis tog interessant dat ’n
man wat jy ‘skaars ken’ die nag by jou deurgebring het.”
Kiara frons ergerlik. “Hy het g’n, maar ook dít gaan jou nie aan nie.”
“O? En die Discovery wat heelnag langs jou windgatwiele gestaan en
vanoggend, toe ek vroeg-vroeg Kleinmond toe is, steeds daar gestaan het?”
Hy glimlag met effens neerhalende skeptisisme. “Maar jy’s reg, dit gaan my
gelukkig nie aan nie.” Hy draai om en stap terug na sy stoel.
“As jy wil afloer, moet jy dit ordentlik doen. Leon het …” Sy blaas haar
asem ergerlik deur haar lippe. “Ek hoef niks aan jou te verduidelik nie.”
Hy kyk haar ’n lang oomblik stil aan, gaan sit en tel weer sy bier op. “Nee,
jy hoef nie.” Hy neem ’n lang teug aan die bewasemde botteltjie.
Kiara staan geplant. Aan die een kant wil sy om die een of ander
onverklaarbare rede verduidelik, haar verontskuldig, en aan die ander kant
kan sy aanvoel sy is verdaag. “Ag, gaan blaas doppies,” ruk sy haar op, druk
Skat stywer teen haar vas en draai om.
“Kiara dink sy dra ’n tiara, maar deep down is sy eintlik Sara,” agtervolg
sy woorde haar en dra swaar aan ’n inherente glimlag.
Sy kyk oor haar skouer en sien die grinnik is ook op sy gesig vasgeplak.
“Ék het ten minste ’n naam!” roep sy harder uit as wat die klein afstand
tussen hulle regverdig en stap verwoed verder.
“Gabriël,” kom sy stem aangerammel, “soos in die engel Gabriël. Vir wat
dit werd is.”

Vier
Engel se agterent, dink sy terwyl sy ná ’n vinnige stort die nuwe rekenaar
begin uitpak. Gabriël, verbeel jou! Lucifer is nader aan die waarheid.
“En jy,” gee sy Skat ’n skewe kyk toe sy op die lessenaar spring, “is ’n
gebroedsel – jou ellelange pedigree ten spyt. Wat gaan soek jy aanhoudend
by die man? Kry jy nie kos en melk hier nie? Gee ek nie vir jou al die liefde
wat ’n kat maar hier op die ondermaanse kan toekom nie? Maar, nee …”
Sy ruk die halsstarrige boksklap oop en staar nikssiende na die wit
polistireenverpakking. “Jy wat Skat is, moet jou lewe waag deur by balkonne
en bome af te klim om in daardie paar he-man-arms te gaan klim soos ’n
wafferse tert.”
Sy lig die verpakking af en begin uitpak. “En nou dink hy boonop ek is
ook ’n tert.” Sy koppel die muis en die sleutelbord en begin die monitor se
boks oopmaak. “See if I care, maar nogtans,” brom sy.
Ná ’n gesukkel staan die monitor ook op die lessenaar. “’n Lekker groot
skerm. Helga het my verskriklik bederf, Skat,” bedaar sy geleidelik. Skat kyk
vlugtig op en gaan dan onverstoord met haar wassessie voort.
Toe die monitor en drukker ook gekoppel en die kragproppe ingedruk is,
gaan sit sy op die stoel en kyk na die elektroniese luukse voor haar. “Dis ’n
groot oomblik vir my, Skat. My eerste splinternuwe rekenaar, nie soos
Sotheby wat ’n hand-me-down van Peet se kantoor af was nie.”
Sy trek haar asem diep in en druk die knoppie. Sy frons verward en kyk na
die swart skerm en dan na die tjoepstil moederkas. Liewe land, daar is selfs
’n CD-skrywer, sien sy, maar dit help haar net mooi niks as die spulletjie nie
werk nie.
Sy gaan weer haar koppelings na en druk weer die knoppie, maar steeds
gebeur niks nie. Sy ruk die instruksieblaadjie uit. “If all else fail, Skat, read
the instructions,” mompel sy. Alles word aangedui presies soos sy dit gedoen
het.
Sy gee ’n gilletjie van frustrasie en kap met haar hande op die lessenaar.
Die trap binne kraak skielik hewig. Sy vlieg op om te sien wat aangaan en
gaan staan verskrik in die deur van die balkonkamer.
“Is jy oukei?” Gabriël ruk tot stilstand in die middel van haar slaapkamer.
“Wat soek jy hier?” Sy rem aan die T-hemp wat as haar slaapklere dien en

net verby haar dye kom.
“Ek het jou kom sê jy moenie die stoepdeure ooplos as jy bo is nie. Dis nie
só veilig hier nie. En boonop is die sitkamerlig nie aan nie en die stoeplig ook
nie. Wou nog klop, toe hoor ek jou soos ’n maer vark skree.” Hy vou sy arms
voor sy bors sodat sy net “Deal with it” op sy T-hemp kan uitmaak.
“Ek is fine, behalwe dat ek my uit my bloedgroep geskrik het toe ek jou
hier hoor opstorm het.” Sy vou ook haar arms.
“Nou vir wat gil jy dan soos ’n banshee witch as jy fine is?”
“Is dit nou maer vark of banshee witch?” vra sy wederstrewig, sug dan en
gooi haar hande in die lug. “In elk geval, die ligte brand nie, want die
gloeilampe is geblaas. En ek het uit frustrasie geskree oor my ellendige
rekenaar. Splinternuut uit die boks, en nou wil sy nie werk nie.”
“Wil jy hê ek moet kyk?”
Ek wil hê jy moet weggaan en nooit weer terugkom nie. Miskien sal
hierdie skielike lamte in my bene saam met jou verdwyn. Sy sluk. Seker maar
die skrik. “Alles is reg gekoppel. Ek het seker gemaak.”
“By die muurprop ingedruk en aangeskakel?”
Sy dop haar oë om. “Ek is nie blond nie.”
“Nee, jy is nie.” Hy ontknoop sy arms en stap verby haar die balkonkamer
binne. “Jou hare pas by jou humeur en dié is gewis nie bleek nie.”
Hy voel-voel aan die koppelings agter die moederkas en buk af na die
muurprop. Sy agterstewe span en sy dyspiere bult. Dan hurk hy by die
muurprop. “Die hele ding is los. Hier kom waarskynlik nie krag deur nie en
ook maar goed, jy kon die hele Overberg se krag laat uitskop en jou rekenaar
opgeblaas het op die koop toe. Daar is nog ’n muurprop in die
hoofslaapkamer hier naby die balkondeur. As jy ’n verlengdraad het, kan jy
die rekenaar se krag van daar af kry.” Hy loer oor sy skouer. “Het jy een?”
Sy skud haar kop en sug. “Dêmmit, nou sal ek môre eers Hermanus toe
moet ry en ek wou vanaand al …” Sy haal haar skouers op. “Dis dan maar tot
daarnatoe. Dankie, in elk geval.”
“Ek het ’n ekstra een wat jy kan leen.” Hy kom orent. “Ek bring dit vir jou
en dan moet jy regtig die glasdeure toe hou as jy bo sit. As ek so maklik hier
kon inkom en jou onkant betrap, kan enigiemand anders dit ook doen. Dis
veilig hier, maar ’n mens tart nie die noodlot nie. Jy weet mos, trust in God
but lock your BMW.” Hy is met ’n paar tree verby haar en voor sy kan
antwoord, weer met die trap af.
Rats vir so ’n groot man, dink sy teësinnig en volg hom. Op die dek huiwer

sy en voor sy kan besluit of sy agter hom moet aangaan of nie, is hy terug
met ’n verlengkoord in sy hande.
“Nou toe, hier, en sluit nou die deure.”
Sy vat die wit koord by hom. “Dankie.”
“Ek wag tot jy agter slot en grendel is.” Hy beduie haar met sy groot hand
binnetoe.
Kiara dop weer haar oë om, maar gehoorsaam. “Preek alle engele so
vreeslik?” vra sy, stoot dan die deur vinnig toe en sluit dit voor hy kan
antwoord. Sy glimlag liefies en trek die gordyne haastig toe, maar nie voor sy
vir ’n breukdeel van ’n sekonde in die laaste skemerte van die lang, Kaapse
somerdag sien hoe ’n glimlag om sy lippe plooi en sy lyf saggies aan die skud
gaan nie.
En wat ’n glimlag, dink sy en knipoog verspot in die verbygaan vir die
meermin toe sy trap toe stap.
Kiara gaan sit die volgende oggend vroeg-vroeg agter die rekenaar.
Gisteraand het sy al haar heel belangrikste dokumente op die nuwe rekenaar
gelaai, verstom oor die spoed waarmee dit korte mette met die inligting
gemaak het. Sy kan nie wag om te sien watse wondere hierdie nuwe
lewenslyn van haar gaan oplewer nie. Net jammer sy het nie ’n foonlyn vir
haar e-pos en navorsing op die internet nie, maar dis kwellings vir later.
Nou moet sy eers vir Leandra ’n behoorlike held kry – een met ’n naam.
Sy is die vorige aand deur haar naamboekie, maar Leandra het alle voorstelle
verwerp, tot Kiara se vinger in haar soektog op Gabriël stilgestaan het. Kiara
het haar summier geveto.
“Komaan, liefie, vertel vir Ma wat jy wil hê? En wat sy naam moet wees.
Enigiets behalwe Gabriël. Daar is duisende wonderlike mansname – elk met
hul eie gevoelswaarde,” prewel Kiara terwyl sy die dokument genaamd
“Karakters” oopmaak. Haar oë gaan vlugtig oor die eerste paar paragrawe
wat Leandra kortliks opsom. Petite, blond, intelligent, sterk maar ook
kwetsbaar, in haar liefde verlaat deur Pieter, haar skarminkel van ’n eksman
…
Kiara kou haar onderlip. Hoekom sou enige man ’n heldin soos Leandra in
haar liefde verlaat?
Omdat mans onnosel en agterbaks is en nie besef wat hulle aan ’n vrou het
nie; nie verstaan wat begrippe soos lojaliteit en betroubaarheid omvat nie.
“Oukei, Leandra, jy’t a rough deal gehad. Ons sal jou daar uitkry, soos vir
Nina en Saskia en Melissa en Sam en … die res van die twintig heldinne in

Sotheby se magie,” fluister sy vir die skerm.
“Leandra,” dwarrel haar vingers oor die sleutelbord, “leer uit haar foute,
daarom weet sy nou presies wat sy in ’n man wil hê.” Kiara kou aan ’n los
stukkie naelriem aan haar duim. “Ons weet van die breë skouers, lank,
aantreklik, intelligent, bla-bla-bla. Wat nog? ’n Sin vir humor? Uiteraard, ja.
Deernis?”
Kiara knik en tik verder: “’n Man met deernis, met ware en diep mededoë,
een wat werklik omgee, selfs ná die lui van die huweliksklokke, en wat
aanhou omgee tot in alle ewigheid. Nie eens net ’n tot-die-dood-ons-skei-man
nie, maar een wat haar selfs daarna sal liefhê as hy enigsins die geleentheid
gegun word. Een wat sy lewe sal aflê vir haar as dit nodig sou wees, maar
ook onthou om blomme te bring, te troos as Leandra siek is of net PMS het.
’n Lankmoedige man. ’n Bedagsame een. En geduldig. Een wat hom
verkneukel in haar rariteite en lag vir haar sêgoed.”
Kiara sit tevrede terug. “Jou gelukkige klein pes,” grinnik sy, “ek skep vir
jou ’n engel in ’n menslike gedaante.” Sy tel haar deurmekaar hare uit haar
nek op, lig dit tot bo-op haar kop, draai dit ’n paar keer om en om en steek dit
met ’n potlood vas.
“Met die Hun se looks en Leon se vermoë tot ridderlikheid versmelt in die
man wat ek hier bo beskryf het, gaan die lewe vir jou ’n lied wees, Leandra.
En as jou held eers ’n naam het en aan die gang kom in die boek, vir my
ook.”
’n Gehamer aan die glasdeure op die onderste verdieping laat haar ruk van
die skrik. Sy spring op en storm die trappe twee-twee af. Skat! dink sy in haar
haas. Sy het Skat vanoggend nog nie met ’n oog gesien nie. Sy was so haastig
om aan die werk te kom dat sy haar nie te veel daaraan gesteur het nie. Skat
moet tog niks oorgekom het nie, saai haar gedagtes paniek en gee vleuels aan
haar voete.
Sy pluk die gordyne oop. Voor haar staan die Hun, vuiste in die sye, bene
wyd geplant, sy gesig ’n studie van woedende ontsteltenis. Sy haal diep asem,
lig die knip wat die deure gesluit hou en skuif een oop.
“Wat’s nou weer fout?”
Hy maak sy een vinger krom en wikkel dit in ’n kom-hier-gebaar. Dan
draai hy om.
“Wat nou?” vra sy ergerlik, maar volg hom teësinnig toe hy sonder ’n
woord voor haar uitstoom in die rigting van sy hut. Hy kom tot stilstand by ’n
sementtafel aan die ander kant van sy huis en gaan staan, sy vuiste weer in sy

sye. “Dis wat fout is,” sê hy afgemete.
Haar oë gaan vlugtig oor die groot kastrol op die gasbrander, die vyf
alikreukelskulpe, groen gekook en netjies uitgepak, elk met sy stekelrige
skulpdekseltjie langsaan. Voor die rytjie skulpe staan ’n plat bak.
Sy frons en kyk vraend op na hom. “Wat?”
“Niks.”
Sy staar onbegrypend na hom.
“Dis die punt. Daar is niks in die bak nie.”
Kiara hou haar kop skeef. Het die man sy laaste varkie verloor?
“My kosbare kwota vir die dag, vyf alikreukels wat ek douvoordag moes
gaan uithaal omdat die gety vyfuur laag was. Dit het hier staan en afkoel.”
Die woorde kom een-een uit sy mond asof hy hulle net met die grootste
moeite uitspreek.
Kiara voel ’n voorbode soos ’n donderwolk voor die son verby oor haar
trek. “Skat?”
“Ja, Skat.”
“Hoe weet jy dit was nie Piet of die een of ander ander gedierte nie,”
probeer sy skerm, maar weet sommer dis futiel.
“Skat het ewe how-do-you-do hier neffens die bak sit en poot aflek en
gesig was toe ek op haar afkom. Buitendien, Piet is geleer om nie kos van
tafels af te eet nie. En ek kry vanaand ’n gas. ’n Spesiale gas vir wie ek
alikreukels belowe het.” Hy kners hoorbaar op sy tande en kyk weg, asof hy
bang is hy verloor die laaste bietjie beheer oor sy woede en frustrasie.
“Ek … ek is jammer, maar …” Kiara gooi haar hande in die lug en klap in
die proses die potlood uit haar hare uit. Dit tuimel oor haar skouers en teen
haar rug af en toe oor haar gesig toe sy buk om die potlood skuins agter haar
op te tel. Toe sy regop kom en weer na haar buurman opkyk, staar hy soos ’n
wraakengel na haar. “Kan jy nie maar nog gaan uithaal nie?” probeer sy paai.
“Eerstens is die gety eers weer vyfuur vanmiddag laag en tweedens is daar
’n ding soos ’n … watch my lips … ’n k.w.o.t.a. Ken jy die semantiese
waarde van die woord? Dit beteken ’n vasgestelde hoeveelheid. En die
vasgestelde hoeveelheid alikreukels wat een duiker op ’n dag mag uithaal, is
vyf.” Hy hou sy groot hand met vyf wydgesperde vingers voor haar gesig op.
Kiara sug diep en kyk weer na hom. “Wat nou?”
“Daar is net een uitweg.” Hy vou sy arms, asof hy ’n besluit geneem het.
“Die tyd gaan ’n bietjie knyp, Alicia kom al halfsewe, maar jy sorg dat jy
halfvyf by my voordeur staan met jou wetsuit aan. Het jy ’n duikbril, snorkel

en vinne?”
Kiara skud haar kop. “Ook nie ’n wetsuit nie. As jy dink …”
“Nee.” Hy waai sy wysvinger heen en weer voor haar neus. “As jý dink jy
gaan wegkom met jou gebroedsel van ’n kat se swak tafelmaniere, moet jy
weer dink.” Die goue vlekkies in sy oë het ’n brons kleur aangeneem. “Ek het
’n ekstra wetsuit en duikgoed. Sorg jy net dat jy hier is.” Hy beklemtoon die
“hier” met ’n wysvinger wat wrewelig grond toe wys.
“Maar …”
“Maar niks. Jy gaan vyf alikreukels vanaand vir my uitduik, come hell or
high water.”
“Ek dag jy sê die gety is laag …” mompel sy.
Hy waarsku haar met sy oë.
Kiara skud haar kop dat haar hare om haar skouer waaier. “Ek het in my
lewe nog nooit enigiets uitgeduik nie. En ek het nie ’n permit nie. Hoe de hel
…”
“Ek sal jou na die regte plek toe vat en jou wys. Ek het ’n ekstra permit.
Dis nou wel nie in jou naam uitgereik nie, maar die punt is tog uiteindelik dat
’n mens net nie meer as vyf per dag per persoon uitduik nie. Sorg jy net dat jy
reg is. Halfvyf. Stiptelik.”
Hy draai om en stap met lang treë die trappies na die stoep op. Op die
drumpel van die skuifdeure huiwer hy. “So terloops, ek sou Skat vandag
dophou as ek jy is. Haar maag gaan dit nie hou nie. Alikreukels is nog ryker
as perlemoen.” En daarmee stoom hy die huis binne.
Dit ook nog. Kiara maak haar oë toe. Toe sy hulle oopmaak, het niks
verander nie, behalwe dat Skat voor haar kom sit het en nou met groot oë
aankyk. “Jý, jou klein merrie …!” Kiara raap haar op en dra haar sonder
omhaal onder haar arm in die rigting van haar huis. “Vir jou vermoor ek nog
voor die dag verby is.”
Sy stap ergerlik teen die dek se trappe op en steek dan vas. In die
weerkaatsing van die glasdeur lê die meer oggendvars agter haar, maar dis
haar eie beeld, steeds net in haar T-hemp en ’n tanga geklee, wat haar die
huis met ’n gefrustreerde grom laat binnestorm.
“Alicia.” Kiara kyk na die lessenaarblad. Die beeld van ’n petite blondine met
’n ruim borsmaat verskyn voor haar geestesoog. ’n Sexy een. Sensueel met ’n
sonbruin vel op plekke waar ander meisies bleek is. “Alicia, die
alikreukeleter.”
Kiara sit ergerlik terug in haar stoel en vou haar arms. Die stort het haar

weinig beter laat voel en die croissant met aarbeikonfyt en koffie nog minder.
Skat het haar ewe kruiperig op die lessenaar se punt tuisgemaak en loer net
af en toe skuldig oor haar wolelmboog na Kiara terwyl sy haar verskonings
oor, én tevredenheid met, haar vroeë ontbyt uitspin.
Kiara kyk beskuldigend na haar. “Dis alles jou skuld. Jóú skuld dat ek in
die warm water is by die Hun en in yskoue water moet gaan duik agter
slakkerige goed aan. En dit om ‘Aleeesja’, koningin van die Hun se hart, te
behaag. Ek kan my net indink waarom hy sy Aleeesja goed wil voer wat
bekend is vir ander doeleindes as om die maag te vul of omdat dit goed
smaak. Prikkel glo heelwat meer as die speekselkliere.”
Kiara staar na die oop dokument op die rekenaarskerm. “En jý, Leandra, as
jy nie nou by ’n verdomde naam vir jou held uitkom nie, skryf ek Alicia in
jou storie in en kry sý die held der helde op die einde.” Sy sug. “Ek gee jou
nog een kans. Kies ’n ordentlike naam, of hy word Koos.”
Leandra bly nukkerig stil. Kiara kners op haar tande, maak haar oë toe,
draai haar wysvinger in die rondte oor die sleutelbord en druk ’n sleutel.
Twee raak gedruk, voel sy onder haar vingerpunt en druk dan nog ’n paar
keer lukraak voor sy haar oë oopmaak. Ghabreikl, lees sy. “Oukei, waaraan
laat die letters jou dink?”
Gabriël, antwoord Leandra sonder huiwering.
Kiara grom diep in haar keel. “Ek het jou gewaarsku. Nou sit jy met ’n
held wat Koos heet en die hemele alleen weet hoe ek ’n held met só ’n naam
geskryf gaan kry, maar jy het jou dit self op die hals gehaal.” Sy trek die
sleutelbord nader. “En nog net een Gabriël-piep uit jou en Alicia arriveer in
’n Porsche voor Koos se deur.” Haar vingers vind die toetse.
“Die goue vlekkies in Koos se bergpoelgroen oë brand oor die kontoere
van Leandra se sonbruin lyf in die swart bikini. Sy kan voel hoe …”
Kiara klap met haar hand op die lessenaar en Skat sit verskrik regop. “Blou
oë! Hy het blóú oë, dêmmit! Soos ’n wolklose dag, onthou?” Sy vee vlugtig
oor Skat se kop. “’Skuus, lê maar weer, liefie.”
Kiara laat sak haar voorkop in haar hande. Wat help dit sy het ’n
splinternuwe rekenaar, ’n huis in die paradys met ’n uitsig om oor te swymel
en haar kop voel soos ’n bol wol wat Skat beetgehad het?
Kiara kyk vlugtig op haar horlosie. Vieruur en die storie het weinig
gevorder. Sy het amper meer uitgewis as wat sy geskryf het. Sy sug diep
terwyl sy probeer om Leandra, wat dikbek in die hoek met haar rug na haar
skepper sit, te ignoreer.

Kiara loer vir die soveelste keer bekommerd na Skat. Sy moes haar twee
keer vinnig uithelp om te gaan naar word. En nou is sy honger omdat Skat se
streke haar eetlus vroeër sodanig bederf het dat sy ’n rolletjie met roomkaas
en peppadews nie in die oë kon staar nie, nog minder ’n gerookte hoender en
pastaslaai, keurig à la Woolies verpak.
Kiara stoot die stoel terug, dra drie half gedrinkte bekers koffie kombuis
toe en vat ’n paar slukke lemoensap sommer so uit die kartonnetjie voor sy
weer boontoe stap. Laat sy nou maar die Hun en sy slakke trotseer en
klaarkry sodat sy iets kan eet en vroeg in die bed kom. Môre kan sy weer vir
Koos takel en Leandra uit haar onbehulpsame bui uit probeer skryf.
Sy trek uit, pluk haar swemklere van die handdoekreling in die badkamer
af en ruk dit oor haar lyf. Sy gooi die kort strandrokkie oor haar kop en rem
aan die soom, maar dit help nie veel nie. Darem beter as net ’n sarong, besluit
sy gelate terwyl sy haar hare op haar kop vasmaak.
Sy sluit Skat in die huis toe, kry haar swemhanddoek van die waslyn af en
stryk dan teësinnig aan na die Hun se voorstoep toe. Die voordeur is toe en
die huis lyk vreemd en onbewoon, sonder die gewone wapperende, bont
handdoek oor die houtreling. Sy staan ’n oomblik onwennig rond. Net toe sy
die verligting oor haar voel daal en besluit hy het haar hier vergeet, kom hy
om die hoek van die huis.
“Kom, alles is in die Landie,” sê hy sonder groet of navraag.
Sy volg hom skoorvoetend na die houtskuur wat teen sy huis gebou is.
“Ek trek gou die kar uit, sluit asseblief die deur agter my.” Hy spring aan
die bestuurskant in en ry agteruit by die motorhuisdeure uit met die vrotste
daklose Land Rover in menseheugenis. Kiara sukkel om die twee lendelam
deure toe te kry en toe om die slot toegedruk te kry, maar rek uiteindelik haar
bene om in die Landie te klim.
“Dit verbaas my dat jy die ding agter slot en grendel hou,” brom sy toe sy
die mankolieke deur langs haar toetrek.
Hy kyk haar met opgetrekte wenkbroue aan.
“Diewe het ook selfrespek, jy weet. Ek dink jou Landie sal selfs in
Eloffstraat veilig wees.” Sy kyk weg toe hy net grinnik en wegtrek.
Kort ná hulle by die valboom uit is, volg hy ’n grondpaadjie met meer
slaggate as padoppervlak, draai hier links en daar regs en ’n kwartier later
hou hulle by ’n rotsagtige baaitjie stil.
Van die bak af gee hy vir haar ’n verbleikte duikpak aan. “Trek sommer
hier aan. Ons het nie tyd om daar onder te sukkel nie. Dis dalk ’n bietjie

groot, Alicia is langer as jy, ’n bietjie sterker gebou.” Binne sekondes is hy in
sy verinneweerde duikpak en trek die rits op sy rug met ’n langerige toutjie
toe.
“Toe-toe-toe,” jaag hy haar aan, “ons het nie heeldag tyd nie. Ek moet die
goed nog gaar en verwerk kry ook.”
“Oukei, oukei, maar ek kry nie die dêm ding …” Sy sluk haar woorde toe
hy die duikpak se bostuk hardhandig oor haar skouers optrek en dan die
voorkant tot onder haar nek toerits.
“Daar’s hy. Sit die hoodie op en bring die handskoene, snorkel en bril en
die vinne. Ek sal die paksak bring.”
“Wat’s ’n hoodie?” bromvra sy ergerlik.
Hy sug en tel iets op wat lyk soos ’n kruis tussen ’n swempet en ’n
rekwisiet vir ’n Superman-fliek. “Vat daai boskaas van jou bymekaar, dan
trek ek dit vir jou oor jou kop, anders vries jou ore ook nog af,” gee hy
opdrag en staan reg met die petding in sy hande.
Hy buig skielik skewekop nader. “Waddehel …? Haal uit die goed aan jou
ore. Jy sal alles verloor.”
“Dis nie goed nie, dis maanstene.” Sy haak gehoorsaam die oorbelletjies
uit die gaatjies in haar ore.
“Hoeveel gaatjies ís daar in jou ore?” vra hy kopskuddend.
“Twee.”
Hy snork. “Ek tel minstens vyf, nee, sewe.”
“As jy kan tel, waarom vra jy my dan?” Sy haak die laaste een los en hou
die versamelinkie in haar hand toegeskulp.
“Sit dit in die Landie se cubbyhole. Jou horlosie ook,” sê hy ongeduldig en
loop agter haar aan toe sy gehoorsaam. Sy het skaars omgedraai en haar hare
weer bymekaargevat toe hy die pet sonder omhaal oor haar kop trek. “Toetoe-toe. Dis son trek water.”
Sy druk die ongehoorsame los slierte dieper onder die petjie in en trek aan
die kenflappie om dit gemakliker te laat pas. “Ek kan niks hoor nie,” kla sy.
“Moenie so hard praat nie, ek is nie doof nie.” Hy gee vir haar die snorkel,
duikbril en vinne aan. “Toe …”
“Ja, ek weet. Toe-toe-toe.”
Hulle klim ’n hele ent oor skerp rotse voor hulle by ’n smallerige sloepie
kom. Die Hun beduie vir haar om sy voorbeeld te volg toe hy op ’n rotsbank
in die vlakwater gaan sit. Die water is ysig om haar voete en kruip teen haar
kuite op onder die te wye duikpakpype toe sy gehoorsaam.

“Spoeg eers in die bril, anders wasem dit toe,” beveel hy toe sy die ding
onhandig probeer opsit. “Spoeg, ja. So.” Hy voeg die daad by die woord en
vee die speeksel aan die binnekant van sy eie duikbril tot die hele oppervlak
bedek is. “En dan spoel jy dit uit.”
Haar mond is skielik droog en sy moet ’n paar verleentheidwekkende
pogings aanwend voor sy die verlangde effek kry en die bril uiteindelik ook
kan uitspoel. Hy help haar om die bril op te sit en die snorkel in haar mond te
kry. Teen die tyd dat sy die vinne aan haar voete gewikkel kry, pyn haar
voete van die koue, maar sy byt die verwytende woorde wat by haar opkom
terug. Laat hierdie oordeel tog net so gou moontlik verbykom.
“Kry ek nie gewigte nie?” vra sy toe sy sien hoe hy ’n band met ’n paar
gewigte om sy middel vastrek.
“Ek is bang jy vers … verdrink. Hierdie keer sal ek die afhaalwerk doen,
maar jy beter mooi kyk. Volgende keer is dit jou beurt.”
Volgende keer? Dit sal die dag wees. Van nou af word Skat dag en nag
toegesluit.
Kiara kyk vertwyfeld hoe hy sonder verdere verduideliking met die gemak
van ’n rob die water ingly en op sy rug dryf terwyl hy wag dat sy dieselfde
doen. Sy struikel oor die vinne en val met ’n plons in die water. Die snorkel
loop vol water en sy pluk dit uit haar mond voor sy proesend weer na die
oppervlak kom – net om te sien dat hy al ’n ent weg is. Sy druk die snorkel
terug, blaas die water met ’n gesukkel uit en swem verwoed agter hom aan,
eers oor vlakkerige rotse en dan in dieper water.
Dit duur ’n rukkie om daaraan gewoond te raak om met haar gesig in die
water te swem en deur die snorkel asem te haal, maar sy bemeester die truuk
vinnig toe sy agterkom hoe ver sy agter raak en dat sy nou omring is deur
seebamboes wat om en onder haar in die branding buig en wuif. Die lang,
swart stamme en die effens slymerige groen slierte op die oppervlak laat haar
gril, maar vir alleen omdraai sien sy ook nie kans nie. Sy kyk paniekerig rond
toe sy besef sy het die Hun uit die gesig verloor, dan sien sy hoe hy haar ’n
entjie dieper in nader wink.
Kiara kners op haar tande en swem meer bo-oor die bamboese as tussen
hulle deur. Die water trek en stoot aan haar en haar voete pyn van die koue,
maar sy swem tot by hom.
“Kyk van bo af wat ek doen,” roep hy oor die geluid van die see teen die
rotse en die verdowende effek van die pet. Dan trek hy sy longe vol en duik
weg onder die water. Kiara druk haar gesig in die water en sien hoe hy dieper

en dieper afgaan tot by ’n rotsrif. Sy kan nie veel uitmaak nie en die water
gooi haar ’n bietjie rond, maar sy verbeel haar sy sien ’n paar rooi seesterre
soos graffiti teen die rots sit. Gabriël vroetel teen die wand en kom dan
boontoe.
Sy snorkel spuit ’n boog water uit voor hy dit uitspoeg. “Jy’s gelukkig.
Daar is volop en hulle is oorwegend groot genoeg. Probeer ’n entjie saam met
my afgaan.” Hy druk die snorkel weer in sy mond en duik af.
Kiara trek haar asem diep in en probeer afduik, maar haar lyf bly terugbeur
oppervlak toe. ’n Oomblik raak sy benoud toe haar hande tussen
bamboesblare verstrengel raak. Toe sy bo kom, pluk sy die snorkel uit haar
mond en hoes ’n spul seewater uit.
“Is jy oukei?” vra hy toe sy kop weer deur die water breek.
“Ek is half versuip, ek gril my dood vir die bamboes, my voete pyn en dit
alles vir alikreukels wat ek nie gaan eet nie. Nee! Ek is nie oukei nie.” Sy
gaan weer aan die hoes.
“Jy klínk heel oukei,” grinnik hy en duik weer weg.
Dié keer hou sy hom net van bo af dop, raak ’n bietjie bekommerd toe hy
baie lank onder bly en sug verlig toe hy weer boontoe kom.
“Daar’s hy. Jou kwota vir vandag – wat ék gaan eet. Heerlik,” glimlag hy
breed en begin terugswem.
Kiara wil nog iets sê, maar hy is reeds buite hoorafstand en sy swem agter
hom aan. Hoe gouer sy uit die water kan kom en in ’n warm bad, hoe beter.
Toe sy haar teen die rotsplaat uitsleep, besef sy dat die wind opgekom het.
Gabriël se duikbril hang om sy nek en sy vinne is onder sy arm ingedruk teen
die tyd dat sy haar vinne probeer uittrek. Die handskoene en die koue maak
haar hande dom. Toe sy onderlangs swets, buk hy by haar, verlos haar
woordeloos van die kunsmatige webbe en trek haar orent.
“Kom, die goed moet gaar kom.” Hy tik teen die sak om sy middel en
spring rats van klip tot klip voor haar uit.
Haar dooie voete voel skaars die skerp punte, maar haar spiere wil nie
gehoorsaam nie en sy sukkel moeisaam tot by die sand. Hy wag haar in, gryp
haar aan die hand en sleeptrek haar na die Land Rover terwyl die wind al hoe
harder om hul koppe begin loei.
“Klim net so in,” roep hy uit en maak die deur vir haar oop nadat hy die
vinne in die bak gegooi het. Hy haal die sak met alikreukels af, maak die
gewigte los en gooi alles agter die vinne aan voor hy haar deur toedruk.
Teen die tyd dat hy agter die stuur inskuif, het sy die handskoene en pet

afgewikkel gekry en sit en bibber. “Ek hoop jy’s nou tevrede!” roep sy bo die
lawaai van die enjin en die wind uit. “Môre het ek longontsteking,
oorontsteking en elke ellendige ontsteking waaraan ’n mens kan dink.”
Hy glimlag net vir haar en werk die ratte terwyl die viertrek oor die
spoelgate waggel.

Vyf
“Onthou jou goed in die cubby,” herinner Gabriël haar toe hulle met net ’n
wuif van die hand by die valboom ingelaat word.
Dis al amper sesuur, sien Kiara toe sy haar horlosie vasgespe nadat sy haar
oorbelletjies weer een-een op gevoel en met ’n gesukkel in die gaatjies
gehaak het terwyl die Landie oor die slegte pad bokspring. Sy vryf oor die
brug van haar voete. Hulle begin weer lewe kry en dis nogal pynlik. Veral die
een voet hou nie op pyn nie, kom sy agter toe sy by Gabriël se huis uitklim.
Maar dis eers toe sy met haar sitvlak plat op die gras langs die hut sit en haar
met groot moeite uit die nat duikpak wikkel dat sy die bloed aan haar
voetsool sien.
“Dit ook nog,” mompel sy onderlangs en pluk die duikpakpype een-een
met geweld oor haar voete. Sy sal daarna omsien as sy by haar eie huis is. Sy
staan moeisaam op en trek haar strandrokkie sommer so bo-oor die nat
swemklere aan.
Die Hun se gasbrander is al aan die gang en hy is besig om die alikreukels
in die pot te pak, sien sy en gooi die duikpak in ’n hoop op syne. Haar rok
kleef aan haar nat lyf en die wind waai dit nog vaster teen haar. Sy ril en
slaan haar arms om haar lyf. “Ek hoop jy’s nou tevrede. En hou die goed op
’n veilige plek as dit gaar is,” laat hoor sy iesegrimmig en kies hinkepink
koers huis toe.
“Sal so m … Wat loop jy so kruppel?” roep hy agter haar aan.
Sonder om om te kyk maak sy ’n vergeet-daarvan-gebaar in die lug, maar
die volgende oomblik rus ’n swaar